Preek Sondag 1 v/a 1

Lees: Jes.1:1-9; 39:1-8; 40:1-2

Teks: Jes.40:1,2

H.K.: Son.1:1

Datum: 21 Mei 2011

Psalms: Ps.146:1,2; Ps.23:1; Ps 23:2,3; Ps.73:10-11; Ps.119:10

1. Inleiding

Troos – dit die groot boodskap van ons Heidelbergse Kategismus.

Smart – dit is die donker agtergrond van hierdie kosbare belydenis.

Maar die Kategismus spits dit ook persoonlik toe: Wat is jou troos? En dan bely ons dit: my hartseer en my vertroosting.

MAAR – hoé weet u dit? Hoé weet u van u smart? En hoé weet u van die enigste troos wat daar vir u is? Omdat en alleen omdat ons Here Jesus Christus dit aan ons openbaar; alleen omdat Hy ons deur sy Openbaring daarvan oortuig; omdat Hy ons deel gee aan die troos deur die krag van sy Openbaringswoord en daardeur alleen.

Ek wil met u drie gedagtes oordink:

  1. Die HERE openbaar aan ons ons smart
  2. Die HERE openbaar aan ons ons troos
  3. Die HERE gee ons deel aan die troos deur sy openbaring

2.1. HERE openbaar aan ons ons smart

Jesaja – sy naam beteken: die HERE, Jahwe, die Verbondsgod van Israel, Hy verlos. Dit is ook wat die Boek Jesaja aan ons wil openbaar: Die verlossing van die kerk is net die HERE se werk en net sy werk alleen.

Jesaja – dit is ‘n mooi boek. Ja, maar dit is ook ‘n vernielde boek, ‘n versnipperde boek – dit is verniel en versnipper deur die liberale teologie, maar ook deur gereformeerdes.

Want, weet u, weinig wil vandag nog glo dat die boek Jesaja van begin tot einde geskryf is deur een persoon, deur Jesaja. Want die liberale teologie sê: Jesaja 40 tot 66 , dit is van ‘n Deutero-Jesaja, ‘n tweede Jesaja. Volgens hulle is hoofstuk 40 en verder geskryf aan die einde van of na die ballingskap. Die eerste Jesaja het toe nie meer geleef nie. Immers, die ballingskap begin meer as honderd jaar na Hiskia se dood. Daarom kan dit nie – kan dit nie in hulle oë -, van Jesaja wees nie. Hy kon die dinge van Jesaja 40 tot 66 tog nie so haarfyn geweet het nie. Daarom is na hulle opvatting hoofstukke 40 tot 66 aan die einde van die ballingskap deur ‘n sekere Deutero-Jesaja, Jesaja die Tweede, en miskien ook nog ‘n Jesaja die Derde geskryf. Die liberale teologie kom tot sulke opvattings en moet tot sulke opvattings kom, omdat hulle nie wil glo in openbaring deur God nie. Vir hulle is die Woord nie Gods-openbaring nie, maar mense-teologie, gemeente-teologie. Hulle kan en wil nie glo dat Jesaja alreeds in die tyd van Hiskia, nog lank voor ballingskap, deur Godsopenbaring van die dinge kon weet wat in hoofstuk 40 en verder geprofeteer word nie.

Maar dwars teen al hierdie teologië in staan die opskrif bokant Jesaja 1 geskrywe, ja ‘n opskrif deur God self geskrywe: “Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda”. En dwars teen die opvattings van die hooggeleerde teoloë in ons tyd haal die apostel Johannes aan uit die eerste deel van Jesaja en ook uit die deel na hoofstuk 39 en hy skryf: Dit is van Jesaja. Dit alles staan daar tot beskaming van en tot weerlegging van die geleerdes van ons tyd. Die Gees van Christus in die Ou en in die Nuwe Testament weet nie van ‘n tweede of derde Jesaja nie.

Maar nou ‘n belangrike vraag: Waarom sou dit so wees dat Jesaja die woorde van hoofstuk 40 tot 66 geskryf het nog lank, lank voordat dit gebeur het? Sodat ons sal weet dat ons daardie dinge net kan weet omdat God dit aan ons geopenbaar het. God moet dit aan ons openbaar, maar Hy moet ook ons oë daarvoor oopmaak, anders sien ons dit nog nie.

Dit geld ook van ons sondes en ons ellende, van die oordeel van God wat kom – ons smart, ons hartseer. Ons sien dit nie, ons weet dit nie, ons glo dit nie. Ons sien dit eers as God dit aan ons openbaar en dit laat sien deur sy Heilige Gees.

