Galasiërs Preek 4

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 4

Dr AH Bogaards

Lees: Handelinge 15:1-22; Gal.2:1-10

Teks: Gal.2:1-10 (Galasiërs nr.4)

Datum: 14 November 2010

Psalms: 43:3,4; 9:7; 33:10-11; 45:1-3; 45:4-6

1. Inleiding

Deur die eeue heen was en is die kerk in ‘n hewige stryd gewikkel. Onder andere Psalm 2 profeteer daarvan: van die volke en nasies wat saamsweer om die juk van Jesus af te werp. Daardie juk is die evangelie. Daarteen was die stryd ook in die gemeentes van Galasië en in ons tyd gemik: teen die Woord van Christus, teen die evangelie van genade alleen, teen die leer van regverdiging deur die geloof alleen sonder ons werke, teen die gesag van daardie Woord van die Messias.

Teen hierdie rewolusie wat hom openbaar in kerk en samelewing, in skool en gesin, in eie hart en lewe – daarteen is daar net een antwoord:

  • teen die rewolusie die evangelie,
  • teen die opstand die verlossende ingryping van Christus deur die krag van sy Woord.

Ook in Galasiërs hoor ons van

  1. hierdie kerkstryd; maar ook
  2. dat Christus self ingryp in dié stryd; en
  3. dat Christus self die antwoord gee in hierdie stryd

2.1. ‘n Kerkstryd

In Galasiërs 2 vertel Paulus dat hy opgegaan het na Jerusalem. ‘n Vergadering van lewensbelang nie net vir die kerk van daardie tyd nie, maar ook vir die kerk van vandag sou daar gehou word. Van daardie vergadering lees ons ook in Handelinge 15.

Die vergadering was nodig, want in Antiochië, die gemeente wat Paulus uitgestuur het op sy sendingreise onder andere na Galasië, het daar ‘n hewige kerkstryd ontbrand. Joodse leraars het van Judea af gekom. Wat hulle geleer het, die gemoedere van Paulus en Barnabas laat ontvlam. In Handelinge 15 vers 2 kan ons duidelik hoor hoe sterk die apostel oor die leer van hierdie mense gevoel het, want daar lees ons: Daar het geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan nie.

Wat was dan die probleem met dit wat hierdie Joodse Christene geleer het? Hulle het vir die gelowiges uit die heidene gesê: “As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie” 9Hand.15:1). Jesus alleen is nie genoeg nie. Dit is hierdie selfde mense en hulle geesgenote in die gemeentes van Galasië met wie Paulus swaarde kruis in sy Galasiër-brief.

Jesus plus die besnydenis, anders kan jy nie salig word niedít was die slagspreuk van hierdie mense: Maar dit is nie al nie. Vir hulle dwaalleer het hierdie mense hulle beroep op die ander apostels: Ons leer wat die ander apostels leer, hulle wat as pilare in die kerk geag is, Petrus, Johannes en Jakobus. Maar hierdie Paulus – hy bring ‘n ander evangelie as die voormanne van die kerk. So het hulle Paulus se gesag probeer ondermyn. Twee dinge was dus in gedrang: 1. Die inhoud van die Woord van die Christus en 2. die gesag van sy Woord.

Na aanleiding van die woordewisseling in die gemeente van Antiochië is besluit: ‘n Afvaardiging moet na die apostels en ouderlinge in Jerusalem. Die vergadering in Jerusalem moet uitsluitsel oor hierdie vraagstuk gee.

Maar daar sit meer in hierdie Jerusalem-byeenkoms as maar net mense-aktiwiteit:

2.2. ons Here Jesus self gryp daarmee in in die kerkstryd

Om die besondere betekenis van hierdie vergadering te verstaan, moet ons mooi gaan lees wat Paulus in Galasiërs 2 vers 2 sê: Maar ek het opgegaan op grond van ‘n openbaring….

Hoekom het Paulus gegaan? Dit sê Paulus uitdruklik: Ek het opgegaan op grond van ‘n openbaring. Dit wil sê: omdat Christus dit aan hom geopenbaar het dat hy moet gaan – daarom het Paulus gegaan. Dit is geweldig veelseggend. Daarmee verklaar die apostel: Agter sy reis en agter dit wat daar in Jerusalem besluit is, staan Christus self. Paulus gaan op sy bevel, op gesag van die Koning van die kerk. Hy sê dus weer wat hy al in hoofstuk 1 gesê het: hy gaan nie vanweë mense of deur mense nie, maar gestuur deur die Seun van God self, op sy gesag.

