Galasiërs Preek 8

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 8

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.3:10-14

Teks: Gal.3:10-14 (Galasiërs nr.8)

Datum: 9 Januarie 2011

Ps’s: Ps 122:1,2; Geloofsbelydenis; 119:2,3; 119:4,5; 119:6,7,11

1. Inleiding.

Die evangelie is die blye boodskap van die kruis van ons Here Jesus Christus. In die evangelie kom ons te staan voor die kruis van ons Heiland.

Maar die evangelie is ook die boodskap van die kruis-PAD. Ons word voor twee paaie geplaas: die weg van die kruis of die pad van die wet. Ons moet kies. Dit is een van die twee: óf die pad van die geloof in Jesus Christus wat vir ons alles gedoen het óf die weg van selfverlossing, die pad van self werk vir jou verlossing. Hy alles óf ons alles.

Hier is ook nie ‘n middeweg moontlik nie: dit is óf die een óf die ander. Of u kies volledig vir Jesus en sy kruis of u begin self vir u ‘n pad oopkap na die hemel deur u goeie werke. Of Jesus is vir u die een en die al, of Hy is vir u niks nie. Of u steun met die volle gewig van u lewe op Hom en op Hom alleen of u leun glad nie op Hom nie, maar u soek u houvas in u werk vir die kerk en in u wonderlike vroomheid. Dit is die een of die ander. U moet hier ‘n radikale keuse maak.

Tog was daar deur die eeue heen mense wat nie die drastiese keuse wou maak nie. Hulle wou albei weë vashou: Jesus plus my goeie werke; Jesus plus al my harde arbeid vir die koninkryk van God.

Sulke Christene was daar in Galasië. Hulle het geglo: Jesus én my wetsonderhouding, Jesus plus die seremonies van die wet, Jesus én die besnydenis – dit is die pad na die hemel toe.

Sulke mense is daar vandag nog baie in die kerk. Vra jy hulle hoekom hulle dink dat hulle die ewige saligheid sal binnegaan, dan begin hulle uitwei oor hulself, oor wat hulle gedoen het, oor hulle kerklike aktiwiteite en meelewendheid, dat hulle darem nie so sleg is nie.

Vele sektes in ons tyd lê soveel nadruk op die mens en wat die mens alles moet doen, dat hulle leer eintlik niks anders is as die kruis plus die wet nie.

Baie mense wil dus albei paaie vashou. Maar dit – dit verstaan u tog -, dit is die grootste dwaasheid. By ‘n kruispad kan jy tog nie op altwee paaie begin loop nie. U kan ook nie sommer u eie pad, die sogenaamde goue middeweg, begin maak nie. Dit is óf die weg van die kruis óf die weg van die wet. Watter pad kies ons?

Voor hierdie twee paaie stel Paulus sy lesers:

1. die pad van die wet; en

2. die weg van die kruis.

2.1. Die pad van die wet.

In die dae van Paulus was daar onder die Jode twee denkrigtings. Ons kan ook maar sê: Daar was twee teologiese skole. Wat die twee groepe van mekaar onderskei het, was hulle opvatting in hoeverre ‘n mens die wet moet onderhou om te kan salig word.

Aan die eenkant was daar die skool van ‘n sekere Hillel. Hierdie skrifgeleerde en sy leerlinge was nie so streng nie. Hulle het geleer: Solank jy maar 51% van die wet onderhou, dan kan jy seker wees van jou toegang in die toekomende wêreld. Hulle het ook graag die beeld van ‘n weegskaal met twee bakkies gebruik om hulle idee duidelik te maak. In die een bakkie was jou sondes, d.w.s. jou wetsoortredings en in die ander jou goeie werke, d.i. jou gehoorsaamheid aan die wet. En nou moet jy sorg dat daar darem net meer goeie werke in die een sal wees as wetsverbreking in die ander. Dus, as daar maar 51% goeie werke is en nie meer as 49% wetsverbreking nie, sal die skaal in jou guns swaai. Dan kan jy seker wees van toelating in die ryk van die Here.

Naas hierdie skool van Hillel was daar egter ook die strenger skool van Shammai. Hy het sy leerlinge ingeprent: Selfs al hou jy die wet van God vir 99%, is jy tog ‘n mislukking en nie voor God aanvaarbaar nie.

