Galasiërs Preek 12

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 12

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.5:13-26

Teks: : Gal.5:16, 24-25

Psalms: 116:1,10; Geloofsbelydenis; 87:1-2; 87:3-5; 133:1,2

1. Inleiding

Ek wil vandag preek oor menseverhoudings.

Ons hoef maar net rondom ons te kyk en die koerante te lees. Dan sal ons met ons eie oë sien in watter toestand menseverhoudings is. Mense maak oorlog met mekaar, vermoor mekaar, verdruk mekaar, twis met mekaar, haat mekaar.

Daarom het die heidense wysgeër Seneca eenmaal geskryf: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Daarmee het hy bedoel: Mense is daarop uit om mekaar te vernietig.

So sien menseverhoudings daar uit – in die wêreld. Maar – hoe lyk dit in die kerk? Helaas dikwels nie veel beter nie. Paulus het in die gemeente van Galasië ervaar presies dit waarvan Seneca geskryf het: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Want in vers 15 sê die apostel: “As julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie”. Dit gee ons nie ‘n mooi beeld van die kerk aldaar nie: lidmate wat soos wilde diere mekaar aanval, verskeur en verslind. Dit is so oneindig tragies. Ook in die kerk geld die woord van Seneca so baie kere: Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Ons is daarop uit om mekaar te vernietig en te verteer met ons liefdeloosheid, met ons getwis, met ons geskinder, met ons woorde.

Hoe op aarde is dit moontlik dat dit liefdeloos daaraan toe kan gaan ook in die kerk? Die apostel gee ons daarop die antwoord in vers 13: Julle is tot vryheid geroep, broeders; misbruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir julle sondige geaardheid nie. Paulus laat val daar ‘n baie belangrike woord: vryheid – julle is tot vryheid geroep. Daarmee bedoel hy: Julle is vry van die slaweheerskappy van die wet. Dit wil sê: Julle is vry van die wet as manier om self, deur wetswerke, julle verlossing te verdien. Christus het julle vrygemaak van die wet, want Hy het in julle plek alles gedoen wat die wet van julle vra: Hy het die straf van die wet gedra en Hy het al die gebooie van die wet in julle plek gehou. Julle hoef nie meer deur wetswerke, deur goeie werke, die saligheid te verdien nie. Dit is wat Paulus bedoel met vryheid.

Maar toe het daar iets baie tragies gebeur: Van die gemeentelede in Galasië het begin misbruik maak van hierdie vryheid. Hulle het begin redeneer: As Christus dan alles gedoen het, waarom moet ek nog die wet hou en my broeder en my suster liefhê. Daar het afguns en stryd en sulke dinge kop uit gesteek in die gemeente. En – dit gebeur vandag nog en juis daarom word ons ook in die Bybel daarteen gewaarsku.

Teen hierdie dwaling gaan Paulus in in ons teksverse en hy doen dit deur:

  • Die gelowiges te wys op die oorlog in hulle en
  • Deur hulle te leer hoe hulle in hierdie oorlog die oorwinning kan behaal

2.1. Die oorlog in ons

In ons lewe as gelowige is daar ‘n oorlog aan die gang. Twee vyandige leërs staan in ons harte teenoor mekaar. Paulus noem die twee magte by name. Die een leër se naam is vlees; die ander se naam is Gees. Die een veg teen die ander met die bedoeling om heerskappy oor ons te kry.

  • Enersyds is daar die vlees. Dit is ons ou natuur, ons sondige geaardheid. Dit is soos wat ons geword het deur die sondeval. Dit is die ou mens in ons wat nie wil luister na die wet van God nie.
  • Andersyds is daar die Gees. Dit is die ander leër. Dit is die nuwe mens in ons, die nuwe mens wat staan onder die genadeheerskappy van die Heilige Gees, die nuwe mens wat deur die werking van die Gees die wil van God doen.

Die aktiwiteite van die lëer genaamd vlees bly nie verborge nie. Inteendeel, Paulus skryf: Die werke van die vlees is openbaar. Almal kan dit sien. Ons vlees, d.w.s. ons ou natuur, is verborge en onsigbaar, maar die werke en dade waarin dit tot uitbarsting kom, is nie onsigbaar nie.

