Galasiërs Preek 6

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 6

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.2:17-21; Hand.9:1-22

Teks: Gal.2:17-21 (Galasiërs nr.6)

Datum: 12 Desember 2010

Psalms: 138:1; 65:2,3; 138:2,3; 119:1; 119:62

1. Inleiding

Wat is bekering? O, sê u miskien, dit is om jou lewe te verander, om sekere slegte dinge te laat staan, ensomeer. En u is heeltemal reg. Maar daar is nog iets waarvan ons ons moet bekeer: van ons pogings om self, deur ons goeie werke, die hemel te verdien. Ons moet ons bekeer tot God se genade. Ons moet leer om ons verlossing heeltemal in Christus alleen te soek.

En – ons kan dit nie self doen nie. Christus moet dit doen. Christus moet ons bekeer en Hy doen dit deur twee dinge: deur die wet en deur die kruis. Deur die wet en die kruis word ons bekeer.

By hierdie twee gedagtes wil ek daarom met u stilstaan:

  1. dat ons gedood en lewend gemaak word deur die wet van Christus;
  2. dat ons gedood en lewend gemaak word deur die kruis van Christus.

2.1. Dat ons doodgemaak en lewendgemaak word deur die wet van Christus

Op die pad na Damaskus jaag ‘n klompie manne. Wie is dit en wat gaan hulle doen? Die leier van die groep is ‘n man met die naam van Saulus. Hulle oogmerk is: die vervolging van die dissipels van die Here.

Maar plotseling word Saulus omstraal deur ‘n helder lig van die hemel af. Hy val op die grond en hy hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg (Hand.9:3-5). Vervolger van Jesus – daarmee is kort en kragtig die hele lewe van Paulus tot op daardie stadium saamgevat. Maar deur hierdie gebeurtenis kom daar ‘n 180 grade ommekeer in sy lewe. Want in Handelinge 9 vers 20 lees ons: En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig.

Is dit nie geweldig nie: Van Christus-vervolger tot Christus-verkondiger? Dit is hierdie wonder wat ook in ons teksverse aan ons verkondig word. ‘n Vervolger word ‘n volger. ‘n volgeling.

Galasiërs 2 vers 19 gryp terug na hierdie Damaskus-gebeurtenis. In die lig van Galasiërs 2 vers 19 sal u beter begryp presies wat daar op die pad met Paulus gebeur het. Galasiërs 2 vers 19 gee nadere toeligting van wat met Paulus gebeur het.

Wie en wat was Paulus voor sy bekering? Hy was ‘n Fariseër. Hy was ‘n lid van die strengste godsdienstige party van daardie tyd. Hy was dus iemand met die wet in eie hand: Met die die wet in eie hand wou hy self – eie-handig – sy saligheid verdien. Maar so lyk almal van ons van nature. Die Bybel beskryf dit as die ou mens in ons. Met die ou mens bedoel die Woord van God: die mens wat nie van God se genade wil leef nie, die mens wat Christus nie nodig het nie, die mens wat oortuig is dat hy self in mindere of meerdere mate die wet kan vervul, die mens wat meen dat hy in mindere of meerdere mate ‘n bydrae tot sy saligheid kan lewer.

Dít moet u dus sien as u Paulus daar sien ry op weg na Damaskus: die ou mens, Paulus, die mens met die wet in sy hand, die mens teen Christus en sy genade. Maar opeens is daar die helder lig en – die ou mens val op die grond, morsdood. Nee, ek bedoel nie dat Paulus liggaamlik daar gesterf het nie, maar daar op die Damaskus-pad het die ou mens in hom die doodslag gekry.

Hier is twee vrae van die uiterste belang: 1. Wat het die ou mens in Paulus, doodgeslaan? En: 2. Wie het hom doodgeslaan?

Galasiërs 2 vers 19 sê vir ons wat daar gebeur het: “Deur die wet is ek vir die wet dood“.

