Wedergebore in Christus deur sy Gees en Woord

Wedergebore in Christus deur sy Gees en Woord

deur

Dr AH Bogaards

Verkorte weergawe


Volledige PDF-weergawe by  http://bit.ly/j5Sqnh

©Dr AH Bogaards

Fritz-uitgewers

2011

1. Die Heidelbergse Kategismus en wedergeboorte

1.1. Vraag en antwoord 8

In die Heidelbergse Kategismus kom ons die gedagte van wedergeboorte vir die eerste maal teë in vraag en antwoord 8.

Daar word gevra: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is? Die antwoord lui: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.

Hierdie vraag en antwoord wil ons leer hoe erg ons sondetoestand, ons verdorwenheid is: Dit is so erg dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie, maar inteendeel tot alle kwaad geneig is.

In Sondag 3 is daar van twee geboortes sprake:

  • In antwoord 7 hoor ons van die eerste geboorte. Dit is ons gewone geboorte. Daarvan sê die belydenis: Ons word almal in sonde ontvang en gebore. Om in sonde ontvang in gebore te word, beteken: Adam se sonde word reeds by ons geboorte op ons rekening geskryf en ons word gebore as mense wat sondaars is en niks anders as sonde kan doen nie. Ons word dood gebore, dood dood deur die misdade en die sondes (Ef.2:1).
  • In vraag 8 kom die tweede geboorte ter sprake. Dit is die wedergeboorte deur die Heilige Gees. Dit is ons geestelike geboorte. Ek kan ook maar sê: Dit is die geboorte in Christus. Hy is die tweede Adam. Deur die Heilige Gees word ons in Christus ingelyf. Dan word ons nuwe mense, mense wat geestelik lewe, ewig lewe.

1.2. Vraag en antwoord 43: afsterwe van die geestelik dooie, ou mens

Christus se kruisdood verlos ons ook van die geestelike dood. Daaroor gaan dit onder andere in vraag en antwoord 43.

Vraag 8 beskryf die geestelike dood: glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig. Alle gevoel vir God en ons naaste was dood. Ons het in ons hart gesterf. Ons liefde vir God en naaste was dood.

Ewemin as wat ons uit die liggaamlike dood kan opstaan, ewemin kan ons uit die geestelike dood opstaan. Maar ook hierop bied die Kategismus ‘n antwoord: Christus is die oplossing. Sy dood verlos ons van die heerskappy van die bose. Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe.

Die ou mens waarvan hier sprake is, is ons ou natuur of geaardheid, die geestelik dooie mens. Dit is hoe ons deur die sondeval geword het: vyande van God en haters van ons naaste. Daardie monster, genaamd ou mens, word, deur die krag van Christus, saam met Christus gekruisig, gedood en begrawe.

Die Heidelberger sluit nou aan by dit wat Paulus in Rom. 6 sê oor die onlosmaaklike verband tussen ons doop en Jesus se dood en begrafnis. Deur die doop, sê die apostel daar, word ons in verbinding gebring met die dood van Christus. Soos ons in die doop ondergaan in die water en rein gewas van ons sondes weer daaruit opstaan, so het Christus met ons sondes in die graf in gegaan. Daar het Hy dit agtergelaat, vir goed. Toe Christus aan die kruis gespyker is, is ons ou mens eens en vir altyd aan die kruishout vasgenael. Daar is die krag van ons ou mens gebreek. Christus het die mag van die sonde oorwin.

Die offer en dood van Christus aan die kruis het gevolge in ons lewe: gevolglik (as gevolg van hierdie offer en dood van Christus) kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy.

Christus se versoeningsoffer is die geheim en bewerkende oorsaak van ons dankoffer. Christus se kruis het alles met ons dankbaarheidslewe te make.

Die heerlike vrug van Jesus se dood, van sy triomf oor ons ou mens, is dat ons ons as ‘n dankoffer aan Christus toewy. Verlos van die geestelike dood begin ons lewe vir God en ons naaste.

