Preek Sondag 1 v/a 2

Lees: Psalm 130

Teks: Psalm 130

H.K.: Son.1:2

Psalms: 138:1,2; Sk.27; 130:1,2; 130:3,4; 38:1,17

1. Inleiding

Dit is ‘n rykdom wat in vraag en antwoord 1 vir ons ontvou word: ons troos in Christus Jesus.

Maar die rykdom wat ‘n mens het, is nie noodwendig en altyd ‘n bron van vreugde vir die besitter nie. Jy kry skatryk mense, wat tog nie gelukkig is en tog nie geniet van hulle skatte nie. Hulle besit dit … en tog besit hulle dit nie.

En dit kan ook gebeur ten opsigte van ons weelde in die evangelie: dat jy dit uit jou kop ken en tog geen troos of vreugde daaruit put nie.

En dit word ook aangespreek in antwoord 2. Ons moet nie net met die verstand weet van al die rykdom van die evangelie nie. Ons moet geloofs-kennis hê daarvan.

Ek oordink met u:

  1. die noodsaak van hierdie geloofs-kennis;
  2. die herkoms van hierdie geloofs-kennis; en
  3. die inhoud van hierdie geloofs-kennis

2.1. Die noodsaak van hierdie geloofs-kennis

In vraag 1 het ons troosboekie, die Heidelbergse Kategismus, ons op ons enigste troos gewys: ons Here Jesus Christus: Hy verlos ons van die hartseer van die sonde, Hy red ons van die smart van God se oordeel, Hy gee ons deel aan daardie troos deur sy Heilige Gees.

En nou kom ons Heidelberger in Vraag 2 en hy vra ons: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Dit gaan om die woordjie weet: Hoeveel dinge moet jy weet ….? Dit gaan om ‘n weet, ‘n kennis wat jy nie kan mis nie. Want as jy dit nie het nie, kan jy nie salig, kan jy nie salig lewe en sterwe nie. Op daardie lewens-noodsaaklike en sterwens-noodsaaklike kennis gaan die Kategismus in.

Dit gaan hier sekerlik nie bloot om verstandskennis nie. Dit gaan om geloofskennis. Hierdie dinge moet ons hart aangryp, ons vertroos en ons lewe verander. Dit gaan daarom dat u deur die Heilige Gees geleer moet word om my te sê: my sonde, maar ook my Saligmaker. Here, U het gesterf en u het dit ook vir my gedoen.

In antwoord 21 sê ons dit so mooi: ook aan my, dat nie alleen aan ander nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is uit loutere genade alleen ter wille van die verdienste van Christus.

Dit bring my by die tweede punt:

2.2. Die herkoms, die bron van hierdie geloofs-kennis

Dit het die Kategismus eintlik alreeds in antwoord een gesê: Christus is die bron. Immers, Hy verseker my op grond van sy heilswerk deur sy Heilige Gees van die ewige lewe. Hy Self troos ons, Hy is die inhoud van die troos en Hy is ook die uitdeleer van die troos deur sy Gees en Woord.

In Sondag 12 kom die Kategismus weer daarop terug: Christus is deur God die Vader gesalf tot hoogste Profeet en Leraar, wat ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle geopenbaar het.

In die Woord is hierdie Leraar van ons aan die Woord. Dáár openbaar Hy die kennis aan ons. Ten volle. Daar vind u alles wat u moet weet.

En dáár, in die Bybel, dáár vind ons Heidelberger sy driedeling ellende-verlossing-dankbaarheid. In die Bron self.

Die bekendste is sekerlik die Romeinebrief: Romeine1 tot 3 vers 20 laat die mens se sondigheid en doemwaardigheid sien; hoofstuk 3 vers 21 tot die einde van hoofstuk 11 openbaar aan ons die weg van verlossing; hoofstuk 12 tot die einde bevat die dankbaarheidslewe.

Ons kry dit ook in Psalm 130. Want in vers 3 tot 4 lees ons: “As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?”. Dit beskryf ons ellende. Dan kom die verlossing en die dankbaarheid: “Maar by U is vergewing (verlossing), dat (sodat!) U gevrees mag word” (dankbaarheid).