En dan noem die apostel ‘n hele lys van werke van die vlees: owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.

Sien ons nie hierdie dinge in ons eie lewe nie? Toornigheid – ons word so gou kwaad vir mekaar, dikwels oor onbenullighede. En dan wil ons ook nie vergewe nie. Tweedrag – hoeveel twis, hoeveel onenigheid, is daar nie in die kerk nie. Afgodery – nee, afgode soos die Israeliete gehad het, bv. Baäl en die Astarte, het ons nie. Maar dit beteken nie dat ons nie afgode het nie. Want vir baie mense het hulle geld en hulle sport hulle afgode geword.

En nou moet ons regtig nie dink dat net party mense in die gemeente vleeslik is en daaraan skuldig is nie. Inteendeel, hier is ‘n leër wat in almal van ons aan die werk is. In elkeen van ons probeer die vlees die oorhand kry. ‘n Christen se lewe is een van voortdurende konflik; in ons is ‘n onophoudelike oorlog tussen ons vlees en die Gees aan die gang.

En nou moet ons beslis weet hoe ernstig hierdie oorlog is. Want dit is ‘n stryd wat ons ewige wel en wee raak. Want in verband met die werke van die vlees – die afgodery en twis en sulke dinge – skryf Paulus: Die wat sulke dinge doen, sal die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

  • Daarmee bedoel hy natuurlik nie dat net mense wat nooit die werke van die vlees gedoen het, dat net mense wat nie sondig nie, salig sal word nie. As dit die geval wa,s sou niemand van ons gered word nie, want ons almal struikel dikwels.
  • Waaroor dit wel vir Paulus gaan is: verset ons ons teen die verkeerde begeertes of nie. Want as ons nie stry teen die verkeerde en as ons ons nie bekeer nie, dan moet ons weet: Ons sal die koninkryk van God nie beërf nie. Dit skryf Paulus vir kerkmense, vir lidmate van die Gereformeerde Kerk van Galasië en vir alle kerke deur die eeue heen.

Daarom is die groot vraag: Hoe kan ons in hierdie doodstryd triomfeer?

2.2. Die oorwinning in hierdie stryd

In verse 16 en 24 kom die uitdrukking “die begeerlikheid van die vlees” en “die vlees met sy begeerlikhede” ter sprake.

Maar dit is nie al nie. Ons kan hierdie twee tekste ook is triomftekste, oorwinningsverse, noem. Want in beide hierdie verse hoor ons hoe ons die oorwinning behaal en kan behaal oor die vlees en sy werke.

  • In vers 16 word ons gewys op die werk van die Heilige Gees;
  • in vers 24 vestig Paulus ons aandag op Christus en sy kruis.

Die werk van Christus en die werk van sy Gees – daarin lê die geheim van ons triomf.

  1. Kom ons begin by die eerste, by die werk van die Heilige Gees.

In vers 16 beveel Paulus: “Wandel deur die Gees“. En dan voeg hy as belofte daarby: “Dan sal julle nooit die begeerlikhede van die vlees volbring nie”. As vrug van die wandel deur die Heilige Gees, sal ons nooit die begeerlikhede van ons sondige geaardheid volbring nie.

“Wandel deur die Gees” – daarin lê die oplossing. Maar wat bedoel Paulus daarmee? Die apostel wil vir ons sê: Ons lewenswandel, dit wil sê ons hele lewe, ons ganse doen en late, moet kom onder die heerskappy van die Heilige Gees. As ons ons so laat beheers deur die Heilige Gees, sal ons – as gevolg daarvan – nooit die begeerlikheid van ons vlees volbring nie.

Deur die Heilige Gees, danksy sy werking, kom daar iets nuuts in ons lewe. In plaas van die werke van die vlees, kom die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Dit is opvallend dat die eerste woord in hierdie lysie van die vrug van die Heilige Gees “liefde” is. En dan staan daar ‘n woord in die Grieks wat gebruik word van die liefde van God en Christus vir die gemeente. Presies hierdie woord kry ons in Efesiërs 5:25, waar daar staan: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”. In die oorgawe van Christus aan die kruis sien ons die Goddelike liefde van Christus vir sy bruid gedemonstreer. So moet mans hulle vrouens liefhê – met ‘n selfopofferende, goddelike liefde. En so het mense wat wandel deur die Gees, mekaar lief: Waar die Gees met sy liefde kom, verdwyn die toorn en kom daar sagmoedigheid; waar die Gees met sy liefde heers, verdwyn die twis en kom daar eenheid.

