Galasiërs Preek 1

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 1

Dr AH Bogaards

 

Lees: Galasiërs 1

Teks: Galasiërs 1:1-5 (Galasiërs nr.1)

Datum: 31 Oktober 2010

Psalms: 46:1; 89:6; 139:1; 32:1,3

1. Inleiding

20 Junie 1505 – êrens in Duitsland hardloop ‘n jongman om by sy bestemming, die dorpie Erfurt, te kom. Hy het alle rede om te hardloop so wat hy kan: Donker onweerswolke is besig om saam te pak. Gou-gou, gou-gou is die lug heeltemal toegetrek met donker wolkgevaartes. ‘n Hewige donderstorm breek los. Bliksemstraal op bliksemstraal deurklief die inkswart hemel. Hy is alleen. ‘n Verlammende angs oorweldig hom: Wat sal gebeur as hy nou moet sterf? Hy kan God nie ontmoet nie – God die regverdige, maar streng Regter. Daarvoor is hy veels te sondig. Opeens is daar ‘n verblindende weerligstraal, gevolg deur ‘n donderende slag. Naby hom slaan die weerligstraal in. In doodsangs skreeu die student: “Help my, heilige Anna! Ek sal ‘n monnik word!”

Wie is hierdie man? Sy naam is Maarten Luther, ‘n jong regsstudent. ‘n Paar dae na die voorval sluit hy hom inderdaad by ‘n klooster aan. Maar waarom doen hy dít? Met sy goeie werke wou hy sy saak met God regmaak. So het hy gehoop dat hy die donker wolke van God se oordeel oor hom kon laat opklaar. Maar die onweer het nie verbygetrek nie! Inteendeel, hoe harder Luther probeer het om heilig te lewe, des te meer het hy bewus geword van sy onheiligheid, dat hy die oordeel van God verdien. Tot op ‘n dag, daardie dag toe hy tot die heerlike ontdekking gekom het: Die mens word nie voor God regverdig deur goeie werke nie, maar deur die geloof alleen.

Regverdiging deur die geloof alleen – dit was dié groot ontdekking van die Reformasie. Nie deur óns werke nie, maar enkel en alleen deur die werk van Christus, nie deur ons inspanning nie, maar slegs deur die geloof in wat Hy gedoen het, word ons gered van die brandende toorn van God.

Regverdiging deur die geloof alleen – dit is óók die groot boodskap van Galasiërs. Is dit dan ‘n wonder dat Luther so lief was vir hierdie brief? Dat hy daarvan sê: “Die brief aan die Galasiërs is my (gunsteling) brief. Daarmee is ek getroud. Dit is my Katherine (my vrou).”

Paulus begin die brief soos al sy ander briewe:

  1. die skrywer word genoem;
  2. die lesers; en
  3. ‘n seëngroet word uitgespreek.

Eerstens word gesê wie is

2.1. die skrywer:

“Paulus, ‘n apostel …”.

Maar lees ‘n mens verder, is daar iets wat besonder sterk opval: Paulus begin hierdie brief tog nie heeltemal soos sy ander briewe nie. Sy selfbekendstelling is veel en veel meer uitgebreid. Hy skryf byvoorbeeld nie net, soos in 1 Korinthiërs (1:1), dat hy “‘n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God” is nie. Nee, maar hy maak hy ‘n lang byvoeging: ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, MAAR deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het ….

Hierdie uitbreiding het alles te make met die probleme in die gemeentes van Galasië. Wat was dan die probleem? Nadat Paulus die eerste keer by hulle was en die evangelie van verlossing deur Christus alleen aan hulle verkondig het, het daar dwaalleraars in die gemeente opgedaag. Hierdie valse apostels het geleer: Dit is nie waar wat Paulus leer nie. Christus alleen is nie genoeg nie. By die verlossingswerk van Christus moet ook nog iets bykom: ons eie werke. Sekere seremonies van die wet van Moses soos die besnydenis moet onderhou word. Hulle dwaling het dus hierop neergekom: Ons word nie geregverdig deur die geloof alleen nie, maar deur die geloof plus ons werke. Hulle dwaling was niks minder as ‘n skoot in die hart van die evangelie nie.

Om Paulus se leer verdag te maak, het die dwaalleraars ook sy apostelskap begin bevraagteken: Die dwaalleraars het heel waarskynlik vir die gelowiges in Galasië gesê: Paulus is nie in dieselfde klas as die ander apostels was nie. Hy is maar net deur ‘n gemeente in Antiogië uitgestuur, deur mense dus (vgl Hand 13:1–2) en nié deur die Here self soos die ander apostels nie. Paulus kom dus slegs met menslike gesag.