Jesaja het Israel se verbondsbreuk in alle duidelikheid alreeds in sy heel, heel eerste hoofstuk aan die volk geopenbaar: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag …” (Jes.1:4). En in sy eerste hoofstuk al het hy hulle ook al God se verbondsstraf laat hoor: “Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand …” (Jes.1:7).”

En in Jesaja 39 het Jesaja dit aan Hiskia verkondig: “Hoor die woord van die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word …” (vv 5-6).

En in daardie tyd is ook Jesaja 40 tot 66 aan hulle verkondig – daardie mooi hoofstukke, maar met die donker agtergrond van die ballingskap. Nee, die ballingskap was nog nie daar nie, maar Jesaja profeteer asof dit klaar ‘n werklikheid is. Jesaja sien dit – nee, God laat dit hom sien, openbaar dit aan hom en aan die gelowiges van daardie tyd.

Jesaja en sy medegelowiges het dit dus wél gesien – met die oog van die geloof.

Maar die meeste van die mense in daardie tyd was blind daarvoor. Hulle het die openbaring gehoor en tog nie gehoor nie. En daarin is die oordeel van die HERE oor hulle voltrek, vanweë hulle volhardende ongeloof. Die woord van die HERE aan Jesaja in hoofstuk 6 vers 9 en 11 het in vervulling gegaan: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie. Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot ‘n wildernis.”

En nou kom die Kategismus vandag tot ons met die vraag: Wat is jou enigste troos? Maar troos veronderstel tog hartseer? Kennis van hartseer by u?

Daarom: Hoe weet u van u hartseer? Hoe weet u van u sonde wat u verhouding met God stukkend slaan en sy oordeel oor u bring? Hoe weet u dat dit u sonde is wat in menseverhoudings soveel verdriet bring, wat ons land ons samelewing verwoes?

U ken daardie hartseer op geen ander manier nie as wat die gelowiges in die tyd van Jesaja dit geweet het nie: net deur openbaring, omdat God dit deur sy Openbaringswoord aan u openbaar. Want waaruit ken jy jou sondes en ellende? Uit die wet van God. Omdat God sy wet aan u gegee het en omdat Christus dit in sy genade deur sy Heilige Gees aan u laat sien deur daardie Openbaringswoord.

Ons kom by die tweede:

2.2. Die HERE openbaar aan ons ook ons troos

Nee, sê die liberale teologie: Jesaja kon nie geweet het van die Kores van Jesaja 40-66 nie? Dit is onmoontlik. Want Kores was in die dae van Hiskia, toe Jesaja geprofeteer het, nog nie eens naastenby op die toneel van die wêreldgeskienis nie. Eers meer as honderd jaar later sou hy sy verskyning maak. Daarom moét Jesaja 40 tot 66 beslis van die hand van ‘n ander skrywer, iemand in die tyd van of aan die einde van die ballingskap gewees het. Maar Jesaja – nee, hy kon dit nie geweet het nie en daarom ook nie geskryf het nie.

Ja, as méns kon Jesaja dit sekerlik nie weet nie. En tog hét hy dit geweet. Want God weet dit en God het dit aan hom geopenbaar. Daarom. Maar ook daarom alleen.

Ek kom weer terug op die vraag wat ek onder die eerste punt gestel het: Waarom sou dit so wees dat Jesaja die woorde van hoofstuk 40 tot 66 geskryf het nog lank, lank voordat dit gebeur het? Sodat ons sal weet dat ons net van Christus en sy verlossing kan weet omdat God dit aan ons geopenbaar het. God moet dit aan ons openbaar, maar Hy moet ook ons oë daarvoor oopmaak, ons die geloof gee – anders sien ons dit nog steeds nie.

Ag, vir die ongelowiges in die tyd van Jesaja en Hiskia het die evangelie van Jesaja 40 tot 66 niks gesê nie, ewemin as wat die oordeelsprediking en hulle sondes trane uit hulle oë gepers het. God se Woord het vir hulle niks gesê nie.

Maar dan sien ek die ander daar sit, daar in Jerusalem: ‘n verslae hopie mense, hulle wat die oordeelswoord wél ernstig neem, die treurendes van Sion.

