Galasiërs Preek 13

Deur Christus alleen

Reeks preke oor Galasiërs

Nr 13

Dr AH Bogaards

Lees: Gal.6:11-18, Romeine 3:21-31

Teks: Gal.6:11, 14

Psalms: 121:1,2; 32:1,6; 20:1-3; 20:4-6; 20:7-9

1. Inleiding

Ons moet ons verlossing heeltemal buite onsself in Christus soek – dit is woorde wat ons ook op drie hoogtepunte in ons lewe hoor en gehoor het: by ons doop, toe ons belydenis van geloof afgelê het en dan ook by die nagmaal, ‘n driedubbele onderstreping:

  • Reeds in die uur van ons doop is dit vir ons gesê: Die doop leer ons om ‘n afkeer van onsself te hê, om klein te word voor God en om ons saligheid buite onsself te soek.
  • Die tweede keer was toe ons belydenis gedoen het. Toe is dit vir ons gevra: Is dit jou voorneme om jou saligheid, jou redding, buite jouself in Christus te soek? Daarop het ons ja geantwoord.
  • By die nagmaal hoor ons dit vir die derde keer: Ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, juis die teenoorgestelde is waar: ons kom omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, en daarmee bely ons dat ons deur ons misdade dood is.

Wanneer ons na die nagmaalstafel toe stap, is daardie kom van ons na God se tafel toe niks minder nie as ‘n geloofsbelydenis. Dit is, om dit nou maar so te sê, ‘n dubbele belydenis. WANT:

  • daarmee bely ons eerstens: by onsself is die geregtigheid hoegenaamd nie te vinde nie.
  • Tweedens gee ons met ons gang na die nagmaalstafel te kenne: Ons soek ons verlossing buite onsself in Christus.

Ons saligheid, ons geregtigheid, lê heeltemal buite onsself in Christus alleen. In hierdie gedagte word Paulus se boodskap in die Galasiërbrief saamgevat.

Die brief van die Galasiërs is die vingerwysing van God radikaal weg van die mens en sy verdienste en heeltemal na die kruis alleen.

Ek staan met u stil by twee gedagtes:

  • Paulus roem in die kruis alleen
  • Die betekenis van daardie kruis

2.1. Paulus roem in die kruis alleen

In Galasiërs 6 vers 11 begin Paulus met die slot van sy brief. Ons kan dit ook as ‘n samevattende afsluiting van die brief beskryf.

En Paulus doen dit op ‘n heel besondere manier. Want hy begin sy slot deur in vers 11 te skryf: Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.

Waarskynlik het Paulus sy briewe deur ‘n sekretaris geskryf, maar meermale het hy die laaste paar woorde self geskryf (1 Kor 16:21-23).

Met hierdie groot letters wat hy met sy eie hand aan die einde van die brief geskryf het, het die apostel ‘n besondere bedoeling gehad. Dit staan nie sommer vir interessantheid daar nie.

  • Daarmee wou Paulus eerstens sê: Hierdie brief kom werklik van my af. Dit is afkomstig van my die apostel, die gevolmagtigde gesant, die boodskapper van die Here. Hierdie evangelie van die kruis en die kruis alleen is daarom beslis nie maar net ‘n boodskap van ‘n mens nie. Inteendeel, dit is die gesagvolle Woord van God, van God self afkomstig.
  • Maar dat hy ook nog met eie hand ‘n kort samevatting gee van dit wat hy gesê het, dien tweedens ook as beklemtoning van die groot belangrikheid van die sake wat aangeroer is. Ons kan sê: Hy herhaal in opsomming wat hy alreeds gesê het én hy herhaal met eie hand en dan hy herhaal dit boonop nog in groot letters. ‘n Drie-dubbele onderstreping as ‘t ware – NB, Nota Bene, Let Wel, baie belangrik. ‘n Drie-dubbele onderstreping van die boodskap van die kruis en die kruis alleen. ‘n drie-dubbele onderstreping van Paulus, maar dit is ook nog meer: dit is ‘n drie-dubbele onderstreping deur God self deur die hand van sy gestuurde. Daarmee weet ons so duidelik as wat maar kan kom hoe belangrik hierdie brief en sy inhoud is.