Wanneer ons wil sien of iemand nog leef, voel ons sy pols, luister ons na sy hartklop en hoor ons of hy nog asemhaal. Dit is alles tekens van lewe. Geestelik moet daar ook tekens van lewe wees en daardie tekens is enersyds stryd teen die sonde en aan die anderkant liefde vir God en liefde vir ons naaste. Ons sal onsself moet diagnoseer, want wie nie geestelik lewe nie, sal ook nie in ewigheid met God lewe nie.

1.3. Vraag en antwoord 45: opstanding van die geestelik lewende, nuwe mens

In vraag en antwoord 45 gaan dit oor die nut van die opstanding van Christus vir ons.

Een van die vrugte wat die antwoord noem is: dat ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek word.

In Kolossense 3:1 lê Paulus die allernouste verband tussen ons lewe as nuwe mense (dit wil sê: ons lewe as mense wat geestelike weer lewe, mense wat ‘n lewe van liefde lei) enersyds en die opstanding van Christus andersyds. Ons kan Paulus se woorde in vers 1 en verder so saamvat: “As julle dan saam met Christus opgewek is”, leef nou ook soos mense wat nie meer in die graf van die sonde lê nie.

Die opstanding van Jesus is die geheim van ons nuwe lewe. Ewemin as wat ons self uit die gewone graf en dood kan opstaan sonder die krag van Christus se opstanding, ewe min kan ons uit die graf van die geestelike dood opstaan sonder die krag van die opstanding van Christus.

1.4. Ons bekering het alles te make met die kruis en opstanding van Christus (Rom.6)

Kom ons kyk na wat met die ou mens gebeur het aan die kruis en wat die nuwe mens te make het met die opstanding van Christus:

  1. Die afsterwe van ons ou mens het alles met die kruis van Christus te make

Wanneer Paulus dit in Rom.6 het oor die afsterwe van die ou mens, dan sê hy nie: Nou moet jy, o mens, deur jou weerstand teen die sonde die ou mens ‘n nekslag toedien nie. Nee, hy neem ons aan die hand na Christus en sy kruis toe.

Want luister mooi wat Paulus in Rom.6:5-6 sê. Die apostel skryf daar: Ons ou mens het gesterf. Dit het gebeur toe Jesus aan die vloekhout gehang het. Want julle moet onthou: Toe Jesus daar gehang het, het Hy nie daar gehang net om ons skuld te betaal nie, maar ook om die slaweheerskappy van die sonde oor ons te beëindig. Ons ou mens, die mens onder die koningsheerskappy van die Satan, – hy is gekruisig en gedood in die kruisiging en sterwe van ons Heiland. Dit was die einde van die mens wat niks liewer gedoen het as om na die stem van die Satan te luister nie.

Daarom het ‘n sekere teoloog (Kohlbrugge) ook gesê: Op Golgota het ek my bekeer.

Wat moet ons dan doen? Glo in Christus en deur die geloof hoe langer hoe meer een word met ons Oorwinnaar-Koning en sy oorwinning.

Maar nou het ons tog ‘n probleem: As Christus dan gesterf het en die ou mens aan die kruis gedood is, hoe is dit dan dat ons as gelowiges nog sonde doen? Is die ou mens dood of is hy nie. Daarop moet ons antwoord ja en nee:

Dit is eerstens
ja. Immers op Golgota ís die ou mens verslaan.

Maar tweedens is dit ook nee. Aan die kruis is die ou mens inderdaad oorwin en die mag van die sonde gebreek. Maar nou moet Christus ook nog daardie oorwinning buite ons, daardie triomf van die kruis, in
ons verwerklik. En dit gebeur nie eensklaps nie. Dit is ‘n groeiproses. Die Kategismus praat van ‘n hoe langer hoe meer. Dit gaan ons lewe lank aan en word eers met ons dood voltooi. Eers dan is dit met die ou mens heeltemal uit en gedaan. In hierdie afsterwingsproses bly Christus steeds die geheim. Hoe meer ek leef uit sy oorwinning, hoe meer sal die ou mens in my sterwe. Buite Christus om is dus geen oorwinning nie.