Maar terwyl die donker wolke van God se oordeel op die horison saampak en hierdie gelowige oorblyfsel weet dat ook hulle niks anders verdien nie, terwyl hulle reeds met die oog van die geloof die komende gerig in God se Woord aanskou – … dan straal iets anders hulle tegemoet. Dan sien hulle met die oog van die geloof ook iets anders: die helder lig van die evangelie deur die donker wolke van die oordeel heen.

Hulle sien dit, want God openbaar dit aan hulle deur Jesaja: “Troos, troos my volk, sê julle God.” Jesaja troos hulle met Christus. Hulle sien Hom. Al sou Hy eers meer as 700 jaar later kom. Tog sien hulle Hom deur die openbaring van God deur Jesaja.

Troos – wanneer Jesaja die woord troos gebruik, gaan dit oor God se dade: oor sy verlossingswerk, oor sy skuldbetaling. Wat God doen – dit is die inhoud van die troos.

En presies
dít is ook die betekenis van die woord troos in ons Kategismus. Dit gaan net oor wat God die Vader in Christus en deur sy Heilige Gees doen:

  1. Eerstens bely ons: Christus het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en Christus het my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.
  2. Tweedens bely ons: Christus bewaar my ook by daardie verlossing.

Christus laat heeltemal niks in ons hande nie, maar Hy neem alles in sy hande. En in sy hande is ons saligheid verseker en ons troos gewaarborg.

Ons kom by die derde:

2.3. Die HERE gee ons ook deel aan die troos deur sy Openbaringswoord

Dit is die derde wat Christus doen. Hy gee ons sy Heilige Gees. En deur sy Gees doen Christus twee dinge:

  1. Deur sy Heilige Gees verseker Hy ons van van die ewige lewe;
  2. en deur sy Heilige Gees maak Hy ons ook van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te leef

Maar nou weereens die belangrike vraag: Hoé doen Christus dit? Deur sy Openbaringswoord!

Want in ons belydenis staan ‘n klein woordjie daarom: Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en daarom maak Hy my van harte gewillig en bereid om verder vir Hom te lewe. Met hierdie woordjie daarom word die werk van Christus deur sy Gees ten nouste gekoppel aan die voorafgaande: aan God se Openbaring in Christus, aan God se werk in Christus. Laat ek dit aan u wys:

  • Eerstens bely ons: Christus verseker my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe. Maar hoé verseker Christus ons van die ewige lewe? Deur ons te wys op sy verlossingswerk en op sy heerlike bewaring. Sy kruis is die waarborg en sy almagshand is my polis tot die ewige lewe. Omdat ek weet dat Hy vir alle my sondes ten volle betaal het en omdat ek weet dat Hy my bewaar, daarom, daarom kan ek so seker wees van my ewige heil. Dan lê my sekerheid nie in myself nie, maar in dit wat Jesus doen.
  • TWEEDENS maak Christus my deur sy Gees bereid om vir Hom te lewe. Maar hoé maak Christus ons van harte bereid om vir Hom te lewe? Omdat die Gees ons deur die geloof inplant in die Openbaring van Christus. Omdat
    Christus my verlos van die sondemag en omdat
    Hy my vashou, daarom, daarom kan ek ook vir Hom lewe.

Ons is die eiendomsvolk van die HERE – dit was die troos van God se volk in Jesaja se dae. Wat ook al sou kom, die oordeel van die ballingskap, tog noem die Gees van die HERE hulle steeds my volk. “Troos, troos my volk”. En die Gees laat hulle ook sien waarom: “Roep haar toe … dat haar skuld betaal is …”. En die Gees spel dit vir hulle uit nog lank voordat dit daar is: die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Christus

Ons is God se volk. Ons behoort aan Christus. Daarvan verseker die Heilige Gees ons deur die bloed van die Lam. Daaraan mag ons dink as die oordele van God reeds in hierdie lewe voltrek word. En daarmee mag ons onsself troos as ons dink aan die oordeel wat kom.

Hoe weet ek dat ek eiendom van Christus is? Alleen omdat God sy Woord, sy Openbaring aan my gegee het. En al lyk dit asof alles rondom my van die teendeel spreek en al kan ek dit soms so moeilik sien as ek alles hier verloor, tog sien ek dit, tog weet ek dit … Want God sê dit vir my. In sy Openbaringswoord sien ek dit.

3.Slot

Ons troos is gewaarborg. Dit lê vas in wat God in Christus deur sy Gees doen. Hierdie troos is aan ons geopenbaar in die Evangelie. In die evangelie van God se dade in Christus is my enigste troos so heerlik versekerd. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s