Ons kan vers 14 gerus die kern van sy lewensbelangrike opsomming noem: Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus.

In die voorafgaande vers, vers 13, het hy weer die dwaalleraars genoem. Hulle roem ook. Maar nie in God nie. Hulle roem ook, maar in hulle eie werke.

In vers 14 stel Paulus hom vierkantig teen hierdie eie-roem, teen hierdie roem in die vlees. En hy doen dit baie sterk. Ons kan maar sê: taalkundig ook in groot letters. Want ons kan dit so weergee: Maar wat my betref, maar ék, ék daarenteen, ék roem in iets anders, in Iemand anders, in die gekruisigde Here Jesus Christus. Die ék staan met nadruk voorop. Ons kry ‘n baie sterk ontkenning: Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie. Daar is vertalings wat dit vertaal met: mag God dit verhoed. Dit is ‘n goeie vertaling, want dit is bedoel as ‘n gebed, ‘n roep tot God: mag ék nooit iets anders doen nie.

Met roem bedoel Paulus: om steun op iets, om staat te maak op iets, om op iets te vertrou. Wat my betref, mag ek nooit, nooit op enigiets anders staatmaak vir my verlossing, behalwe op die kruis en die kruis alleen nie. Met hierdie woorde gaan staan hy teenoor die dwaalleraars van Galasië en almal wat by die kruis ook nog hulle goeie werke gevoeg het en met eie hand sê Paulus: nee, net die kruis en niks anders nie, net die kruis en niks van die mens nie.

Skrif-met-Skrif-vergelyking laat ons helder en duidelik sien wat Paulus in ons teks met roem bedoel. Daarby dink ek eerstens aan Filippense 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie”. In hierdie teks word die woorde “in Christus Jesus roem” nader verklaar met die “nie op die vlees vertrou nie”. Om in Christus te roem is om nie op die vlees te vertrou nie. Paulus roem in niks anders nie, behalwe net in die kruis alleen. Dit wil sê: Daarop alleen stel hy sy vertroue. In die roem in die kruis is vertroue op die vlees radikaal en totaal uitgesluit. Christus is die wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing, sê Paulus in 1 Korintiërs 1 vers 30 en 31. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Die woord roem het sy wortels in die Ou Testament. “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God” (Ps.20:8). Sommige vertrou op perde, magtige krygstuig, maar ons roem, ons vertrou op die Naam van die HERE. En hierdie “Naam van die HERE” sien ons uitgespel in Christus en sy kruis.

Roem is vertrou. Roem is ook prys, lofprysing van die HERE.

Tot roem en prys van Gods genade,

die grond van ons behoudenis,

sing ons nou van sy reddingsdade

in Hom wat die Geliefde is.

Uit Hom in wie ons nou weer vry is

van skuld, deur sy verlossingsbloed,

in Hom, in wie die heil berei is,

kom seënstroom ons tegemoet. (Skrifberyming 24:3)

Roem is om sy Naam, om die Naam van sy Seun, om sy kruis lofprysend te vertel.

Ek sal u Naam met dankerkent’nis prys

te midde van die feestelike skare.

Jerusalem, ek hoor om jou altare (…Ja, om jou altare, aan die voet van die kruisaltaar)

Die lofgeluid wat tot Gods eer verrys. (Psalm 116:10)

Tussen die eeue-oue puinhope van die Colosseum in Rome – daar waar talle Christene deur wilde diere verskeur is – staan ‘n kruis. Op die voetstuk staan geskrywe: “Wees gegroet, o kruis, u is ons enigste hoop.”

Nee, in die dae van die Christenmartelaars het daardie kruis nie daar gestaan nie. En tog, in figuurlike sin het dit wel daar gestaan. Voor hulle geestesoog het hierdie martelare om Christus wil dit tog sien staan. Hulle het dit aanskou en daaraan krag ontleen. Die kruis het vir hulle gesê: Jesus het alles vir hulle gely het, ter versoening van al hulle sondes en as hul nou moes sterwe, was die kruis hulle enigste hoop.