  1. Die opstanding van die nuwe mens het alles met die opstanding van Christus te make

Ook wat betref die opstanding van die nuwe mens, wys Paulus ons op Christus, want Paulus sê in v.11: Ons is lewend vir God in Christus. Die in Christus beteken: In die gemeenskap met Christus, in verbondenheid met Hom. In verbondenheid aan Hom is ons lewend. Die in Christus – dit is die geheim van ‘n lewe vir God.

Daarom is ook die nuwe mens ‘n saak van die geloof, want hoe meer ons ons oorgee aan Christus en leef uit sy heilswerk, des te meer sal die nuwe mens gestalte in ons lewe kry.

Die nuwe mens in ons is Christus se werk, nie ons s’n nie. Dit is al duidelik as jy net let op die uitdrukking: die opstanding van die nuwe mens. Immers, opstanding, opstanding uit die graf, ook uit die graf van die sonde – dit is goddelike werk. Mense kan dit nie doen nie. En hoe laat die Here mense uit die dood van die sonde opstaan? Slegs deur te spreek. Deur die krag van sy evangelie-woord. Deur die krag van die kruis en die opstanding van Christus.

1.5. Die verband tussen die Kategismus se afdeling oor die verlossing en die afdeling oor die dankbaarheid

Ook ons Kategismus lê die verband tussen:

  • ons bekering (dankbaarheid) enersyds en
  • die kruis en die opstanding (verlossing) andersyds

Kom ek wys julle:

  1. In vraag en antwoord 43 (in die afdeling oor die verlossing) word die verband gelê tussen Christus se sterwe en die afsterwe van die ou mens:

Deur sy krag (= die krag van sy kruis) word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy.

  1. In vraag en antwoord 45 (in die afdeling oor die verlossing) word die verband gelê tussen Christus se opstanding en die opstanding van die nuwe mens:

Deur sy krag (= die krag van sy opstanding) word ons tot ‘n nuwe lewe opgewek

Dit is nie snaaks dat die Heidelbergse Kategismus die bekering nie plaas in die eerste deel, in die deel oor die sonde-kennis, nie, maar juis in die dankbaarheidsdeel. Die bekering kom dus eers na deel 2, na die deel oor die verlossing. Daarmee wil die belydenis ons iets leer en die les is dít: Alleen verloste mense kan dankbaar wees en alleen mense wat ingeplant is in die oorwinning van die Lam, kan ‘n nuwe lewe leef. Die triomf van die kruis en die oorwinning van die opstanding maak ons nuwe mense.

2. Calvyn oor die wedergeboorte

2.1. Institusie

a) Berou beteken wedergeboorte in Christus (Boek III, 3, 9)

Wat wedergeboorte is

Calvyn beskryf wedergeboorte of berou soos volg:

  • As ons waarlik deel het aan sy dood, word ons ou mens deur sy krag gekruisig, en die liggaam van ons sonde sterf, sodat die bedorwenheid van ons eerste natuur geen krag meer het nie.
  • As ons in sy opstanding deel, word ons daardeur opgewek tot ‘n nuwe lewe wat met God se geregtigheid ooreenstem.

Die doel van wedergeboorte: herstel van die beeld van God

Die doel van wedergeboorte is om die beeld van God wat deur Adam se oortreding verontreinig en byna uitgewis is, weer in ons te laat vorm kry.

Nie in ‘n oogwink nie

Hierdie hernuwing word weliswaar nie in ‘n oogwenk of een dag of een jaar voltrek nie, maar God maak die bedorwenheid van hulle vlees in sy uitverkorenes voortdurend, ja, selfs met gestadige vordering, tot niet. Hy reinig hulle van hulle vuilheid; Hy heilig hulle as tempels vir Hom en Hy maak al hulle gevoelens weer nuut totdat dit waarlik suiwer is, sodat hulle hulle hele lewe lank berou kan beoefen en kan weet dat daar nie ‘n einde aan die stryd is nie behalwe in die dood.

b) Wedergeboorte Trinitaries: die oorsaak in die Vader, die stof daarvan in die Seun, en die krag daarvan in die Gees (Boek IV, 15, 6)

Ons wedergeboorte is vir Calvyn werk van die Drie-enige God:

  1. Ons verkry die oorsaak van sowel ons reiniging as van ons wedergeboorte in die Vader,
  2. die stof daarvan in die Seun,
  3. en die krag daarvan in die Gees.