Die belydenis put dit uit die mynskag van die Woord: Die Bybel self, Christus Self gee ons daardie indeling.

Maar kom ons gaan dieper in op:

2.3. die inhoud van hierdie geloofs-kennis,

hierdie driedeling van die Heidelberger.

Ek wil begin deur u ernstig te waarsku.

  • MOET TOG NOOIT DIE DRIE DELE VAN MEKAAR LOSMAAK NIE.

Die drie – sondekennis, verlossingskennis en dankbaarheidskennis -, die drie hoort onlosmaaklik bymekaar.

* Ons moet goed verstaan: Dit is eers deur die verlossende ingryping van Christus deur sy Gees en Woord in ons lewe dat ons oë oopgaan vir ons sonde. Ons kom nooit uit ons eie tot sondekennis nie. Dit beteken: Reeds wanneer ons tot sondekennis kom, is Christus verlossend, openbarend, met sy Verlossingswoord in ons lewe besig.

** Maar dit is ook eers op Golgota dat ons sien hoe erg ons sonde is. Sondekennis kry ons as ons kyk na die kruis. Want ons Nagmaalsformulier verklaar: “…die toorn van God teen die sonde is so groot dat Hy dit, eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy geliefde Seun, Jesus Christus, met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het”.

*** Dit is ook absoluut on-Bybels om ons verlossing
los te maak van ons dankbaarheid. Ons dankbaarheid is ‘n noodwendige vrug van ons verlossing. As ons verlos is, sal daar ook die vrugte van dankbaarheid wees. Dit kan nooit so wees dat ons verlos is en dat daar geen dankbaarheid in ons lewe sal wees nie. Golgota is die vrugbare grond waaruit die vrugte van dankbaarheid voortspruit.

Ek wil dit alles ook so aan u stel:

Die deel oor die verlossing slaan sy vlerke uit oor die dele oor die ellende en die dankbaarheid. Dit wil sê: Omdat ons verlos is, kry ons ‘n insig in ons sonde en doemwaardigheid. En ook: Omdat ons verlos is, kom daar vrugte van dankbaarheid in ons lewe.

Maar nou ‘n volgende punt:

  • ONS KOM NOOIT OP ‘N PUNT DAT ONS KLAAR GELEER IS AAN HIERDIE DRIE DELE NIE

Op skool en universiteit kry jy leerplanne wat jy moet voltooi. As jy klaar is met die een, gaan jy na die volgende. As jy klaar is met graad 10 gaan jy na graad 11. Die kennis wat jy in graad 10 opgedoen het, is dan agter die rug en afgehandel. Daardie kennis is nou in jou kop en jy het dit onder die knie. Nou kom jy by die kennis van graad 11, die volgende klas.

So kan ons egter nooit as te nimmer die sondekennis, verlossingskennis en dankbaarheidskennis sien nie. In die kerkgeskiedenis was daar mense wat dit inderdaad so beskou het: Eers moet ek standerd 1, die sondekennis, klaarmaak. Dan kom die verlossingskennis, standerd 2, aan die orde, en daarna standerd 3, die kennis van die dankbaarheid.

Dit is verkeerd. Met hierdie drie leerplanne kry ons nooit klaar nie. Ons lewe lank bly ons sit in die klaskamer van die sondekennis en in die klaskamers van die verlossingskennis en dankbaarheid.

  • Ons lewe lank sit ons met ons sonde. Ons lewe lank moet ons weet dat ons skuld so groot is en die sondemag so sterk, dat ons onsself nie kan verlos nie;
  • Ons lewe lank moet ons daarom telkens weer die verlossing soek by Christus. Dag vir dag moet ons vra om vergifnis en elke dag moet ons bid om verlossing van die Bose;
  • Ons dankbaarheid duur eweneens lewenslank. Ons word hoe langer hoe meer vernuwe na die beeld van Christus en eers hierna bereik ons die volkomenheid.

Maar kom ons gaan van klas tot klas:

  • Eerstens moet ek weet HOE GROOT MY SONDE EN ELLENDE IS

Dit gaan nie net daaroor dat jy moet weet dat jy sonde het nie. Jy moet weet hoe groot jou sonde en ellende is.

