Galasiërs Preek 3

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 3

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.1:10-24

Teks: Gal.1:11-12 (Galasiërs nr.3)

Datum: 7 November 2010

Psalms: 150:1; 103:2; 119:7

1. Inleiding

Maarten Luther skryf in sy beroemde kommentaar op Galasiërs: Die evangelie ontneem die mens alle eer, wysheid en geregtigheid en gee dit aan die Skepper alleen, wat alles uit niks gemaak het.

  • Die mens bly in die evangelie totaal en al in die slag. Dit geld in die eerste plek van die oorsprong van die evangelie.

Waar daar geen weg tot verlossing was nie, het God uit niks iets geskep: Jesus, die enigste Weg.

Ook in ‘n ander sin het die evangelie sy oorsprong by God. Ek bedoel: die geloof in hierdie Weg. God moet die geloof in ons hart skep. In ons hart is daar niks nie – niks geloof nie. God moet uit niks iets skep. God moet ons oog gee vir die kruis, anders bly ons lewenslank blind.

  • Die mens bly in die evangelie totaal en al in die slag. Dit geld in die tweede plek van die karakter van die evangelie.

In die evangelie gaan dit nié oor iets wat die mens vir God doen nie, maar oor God alleen wat alles vir die mens doen.

Ons kyk na

  1. die oorsprong en karakter van die ware evangelie; en
  2. die oorsprong en karakter daarvan soos blyk uit die lewe van Paulus.

2.1. Die oorsprong en karakter van die ware evangelie

Die evangelie kom in kort hierop neer: Ons hele verlossing word heeltemal
uit ons hande geneem en geheel en al gelê in die hande van ons Here
Jesus Christus
alleen. Die evangelie onttroon ons en kroon Christus alleen. Hy is die alleen-Bewerker van ons saligheid. Hy het alles gedoen.

Paulus sê in vers 11: Ek wil beslis hê – hy stel dit sterk -, ek wil beslis hê dat julle moet weet: Hierdie evangelie van my is nie na die mens nie. Met hierdie uitdrukking, “nie na die mens nie”, bedoel Paulus twee dinge:

  1. Die evangelie is nie deur mense uitgedink nie en
  2. dit val ook nie in ons smaak nie.

So ‘n evangelie druis in teen ons mensehart en –gedagtes. Ons is liewer werkesels as bedelaars. Ook op geestelike terrein verkies ons om werkoliste en nie werkloses te wees nie. Ons hou nie daarvan om bakhand te staan nie. ‘n Doen-dit-self-godsdiens en ‘n help-jouself-evangelie is meer na ons smaak. In die paradys het die Satan met die versoeking na die mens gekom: Julle kan soos God wees. En sedert die sondeval stempel dit ons lewe: Ons wil self God wees – ook wanneer dit kom by ons heil en saligheid. Juis daarom is ‘n evangelie van genade alleen nie na die mens nie: Die mens sal nooit so iets uitdink nie en ons sal ook nooit daarvan hou nie – tensy God ons oë vir die absolute noodsaak daarvan open.

In vers 12 sê Paulus waar hy hierdie evangelie dan wel gekry het: Deur ‘n openbaring van Jesus Christus.

Die woord openbaring beteken letterlik: die wegneem van ‘n omhulling, ‘n bedeksel, ‘n sluier.

Paulus noem dit ‘n openbaring van Jesus Christus. In die woorde van Jesus Christus is twee uitemate belangrike gedagtes opgesluit: Christus is 1. die Gewer én 2. die Inhoud daarvan:

  1. Eerstens leer dit ons dat Jesus Christus die Gewer van die openbaring is. Ons is blind vir die evangelie, todat Jesus Christus deur sy Heilige Gees die sluier wegneem. Dan sien ons die evangelie in al sy heerlikheid. Daarvan het die digter van Psalm 119 ook alles geweet, want hy bid: ” Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet” (v.18).

U moet tog goed luister hoe sterk Paulus dit stel: Eers stel hy dit negatief: Hy het sy evangelie nie van ‘n mens geleer of ontvang nie. Dan sê hy positief hoe wel :nie van ‘n mens nie, “MAAR deur ‘n openbaring van Jesus Christus“. Die apostel wil hê dat ons dit beslis moet weet: Die evangelie is nie van menslike oorsprong nie, MAAR van Goddelike herkoms.

