Luther: bekeer tot die gepredikte Woord alleen

Toe Luther se lewe kort na die begin van die Reformasie ernstig bedreig is, het keurvors Frederik die Wyse dit nodig geag om hom weg te steek by die Wartburg in Eisenach. Tien maande lank het Luther daar gebly.

In daardie tyd toe Luther weg was, het radikale volgelinge van Luther helaas probeer om met menslike geweld, deur menslike dwang, die beginsels van die Reformasie af te dwing en deur te dryf.

Om ‘n voorbeeld van hierdie menslike dwang te noem: in die Roomse Kerk was dit vir lidmate verbode om die wyn by die nagmaal te gebruik. Net die priester mag dit gebruik het. Hierin het die Reformasie ‘n verandering gebring. Vir baie mense, wat maar onlangs na die Reformasie oorgegaan het, was die oorgang egter baie moeilik. Hulle het nog nie die vrymoedigheid gehad om die wyn te bebruik nie. Wat het die radikaliste toe gedoen? Hulle het hierdie mense gedwing om die wyn te gebruik. Hulle het die beker aan die mense se lippe gedruk en hulle gedwing om te drink.

So wou hulle die beginsels van die Reformasie met menslike krag deurdryf.

Met hierdie menslike dwang kon Luther hom nie versoen nie. By sy terugkeer van die Wartburg het Luther vir sy volgelinge gesê: “Preek wil ek, skryf wil ek en dit sê – en verder wil ek niks doen nie“.

Teenoor menslike krag het Luther iets anders gestel: die krag van die prediking. Daarom het hy by sy terugkeer ‘n week lank elke dag in Wittenberg en omgewing gepreek.

In sy preke het Luther hierdie radikaliste ernstig aangespreek. Hulle optrede was vir Luther ‘n openbaring van ‘n gebrek aan vertroue in die Here en in die Here se instrument tot verandering van menseharte: die prediking.

Daarom het Luther vir hulle gesê:

Kyk hoeveel het God deur my bereik, ofskoon ek niks anders gedoen het as bid en preek nie. Die Woord het alles gedoen … Terwyl ek rustig my gang gegaan het, geslaap het en bier gedrink het met Philippus en Amsdorf (sy vriende), het God die pousdom ‘n geweldige klap gegee. Ek het niks gedoen nie. Ek het die Woord laat werk” .

In hierdie woorde van Luther is vir ons almal ‘n groot les opgesluit. Ken ons nog die krag, die waarde van die prediking? Of probeer ons met menslike krag, met menslike aksies, met ons harde woorde, met ons woede, met ons liggaamstaal dinge in ons lewe, in ons samelewing, in die kerk te verander?

Glo ons nog dat preek dié middel van Christus is om sy kerk bymekaar te maak, te beskerm en te onderhou? “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Romeine 10:14)

Glo ons nog van die prediking: ” … die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” ? (2 Korintiërs 10:4-5)

Ons sal tot ‘n herontdekking moet kom van die waarde van die prediking. Ons sal ons moet bekeer tot die prediking. Ons sal ons moet reformeer tot vertroue in en gebruik van hierdie wapen van God.

God toets ons geloof en vertroue in die krag van sy gepredikte Woord.

In sy preek roep Luther sy volgelinge verder ook op tot geduld: “Gee die mense tog tyd. Ek het drie jaar van konstante studie, nadenke en ondersoek nodig gehad om te kom waar ek nou is. Kan ‘n mens dan verwag dat die gewone mense, wat onervare is in sulke sake, dieselfde afstand moet aflê in drie maande?”

As God so ongeduldig was met ons as wat ons met ander mense is, wat sou van ons geword het?

Bo alles moet ons geduldig wag op God: dat Hy dit sal doen deur sy Woord.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s