Preek Tiende Gebod

Sondag 44

Tiende Gebod

Dr AH Bogaards

Lees: Rom.7

Teks: Rom.7:22, 24-25

HK: Sondag 44

Psalms: Ps.84:1,2; 119:59; 119:38: Sk.26:10,11

1. Inleiding:

Ons kom vandag by die laaste van die tien gebooie: Jy mag nie begeer nie. Met hierdie gebod wil die HERE ons laat sien dat dit vir Hom nie alleen ons ons dade gaan nie, maar ook oor ons innerlike.

Hierdie Sondag wil ons ook wys hoe onvolmaak ons God se wet onderhou en wat God se bedoelings met sy wet is.

  1. Die wet in sy diepte
  2. Die wet in sy onmoontlikheid
  3. Die wet se bedoelings

2.1. Die wet in sy diepte

Iemand het eenmaal ons lewe en die Tien Gebooie vergelyk met ‘n huis met 10 vertrekke. Die 10e vertrek is die garage of kelder. As ‘n mens in die huis kom en die nege vertrekke deurgaan – die kombuis, die sitkamer, slaapkamers, ens. – is alles ewe mooi, netjies en stofvry. Kom jy egter in die garage of kelder – ag, dan weet u hoe dit dikwels by die meeste van ons lyk: vol stof en deurmekaar.

EN SO lyk die meeste van ons se lewens ook op die oog af: Ons kom kerk toe – ons gehoorsaam dus die 4e gebod; ons is nie moordenaars nie – met vertrek nommer 6, die 6e gebod, lyk dit dus ook goed gesteld. So kan ons al die vertrekke van ons lewenshuis deurloop en elkeen van die eerste 9 gebooie deurgaan en – so op die oog af lyk dit besonder goed gesteld met ons gehoorsaamheid aan die wet. Ons lewenshuis lyk vir die mense skoon en netjies.

TOTDAT – totdat ons by die 10e vertrek van ons lewenshuis kom, die garage of kelder ……. Met hierdie 10e vertrek bedoel ek ons hart, ons innerlike, dit wat hier diep in ons aangaan, waar ander nie kan sien nie. Want daaroor gaan dit in die 10e gebod: ons innerlike, ons begeerte-wêreld: Jy mag nie begeer nie.

Dit is maar net ‘n beeld. En elke beeld het sy mankemente en foute. Ek sal verduidelik wat ek bedoel:

Die 10e gebod is eintlik nie ‘n nuwe gebod, ‘n 10e vertrek nie. In die 10e gebod kry ons eintlik ‘n terugkyk op die ander 9. Ons kry ‘n verdieping van die eerste 9. Ons sal maklik kan dink dat dit in die eerste nege net oor dade gaan. Dink maar aan die sewende gebod: Jy mag nie egbreek nie. Dit lyk asof dit vir die HERE net gaan oor die daad van huwelikontrou. Maar in die 10e gebod kom die HERE na ons toe en Hy sê: Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. Ook as jy ‘n ander se vrou net begeer en nie eens daadwerklik vat nie – ook dan is jy ‘n oortreder van die sewende en die tiende gebod. Dit gaan nie net oor wat ons met ons hand doen nie, maar dit gaan ook oor ons hart. Daar mag geen verkeerde begeerte teen enige gebod in ons opkom nie, maar daar moet wel by ons ‘n hartlike begeerte wees om alle gebooie te vervul.

Die Heidelberger het dit so mooi raakgesien dat dit in die tiende gebod oor al die ander gebooie gaan. Want hoor maar hoe verklaar hy die tiende gebod: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. VERKEERDE BEGEERTES teen die eerste nege gebooie word dus afgewys. MAAR dan stel die Kategismus dit ook weer positief. Daar moet ook GOEIE BEGEERTES by ons wees: Ons moet ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê het. Ons moet begeer om alle gebooie na te kom.

En dan, nadat die leermeester van Heidelberg die 10e gebod behandel het en die wet in sy diepte laat sien het, kom hy in v/a 114 by die tweede:

2.2. Die wet in sy onmoontlikheid tot volmaakte onderhouding

En dan moet ons goed luister oor wie die belydenis dit het. Dit gaan nie vir ons Kategismus oor heidene nie. Dit handel oor die gelowiges. Luister goed: Maar kan dié wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?

Dit gaan ook nie maar net oor gehoorsaam nie, maar volmaak gehoorsaam, 100%.

Is gelowiges tot volmaakte gehoorsaamheid instaat? Daar is sektes wat dit leer.

Die antwoord van ons belydenis daarteen is duidelik: Nee, ons kan die wet nie volmaak onderhou nie. Inteendeel, selfs die allerheiligstes – selfs die beste gelowiges – het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe – ‘n klein – begin van hierdie gehoorsaamheid.

Talle voorbeelde kan uit die Bybel uit aangehaal word om hierdie waarheid te bewys:

  • Dawid, die man na God se hart, het owerspel en moord gepleeg
  • Paulus, daardie groot apostel, roep dit as gelowige uit: Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek (Rom.7:19).
  • Jakobus skryf in hoofstuk 3 vers 2: Want ons almal struikel dikwels.
  • En om nog een voorbeeld te noem Johannes sê in sy eerste brief: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie (1 Joh.1:8).

è Dit is in die lig van die Skrif dus duidelik: Ook die egte kind van God kan die wet nie volmaak gehoorsaam nie.