2.2. Kategismus van Geneve

2.2.1. Voor ons wedergeboorte net instaat tot sonde

Ons is voor ons wedergeboorte en hervorming deur die Heilige Gees tot niks anders in staat as net om te sondig nie; net soos ‘n slegte boom niks anders as slegte vrugte voortbring nie (v/a 118).

2.2.2. Die doop en wedergeboorte

In antwoord 327 beskryf Calvyn die verband tussen doop en wedergeboorte:

  1. In die doop word ‘n beeld van die afsterwe van ons ou natuur aan ons voorgehou, omdat die water op die hoof geplaas word.
  2. Die doop is ook die afbeelding van ‘n nuwe lewe, omdat ons nie in die water onder bly nie, maar slegs vir ‘n oomblik daarin ondergaan om dan dadelik weer na bo te kom.

2.2.3. Die wedergeboorte spruit uit die dood en opstanding van Christus

In vraag en antwoord 331 wys Calvyn daarop dat die wedergeboorte spruit uit die dood en opstanding van Christus:

  1. Die wedergeboorte spruit uit die dood van Christus, want onderliggend aan sy dood is die betekenis dat ons ou mens daardeur gekruisig en die bedorwenheid van ons natuur begrawe word sodat dit nie meer in ons lewe nie.
  2. Maar die feit dat ons tot gehoorsaamheid aan die geregtigheid van God in ‘n nuwe lewe hervorm word, is die seën van sy opstanding.

2.3 Doopsformulier van Calvyn

2.3.1 Die noodsaak van wedergeboorte

“Wanneer Hy sê dat ons weergebore moet word, toon die Here duidelik aan ons in hoe ‘n groot afstootlikheid, ellende en bedorwenheid ons gebore word. Want as ons natuur weer nuutgemaak moet word, sodat ons in die koninkryk van God ingestuur mag word, is dit ‘n belangrike bewys daarvan dat ons natuur volkome bedorwe en vir God afstootlik is”.

Hier het ons ‘n verwys na die woorde van Jesus aan Nikodemus in Johannes 3.

Daar is sedert die sondeval geen plek meer vir God se genade in ons nie, sê Calvyn, “voordat ons nie alle vertroue op ons eie krag, geregtigheid en wysheid verwerp het sodat ons alles wat daarvan in ons aanwesig verdoem en verwerp nie”.

2.3.2 Die twee dele van die wedergeboorte

Hierdie wedergeboorte bestaan uit twee dele:

  1. Ons moet onsself volkome verloën en nie ons verstand, wil, genot of luste gehoorsaam nie, ja, ons moet eerder ons verstand en gees aan die wysheid en geregtigheid van God onderwerp en alles wat uit ons self kom en uit ons vlees uit te wis;
  2. dan betaam dit ons om die lig van die Here na te volg en sy heilige wil te gehoorsaam.

Hierdie twee dele is albei in ons Here Jesus Christus vervul en volbring:

  1. Sy dood en lyding het soveel krag dat ons daarin deel hoewel ons in sonde begrawe is, sodat die begeertes van ons vlees afsterwe en uitgewis word.
  2. Hierby kom nog dat ons deur die krag van sy opstanding tot ‘n nuwe lewe opgewek word.

Tog is die kern van ons redding die feit dat Hy uit barmhartigheid ons oortredinge vergewe en ons dit nie toereken nie maar die herinnering daarvan vergeet en uitwis sodat dit nie weer in sy oordeel teen ons ingebring word nie.

Al hierdie weldade word ons deelagtig wanneer Hy ons deur die doop in sy gemeente inlyf:

  1. Want in hierdie sakrament getuig Hy van ons sonde-vergiffenis. Daarom het Hy die teken in merk van die water ingestel en daarmee duidelik aangedui soos die vlekke van ons liggaam daardeur afgewas word dat Hy ons siele netso wil reinig en suiwer, sodat daarin geen vlek of letsel meer oorbly nie.
  2. Maar meer nog as dit, hernu Hy ons daarmee.

