Galasiërs Preek 9

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 9

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.3:15-29

Teks: Gal.3:15-29

Ps’s: Ps139:1,2; Ps 51:1,2; Ps 139:3,12; Ps 65:1,2; Ps 65:3,4

1. Inleiding.

Luther skryf êrens: God se natuur is dat Hy uit niks iets maak; daarom, wie nog nie niks is nie, uit hom kan God ook niks maak nie.

Ons moet eers niks word. Dit wil sê: ons moet besef dat ons niks kan bydra tot ons eie heil nie; ons moet weet dat ons net deur Christus alleen gered kan word en nie deur ons goeie werke nie.

Tot daardie besef bring die Here ons deur sy wet.

Ek staan met u stil by die volgende hoofgedagtes:

  1. Die wet kan nie deel van die pad tot saligheid wees nie
  2. Die wet lei wel ná die enigste pad tot saligheid
  3. Die geloof in Christus is daardie enigste pad

2.1. Die wet kan nie deel van die pad tot saligheid wees nie

In die gemeente van Galasië was daar mense wat hulle wetsonderhouding (hulle goeie werke) deel van die pad na die verlossing wou maak. Christus alleen was vir hulle nie genoeg nie. By die geloof in Christus moes ook nog die wet van Moses kom: die wet van die besnydenis, die voedselwette, ensomeer.

In die gelese gedeelte begin Paulus hierdie dwaalleraars nou vanuit ‘n ander hoek weerlê. Hy vat die gemeentes terug na Genesis 15, na die geskiedenis van die HERE se verbondsluiting met Abram.

Op ‘n sekere dag het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees”. Dit was dus die HERE se verbondsbelofte aan Abram: So sal jou nageslag wees, soos die sterre van die hemel in menigte. En dan staan daar: “En Abram het in die Here geglo; en God het Abram hierdie geloof tot geregtigheid gereken”.

Heel eenvoudig gestel beteken dit: Net deur te glo het Abram in die regte verhouding met die HERE te staan gekom; slegs deur te glo, het hy erfgenaam van die beloftes van die HERE geword. Daar staan dus nie dat hy nog sekere wette moes hou of aan sekere voorwaardes moes voldoen om die beloftes van die HERE te ontvang nie. Al wat daar genoem word, is: Abram het in God geglo en deur daardie geloof en daardeur alleen het hy die geregtigheid ontvang..

Daarop het die HERE oorgegaan tot die verbondsluiting met Abram. Die HERE het Abram opdrag gegee om ‘n vers, ‘n bokooi, ‘n ram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif te neem. Hierdie diere moes Abram in twee verdeel en die helftes teenoor mekaar sit. Tussen die helftes was daar dus ‘n pad, ‘n straat van bloed. As kind van sy tyd het Abram presies geweet wat hierdie seremonie beteken: die HERE wil ‘n verbond met my sluit. So is verbonde immers in daardie dae gesluit. Die twee partye wat met mekaar ‘n verbond gesluit het, het dan beide tussen die in stukke gesnyde diere deurgeloop. Daarmee het elkeen gesê: Ek neem die eise, die voorwaardes, die wette van die verbond op my; ek mag soos hierdie diere in stukke gesny word, as ek die voorwaardes of wette van die verbond nie nakom nie. So het dit gegaan met verbondsluitings in daardie dae.

Maar met die verbondsluiting met Abram het daar iets vreemds gebeur: Abram het gelê en slaap en terwyl hy slaap, het die HERE alleen tussen die stukke deurgegaan. Dit is geweldig veelseggend. Wat wou die HERE daarmee sê? Dit: dat Hy alleen die eise, die voorwaardes, die verpligtinge van die verbond op Hom neem. Abram hoef in die verbond heeltemal niks te doen nie. Hy moes net glo. Langs die weg van die geloof alleen het hy die beloftes van God ontvang.

Na hierdie gebeurtenis gryp Paulus terug om die dwaaleraars in Galasië te weerlê. Die apostel gebruik ‘n beeld uit die alledaagse lewe: die beeld van ‘n testament. Nou weet ook ons: ‘n testament wat wettig opgestel en bekragtig is – dit kan jy nie ongeldig verklaar nie. Jy kan dit ook nie verander deur later allerhande voorwaardes en wette daaraan koppel nie. Die testament staan vas. Dit is onveranderlik.

En nou vergelyk Paulus die verbond van die HERE met ‘n testament. Wat staan in die HERE se testament? Sy beloftes aan Abraham en sy nageslag. En al wat Abraham gedoen het om deel te kry daaraan, was om te glo. En nou is Paulus se argument dit: Hierdie verbond is soos ‘n testament. Dit kan nie ongeldig verklaar word of verander word. Jy kan nie agterna nog ‘n klomp wette daarby voeg nie.Wat daarin bepaal is, staan vas.