  1. Tweedens sê die woorde “van Jesus Christus” ook wat ons te sien kry as Christus die sluier weggeneem word: Ons aanskou Jesus Christus. Jesus is dus nie alleen die Gewer van die openbaring nie. Hy is ook die Inhoud van die openbaring, van die evangelie – Hy en nie ons, Hy en nie die mens nie. Daarom is die evangelie ook nie “na die mens” nie, omdat die evangelie vol is nie van wat die mens doen nie, maar tot oorlopens toe vol is van wat God in Christus doen.

Die lewe van Paulus is ‘n lewende voorbeeld van hierdie waarheid: die evangelie is nie na die mens nie – nie van menslike oorsprong nie en ook nie na menslike smaak nie.

Dit bring ons by die tweede hoofpunt:

2.3 Die oorsprong en karakter van die evangelie soos blyk uit die lewe van Paulus

In drie tydperke uit sy lewe gaan Paulus dit aantoon: 1. die tydperk voor sy bekering, 2. sy bekering en 3. die tyd kort na sy bekering.

  1. Paulus begin eerstens by die tydperk VOOR SY BEKERING (vv.13-14):

Paulus se hele lewe voor sy roeping was a) enersyds ‘n lewe teen die geregtigheid van God en b) andersyds
vir eiegeregtigheid. In beide was hy fanaties.

  1. Hy het hom met mag en mening verset teen die geregtigheid van God in Christus. Juis daarom het hy die gemeente van God uitermate, tot die uiterste toe, vervolg en verwoes (vgl. Hand.22:4; 26:11).
  2. Aaan die anderkant het hy hom beywer vir eiegeregtigheid. In die Jodedom het hy uitgestyg bo sy leeftydgenote, terwyl hy veral ‘n yweraar vir die oorlewering van sy voorvaders was (vgl. Hand.26:5). So lyk die mens van nature. Dit is die evangelie na die mens: die mens met die wet in eie hand. Die lewe van Paulus is ‘n duidelike bewys dat die evangelie nie na die mens is nie.

Alleen Goddelike krag (nie menslike krag nie) kon so ‘n fanatikus soos Paulus tot ander insigte bring. Maar daar was nog meer nodig: ook alleen Goddelike genade (geen menslike verdienste nie). Want wie en wat was Paulus toe Christus Hom aan Paulus geopenbaar het? Hy was ‘n fanatieke vervolger van die kerk. Maar Paulus stel dit nog skerper. Hy praat nie maar net van die gemeente nie, maar hy sê uitdruklik: die gemeente van God. Dit was dus nie maar net ‘n gewone volk wat hy uitermate, tot die uiterste toe, vervolg en verwoes het nie. Hy het hom te buite gegaan aan die volk waarvan die HERE sê: Wie hulle aanraak “raak sý oogappel aan” (Sag.2:8). Daarmee wil hy enersyds die erns van sy oortreding beklemtoon: Hy het hom vergryp aan die kosbare, duurgekoopte eiendomsvolk van God. Maar andersyds wil Paulus ook grootheid van God se genade laat sien: dat God Hom ontferm het oor so ‘n vyand soos hy, dit is is ‘n genadewonder. So ‘n evangelie is sekerlik nie na die mens nie. As só ‘n mens dan wel gered word, word daar sekerlik nie gemeet met die maatstaf van menslike verdienste nie Dan word alleen gemeet met die maatstok van die onverdiende genade van God, met die liniaal van die kruis.

Agter Paulus het ‘n bloedspoor gelê beginnende met die bloed van Stefanus. In homself wwas hy totaal en al onwaardig om in die amp van apostel te staan. Maar God sien ook iets anders: die bloed van Christus. Danksy daardie bloed kon Paulus – en ons – wel in die amp staan.

  1. Tweedens kom die apostel by SY BEKERING (vv.15-16a):

“Maar toe dit God behaag het …”. Maar God – daarmee begin Paulus die verhaal van sy bekering.

Die kontras tussen 13-14 enersyds en 15-16 andersyds is uiters skerp.

