Galasiërs Preek 10

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 10

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.3:26,27,29; 4:1-7

Teks: Gal. 3:26,27,29; 4:1-7

Ps’s: 105:1,2; 81:12; 25:6,7; 105:5,6; 146:3,8

1. Inleiding.

Daardie dag toe u gedoop is, het die Here self so heel, heel persoonlik, so op die man en die vrou af vir u gesê: So en so, ek doop jou in die Naam van die Vader. Daarmee het God die Vader as ‘t ware met sy Vadervinger na ons gewys, sy Vaderhand op ons gelê, ons in sy Vaderhand geneem en vir ons gesê: Jy is myne;- Ek wil jou Vader wees. Want, sê ons doopsformulier, as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseker die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig en ons tot sy kinders en erfgename aanneem. Tot sy kinders en erfgename aangeneem – is dit nie geweldig nie? Nou mag ons die groot en almagtige God elke dag – in die nood van ons lewe en in die vreugde van ons bestaan – as kinders en met kinderlike vertroue aanroep: Onse Vader wat in die hemel is.

Ons is kinders en erfgename van God, sê ons doopsformulier. Maar hoe het dit gebeur? Is dit deur iets wat ons gedoen het dat ons kinders geword het, dat ons sulke ryk erfgename kan wees? En dan wil ek dié vraag beantwoord deur te begin by Galasiërs 4 vers 7 waar daar staan: Ons is erfgename deur God. In die oorspronklike staan nie erfgename “deur Christus” nie, maar “deur God”. Dit beteken: erfgename deur God die Vader. Ons is kinders en erfgename deur iets wat God die Vader gedoen het.

En nou moet ons gaan kyk wat God die Vader gedoen het om ons as kinders en ergename aan te neem:

  1. God die Vader het sy Seun uitgestuur
  2. God die Vader het die Gees van sy Seun uitgestuur

2.1. God die Vader het sy Seun uitgestuur

In die volheid van die tyd het die Vader sy Seun uitgestuur. Eeue en eeue het die gelowiges van die Ou Testament op hierdie oomblik gewag dat die Christus sou kom. En toe, toe uiteindelik het daardie groot oomblik aangebreek, daardie oomblik waarna die kinders van God al soveel duisende jare verlang het. Toe was dit so ver dat die uurglas vol geloop het – die uurglas van God. Toe het die tydstip aangebreek wat God die Vader van alle ewigheid af bepaal het. Toe het die uur geslaan op God se horlosie. Dit is wat bedoel word met die volheid van die tyd. Toe het die Vader sy Seun uitgestuur.

Vir uitgestuur staan daar ‘n woord wat letterlik beteken: uitgestuur met ‘n bepaalde opdrag. God die Vader het sy Seun uitgestuur met ‘n baie spesifieke opdrag. In vers 4 en 5 word daardie opdrag uitgespel: Jesus Christus is uitgestuur om gebore te word uit ‘n vrou, om gebore te word onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

Jesus Christus, die eie Seun van God, is uitgestuur om gebore te word uit ‘n vrou. Heel eenvoudig gesê beteken dit: Hy is gebore as ware mens. Wié is gebore as egte mens? Dit moet u raaksien: Dit is die eie Seun van God wat gebore is as egte mens! God die Vader het sy Seun uitgestuur, Hy wat self ware God is en bly.

Dink u dit in: Hy, die Seun van God, Hy wat beklee was met Goddelike glorie, omstraal met die aller heerlikste koninklike majesteit, Hy is uitgestuur in die gestalte van ‘n dienskneg (Fil.2:6-8). Hy is uit-gestuur, uit God se heerlike paleis en in ons ellende in: uit die hoë hemel en in die diepte van die hel. Dit is die diepste konsekwensie van die uit-stuur. Die beste uitlegger van Paulus se woorde in vv.4-5 is Paulus self in 2 Kor.8:9: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word”.

Hy is gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop. Ons is onder die wet. Dit beteken: Ons staan onder die verpligting om die wet te doen en as ons dit nie doen nie, as ons die eise van die wet nie 100% nakom nie, staan ons onder die vloek van die wet. En wie van ons kan ooit die wet volmaak vervul? Daarom is ons ALMAL van nature onder die vloek van die wet. Maar hier gebeur ‘n wonder: God die Vader stuur sy Seun om te gaan staan waar ons staan: onder die wet. Hy het in ons plek gaan staan: Hy het die eise van die wet in ons plek vervul; Hy het die straf van die wet wat ons verdien het, op Hom geneem.