Daarop antwoord Paulus deur te sê:

  • Hy is nie ‘n apostel vanweë mense nie. Dit is dus nie mense wat hom uitgestuur het nie.
  • Hy is óók nie ‘n apostel deur mense nie. Dit wil sê: Jesus Christus het hom nie deur middel van mense geroep nie.

Nee, inteendeel: hy is nie ‘n apostel vanweë mense of deur mense nie, MAAR, MAAR deur Jesus Christus. Met hierdie MAAR maak Paulus hier ‘n baie skerp teenstelling: Nie mense nie, MAAR
die Seun van God self. Toe hy geroep is as apostel het mense hoegenaamd nie ter sprake gekom nie. Inteendeel, op die Damaskus-weg het die Seun van God self en direk aan Hom verskyn en Hy self het Paulus geroep sonder tussenkoms van mense.

Hy is ‘n apostel. Dit is ‘n besondere titel. ‘n Apostel was iemand wat nie met sy eie boodskap gekom het nie. ‘n Apostel het nét die boodskap gebring van die Een wat hom gestuur het. Paulus kom dus as apostel met die boodskap van Jesus Christus self. Sy boodskap is nie van menslike herkoms nie, maar van God self. Die Seun van God self spreek daarin – ook tot ons vandag. Daarom is elke woord daarvan gelaai met Goddelike gesag. Dit geld ook van al Paulus se ander briewe.

Maar dan gaan Paulus nog verder: Hy is ‘n apostel deur Jesus Christus én van God die Vader. Agter sy brief staan dus nie net God die Seun nie, maar óók God die Vader.

En dan maak Paulus ‘n besondere toevoeging by die woorde God die Vader: God die Vader wat Hom (Jesus) uit die dode opgewek het. Waarom maak die apostel hierdie byvoeging? Waarom is hy nie tevrede daarmee om te verklaar dat hy sowel deur God die Seun as deur God die Vader uitgestuur is nie?

Om hierdie toevoeging te verstaan, moet ek aan u verduidelik wat die betekenis daarvan is dat die Vader die Seun opgewek het. U weet dat ons Here Jesus Christus gekom het om die wet in ons plek te vervul en om ons straf te dra. Nou ja, toe die die Vader Jesus uit die dode opgewek het, het die Vader daarmee gesê: Hy is tevrede met die werk van Christus. Dit is voldoende. Ons kan sê: Die opwekking van Jesus was die Vader se “amen” op Jesus se “dit is volbring” (= betaal, volledig). Die opwekking was die Vader se kwitansie: klaar betaal.

Paulus sê dus: Gemeentes, hierdie boodskap wat Jesus Christus self aan my gegee het, hierdie evangelie van verlossing slegs deur die werk van ons Heiland – ook die Vader self staan daar agter. Ja, die Vader het ook sy stempel daarop gesit deur Jesus Christus uit die dood op te wek. “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh 5:7). Tot ons troos het ons hierdie driedubbele getuienis: ONS skuld is klaar betaal.

Iets oor:

2.2. Die lesers

Op sy heel eerste sendingreis het Paulus Antiogië in Pisidië, Ikonium, Listre en Derbe aangedoen. Al daardie dorpe was geleë in die die suide van die Romeinse provinsie Galasië. Daar het Paulus sy eerste gemeentes gestig en dit is hierdie gemeentes aan wie hy hierdie brief skryf. U kan daarvan lees in Handelinge 13 en 14.

Maar die brief is nie alleen vir hulle bedoel nie. God het dit nodig geag dat ook ons dit moet hoor. Daarom is dit opgeskryf.

  • Want ook in ons tyd is die evangelie van genade alleen in die gedrang. Ek kry die gevoel dat die mens – ook die kerkmens – van vandag nie meer sonde het nie. Ten minste: so dink ons. O, miskien sê ons dit nog: Ek is ‘n sondaar. Maar dit bly dikwels by ‘n oppervlakkige mondbelydenis. Daarom spreek die prediking van die kruis ons nie meer aan nie. Ons wil eerder hoor wat ons moet doen. En ons meen – soos Luther ook eers gedink het – dat ons so baie kan doen. Maar as ons soos ‘n Paulus en ‘n Luther gekonfronteer word met die verblindende lig van God se heiligheid, word al ons gewaande heiligheid en vroomheid en werke uit ons hande geslaan. As die donderslae van die wet tot in die ore van ons siel weergalm en die bliksemstrale van sy oordeel ons in die grond van ons hart tref – dan word die brief van die Galasiërs ook ons lieflingsbrief.
  • Dit was ‘n kenmerk gewees van Luther se hele lewe dat hy so diep daarvan bewus was dat hy voor die aangesig van God staan: met sy onheiligheid voor die aangesig van die heilige God. Weet óns dit nog? Want waar ‘n mens deur die Heilige Gees op daardie punt gebring word – en daar moet ons kom – daar kom ‘n mens tot ‘n diep verlange na en waardering vir en ‘n oneindige groot verwondering oor die skuldbetalende werk van Christus.

