Die evangelie van die kruis en die kruis-pad

Die evangelie is die blye boodskap van die kruis van ons Here Jesus Christus. In die evangelie kom ons te staan voor die kruis van ons Heiland.

Die evangelie is óók die boodskap van die kruis-pad.

Ons word voor twee paaie geplaas: óf die weg van die kruis óf die pad van die wet. Ons moet kies. Hier is ook nie ‘n middeweg moontlik nie: dit is óf die een óf die ander. Of jy kies volledig vir Jesus en sy kruis of jy begin self vir jou ‘n pad oopkap na die hemel deur jou goeie werke. Of Jesus is vir jou die een en die al, of Hy is vir jou niks nie. Of jy steun met die volle gewig van jou lewe op Hom en op Hom alleen of jy leun glad nie op Hom nie, maar jy soek jou houvas in jou werk vir die kerk en in jou wonderlike vroomheid. Dit is die een of die ander. Jy moet hier ‘n radikale keuse maak. Want “julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal 5:4)

Tog was daar deur die eeue heen mense wat nie die drastiese keuse wou maak nie. Hulle wou albei weë vashou: Jesus plus my goeie werke; Jesus plus al my harde arbeid vir die koninkryk van God.

Sulke Christene was daar in Galasië. Hulle het geglo: Jesus én my wetsonderhouding, Jesus plús die seremonies van die wet, Jesus én die besnydenis – dít is die pad na die hemel toe. Teen hierdie mense neem Paulus so sterk standpunt in in Galasiërs.

Sulke mense is daar vandag nog baie in die kerk. Vra jy hulle hoekom hulle dink dat hulle die ewige saligheid sal binnegaan, dan begin hulle uitwei oor hulself, oor wat hulle gedoen het, oor hulle kerklike aktiwiteite en meelewendheid, dat hulle darem nie so sleg is nie.

  • Die pad van wetswerke is ‘n doodloopstraat. Galasiërs 3:10-11 laat dit duidelik sien: “Want almal wat uit die werke van die wet is (d.w.s.: die wat die wet as middel gebruik om self gedeeltelik of heeltemal hulle verlossing te verdien – AHB), is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.  En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik …”
  • Die pad van geloof alleen, die geloof in die gekruisigde Jesus, is die lewensweg. Dit is die enigste weg. “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word” (Gal 3:13). Dit is ook ‘n pad van heerlike sekerheid.

Dit beteken nie dat ons nie goeie werke moet doen nie. Inteendeel. Maar die goeie werke is nie ‘n middel in ons hand om gedeeltelik of heeltemal  ons saligheid daarmee te verdien nie. Met ons goeie werke dank ons God vir die volle verlossing in Christus.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s