Teenoor hierdie twee skole van die Jode, staan daar nog ‘n derde: die van Paulus. Of laat ek liewer sê: die teologiese skool van die Heilige Gees. Want immers: Paulus kom nie met sy eie gedagtes nie, maar in wat hy skryf, is hy geïnspireer deur die Gees van God. Die leer van hierdie kweekskool vind ons in die Bybel. Daar het u die leerplan van God. Hy is die groot Leermeester van hierdie skool. Wat eis Hy dan van ons ten opsigte van die wet? Nie 51% nie. Ook nie 99% nie. Ja, selfs nie 99,9% nie, maar 100% sê Paulus. En hy bewys dit uit die Bybel van die Jode, uit die Ou Testament, Deut.27:26: “Vervloek is elkeen wat nie bly in ALLES wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie( Gal 3:13)”.

Wie hierdie weg kies, moet dus weet: God verwag van ons ‘n volmaakte onderhouding van sy wet. Wie dit nie doen nie, is vervloek. D.w.s. so iemand, wat nie elke gebod onderhou nie, word uitgeban uit die koninkryk van die hemele.

Wat is die slaagsyfer in hierdie skool? Dit sê die apostel ook: 0%!! “Want ALMAL wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek” (Gal 3:10).

Dit is anders as die skool van Shammai, wat ook 100% eis. Shammai se skool het nog gemeen: die mens kan. Maar die skool van die Gees leer: die mens kan nie. ALMAL is onder die vloek van die wet.

Maar waarom skryf Paulus dit alles aan die Galasieërs? Hulle wou Christus plus die wet vashou, die pad van die wet en die pad van die kruis. Maar dit kan nie, sê Paulus. Hierdie twee paaie kan nie gekombineer word nie. Geloof beteken juis om heeltemal af te sien van jou eie werke en om te steun op Christus alleen. Daarom is dit die een of die ander: wetswerke of geloof Wie selfs net gedeeltelik die wet bly vashou, laat daarmee Christus los. Dit is óf die weg van deur die geloof alleen óf deur die pad van die wet alleen.

En wie langs die pad van die wet hemel toe wil gaan, moet weet: God eis van ons 100%. En wie is daartoe instaat? Niemand nie, want selfs die allerheiligste se beste werke is met sondes bevlek en selfs ons beste werke is ‘n wegwerplike kleed voor die aangesig van God.

Watter weg moet ons dan volg om in die ewige paradys te kom?

2.2. Die weg van die kruis.

Een ding is seker: God sien nie af van sy eis dat vir die sonde betaal moet word nie. Sy woord bly geld: “Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie”. En wie van ons sondig nie?

Maar hoe kan ons dan gered word? Dit openbaar God aan ons in vers 13: Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word.

Die woordjie loskoop is besonder betekenisvol. In daardie tyd is slawe op die slawemark losgekoop deur ‘n losprys vir hulle te betaal.

Agter die woord loskoop sit dus die gedagte van ‘n prys wat betaal moes word. Dit het Jesus iets gekos. Nee, dit het Hom alles gekos. Want hoor maar wat was die losprys: Christus het ons losgekoop van die van die vloek van die wet
deur vir ons ‘n vloek te word
. Sy vloekdood was die betalingsmiddel.

Waar kom Paulus daaraan dat Christus se kruisdood ‘n vloekdood was? Dit bewys Paulus weereens uit die Bybel en met name Deuteronomium 21:23 waar ons lees:”Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang”. Iemand wat aan ‘n hout gehang is, of hy nou dood of lewend was, was uitgeban. So iemand het letterlik tussen hemel en aarde gehang. Die aarde wou hom nie hê nie en die hemel ook nie. Die aarde het hom uitgespuug. Die hemel wou hom ook nie ontvang nie. So het dit gegaan met ‘n verbondsverbreker wat die heilige wet van God met sy voete vertrap het. En dié lot het Jesus Christus getref. Hoewel Hy die wet van God volmaak vervul het, is Hy by die misdadigers gereken. Hy het ONS vloek gedra en as straf op ons sondes het Hy die helse smarte gely. Hy het gaan staan waar ons moes staan: buite die ryk van God. Hy was afgesny van sy Vader oor ons ongeregtighede.