Die woordjie openbaring van vers 2 laat ons sien wat die hele res van die vergadering is: Christus-openbaring. Christus wil iets daar openbaar en daarom openbaar Hy aan Paulus dat hy moet gaan.

Dit is ook noodsaaklik dat ons die woord openbaring en die gebeure wat hier in Galasiërs 2 beskryf word, in die lig van Handelinge moet sien. In die boek Handelinge – wat ons kan noem die handelinge van ons Here Jesus Christus deur sy apostels -, daar in Handelinge handel die Seun van God. In Handelinge openbaar Hy Hom en deur sy handelinge vergader, beskerm en bewaar Hy sy kerk. Dieselfde het ons hier in Galasiërs: Christus openbaar Hom; Hy handel; deur sy handelinge in die handelinge van sy ander gesante, deur Petrus, Jakobus en Johannes, sal Christus self die evangelie van Paulus bevestig – tot weerlegging van hierdie dwaalgeeste. Sy Woord is sy handeling.

Die verhoogde Koning van die kerk self gryp dus in in die kerkstryd. Christus self sal uitspraak lewer oor die juistheid van die evangelie van genade alleen. Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte en red hul siele van die dood … (Ps 33:10 – Totius). Teen die rewolusie Christus en sy evangelie – dis die enigste behoud van die kerk ook vandag. Sy Woord is sy handeling.

In Jerusalem aangekom, het Paulus sy evangelie aan die vergadering in die geheel en ook in ‘n private samekoms met die apostels voorgelê. Hierdie voorlegging moet ons nie verkeerd verstaan nie. Paulus het nie mense se goedkeuring nodig nie. Immers, God self het aan hom die evangelie gegee. God se evangelie is nie van menslike goedkeuring afhanklik nie. Wat Paulus wel vra, is dat die ander apostels – eweneens gesante van die Koning Self, wat sy Woord bring – ten aanhore van die dwaalleraars sal bevestig: Inderdaad, die evangelie wat Paulus geleer het en steeds leer, die evangelie van genade alleen – dít is die ware evangelie. Daar hoef niks by te kom nie – geen besnydenis, geen wetswerke nie.

Maar Paulus doen nog meer as net ‘n voorlegging. Hy bring ook iemand met hom saam: Titus. Waarom doen Paulus dit? Wat is so besonders aan Titus. Hy was ‘n gelowige uit die heidene, ‘n Griek, hy was ‘n onbesnedene. Ons kan maar sê: Titus was ‘n voorbeeld in lewende lywe van Paulus se evangelie: die besnydenis is nie nodig nie; God se genade is genoeg. Wat sê die apostels hiervan? Moet Titus besny word of nie? Titus word ingebring as ‘n toetssaak. En

2.3. Christus self gee die antwoord in die stryd

Dit was ‘n warm vergadering. Dit lei geen twyfel nie. Daar het ‘n groot woordewisseling plaasvind, sê Handelinge 15 (v.7). Paulus se teenstanders het hulle oortuiging ook nie onder stoele en banke weggesteek nie. Hulle het reguit gesê: Dit is noodsaaklik dat die heidene besny moet word. Hulle moet bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.

Ons moet nie dink dat dit ‘n klein, middelmatige sakie was waaroor die vergadering gegaan het nie. In ons eeu van valse verdraagsaamheid maak ons asof dit nie saak maak wat ‘n mens presies glo nie. Maar vir God maak dit wél saak. Dit kan ons duidelik aflei ons hoor hoe God self by monde van Paulus die Joodse dwaalleraars teenstanders beskryf. Hy noem hulle ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring (v.4).

Hulle is ingesmokkel, dit wil sê: Hulle het die vergadering op bedrieglike wyse binnegekom onder ‘n skyn van broederskap. Hulle doen hulle voor as broeders, maar Paulus ontmasker hulle: Hy noem hulle valse broedersskyn-broeders, staan daar letterlik. Hulle is nie werklik broeders nie. Die Nederlandse geloofsbelydenis praat van huigelaars, toneelspelers, mense wat hulle anders voordoen as wat hulle werklik is. Volgens hierdie oordeel van Paulus oor die Joodse dwaalleraars is dit onmoontlik om ‘n wettisis én ‘n Christen te wees.

Hierdie valse broeders se optrede en oogmerk was allermins broederlik. Inteendeel, in die vervolg teken Paulus hulle nie as broeders nie, maar as vyande. Hulle het ingesluip, sê die apostel, om ons vryheid te bespied. Die beeld wat ons hier voor oë geroep word, is die van spioene of verraaiers wat listiglik die kamp van die vyand binnesluip. Die dwaalleraars is nie soldate van Christus nie, maar spioene van die Satan.