Maar nou wil ek u na tweede uitdrukking in ons teksgedeelte vat, dan sal u nog beter verstaan wat bedoel word met die “wandel deur die Gees”. In vers 18 het Paulus dit oor deur die Gees gelei word. Dit is ‘n wonderlike mooi beeld wat hier gebruik word: Die Heilige Gees lei ons soos ‘n herder sy skape. En weet u nou hoe lei die Gees ons? Die Heilige Gees lei ons soos ‘n herder aan die hand van die groot Herder, Jesus Christus. Die Heilige Gees is die Gees van die Opperherder van die skape. Die Heilige Gees bring ons by Christus en sy kruis, want daar word die oorwinning behaal – daar en nêrens anders nie.

  1. Ons kom daarom by die tweede, by Christus en sy kruis.

In vers 24 skryf Paulus: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig“.

Hoor u die woordjie kruis? Die wat aan Christus behoort, het die sondige vlees gekruisig. Daarmee word die kruis van Golgota bedoel. Op die plek van die hoofskedel het daar iets met ons sondige geaardheid gebeur. Daar is die vlees met sy … begeerlikhede gekruisig.

Paulus gebruik doelbewus die woord kruisiging. Daarmee wil hy iets belangriks – iets van lewensbelang, van ewigheidsbelang – vir ons sê. Daarmee wil hy ons leer: Die doodmaak van ons ou mens, die doodmaak van die liefdelose mens – dit het alles en alles te make met die kruis en met die kruis alleen. Ons oorwinning oor die sonde is vrug van die kruis van Christus. Ons bekering is nie mensewerk nie. Dit is resultaat van God se werk aan die kruis.

Die kruis is die geheim. Hier sien ons: Die werk van die Gees word nie losgemaak van die werk van Christus aan die kruis nie. Deur God se Gees word ons in Christus ingelyf. Die Gees skenk ons die geloof in Christus en sy kruis. En so word ons ou mens saam met Christus gekruisig. As die Gees ons deur die geloof aan Christus verbind, ontvang die ou mens die doodsteek. Hier sien ons hoe die Heilige Gees ons nuwe mense maak en hoe ons deur die Gees wandel. Die Gees doen dit deur die kruis. Deur die kruis word die gelowige van harte gewillig en bereid gemaak om die stryd teen hulle bose luste aan te bind. Die kruis is die sterfbed van ons ou mens en die geboortebed van ons nuwe mens.

In vers 24 sê Paulus wie die mense is wat die vlees met sy hartstogte gekruisig het: Dit is die wat aan Christus behoort. Ons kan ook maar sê: Dit is die wat in Christus glo. Dit is daardie mense in die kerk, wat deur die geloof deel het aan sy kruis en sy oorwinning oor die ou mens, die vlees. Dit is die werk van die Heilige Gees, want Hy verbind ons deur die geloof aan Christus en gee ons deel aan Christus.

Ek kom weer terug by die ernstige waarskuwing van Paulus: Die wat voortleef in liefdeloosheid en twis en toornigheid – hulle sal die koninkryk van God nie beërwe nie. Hoe kan Paulus dit sê? Omdat juis in ‘n liefdelose lewe blyk dat ons nie aan Christus behoort nie; omdat juis in ‘n liefdelose lewe blyk dat ons nie saam met Christus gekruisig is nie.

3. Slot

Die Heilige Gees plant ons in in die bodem van Golgota en dan dra die boom vrugte van liefde.

Dit is soos Psalm 1 sê: Die man wat leef by die Skrif, by die kruis, “hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd”.

Deur die Woord van die kruis kry die Heilige Gees heerskappy in ons en dan wandel ons deur die Woord van die Gees op die pad van liefde.

Die een mens is vir die ander ‘n wolf. Deur die kruis word wolwe verander in dienaars – mense wat mekaar dien deur die liefde.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s