Die derde deel van die aanhef van die brief is

2.3. die seëngroet

Genade vir julle en vrede…”.

Genade, vrede – in hierdie twee woorde word Paulus se hele evangelie opgesom:

Genade is die fontein. Dit is die bron waaruit die stroom van vrede met God voortvloei. Deur God se genade word ons verhouding met God herstel. Deur God se genade het ons vrede met God. En dié vrede beteken: Die onweer is verby; die donderslae van God se oordeel is stil; nou word ons weer omring met sy vrede, met sy Vaderliefde en sy Vadersorg.

Deur genade
alleen. Genade is die fontein en nie ons werke soos die dwaalleraars leer nie. Hierdie genade het alles met Jesus te make en niks met ons wetswerke nie. Dit is óf wetswerke óf genade, óf ons goeie werke óf Christus se werke. Dit is die een of die ander. Hier is nie ‘n middeweg nie. Dit is nie genade én werke nie, maar genade alleen en Christus alleen. In die genadewerk van Christus lê dit ook vas en in Hom is dit ook heerlik gewaarborg. Christus is ons vrede. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Rom.5:1).

En – laat Paulus dit hoor in sy seëngroet – hierdie genade en vrede kom nie alleen van die Seun nie, maar óók van God die Vader. Dit stroom óók uit God se Vaderhart. Want agter die Seun staan die Vader. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het … (Joh.3:16). Op Golgota gaan God se Vaderhand en God se Vaderhart vir ons oop. In Jesus kyk ons tot reg in God se Vaderhart.

En dan gaan Paulus dadelik oor tot die groot gebeurtenis in die geskiedenis waar God se genade geopenbaar is en waar ons vrede vandaan kom: Jesus wat Homself gegee het vir ons sondes. Dáar aanskou ons God se genade: daar aan die vloekhout van Golgota. Dáar verrys sy vredesparadys, dáar waar waar die Seun Homself gegee het as offer vir ons sondes. Die vir ons sondes kan ons ook vertaal as: bedekking vir ons sondes. Sy bloed dek ons sondes toe voor die aangesig van God.

Luther se verklaring by hierdie woorde is diep aangrypend. Hy sê: Hier staan nie: Vrede van God wat ons werke ontvang het nie, maar vrede van God wat sy Seun gegee het.

Ons het NIKS gegee nie, God het ALLES gegee: Hy het sy eie Seun, sy liewe Seun, gegee, die kosbaarste wat Hy het. Ons gee niks nie, maar ons ontvang genade op genade.

Daarom sê Luther: Hierdie woorde is soveel donderslae van protes uit die hemel teen elke poging om met die hulp van goeie werke te wil salig word. Dit is God se hemelse artillirie (bombardement) waarmee Hy die leer van die pous en die leer van goeie werke en ons verdienstelikheid vernietig.

En waarom het Christus Homself gegee? Met die doel, sê Paulus, dat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld. Met die teenwoordige bose wêreld bedoel Paulus: die wêreld onder die oordeel van God en onder die heerskappy van die duiwel. Van daardie wêreld was ons deel en uit daardie dodelike gevaar het Christus alleen ons uitgered deur Homself oor te gee. Ons kon onsself nie red nie. Dit sit in die woordjie “uitred”. God het dit gedoen.

God het ALLES gedoen deur sy Seun. Daarom sluit die apostel sy seëngroet af met ‘n lofprysing: …aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen. Aan God alleen die eer.

3. Slot

Ek sluit af met hierdie opmerking van Kohlbrugge (en ek parafraseer ‘n bietjie):

“Die Here skryf aan die mens geen wette (werke) voor (waardeur hy homself moet red of ‘n bydrae moet lwer nie) nie. (Nee,) maar (die Here) skenk aan hom genade. Dit wil die Here egter (van ons) hê: dat die mens ‘n arme, ‘n bedelaar (moet) bly, (ja) dít wil Hy hê! Wat wil Hy (die Here) hê? (Die mens ) wat vol is (vol eie werke), wil Hy nie vol maak nie, maar (die mens) wat leeg is, hom sal Hy vol maak …. Die werke (die wetswerke wat God eis) sal wel daar wees as ons maar net by ons Heiland leef (AHB = Want dan het ons Christus se werke!). Wat moet ek doen om salig te word? vra u. En ek antwoord: niks nie! Vra dit weer en weer en ek antwoord (weer en weer): niks nie! Antwoord u daarop: Maar die apostel sê tog: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal salig word! Wel, doen dit dan” ( Galasiërs, p.17).” Immers, dít is wat geloof is: geloof is om te leef van God se werke in Christus; om geregverdig te word alleen deur daardie werke. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s