Ons moet tog nooit oor die woordjies vir ons lees nie. Dit beteken: In ons plek. Of anders gestel: Ons het die vloekdood verdien, maar Hy het dit in ons plek gedra. Hier, sê die hervormer, Martin Luther, vind ‘n wonderlike ruil plaas. Die Seun van God ruil plekke met ons. Hy dra die Godverlatenheid wat ons dubbel en dwars verdien het.

As ons nog nie geleer het om met ons hele hart te sê: vir ons, vir my nie, dan begryp ons van Golgota niks nie. Ons almal moet so ver kom om te sê: Jesus het gesterf en Hy het dit ook vir my gedoen. Dit is oor my sondes en my ongeregtighede dat Hy daar gehang het. Dit is my wetsverbreking wat hom aan die kruishout vasgenael het. Deur my sondes moes Hy die allerverskriklikste vloekdood sterwe en moes Hy dit in onbeskryflike doodsangs uitskreeu: My God, my God, waarom het u my verlaat?

Ons sien in die dood van Christus die onpeilbare diepte van die sonde: erg is dit, dat dit die vloek van God verdien. Maar ons sien in die dood van Jesus eweneens die onpeilbare diepte van God se genade: groot was sy genade, dat God sy eie, liewe Seun gegee het om so te ly en te sterf.

Dit moet ons ootmoedig, klein voor God maak, maar ter selfdertyd so diep, oneindig diep dankbaar. Dat die Seun van God met ons plekke wou ruil, moet ons harte vervul met verwondering en vreugde. Dit hoort by ‘n ware geloof. Ons geloof is dikwels so net verstandelik, so yskoud. Die kruis gryp ons so min aan. Maar dit is nie reg nie. Dit moet ons met ontroering vervul dat God bereid was om so ‘n duur prys vir ons lewe te betaal, dat God sy eie, dierbare Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het in die dood. En wat ‘n dood was dit nie, die vloekdood van die kruis.

Maar hoe kry ons deel aan hierdie grootse wonder waarvan Paulus skryf? Deur die geloof alleen. Deur die hele hoofstuk heen word dié twee dinge teenoor mekaar gestel: die geloof en die wetswerke. “Abraham”, sê Paulus, “het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken.” D.w.s.: Vader Abraham het die geregtigheid, die vryspraak deur die bloed van Christus, langs die weg van die geloof ontvang.

U moet dit goed begryp: Geloof is nie ‘n werk nie, maar daarmee vat ons die kosbare juweel, Jesus Christus, sê Luther. Geloof is die leë hand van die bedelaar, wat gevul moet word met die aalmoes, die genadegawe van die werk van Christus. Die geloof is slegs die hand waardeur ons Christus vir onsself toegeëin het. Dit is nie die hand self wat ons red nie. Dit wat IN daardie hand is, bewerk die verlossing. In die geloofshand is die bloed van die Lam. In die hand van die geloof is die evangelie van Jesus wat ook om my ontwil ‘n vloek geword het.

Nou moet ons ten slotte ook kyk na die vrug van die kruislyding van ons Heiland. Wat ontvang ons daardeur? Die LEWE, sê Paulus in v.11, “die regverdige sal uit die geloof lewe”. Met hierdie lewe bedoel hy nie bloot maar die fisiese lewe, dat ek hier op aarde sal rondloop, dat my hart sal klop en dat ek sal asemhaal nie. Nee, lewe sê hier: lewe in die lig van God se vriendelike aangesig, lewe onder die seënende hand van God. In v.14 beskryf Paulus hierdie lewe so: Christus het vir ons ‘n vloek geword, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang”. Met die seën van Abraham word bedoel: God wil ons God wees; deur sy Gees wil Hy in ons woon en al die skatte van sy verbond aan ons skenk. Dit is lewe in die rykste en volste sin van die woord.

Hier is nog so ‘n wonderlike ruil: In die plek van die vloek ontvang ons die sëen, in plaas van die ewige dood die ewige lewe, die lewe naby God, vir altyd in sy salige teenwoordigheid. Christus sterf, sodat ons kan lewe. Hy sterf die ewige dood, sodat ons die ewige lewe kan ontvang.

3. Slot.

Twee weë is ons voorgehou: die weg van die wet en die weg van die kruis:

  • Aan die einde van die weg van die wet staan die helse vloek.
  • Aan die einde van die pad van die kruis staan die lewe. Dit is die wonder van die kruis!

AMEN.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s