Soos ons gesê het, is dit

  1. die afsterwe van ons vlees en
  2. ‘n geestelik lewe wat Hy in ons tot stand bring en voortsit.

Ons word dus met ‘n dubbele seën deur God in die doop begiftig:

  1. Ons het daarin die vaste getuienis dat God daarin vir ons ‘n goeie Vader wil wees en dat Hy ons ons oortredinge nie sal toereken nie;
  2. verder dat Hy ons met sy Heilige Gees sal bystaan om teen die duiwel, die sonde en die begeertes van ons vlees te stry totdat ons oorwin sodat ons in die vryheid van sy Ryk wat die Ryk van geregtigheid is kan lewe.

2.3.3 Christus én sy Gees, Woord én Gees

Ons wedergeboorte is werk van die Heilige Gees.

Calvyn gryp weer na Johannes 3, wanneer hy sê:

“Maar toe Hy aan ons ons onreinheid en afstootlikheid openbaar en aangetoon het, het Hy ook uit sy barmhartigheid vir ons vertroosting gegee en aan ons belowe dat Hy ons met sy Heilige Gees tot ‘n nuwe lewe sal opwek om vir ons toetrede tot sy Ryk te wees”.
Dit is vir Calvyn Woord én Gees, Christus én sy Gees. Christus leer “ons self in sy Woord” die twee dele van die wedergeboorte “en met sy Heilige Gees laat Hy sy lig voor ons skyn en wys vir ons die weg aan”.

3. Ons doopsformulier oor wedergeboorte

3.1. Die deel oor ons sonde

Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die koninkryk van God kan inkom nie (Romeine 3:9, 19; Romeine 5:12-21) tensy ons opnuut gebore word (Johannes 3:3).

3.2. Die deel oor ons verlossing

Ook hier is die Heilige Gees die een wat ons deel gee aan Christus: Hy wil ons tot lidmate van Christus heilig
deur tot ons eiendom te maak wat ons in Christus het.

Dit wat ons aldus die doopsformulier in Christus het, is:

  1. die afwassing van ons sondes en
  2. die daaglikse vernuwing van ons lewe.

3.3. Die deel oor ons dankbaarheid

Ons kinderdoopformulier lui:

  1. Die doop vermaan en verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid.
  2. Ons moet ons ou natuur doodmaak

Die formulier van die Paltz (1539), waaruit ons formulier ontstaan het, sê hier uitdruklik dat die nuwe geboorte uit twee dele bestaan:

  1. Eerstens dat ons ware berou en leedwese oor ons sonde het, ons eie vernuf en luste verloën en aan die wil van God onderwerp en alle sonde van harte haat en ontvlug;
  2. Ten tweede ook dat ons begin om ‘n lus en ‘n liefde te hê om volgens God se Woord te leef in alle geregtigheid en heiligheid.

4. Skrif en wedergeboorte

4.1. Johannes 3: Gees én Woord

Die wedergeboorte is vrug van Woord en Gees. Ons mag die werk van die Gees nooit losmaak van die Woord, van die kruis, van die geloof nie.

In Johannes 3 vra Nikodemus twee maal na die hóé van die wedergeboorte (verse 4, 9):

  • Op die eerste hoe (vers 4) wys Jesus hom op die Heilige Gees (verse 5,8) en sy stem (vers 8 — geluid).
  • Op die tweede hoe (vers 9) wys Jesus Nikodemus op sy kruis (vers 14) en op die geloof (vers 15).

4.2. 1 Petrus 1:3: wedergebore deur die opstanding van Christus

In vers 3 word aan ons ‘n groot wonder beskryf: die Heilige Gees verkondig aan ons hoe ons die verlore lewe weer terugontvang. God die Vader, sê Petrus, het ons die wedergeboorte geskenk. Ons kan maar sê: soos ‘n baba deur geboorte die lewe ontvang, so het ons deur die wedergeboorte die ewige lewe weer uit God se hand terugontvang.

