Galasiërs Preek 2

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 2

Dr AH Bogaards

 

 

Lees: 1 Konings 13; Gal.1:6-9

Teks: Gal.1:6-9 (Galasiërs nr.2)

Datum: 24 Oktober 2010

Psalms: 84:3,6; 25:2; 25:4,5; 1:1,4 Ps 106:1,2; Ps 106:8,9,20

1. Inleiding

Alle paaie lei na Rome, lui die spreekwoord. Daarmee bedoel ons: ‘n Mens kan op verskillende maniere jou doel bereik. Alle paaie lei na Rome, MAAR nie alle paaie lei na die nuwe Jerusalem. Alle paaie lei na Rome, maar net een Weg lei na die koninkryk van die hemele. Daardie Weg is Christus en Christus alleen. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Alle ander paaie is afdraaipaaie, doodloopstrate. Daar is geen alternatiewe roete nie.

Waaroor gaan dit in ons teksverse? Dit gaan om die heel enigste Weg tot saligheid. Wie aan hierdie Weg wil verander, beland op ‘n ander weg: Hy bereik die ewige bestemming nie. Wie aan hierdie Weg wil byvoeg – laat God Hom oordeel.

In Galasiërs 1:6-10 hoor ons:

  1. Paulus vermaan die Galasiërs, omdat hulle die enigste Weg verlaat het;
  2. die dwaalleraars het die Galasiërs ‘n ander weg en nie die enigste Weg gewys nie;
  3. God vervloek die wysers van ‘n ander weg;

2.1. Paulus vermaan die Galasiërs, omdat hulle die enigste weg verlaat het

Paulus begin sy brief aan die Galasiërs op ‘n ongewone manier. In al sy ander briewe begin die apostel na sy seëngroet om vir die lesers te bid of om God te prys en te dank. In hierdie brief ontbreek dit. In plaas daarvan begin hy met ‘n ernstige vermaning. Selfs nie in sy briewe aan die Korintiërs – ook ‘n gemeente met ontsaglike probleme – doen hy dit nie. Dit wys ons hoe ernstig die toestand in die gemeentes van Galasië was: Die hart van die evangelie was in die geding: die verlossing deur genade alleen. Die werk van Christus was volgens die dwaalleraars nie genoeg nie. By die werk van Christus moet ook ons wetswerke kom as deel van die pad tot saligheid.

Paulus is absoluut verbysterd dat die gemeentes so gou van die evangelie afvallig kon word. Dit het die valse leraars nie eens veel tyd en moeite gekos om die Galasiërs te oortuig nie. En dit is nou die gemeentes wat maar onlangs die evangelie ontvang het. Dit is nou die mense van wie Paulus skryf dat hulle hom ontvang het as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus (4:14). En nou luister hierdie selfde mense na dwaalleraars wat met ‘n ander evangelie kom. Hoe op aarde is dit moontlik? Die antwoord is heel eenvoudig: Elke mens is van nature ‘n Fariseër. Ons wil self heeltemal of ten dele ons verlossingspad bou. Dit gaan teen ons grein in dat die evangelie ons leer: die mens niks, God alles.

Vir Paulus is die dwaling van die gemeentes geen kleinigheid nie. Hy beskryf dit as afval. Dit is ‘n woord uit die militêre lewe. Dit word gebruik van ‘n soldaat wat oorloop na die vyand. Wat dit des te erger maak, is: Hulle het nie bloot maar net oorgegaan na ander apostels nie, maar het van God self afvallig geword. Hy skryf: Julle het “afvallig word van Hom wat julle … geroep het”. Daardie “Hom” is God die Vader. Ons word immers nie deur mense tot geloof geroep nie. Agter die evangelieverkondiging en agter die prediking staan God self. Wie daarom die evangelie van die genade van Christus prysgee, verlaat God self. Laat die Galasiërs weet: Dit is onmoontlik om die evangelie te versaak sonder om God te versaak. So ernstig is die saak.

Hy is die heel, heel enigste Weg. Maar

2.2. die dwaalleraars het die Galasiërs ‘n ander weg gewys

Dit in die tweede plek.

Die Galasiërs, sê Paulus, het afvallig geword na ‘n ander evangelie. Twee maal gebruik die apostel die woordjie “ander” in vers 6 en 7: Die gemeentes het afvallig geword “na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie”. In die Grieks word daar twee verskillende woorde vir “ander” gebruik.