Maar dit was nou juis wat die dwaalleraars gedoen het: Hulle het aan die testament gaan verander. Hulle het sekere voorwaardes daarby gaan skrywe: die wet van Moses. Eers moet jy die wet van die besnydenis en hierdie en daardie voorwaarde nakom – eers dan gaan die verbondsbeloftes in vervulling.

Teenoor hierdie dwaalleer stel Paulus: Die verbond van die HERE is ‘n onveranderlike testament. Ook die wet van Moses wat 430 jaar later gekom het, kan nie daarby gevoeg word of in die plek daarvan gestel word nie.

Al wat ons moet doen, is om te glo. Die wet dra nie by tot ons verkryging van die saligheid nie. Dit staan onveranderlik vas in God se testament: Abraham het in God geglo en hierdie geloof is hom tot geregtigheid gereken.

Maar as die wet dan nie deel van die pad na die hemel is nie, waarom het die HERE dan die wet gegee? Wat is die betekenis, die funksie, die plek van die wet dan? Daarop antwoord die apostel:

2.2. Die wet lei ons na die enigste pad tot saligheid

Kom ek vat Paulus se redenasie in vers 19 tot 29 vooraf kort en kragtig saam. Paulus sê: Die wet lei na Christus toe. Die wet doen dit deur ons diep sondigheid bloot te lê en die wet leer ons om na Christus as die enigste weg tot verlossing te verlang.

Kom ons gaan nou dieper op sy argumente in:

In vers 19 sê die apostel: Die wet is bygevoeg (by die beloftes van God) weens die oortredinge. Daarmee bedoel Paulus: Die wet is gegee met die doel om aan die mens sy oortredings te laat sien, om ons te wys wat in ons hart is. Die wet funksioneer as vergrootglas: ‘n Vergrootglas maak nie die vuil plekke meer nie, maar laat dit beter uitstaan en sien. Die bedoeling van die wet is om ons te laat sien hoe deur en deur sondig ons is.

Calvyn sê: Ons sondes is soos ‘n dief wat wegkruip in die grot van geveinsdheid. Maar deur die wet stel God ons sondes in die lig.

Die mens leef in die waan dat hy deur sy goeie werke dinge tussen hom en God kan regmaak. Luther beskryf hierdie waan van die mens as ‘n groot en vreeslike monster. Om hierdie monster te verbreek en te verbrysel, het God ‘n groot en ‘n magtige hammer nodig. Daardie hammer is die wet. Die wet is die hammer van die dood, die donder van die hel en die weerlig van die goddelike wraak. Die wet beskuldig ons en onthul ons sondigheid.

Die wet kla ons aan. Die wet funksioneer as publieke aanklaer.

In vers 22 sê Paulus dit nog anders: Die Skrif het alles ingesluit onder die sonde. Dit is ‘n beeld wat hier gebruik word. Die sonde word geteken as ‘n tronkbewaarder. Die wet laat ons sien dat ons ingesluit is onder die sonde. Ons is opgesluit in die tronk van die sonde. Kans op ontsnapping uit hierdie tronk is daar nie. Die mens is magteloos vasgevang onder die mag van die sonde.

Dit spreek dus vanself: Ons kan die wet nie gebruik as ‘n middel om self ons verlossing te werk nie. Die wet laat ons sien: ons is so vasgeketting in die boeie van die sonde, dat ons die wet nie kan doen nie. Daarom kan die wet ons nie red nie.

Maar waarom word die wet dan aan ons gegee, as ons die werke van die wet tog nie kan doen nie?

Die doel van die wet is om ons na Christus toe te dryf.

Met behulp van twee beelde verduidelik Paulus hierdie doel van die wet: 1) met die beeld van ‘n tronkbewaarder en 2) met die beeld van ‘n tugmeester.

  1. In vers 23 gebruik Paulus die beeld van ‘n tronkbewaarder. In vers 22 was die sonde die tronkbewaarder. In vers 23 is die wet die tronkbewaarder: Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.

Dit is miskien nie dadelik vir u verstaanbaar nie, maar kom ek verduidelik dit baie eenvoudig aan u: Die mense onder die Ou Verbond het gestaan onder die bewaring van die tronkbewaarder genaamd die wet.

Wat doen hierdie tronkbewaarder:

  • Hierdie Tronkbewaarder het die mense van die Ou Testament enersyds gekeer om te ontsnap op die roete om deur wetswerke salig te word. Want as die gelowiges probeer het om deur wetswerke self hulle saligheid uit te werk, het hierdie Tronkbewaarder hulle gekeer en vir hulle gesê: “Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie”.
  • Andersyds het hierdie Tronkbewaarder hulle voortdurend op die pad van die geloof gewys. Al die offers van die wet en die bloed van die besnydenis was heenwysings van die wet na die enigste pad van saligheid.