Die groot vraag: hoe het ons die nuwe lewe ontvang? Wanneer is ons wedergebore? Petrus laat ons glad nie in die duister nie. Onomwonde verklaar hy: aan ons is die wedergeboorte geskenk “deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode”. Toe het ons die nuwe lewe ontvang.

Een ding is hieruit baie duidelik: hierdie nuwe lewe is nie die produk van iets wat ons gedoen het nie. Die nuwe lewe kom nie deur ons werke nie, maar deur die werk van Christus se opstanding. Ewe min as wat ons iets kon doen aan ons eie geboorte, ewe min kan ons iets doen aan ons wedergeboorte. Ja, nog lank voordat u en ek gebore is, is ons wedergebore toe Jesus uit die graf uit opgestaan het. Die opstanding van Jesus is die geboortestoel van God se kinders.

Almal van ons weet wanneer ons gebore is: dit was op die en die datum. So het ons ook – in die Bybel – die datum van ons wedergeboorte: Paassondag, toe Jesus opgestaan het.

4.3. 1 Petrus 1:23: die Woord wederbaar

In 1 Pet.1:23 leer ons dat die wedergeboorte gewerk word deur die Woord: “Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly”.

5. Kohlbrugge

5.1. Wedergeboorte ook vir hom afsterwe van die ou mens, opstanding van die nuwe mens

Die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens – dit is ook vir Kohlbrugge die wedergeboorte (LH 314, 318).

Kohlbrugge (LH 314) verstaan die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens so

  1. dat ons die vyandige gesindheid teen God se genade, weë en werke uitgetrek het, uit welke gesindheid alle werke van die vlees voortkom;
  2. dat ons daarenteen Christus met al sy weldade in die geloof aangeneem het .

5.2. Wedergeboorte het alles met Christus te make

In sy bestudering van die geloof en die wedergeboorte by Kohlbrugge kom De Reuver (1992:87) tot die gevolgtrekking dat Kohlbrugge aan die lewe van die wedergeboorte ‘n uitsluitlik Christologiese inhoud toeken. Hy wil niks weet van ‘n wedergebore lewe as ‘n ingestorte habitus, wat min of meer los van Woord en geloof staan nie (De Reuver, 1992:83, 85).

Ook vir hom het wedergeboorte alles met die heilswerk van Christus te make: Die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens het plaasgevind in die kruisiging en opstanding van Christus waarin Hy alles aan God teruggebring het, alles herstel het wat deur ons skuld bedorwe was nadat ons van God afvallig geword het (LH 316).

5.3. Wedergeboorte ‘n heilshistories gebeurtenis, wat heilsordelik toegepas moet word

Hoewel die wedergeboorte vir Kohlbrugge plaasgevind het in die kruis en opstanding, verbind hy die toepassing deur die Gees telkens direk daaraan. So verklaar Kohlbrugge dan ook in Die Lehre des Heils (LH: a 317): Ofskoon die heil van Christus vir die mens beskikbaar is, kom daar nogtans in die mens se lewe ‘n sekere tydstip waarop hy deur die Gees van die geloof in hierdie heil oorgeplaas word en van die dood in die lewe oorgaan. Dit is die volledige omsetting van ‘n mens wat hom tevrede maak met die geregtigheid wat voor God geld, ‘n omsetting wat ook wedergeboorte heet.

Die heilshistoriese gebeurtenis van die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens aan die kruis moet ook heilsordelik ons deel word deur die Heilige Gees.

5.4. Wedergeboorte en die heilige ontvangenis en geboorte van Christus

Kohlbrugge verbind die wedergeboorte aan die kruis en opstanding van Christus.

Hy sê egter ook op ‘n plek: Ek is wedergebore in Betlehem.

Dit is ‘n besondere – en Skriftuurlike – greep van hom:

  • Ons doopsformulier en ons Heidelbergse Kategismus sê dat ons in sonde ontvang en gebore word en reeds daarom wedergeboorte nodig het.
  • Van Christus sê ons Heidelberger by die artikel wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria: Die nut van die heilige ontvangenis en geboorte van Christus is juis dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Ons kom in Christus, in sy heilige ontvangenis en geboorte, nuut gebore in die wêreld.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s