Ek wil die verskil aan u met ‘n baie eenvoudige beeld verduidelik: Rooiwyn en witwyn is gelyksoortig. Beide is wyn. Rooiwyn is net ‘n ander soort, maar dit is ook wyn. Maar water is nie wyn nie. Dit is iets anders. Nou ja, dit mag lyk asof die dwaalleraars maar net met ‘n ander evangelie kom, ‘n evangelie so bietjie anders as die van Paulus, maar tog ook ‘n evangelie, tog ook wyn, tog ook ‘n verlossingsweg. Maar Paulus sê in vers 6 en 7: Nee, hierdie sogenaamde evangelie van die dwaalleraars is ‘n ander evangelie. Dit is iets anders. Dit is water.

Let op hoe listig die duiwel is, sê Luther by hierdie verse: Geen dwaalleraar kom na ons toe onder die titel van dwalinge en onder die titel van die duiwel nie. Ook kom die duiwel nie na ons toe as ‘n duiwel nie. Hy kom nie in swart nie, maar hy verskyn in wit. Hy vermom homself. Hy kom in die gedaante van ‘n engel van God self. Dan hou hy sy dodelikste gif voor as die leer van genade, as die woord van God, as die evangelie van Christus. Hy dek al sy woorde met die kleur van waarheid en met die Naam van God. Ja, sê Luther, as die duiwel sien dat hy die kerk nie kan afbreek deur vervolging nie, kom hy met ‘n ander taktiek: Dan kom hy onder die masker van verbetering en opbou. Dan kom hy deur dwaalleraars wat leer: Christus is ‘n goeie werksman en hy het inderdaad begin met die gebou, maar Hy het dit nie voltooi nie. Dit moet Moses doen. Die gebou moet verder voltooi word deur ons wetswerke.

Wat Luther sê, is gegrond op die Bybel. In 2 Korintiërs 11:14 skryf Paulus: ” …. die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig”.

In Nederlands word gesê: Die duiwel kom nie op klompe (op hout skoene) nie, maar op sokkies. Hy bekruip ons geruiseloos, onopgemerk.

Ook die dwaalleraars van ons tyd en die sektes van ons dae neem die woorde genade en evangelie in die mond. Maar nie alles wat blink is goud nie. En nie alles wat genade genoem word, is genade nie. Wat die sektes en die Roomse kerk bring, is klatergoud, namaaksel, ‘n ander weg.

Hierdie mense bring julle in die war, sê Paulus Hulle krap julle geloofsoortuiging deurmekaar. En dan vervolg hy: Hulle wil die evangelie van Christus verdraai. Vir “verdraai” gebruik Paulus ‘n sterk woord: Hulle keer die evangelie om, op sy kop, onderstebo. ‘n Mens kan die evangelie nie aanpas of aanvul sonder om die karakter daarvan radikaal te verander nie. Wie iets by die evangelie byvoeg, maak daarvan iets anders, iets omgekeerds. In so ‘n ernstige lig sien die Here hierdie dwaalleer.

Dit is óf genade óf werke. Dit is nie én-én nie, maar óf – óf: óf Christus óf ons eie verdienste. Dit is óf Christus alles óf Christus niks nie.

En daarom sê Luther: Waar die geregtigheid deur wetswerke regeer, kan die geregtigheid deur genade nie heers nie. Die een moet plek maak vir die ander …. Dit mag miskien na ‘n kleinigheid lyk om die wet en die evangelie, die geloof en die werke te vermeng. Dit doen egter meer skade as wat ‘n mens dink, want dit neem Christus en al sy weldade weg.

En daarom trek Paulus in alle felheid teen die dwaalleraars los:

2.3. God vervloek die wysers van ‘n ander weg

In vers 8 skryf die apostel: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” En dan herhaal Paulus dit nog ‘n keer in vers 9: “Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!” En met die vantevore bedoel Paulus: Ek het dit ook al by ‘n vroeëre geleentheid vir hulle gesê. Hulle het dit dus ten minste drie maal gehoor. Hulle is behoorlik gewaarsku.

…. al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees. Hierdie woorde het sy wortels in die geskiedenis van 1 Konings 12 en 13.

Daar kry ons die geskiedenis van Jerobeam se oprigting van goue kalwers. Nou moet ons goed verstaan: Dit was nie Jerobeam se bedoeling om met die beede ‘n ander god te vereer nie. Hy wou dus nie die eerste gebod (geen ander gode) oortree nie. Hy maak hom wel skuldig aan beeldediens. Hy is nie tevrede met die Woord alleen, met die wyse waarop God voorskryf hoe Hy gedien wil word nie.

Die HERE waarsku Jerobeam op twee maniere: 1. eers deur die Woord en 2. tweedens deur ‘n sigbare stuk onderwys:

  • Eers waarsku die HERE Jerobeam deur die woord van ‘n profeet. ‘n Profeet van die HERE kom en spreek die oordeelsWOORD van God oor die eiewillige godsdiens uit.
  • Daarop volg ‘n stuk geskiedenis waarmee die HERE Jerobeam op nog ‘n tweede, sigbare manier met ‘n oordeelsDAAD waarsku en laat sien hoe gevaarlik dit is om die Woord te verlaat. By die woord van die profeet kom daar dus tweedens ‘n stuk sigbare onderwys ter onderstreping en toeligting van die woord.