Die groot ellende van die kerk van vandag is dat vele nie meer die diepte van hulle sonde en hulle totale onmag en onvermoë om hulself te verlos, ken nie. Daarom ontbreek die verlange na verlossing en is die verwondering oor en waardering vir die kruis soek. Is die kruis ook ons enigste hoop op saligheid of soek ons nog steeds heilssekerheid in iets in onsself of in ons kerklidmaatskap?

Paulus roem in die kruis en dan spel Paulus

2.2. die betekenis van hierdie kruis uit:

  • deur die kruis van ons Here Jesus Christus is die wêreld vir my gekruisig en
  • deur die kruis van ons Here Jesus Christus is ek vir die wêreld gekruisig
  • EERSTENS onderstreep Paulus: Deur die kruis van Christus is die wêreld
    vir my gekruisig

Aan die kruis van Jesus sien Paulus die wêreld hang. Die wêreld is vir hom gekruisig.

Om te verstaan wat Paulus hiermee sê, sal ons eers weet wat Paulus met wêreld bedoel. Met die wêreld bedoel Paulus: alles waarop die mens staatmaak om self sy verlossing te kan verdien: die besnydenis, jou goeie werke, ens. – die dinge buite Christus.

Hierdie wêreld bekoor die mens. Dit het die natuurlike mens in sy greep, in sy mag. Maar nou sê Paulus: die wêreld is vir my gekruisig. Dit beteken: Die wêreld se mag oor hom is gebreek. Christus het dit gedoen.

  • TWEEDENS beklemtoon Paulus: Deur die kruis van Christus is ek vir die wêreld gekruisig.

Ek is gekruisig. Met die ek bedoel Paulus: sy ou mens, die mens wat op homself staatmaak vir verlossing, die mens wat nie van God se genade wil leef nie. Dit is die mens wat nog bekoor word deur die gedagtes van die wêreld, wat nog bekoor word deur die gedagtes dat ek myself kan red, dat ek ‘n bydrae kan lewer tot my verlossing.

So het Paulus se ek gelyk, sy ou mens. Maar sy ek, sy ou mens het gesterf aan die kruis. Daarmee het die wêreld sy houvas op hom verloor – deur die krag van die kruis.

‘n Mens vol self-vertroue, ‘n man met hande vol wetswerke – so ‘n mens was Paulus toe hy op pad was na Damaskus om die Christene te gaan vervolg. MAAR op die Damaskusweg het hy die gekruisigde Jesus ontmoet. Toe, kan ons sê, het Christus hom laat sien hoe niks en niks-werd sy werke is. Want gekonfronteer met die helder lig van God se heiligheid is die wetwerke uit die wetgeleerde, Paulus, se hande geslaan. Toe het hy met leë hande voor God te staan gekom. Maar toe was daar plek vir die kruis. Toe het die Seun van God in Paulus se leë hand sy kruis gelê – die wetswerke van ‘n Ander. In die plek van die self-vertroue het die Gods-vertroue, die Christus-vertroue gekom.

Tot voor die Damaskus-episode was Paulus ‘n man wat op eie bene wou staan. Maar op die Damaskus-weg het hy – by wyse van spreke – op sy knieë te land gekom. En op sy knieë het hy gebly vir die res van sy lewe: ‘n bidder, op sy knieë pleitend, biddend om God se geregtigheid in Christus. ‘n Bedelaar voor God, maar daarom ‘n kind en erfgenaam in Christus.

3. Slot

Toe Maarten Luther gesterf het, het hy behalwe sy geskrifte wat tot vandag toe nog gelees en bestudeer word, niks anders nagelaat nie as net ‘n klein stukkie papier. Daarop het ses woorde gestaan: “Ons is bedelaars, dit is waar”. Dit was Luther se geloofsbelydenis, dit was die samevatting van sy lewe, die opsomming van sy teologie.

Ons is bedelaars – mense wat deur Christus alleen, deur die geloof alleen, deur die kruis alleen, gered word.

Ons is bedelaars – brandarm in onsself. Dit is waar. Maar in Christus is ons skatryk. Ons is bedelaars – dit is waar. Maar in Christus is ons kinders en erfgename.

Salig is hulle wat arm van gees is. Salig is hulle wat bedelaars is voor God, want deur Christus behoort aan hulle die weelde, die rykdom van die koninkryk van die hemele.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s