Waarom het die Seun van God gaan staan onder die wet? Om ons los te koop, sê Paulus. Daarom moes die Seun van God onder die wet gebore word. Die woordjie “loskoop” is besonder betekenisvol. In daardie tyd is slawe op die slawemark losgekoop deur ‘n losprys vir hulle te betaal. Agter die woord “loskoop” in ons teks sit dus die gedagte van ‘n prys wat betaal moes word. Dit het Jesus iets gekos. Nee, dit het Hom alles gekos. In Galasiërs 3:13 sê Paulus wat die losprys was: “Christus het ons losgekoop van die van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word“. Sy vloekdood was die betalingsmiddel.

“Die losprys was u bloed, wat U vir ons gestort het,

waardeur ons, rein gewas, ‘n priestervolk geword het

en konings in die ryk van onverstoorb’re vrede” (Sk.8:2).

En dan kom Paulus by die doel van dit alles: Die Seun van God het onder die wet gekom, Christus het die duurste moontlike prys betaal, SODAT, sodat
ons AS VRUG, AS GEVOLG VAN SY UITSENDING die aanneming tot kinders kan ontvang. Dit moet u nie miskyk nie: Ons ontvang die aanneming tot kinders, nie vanweë iets wat ons gedoen het nie, MAAR OMDAT DIE VADER SY SEUN UITGESTUUR HET. Om geen ander rede nie.

Ons ontvang die aanneming tot kinders. In die wêreld van daardie tyd was dit heeltemal gewoon dat jong, volwasse seuns van goeie karakter – meestal ‘n jong slaaf – deur welgestelde, kinderlose families aangeneem is om hulle erfgename te word. Maar hier gebeur iets onbegrypliks: God neem nie mense met ‘n mooi, vroom, goeie karakter aan nie. God die Vader neem mense van sondige karakter aan om sy kinders en erfgename. Hoe op aarde is dit moontlik? Daarop is daar net een antwoord: God die Vader het sy Seun uitgestuur. Daarin lê die geheim en die rede en die enigste oorsaak van ons aanneming tot kinders: in Christus, in die prys wat Hy betaal het, in sy kruis. By daardie prys hoef niks van ons by te kom nie: nie ons vroomheid of ons werke nie, maar net deur daardie prys is ons kinders en erfgename.

By ons doop het God die Vader sy Vaderhand op ons gelê en vir ons gesê: Jy is myne, my kind, my erfgenaam. Maar voordat dit kon gebeur, moes eers iets anders gebeur: God die Vader moes sy eie, liewe Seun uitstuur. Die Seun moes ‘n prys betaal. Ja, maar moet nie miskyk dat ons verlossing óók die Vader ‘n prys gekos het nie: die sending/stuur van sy Seun.

By ons doop lê God sy Vaderhand op ons. Maar voordat dit kon gebeur, moes daardie selfde Vaderhand op Golgota oopgaan en moes daardie selfde Vader sy eniggebore Seun, die kosbaarste en dierbaarste wat Hy gehad het, op die altaar van die kruis gelê. En daarin lê die geheim, die heel enigste geheim waarom God vandag sy hand op ons lê en sê: Jy is my kind. Die kruis is die oorsaak van ons kindskap. Die kruis is die geboortebed van die kerk. Om dit nou maar so te sê: In die hospitaal word u gebore AS MENSE-KIND, op Golgota word u gebore as GODS-KIND.

God die Vader het sy Seun uitgestuur. Maar die Vader doen ook nog iets:

2.2. God die Vader het die Gees van sy Seun uitgestuur

Hier word weer dieselfde woord gebruik as in die woorde: “God het sy Seun uitgestuur”. Ook van die Heilige Gees word die woord uitgestuur gebruik: Die Vader het Hom uitgestuur. En ook in hierdie geval gaan dit om ‘n uitstuur met ‘n bepaalde opdrag.

Die Heilige Gees kry ‘n baie spesifieke opdrag van die Vader om te gaan doen. Vers 6 sê vir ons presies wat daardie opdrag van die Heilige Gees is: “Hy roep: Abba, Vader“. Abba is die Aramese woord vir Vader. In Romeine 8:15 lees ons dit ook: “Julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” Dít is die werk van die Heilige Gees: Die Heilige Gees leer ons dat ons kinders van God is en Hy oortuig ons om God met vrymoedigheid en sekerheid aan te spreek as “Vader”. Ons kan hierby dink aan die gebed, aan die Onse Vader. Die Heilige Gees lê die Vader-Naam op ons lippe. Die Heilige Gees oortuig ons dat ons kinders van God is, dat Hy ons Vader is en dat ons met kinderlike vertroue tot hierdie Vader mag nader in ons gebede.