Die profeet wat in Bet-el die oordeel van die HERE oor die kalwerdiens van Bet-El uitgespreek het, moes naamlik, nadat hy sy taak uitgevoer het, onmiddellik teruggaan. Die uitdruklike woord van die HERE aan hom was: “Jy mag daar geen brood eet of water drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie” (13:17). ‘n Ou profeet sê egter vir hom: “Ek is ook ‘n profeet net soos jy, en ‘n engel het met my gespreek deur die woord van die HERE en gesê: Bring hom terug saam met jou na jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink” (vers 18). As gevolg van sy ongehoorsaamheid aan die Woord, sy eiewillige godsdiens, sy oortreding van die tweede gebod word die ongehoorsame profeet deur ‘n leeu verskeur. Die lot van die man van God moes vir Jerobeam ‘n tweede ernstige waarskuwing wees. Eiewillige godsdiens, afwyking van die Woord, is lewensgevaarlik.

‘n Engel van die Here het met my gespreek, het die ou profeet gesê. Juis hierna gryp Paulus in Galasiërs 1:8 terug, wanneer hy skryf: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” Paulus waarsku juis die Galasiërs teen dwaalleraars wat met Christus (die Woord) alleen nie tevrede was nie. By Christus se werk moet nog ons werk kom. Ons kan maar sê: Hulle was nie tevrede met die woord van God, met Christus alleen nie.

Ons sal moet verstaan: Christus is die hart van die tweede gebod. Wie Hom eer as volkome Verlosser en op Hom alleen steun en nie sy werke nie – dit is hoe die HERE gedien wil word.

Om die volle erns van hierdie woorde te begryp, moet ons terdeë weet WIE nou eintlik hier aan die woord is. Is dit Paulus? Ja en nee. Ja, dit is die apostel wat dit sê, maar hy sê dit in opdrag van God. God self is hier aan die woord. Paulus is immers net gestuurde, gesant van God wat met die boodskap van God kom. Dit is tog wat apostel beteken, nie waar nie?

Vervloek – dis vreeslik. Want vervloek beteken: oorgegee word aan die oordeel van God, aan die gerig van die hemelse Regter. En let wel: Dit staan hier nie as wens nie, maar as opdrag: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, moet hy ‘n vervloeking wees! Dit sê God self.

Was dit regtig so erg wat hierdie dwaalleraars in Galasië gedoen het? Verdien dit nou regtig die ewige oordeel van God?

  • Om die geweldige erns van hulle oortreding te laat sien, moet ek u eerstens wys op wat hulle aan die gemeente gedoen het:

Die evangelie van Christus is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Rm.1:16). Maar dit beteken: Wie dit aantas, tas die weg tot saligheid aan. Hulle werp die evangelie van ons Here Jesus onderstebo. En dit is verskriklik, sê Calvyn, want die evangelie is die fondament van ons geloof; dit is die sleutel wat die poort na die paradys vir ontsluit. Die evangelie van die dwaalleraars is nie maar net nog ‘n weg, ‘n ander manier om by God te kom nie. Dit is ‘n doodloopstraat. Dit loop uit op die vloek van God, op die ewige dood. Die kerk word daarmee in lewensgevaar gebring.

  • Tweedens – en dit is nog die heel belangrikste: Die valse evangelie van die dwaalleraars kom God se eer te na.

Wie iets by die evangelie wil byvoeg, beledig God. Dié sê daarmee: Die werk van Christus is nie genoeg nie.

3. Slot

Ons leef in ‘n tyd van valse, on-Bybelse verdraagsaamheid. Ons sê sommer maklik: Ag, ons aanbid almal tog dieselfde God. Maar dit is sekerlik nie wat God van hierdie dwaalleraars sê nie. God verdra dit nie dat die werk van sy Seun tekort gedoen word nie.

Daar is net Een Padbouer: God. En die pad wat Hy gebou het, is voltooi: Christus, die weg en die waarheid en die lewe. Hierdie Pad bring ons nie halfpad nie, maar die hele pad: tot in die hemel.

God het nie padbouers nodig nie. Trouens ons is nie eens geskik vir daardie werk nie. Nie eens in die geringste mate nie. Daarom: Al wat u moet wees, is ‘n Padverbruikers: Wandel op die Pad van God. Glo in Jesus Christus.

Dit is die pad van aan-God-alleen-die-eer.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s