  • In vers 13-14 is dit: ék, ék, ék, Paulus, Paulus, Paulus.
  • In vers 15-16 is dit nét God.
  • In vers 13-14 is dit Paulus-sonder-God, Paulus wat sonder God sy saligheid wil verdien.
  • In vers 15-16 is dit God-sonder-Paulus, God wat Paulus red, sonder enige verdienste van Paulus se kant.
  • In vers 13-14 is dit Paulus met die wet in sy hand
  • In vers 15-16 is dit God met die evangelie van vrye genade in Paulus se hart

Die hele verhaal van Paulus se roeping en bekering is net God se werk en net danksy God:

Wanneer Paulus dit het oor sy genadige roeping, gaan hy terug tot voor sy geboorte. Dan praat hy van God wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af. Soos Jakob wat voor sy geboorte bo Esau verkies is (Rom.9:10-13; vgl. ook Jer.1:5), so is Paulus voor sy geboorte afgesonder as apostel. Daarmee wil Paulus sê: Sy verkiesing as apostel het niks met ‘n bydrae van sy kant te doen gehad nie. God het nie op prestasies of werke van sy kant gewag, voordat Hy hom afgesonder het vir hierdie taak nie. Inteendeel, Calvyn maak hierby die diepsinnige opmerking: As ‘n kind gebore word, wat bring hy met hom saam? Watter waardigheid het die kind? Waarlik, hy is net ‘n besoedelde liggaam [= vol erfsonde]. Daarom is dit slegs genade as God ons op daardie stadium alreeds uitkies vir ‘n besondere taak.

En toe God hom daar op die Damaskus-weg geroep het, op daardie oomblik toe hy op weg was om die gemeente te vervolg, waarom het God Hom toe wel geroep? God het my deur sy genade geroep“, sê Paulus. Dit was uit onverdiende liefde.

Dit het “God behaag …. om sy Seun in my te openbaar.

Ek kan nie aan ‘n beter kommentaar op hierdie woorde dink as Matteus 16 nie – ‘n kommentaar van die Heilige Gees.

In Matteus 16 bely Petrus: Jesus is die Christus, die Seun van God is. Dan antwoord Jesus: “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie”. Vlees en bloed, die mens – hierdie belydenis van Petrus is nie “na die mens” nie. Dit is nie van menslike herkoms nie. “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is” (Mt.16:17). En net ‘n paar verse later sien ons wat vlees en bloed wel van die evangelie dink en maak. Want wanneer Jesus kort na Petrus se mooi belydenis vir sy dissipels sê dat Hy moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word, bestraf Petrus Hom. Dan verset Petrus hom teen die evangelie van die kruis. Ja, dít, dít is “na die mens”: die verwerping van die evangelie van louter genade. En dan sê Jesus vir Petrus: Jy bedink nie die dinge van God bedink, maar die dinge van die mense (Mt.16:23).

En presies dit het Paulus in sy lewe ervaar. Sy hele lewe was een van weerstand teen die evangelie van die kruis. Totdat – totdat God sy Seun in Hom geopenbaar het.

Waarom het God sy Seun in Paulus geopenbaar? Dit het God behaag. Heel eenvoudig gestel: nie omdat Paulus dit waardig was nie, maar net omdat God dit wou.

God het sy Seun in hom geopenbaar – hier word gepraat van wat in Paulus se binneste gebeur het: In sy innerlike het God hom laat sien dat Jesus die Seun van God is. Christus het aan Paulus verskyn en wel so dat Paulus Hom nie alleen met die oog van sy liggaam nie, maar ook met die oog van sy siel, met die geloofsoog, aanskou het.

God openbaar sy Seun in Paulus, sodat – met die doel dat – hierdie eertydse gemeenteverwoester Hom onder die heidene sou verkondig. Calvyn sê dit so mooi: God maak ‘n woedende wolf nie alleen ‘n skaap nie, maar ook ‘n skaapwagter! Wat ‘n wonder!

  1. Derdens laat die apostel sien wat NA SY BEKERING (v.16b e.v.) gebeur het:

Die valse apostels in Galasië het Paulus beswadder en gesê: Paulus is nie ‘n regte apostel nie. Anders as ‘n egte apostel het hy nie sy evangelie direk van Jesus ontvang nie, maar van mense.

Reeds uit die voorafgaande het Paulus hierdie aantyging met krag weerlê.

Maar Paulus gaan nog verder om hulle te weerlê. In vers 16 sê hy naamlik dat hy dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg het toe God sy Seun aan Hom geopenbaar het nie. Daarmee bedoel Paulus: Hy het nie na die apostels toe gegaan en by hulle die evangelie gaan leer nie. Hy het dit toe nie gedoen nie en later ook nie.

Wat meer is: Ook die apostels erken die hemelse oorsprong van Paulus se evangelie. Want in vers 24 lees ons: En hulle het God verheerlik in Paulus.

3. Slot

God verheerlik – dit moet ons ook doen. Want dat ons glo – dit het sy oorsprong alleen in God. En dat ons gered word – dit is net God se werk in Christus. Om ons ganse redding aan God toe te skryf – dit is nie na die mens nie, maar wel na God.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s