Hulle het gekom om ons vryheid in Christus te bespioeneer. Ons vryheid in Christus Jesus – in hierdie woorde word die ganse evangelie saamgevat: In Christus is ons vry van die wet as middel om self ons saligheid te verdien. Christus het alles gedoen. Hy het die hele wet vervul in ons plek. Maar juis dit wou die valse broeders nie aanvaar nie. By die werk van Christus moet nog die wetswerke van die mens bykom. En dan sê Paulus wat die doel of oogmerk van hulle spioenasie is: sodat hulle ons in diensbaarheid kan bring – weer onder die slawerny van die wet. Hulle het onder ‘n dekmantel die kerk binnegekom: met die doel om die evangelie te saboteer.

Maar, sê Paulus, aan hulle het ons selfs nie ‘n oomblik in onderworpenheid toegegee nie. Hier is geen kompromie moontlik nie! Dit is ‘n geval van óf-óf: óf Christus ALLES óf Christus NIKS nie. Die Bybel ken geen tussenweg nie. Die Skrif ken geen samevoeging van twee weë, die weg van Christus plus die weg van die werke van die mens, nie. God openbaar aan ons net één Weg: Christus alleen.

Maar wat was die vergadering se standpunt? Was die apostels nie meer “gematigd” as Paulus nie?

Hoe het die apostels oor Paulus se prediking geoordeel? Moes daar iets bykom, byvoorbeeld die besnydenis? Wat sê hulle van Titus, want in hulle beslissing oor Titus sou hulle hele beskouing oor die evangelie van Paulus aan die lig kom. Het hulle aangedring op sy besnydenis? En dan lui die uitslag: Nee, inteendeel, “maar selfs is Titus… nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ‘n Griek is” (v.3).

Selfs Titus nie – dié woorde gee iets van ‘n klimaks aan: As iemand van die gelowiges uit die heidene besny moes word, dan seker wel Titus, ‘n medewerker van Paulus, ‘n medeverkondiger van die evangelie, wat nou in Jerusalem was. Maar nee, ook hy, selfs hy, nie eens hy is daartoe gedwing nie.

Daarmee het die apostels in die voorbeeld van Titus ten sterkste standpunt ingeneem teen die dwaalleraars.

Drie maal beskryf Paulus die ander apostels as die wat in aansien was (vv.2, 6a, 6b). En in vers 9 sê hy dat hulle as pilare geag is. Blykbaar was dit hoe die Joodse dwaalleraars die apostels beskryf het. Hulle het hulle beroep op hierdie manne van aansien: hulle leer wat ons leer. Maar in vers 6 draai Paulus die hele argument teen hulle om en hy sê: Maar van die wat in aansien was … hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie. Dit is weereens sterk gestel: Hulle wat julle teen my uitspeel, hulle het my niks meer opgelê nie. Dit wil sê: Hulle het by my evangelie niks bygevoeg nie. En in vers 9 verklaar Paulus: Hierdie mense wat julle as pilare van die kerk beskou – hulle het aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee. By Hebreërs en Grieke was die gee van die regterhand ‘n teken van bondgenootskap, van vriendskap en samewerking. Met die gee van die regterhand het die apostels Paulus verseker: Hulle eer en erken hom as mede-arbeider, bondgenoot in een en dieselfde evangelie.

En in Handelinge 15 hoor ons dat Petrus in die vergadering opgestaan het en hoe hy vertel: God self het sy Heilige Gees
aan die onbesnedenes geskenk, toe hulle tot geloof gekom het. Deur sy Gees aan onbesnedenes te gee, het God self verklaar: Die geloof alleen is genoeg. Daarmee het Petrus onomwonde vir die valse broeders gesê: As julle dan nogtans leer dat die gelowiges uit die heidene besny moet word, gaan hulle teen God self in. Dan versoek julle God. Daarby het Petrus gesê: Ons glo dat die gelowiges uit die besnydenis en die gelowiges uit die heidene op dieselfde manier gered word: deur die genade van die Here Jesus Christus. Deur die genade van die Here Jesus Christus – daardeur alleen.

En wat die gesag van Paulus as apostel betref: Hulle het God se werk in Paulus raakgesien. Hulle het herken dat God in hom werk en dat God hom geroep het as apostel.

3. Slot

As ons hierdie vergadering werklik in sy volle diepte wil begryp, moet ons dit lees in die lig van Galasiërs 2 vers 2:

  • God self wou hierdie vergadering hê en God self het daarin gespreek – tot die gemeentes van Galasië en ook tot ons.
  • Deur sy openbaring, deur sy Woord slaan die Koning self die rewolusie in die kerk teen die Woord af – dit openbaar ook iets aan ons vandag.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s