Christus met sy verskyning op die Damaskuspad – 1. Christus het die ou mens in Paulus doodgeslaan – 2. deur die wet. Die wet self was die instrument in die hand van Christus om die ou mens in Paulus dood te maak. Wat het dan gebeur? Hoe het dit gebeur? Toe die hemellig Paulus omstraal het, is hy deur Jesus Christus geplaas voor die spieël van God se wet. Voor die tyd was hy blind vir die diepste eise van die wet. In sy Farisese eiewaan, in sy ou-mens-hoogmoed, was hy oortuig: Ek kan die wet hou. Maar daardie dag is sy oë geopen en hy het homself gesien in die spieël van God se heilige wet. Toe het hy homself gesien soos hy was: Van nature geneig om God en my naaste te haat (HK 2:3), onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad (HK 3:8).

Deur die wet is ek vir die wet dood – daarmee bedoel Paulus nie dat hy hom heeltemal van die wet losgemaak het nie. O nee, Paulus weet baie goed dat ons die wet nog moet hou uit dankbaarheid. Maar wat hy wel wil sê, is: Hy het opgehou om deur goeie werke, deur wetswerke, self sy saligheid te probeer verdien. Christus het hom deur die wet laat sien in sy sondigheid, in sy magteloosheid om die wet te kan onderhou.

Eers was die wet in sy hand. Die wet was vir hom ‘n middel, ‘n instrument om self sy verlossing te verdien. Maar hier leer ons: Die wet is nie verlossingsmiddel in ons hand nie. Nee, maar die wet is wel redmiddel in Christus se hand. Want God kom na ons toe met die wet in sy hand. En deur die wet oortuig Christus ons van ons sondigheid en doemwaardigheid en deur die wet dryf God ons na die enigste heil wat daar is: sy Seun. Dit is die bedoeling van God met sy wet: sodat ons daardeur gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek(HK 44:115).

Ons moet in hierdie geskiedenis van Handelinge 9 tog skerp raaksien: Paulus kom nie self tot die ontdekking dat hy die wet nie kan hou nie. Dit is eers wanneer die Seun van God hom in spore stuit en wanneer hy deur die hemellig omstraal word, dat Paulus geestelik siende word.

Dit is vandag ook nie anders nie. Wat help ‘n spieël ‘n blinde? Hoe mooi die spieël ook al is, die blinde kan homself nie daarin sien nie. En so is ons. Ons dink nogal baie van onsself en van ons eie vermoeëns om die wet te kan hou. En ons dink dat ons nogal heelwat kan doen van die dinge wat in die wet staan en dat ons tog nie so sleg is nie – totdat, totdat ons Here Jesus Christus ons blinde oog deur sy Heilige Gees verlig. Dan sien ons onsself in die spieël van die wet in al ons naaktheid. Dan sien ons hoe nodig ons Christus het. Dan sterf die ou mens in ons.

Paulus sê: Hy is deur die wet vir die wet dood om vir God te lewe. Paulus as Fariseër, Paulus as mens met die wet in die hand, het nie vir God geleef nie. Hy was geestelik dood. Hy was ‘n vervolger van die gemeente, ‘n teenstander van Christus en iemand wat die dood van Stefanus goedgekeur het. Hy het eers vir God begin lewe, toe hy van genade alleen begin leef het.

Wat is bekering? Ons kategismus sê dit in Sondag 33. Dit is die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. In die lig van ons teksgedeelte moet ons sê: Bekering is om heeltemal van genade alleen te leef. En juis dit is die sonde van die ou mens: dat hy dit nie wil doen nie.

Ons kom by die tweede gedagte dat ons

2.2. doodgemaak en lewendgemaak word deur die kruis van Christus

Ek is met Christus gekruisig, sê Paulus in vers 20.

Hierdie woorde moet ons nie letterlik verstaan. Ons moet dit nie so uitlê asof Paulus self liggaamlik aan die kruishout van Golgota gehang het nie. Nee, Paulus verwys na die geskiedkundige gebeurtenis van die kruisiging van Christus en dan sê hy: Toe Christus aan die kruis gehang het, was ek wat Paulus is, by Hom ingesluit. Dit gebeur deur die geloof, wanneer ons deur die geloof in Christus en sy kruis ingeplant word.

“Ek is met Christus gekruisig”. En dan sê Paulus wat die gevolg daarvan in sy lewe was: “En ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my”.