Dit het die man van Psalm 130 geweet: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?”

Die woord ongeregtighede het die nadruk in die sin. En dit staan in die meervoud: ongeregtighede om die grootheid en menigvuldigheid aan te dui. Dit staan lewensgroot voor hierdie man. En hy weet: As die HERE dit in gedagtenis hou, dit wil sê as God daarvan boekhou, as hy dan voor die regbank van God moet gaan staan, sal hy veroordeeld staan. Maar nie net hy nie, maar hy sê: Wie sal bestaan? En die vraag veronderstel as antwoord: niemand nie – ook ons nie.

Hierdie sondekennis is noodsaaklik vir ons 1. verlossing en 2. dankbaarheid:

* Hierdie sondekennis is Noodsaaklik t.o.v. ons verlossing:

As ons nie waarlik onder die indruk van ons ellende is nie, sal ons ook nooit die behoefte aan ‘n verlosser hê nie. Ursinus sê: As ‘n mens weet dat jy siek is, het jy behoefte aan medisyne. As jy nie besef dat jy krank is nie, gaan jy nie na die dokter toe nie. Mt.9:12: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is”.

Maar dit is die probleem vandag: Die mens is in sy eie oë springlewendig en gesond. En as hy wel iets makeer, ag dan genees ons dit sommer self ‘n salfie van ruk-jouself-reg en met ‘n pilletjie van sielkunde. Maar na die groot Geneesheer gaan ons nie.

** Hierdie sondekennis is Noodsaaklik t.o.v. ons dankbaarheid:

Wie werklik deur die geloof weet van watter verskriklike kwaad, van wat ‘n uiterste smart hy gered is, sal dankbaar wees.

  • Ons kom by die tweede klaskamer: HOE EK VAN AL MY SONDE EN ELLENDE VERLOS WORD

Die digter van Psalm 130 het geweet hoe. Uit die diepte van sy ellende het hy gebid.

Daar word twee woorde in verband met sy gebed gebruik. Hy het geroep, geskreeu uit die diepte van sy nood. U kan daarin hoor hoe beangs dit hom gemaak het. En hy het gesmeek, letterlik gesmeek om genade, om onverdiende guns.

Hy het geweet: Hy verdien dit nie om voor God te bestaan nie. Hy het geweet: Hy kan homself nie verlos nie, hy kan nie self vergewing bewerk nie. Maar hy het ook iets anders geweet: Maar by U is vergewing. Wat ek nie kan nie, dit kan U, o HERE. In die Hebreeus is daar ‘n paar woorde wat net van God gebruik word: onder andere die woord skep en dan ook die woord wat hier vir vergewe gebruik word. Hy moet dit doen en Hy sal dit doen. En op daardie noot eindig die Psalm ook: en Hy Self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede. Hy Self – met nadruk.

Dit is mooi om die kontras in die Psalm raak te sien. Die Psalmdigter begin by sy menigvuldige ongeregtighede. En hy eindig daarmee dat daar by die HERE veel
verlossing is en dat die HERE Israel sal verlos van al sy ongeregtighede. Dit begin en eindig met die woord ongeregtighede. En teenoor die meervoud van ons
ongeregtighede staan die meervoud van God, die meervoud van die evangelie: veel verlossing, en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede. Ps 130 begin diue diepte van ons verlorenheid en eindig in die hoogte van God se verlossinge.

  • In die derde klaskamer leer ek: HOE EK GOD VIR SO ‘N VERLOSSING DANKBAAR MOET WEES

In vers 4 sê ons Psalmdigter: By die HERE is vergewing. En dan voeg hy daarby: dat eintlik sodat, gevolgliksodat U gevrees mag word. Dit is die vrug van skuldvergiffenis: die vrees van die HERE. En daarmee word bedoel: eerbied, liefde vir die HERE, dankbaarheid vir sy genade.

3.Slot

Ons het dit gehad oor geloofs-kennis: sondekennis, verlossingskennis en dankbaarheidskennis.

Dit is ‘n kennis waarsonder ons nie salig kan wees in hierdie lewe nie en ook nie hierna nie.

Dit gaan oor gekende troos, beleefde troos. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s