Maar dan kom ons Heidelberger met ‘n TOG: Maar al het ‘n ware gelowige nog maar net ‘n klein begin van die nuwe gehoorsaamheid, tog begin hulle met ‘n ernstige voorneme om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe. TOG, TOG sal die ernstige voorneme, die verlange, die GOEIE BEGEERTE daar wees om dit te onderhou.

Ook dít sien ons by onder ander Paulus. Enersyds sê hy wel: Die goeie wat ek wil, doen ek nie (Rom.7:19). Andersyds, net ‘n paar verse verder (v.22), verklaar Paulus egter: Ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens.

Daardie goeie begeerte, daardie egte innerlike verlange na die gehoorsaamheid aan God se gebooie sien ons male sonder tal in die Bybel. Vat nou maar die 4e gebod, die gebod oor ons kerkgang. In Psalm 84 sing ons van die goeie begeerte na die huis van God:

….. Hoe begeer

my siel en hunker van verlange

om na Gods woning op te gaan

en in u tempelpoort te staan

met jubelende lofgesange.

My hart en vlees, o God, roep luid

tot U wat leef, verlangend uit.

As ons dit alles hoor, die wet in sy diepte, ons onvolmaaktheid, dan kom ons by die 115e vraag van die Kategismus: Maar as niemand hierdie gebooie tog in hierdie lewe kan onderhou nie, waarom laat die Here die Tien Gebooie dan so skerp preek?

Wat is die nut, die doel daarvan? Dit is die derde punt:

2.3. Die wet se doel

God het drie doelwitte met sy wet, drie doelwitte waarom Hy sy wet so skerp aan ons laat preek: sondekennis, verlossingskennis, dankbaarheidskennis.

  1. Die eerste doel is sondekennis: Sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken.

Deur die wet kom Paulus tot die ontdekking: Die goeie wat ek wil, doen ek nie (Rom.7:19).

  1. Die tweede doel van die wet is verlossingskennis: Sodat ons met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek.

Die sondekennis bring Paulus ook by die tweede, by die verlange na verlossing: Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (Rom.7:24-25).

Twee dinge word genoem.

A) Die wet bring by ons verlange na vergewing van sondes in Christus. Die wet bring by ons verlange die verlange dat ons oortreding van die gebooie deur Christus se skuldbetaling uitgewis mag word. Dit is die een ding.

B) Die tweede is: Die wet bring by ons verlange na die geregtigheid in Christus. Die wet bring by ons verlange dat Christus se gehoorsaamheid aan die gebooie, dat sy geregtigheid, ons toegereken mag word.

Moenie die in Christus miskyk nie. In Hom lê die geheim van verlossing van sondeskuld; in Christus lê die geheim hoe ons wel in ooreenstemming met al God se gebooie kan wys. SY GEREGTIGHEID, sy volmaakte gehoorsaamheid, word ons deur die geloof toegereken en geskenk.

  1. Die derde doel van die wet is dankbaarheidskennis: Sodat ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.

As ons ons eie onvolmaaktheid leer ken in die spieël van die wet, bid ons God (die Vader) om die genade van die Heilige Gees. Sondekennis bring ons op ons knieë.

Die Heilige Gees is immers die Een wat ons deur die geloof in Christus inlyf, sodat ons deur die krag van sy kruis ons sondes hoe langer hoe meer afsterf en sodat ons deur die krag van sy opstanding altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word.

Ons dankbaarheid is nie ons eie werk nie, maar dit is God wat in ons werk om te wil en te werk (Fil.2:13).

God werk in ons deur sy Gees en Woord, deur sy Gees en Christus, kan ek ook maar sê. Die Heilige Gees dra deur die Woord Christus en sy kruis in ons hart in. Dan kry ons deel aan die volmaakte gehoorsaamheid van Christus; dan kry ons deur die krag van die kruis ‘n lus en ‘n liefde tot al God se gebooie.

Ook ons doopsformulier lê die verband tussen die werk van die Heilige Gees en Christus:

“As ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lidmate van Christus wil heilig (1 Korintiërs 12:13) deur tot ons eiendom te maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe, totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word (Romeine 8:9, 15, 16 )”. Hoor u die twee dinge:

  • die afwassing van ons sondes
  • en die daaglikse vernuwing van ons lewe

Om Christus wil word al ons sondes teen al God se gebooie, ons sondes in gedagtes, woorde en dade afgewas. Dis die een belofte. Die tweede is: In en deur Christus kry ons die daaglikse vernuwing van ons lewe.

Dit word aan ons belowe. Maar ons moet ook weet hoe ons deel kry aan hierdie heerlike beloftes. Hoe kry ons deel aan die Heilige Gees wat ons die geloof gee en die beloftes in ons harte indra. Antwoord 115 gee ons die antwoord: Ons moet bid om die genade van die Heilige Gees. En net in die volgende vraag, vraag 116 kom die Kategismus weerens terug op die gebed om die Heilige Gees. Die gebed is noodsaaklik, omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

3. Slot

Deur Christus en sy Gees kom ons tot die jubelsang van Ps.119:97: Hoe lief het ek u wet.

HERE, ek wyk deur u genade

weg van elke slegte pad;

maak ek wyk nie van u regte,

want hul is my wysheidskat. (119:38, Totius)

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s