Ek leef nie meer nie. Paulus het dus daar aan die kruis gesterf. Ook dit moet ons nie letterlik opvat so asof Paulus liggaamlik dood is nie. Wat die apostel wel bedoel is: Die Fariseër in hom, die ou Fariseër wat sy verlossing self wil uitwerk en sy saligheid self wil verdien met sy eie goeie werke, is op Golgota gekruisig en het gesterf. Die ou mens in hom, wat God se genade nie nodig het nie, is dood.

In die Grieks staan die “ék” en die “Christus” telkens aan die einde van die sin. Dit word dus skerp teenoor mekaar gestel: nie ék nie, MAAR Christus. Ons kan dit ook so vertaal: ék, ék leef nie meer nie, MAAR Christus, Christus leef in my”. In die plek van my “ek” het Iemand anders gekom. Christus het in die plek van my ou mens gekom. My ou mens is dood. My ou mens leef nie meer nie, maar Christus leef in my.

Christus leef in my. Daarmee bedoel Paulus: Christus en sy geregtigheid beheers nou sy lewe. Hy probeer nou nie meer self om die geregtigheid voor God te verdien nie. Hy probeer nou nie meer self om dinge tussen hom en God reg te maak nie. Hy leef nou van Christus se gehoorsaamheid aan die wet. Wat hy nie kon doen nie, dit het Christus vir hom gedoen: Christus het die wet vervul en Christus se gehoorsaamheid word hom toegereken en geskenk asof hy dit self alles gedoen het.

En dan lig Paulus nog verder toe wat hy bedoel: “En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het”.

Terwyl hy nog in die vlees leef, d.w.s. terwyl hy nog op aarde in hierdie liggaam die tydelike lewe leef, sal hy deur die geloof lewe. Daardeur word die lewe van Paulus nou beheers: deur die geloof – deur die geloof en nie deur werke nie.

En dan sê Paulus baie presies wat die inhoud van sy geloof is. Dit gaan nie om enige geloof nie, maar heel spesifiek om geloof in “die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het”. Geloof in Christus wat Hom in sy ontsaglike groot liefde oorgegee het aan die kruis, tot in die diepte van die ewige dood (Ef.5:2,25).

DIT is die hele geheim van Paulus se nuwe lewe: die kruis. Daar lê die oorsprong van sy lewe vir God: Hy leef deur die geloof in die Seun van God wat hom liefgehad het en Homself vir hom oorgegee het.

Ek kom weer terug op die vraag waarmee ek die vorige punt geëindig het: Wat is bekering? En die Kategismus sê: Bekering is die afsterf van die ou mens. Dit sluit ook in die afsterf van die sonde om nie van genade alleen te wil leef nie.

Maar hoe sterf die ou mens? Dit gebeur aan die kruis en deur die kruis. Galasiërs 2 vers 20 sê dit: Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie. En in navolging van die Skrif sê ons Heidelberger: Deur die krag van Christus word ons ou mens saam met Hom
gekruisig, gedood en begrawe.

Op Golgota sterf die ou mens. Dit is waar. Maar dit wat daar op die heuwel van Golgota gebeur het, moet ook in ons gebeur. Dit is nie genoeg dat die kruis ingeplant staan in die grond van Golgota nie. Die Heilige Gees moet die kruis ook plant in die grond van ons hart. Ek bedoel maar: Sonder geloof in die kruis is die kruis vir ons niks werd nie. Dan leef die ou mens nog steeds in ons.

Dit is so noodsaaklik dat Christus ons deur sy Heilige Gees moet oortuig van ons eie kragteloosheid en magteloosheid. As ons nog vol is van ons eie krag en ons eie vermoeëns is daar geen ruimte vir die krag van Christus in ons hart en lewe nie. Hy moet ons breek in ons self-vertroue. Ons moet ons bekeer tot Christus, tot die krag van sy kruis. Die Heilige Gees moet ons deur die geloof in Christus inplant. So alleen sterf die ou mens in ons. So alleen kry ons deel aan Christus en aan al sy weldade.

3. Slot

Wat is die geheim van ons nuwe lewe? Daarop is daar maar een antwoord: Christus.

Dit is Christus wat deur die wet en deur die kruis die ou mens in ons doodmaak.

Daarom moet ons ook bid: Here open my oë vir u wet en skenk my geloof in die gekruisigde Jesus.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s