èDie wet van die Ou Testament is die beste Tronkbewaarder in die wêreld. Hierdie Tronkbewaarder keer dat ons op die pad van wetswerke begin loop en dit hou ons op die pad van die geloof alleen. Hierdie Tronkbewaarder lei ons na Christus alleen. Om dit nou maar so te stel: Hierdie Tronkbewaarder hou ons gevange by Christus. Hy hou ons agter die tralies van die geloof.

Sien u dat die wet in die Ou Testament pure, suiwer evangelie is?

  1. In vers 24 kom Paulus by ‘n tweede beeld om die werk van die wet te verduidelik: Die wet is ons tugmeester na Christus toe.

In die Romeinse wêreld van daardie tyd het jy tugmeesters gekry. Belangrike mense het hulle kinders in die sorg van ‘n tugmeester geplaas. Gewoonlik was dit ‘n slaaf. Die werk van hierdie tugmeester was om die kinders na en van die skool lei. Sy hooftaak was nie om onderrig te gee nie. Hy moes die kinders eerder begelei en toesig hou oor hulle gedrag. Die dissipline wat hy uitgeoefen het, was dikwels hard, sodat diegene wat onder sy toesig was,verlang het na die dag van vryheid.

Die wet vervul die taak van die ou tugmeester: Dit lei ons na die Onderwyser, na Christus toe. Dit doen die wet op die volgende manier: Die wet toon ons ons sondigheid en ons doemwaardigheid. Die wet laat ons sien dat ons onsself nie kan red nie, maar deur al die offers van die wet word ons gelei na die enigste een wat ons kan verlos: Christus.

2.3. Die geloof in Christus is die enigste pad

In vers 26 sê Paulus vir die Galasiërs: Julle is almal kinders van God. Die almal staan daar met nadruk. Met hierdie almal word bedoel: nie net die Christene uit die Jode nie, maar ook die Christene uit die ander volkere, uit die heidene.

In die Ou Testament was net die Jode die volk van die HERE en kinders van God. Onder die Nuwe Testament behoort ook ander volke tot die volk van die HERE.

Hoe gebeur dit?
Hoe word jy kind van God? Die dwaalleraars het geleer: Eers moet die heidene hulle laat besny. Hulle moet Jode word. Hulle moet die werke van die wet doen. Maar Paulus wys ‘n ander pad: die pad van die geloof alleen. Hy skryf: Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus.

En dan kom Paulus by die wonder van die doop: Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daarin, wil Paulus sê, in ons doop. lê die bewys, die teken van ons kindskap.

Die woord wat hier vir doop gebruik word, beteken soveel as: indompel, onderdompel. Om in Christus gedoop te wees, wys op die nouste verbinding met Christus. Die wat in Hom gedoop word, word heeltemal met Hom oordek word en heeltemal deur Hom deurdring word, soos iets wat in die water ondergedompel word, heeltemal deur die water oordek en deurdring word. Ons word ingedompel in sy bloed, gewas in sy bloed, heeltemal omgeef deur sy bloed.

Wie in Christus gedoop is, het hom met Christus beklee. Of ons nou Jode of Grieke is, ons staan voor die Here met een en dieselfde uniform: met die kleed van Christus se volmaakte wetsgehoorsaamheid. Nou staan ons nie meer voor God met ons sondekleed, met die kleed van ons wetsverbreking nie, maar ons staan voor Hom met die mantel van Christus se heiligheid en geregtigheid.

En dan sluit Paulus af deur te sê: As ons aan Christus behoort, as ons deur die geloof sy eiendom is, dan is ons die nageslag van Abraham. Dan is ons kragtens die belofte ook erfgename. Vir die soveelste keer kom Paulus daarop terug: Ons is nie erfgename kragtens ons wetswerke nie, maar alleen danksy en kragtens daardie belofte. Al wat God van ons vra, is geloof. Deur die geloof alleen word ons erfgename saam met en deur en danksy Christus. Christus is die groot saad van Abraham en wie in Hom is, is ook nageslag, saad, van Abraham aan wie die belofte toekom.

3. Slot

Die hele Ou Testament, die ganse wet met al sy gebooie en seremonies en wette is God se wysvinger na Christus toe. Die wet is ‘n dienskneg van die genade. Dit staan in diens van Christus. Die wet dryf ons weg van onsself en in die arms van Christus. Ons hoef nie die wet te onderhou om salig te word nie. Ons kan trouens ook nie. Maar Christus is die vervulling van die wet. Deur die geloof in Hom staan ons voor God as wetsgehoorsame kinders en mense wat reg het op die ewige erfenis. Al wat God van ons vra is geloof in Christus wat alles gedoen het.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s