Maar dit is baie belangrik dat ons hierdie werk van die Heilige Gees
nooit, nooit sal losmaak van
die werk van Christus nie. Die uitstuur van die Seun het alles en alles te make met die uitstuur van die Heilige Gees. Die uitstuur van die Seun en die uitstuur van die Gees is onlosmaaklik aan mekaar verbind. WANT deur die uitstuur van die Seun word ons kinders en is ons kinders. En nou is juis dit die werk van die Heilige Gees: om ons aandag te vestig op die werk van Christus. Juis daarom noem Paulus die Gees die Gees van die Seun. Want die Heilige Gees getuig van die Seun. Die Gees bring die Seun. Die Gees doen niks liewer as om die Seun in ons hart in te dra nie. Die Gees leer ons insien en glo dat ons deur Christus kinders van God en erfgename van die ewige lewe is. Die Gees oortuig ons dat die losprys van Christus voldoende en volkome en genoegsaam is, dat die kruis die waarborg en die sekerheid van ons kindskap is. Die Heilige Gees leer ons om deur en danksy en op grond van die werk van Christus God met vrymoedigheid en sekerheid aan te roep as ons Vader.

Die koms van Christus en die koms van die Heilige Gees, die kruis van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees – dit kan nooit van mekaar losgemaak word nie. Op Pinksterdag verkondig die Heilige Gees by monde van die gesante van die Here Jesus Christus Pase, Hemelvaart en Pinkster, dus die werk van Christus. Die werk van die Heilige Gees is om die werk van Christus te verkondig en in te dra in menseharte. Die Gees van Pinkster plant die kruis van Golgota in die grond van ons hart.

Dit is so ontsaglik belangrik dat ons sal sien dat dit die Gees is wat roep: “Abba, Vader”. Die gebed is ‘n deur en deur Gees-telike saak. Dit wil sê: gebed is ‘n saak van die Heilge Gees. Die rykdom van die gebed, wonder om God aan te spreek as Vader en om tot Hom te nader as kinders en met kinderlike vertroue – daardie geloof bewerk die Heilige Gees en Hy alleen in ons.

Die Heilige Gees werk so ‘n heerlike sekerheid van ons kindskap in ons hart en dit doen die Heilige Gees deur ons aandag te vestig op Jesus alleen. Dit het Luther so skerp raakgesien, want op ‘n plek sê hy: Wanneer ek die angste en bedreigings van die wet voel (die aanklagte en beskuldigings daarvan – AHB), dan doop ek my gewete in die wonde, in die bloed, in die dood, in die opstanding en in die oorwinning van Jesus Christus. Buiten Christus wil ek totaal en al niks sien en hoor nie. En dan roep Luther sy hoorders toe: Kleef daarom in al u versoeking en swakheid Christus aan en sug tot Hom. Hy gee ons die Heilige Gees, wat roep: Vader! En hierdie geringe sug is in God se ore ‘n aller kragtigste roep en dit vervul hemel en aarde só dat God buiten hierdie geroep niks hoor nie.

En op ‘n ander plek sê Luther: As ons verskrik word deur die wet (deur sy aanklagte en beskuldigings) en as die sonde as ‘t ware bo ons donder, as die dood ons laat sidder en bewe, as die duiwel op die aller gruwelikste wyse brul, dan begin die Heilige Gees in ons harte te roep: Abba, liewe Vader. En hierdie roep van die Gees is veel sterker as die geroep van wet, sonde, dood en duiwel, al klink dit ook hoe geweldig en verskriklik. Die roep van die Gees breek en dring met alle mag deur wolke en hemel heen, kom voor God se ore en word verhoor.

3. Slot

Wat het ons gedoen om kinders en erfgename van God te word? Heeltemal niks nie. God het alles gedoen.

God die Vader doen alles. Nog lank, lank voordat ons gebore is, het God alles gedoen wat nodig was: Hy het sy Seun uitgestuur en Hy het die Gees van sy Seun uitgestuur.

God die Vader doen alles. Nog lank voordat ons gebore was, nog lank voordat ons daarom kon vra, 2000 jaar gelede – toe het God die Vader sy Seun uitgestuur, sodat ons die aanneming tot kinders en erfgename kon ontvang.

God die Vader doen alles. Want watter kind het dit gekies om uit gelowige ouers, verbondsouers, gebore te word. Maar sonder dat ons dit kon kies het God die Vader, om Christus wil, ons gelowige ouers gegee.

God die Vader doen alles. Daardie Godswonder word ook afgebeeld in die wonder van ons doop. ‘n Kind wat gedoop word, kan nog nie self vir God kies nie, maar sonder dat die kind daarom vra, lê God sy Vaderhand op daardie kind en Hy sê: Ek doop jou in die Naam van die Vader. Daarmee verklaar God: Ek wil jou Vader wees en ek neem jou aan tot my kind en erfgenaam.

God doen alles.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s