Preek Sondag 2

Lees: Rom.7

Teks: Rom.7:24

H.K.: Son.2:3-5

Psalms: 107:1,2,3; 19:4,5; 19:6,7; 119:20,27; 62,63

1. Inleiding

Ons gaan ons nou vir drie Sondae lank besig hou met die eerste deel van die Heidelbergse Kategismus. In hierdie Sondae gaan ons te doen kry met God se heilige wet wat ons aankla en veroordeel.

Wetsprediking, sondeverkondiging en oordeelspreke – dit is nie populêr nie. Inteendeel.

Daarom is vele mense ook nie baie positief oor die eerste afdeling van die Heidelberger nie. So het iemand eenmaal, toe sy dominee weer by Sondag 2 moes begin, gesê: Nou sit ons weer vir die volgende drie weke in die ellende. Die gedagte daar agter is: Vir die volgende drie Sondae is dit net wet en oordeel, sonde en ellende … maar daarna, daarna in Sondag 5, ja, dan kom ons by die verlossing, by die Christus-prediking. Dan kom, na die donker nag van God se oordeel die lig van sy genade. Dan hoor ons weer genadeprediking. Dan verskyn uiteindelik Christus op die toneel.

Wie afdeling een van die Kategismus sien, het daarvan heeltemal niks begryp nie. Want reeds hier is Christus genadig aan die werk. Reeds hier is ons Here Jesus Christus verlossend met ons besig. Daarom kan ons bokant hierdie Sondae met groot letters skryf: GENADE, CHRISTUS, die kennis van ons sonde en ons ellendes wat ons Here Jesus Christus genadigLIK, tot ons heil en verlossing aan ons skenk. Die evangelie kom dus nie eers in Sondag 5 nie, maar reeds hier het ons te make met die evangelie van Christus Jesus se verlossingswerk. Ek hoop om dit aan u duidelik te maak in die loop van hierdie preek.

Saam met u wil ek gaan kyk na die volgende:

  1. Die wet as spieël van God
  2. Die wet ‘n spieël in die hand van Christus
  3. Die wet as spieël vir jou as gelowige

2.1. Die wet as spieël van God

Die mens is van nature geestelik dood. Hy is ‘n slaaf van die sonde en onder die oordeel van God. So lyk die wêreld wat u dit rondom u sien: Dit is ‘n mensdom in die magsgreep van die sonde; dit is ‘n wêreld onder die verskriklike toorn van God.

Maar daarvan weet die wêreld nie. Daarvan begryp óók ons heeltemal niks nie … totdat Christus ingryp en totdat Hy ons blindheid wegneem en ons laat sien hoe deur en deur sondig ons is.

‘n Bekende dominee (Veldkamp) het dit toegelig met ‘n sprekende verhaal: Daar was op ‘n keer het ‘n kind vir sy ma gevra: Maak asseblief die gordyne toe, want daar kom soveel stof in die kamer as die son daarin skyn. Daarmee het hy bedoel: die stofdeeltjies wat ‘n mens sien dwarrel as die ligstrale van die son wat daarop val. Nogal dom, sou ons sê. Want die kind besef nie eens dat die stofdeeltjies reeds daar was nog voordat die son daarop begin skyn het nie. Dit is eers danksy die sonlig dat ons dit begin sien. Maar weet u: Sulke dom kinders is ons nou almal. Sonder die lig van God se wet is ons totaal en al onbewus van die sonde in ons lewe.

As Christus ons ook nie oë gee om te sien nie, bly ons heeltemal onbewus daarvan hoe pikswart ons lewe van die sonde is. Dan bly ons heeltemal onkundig daarvan dat ons die oordeel van God dubbel en dwars waardig is. O, die man daar in die tronk en die moordenaar waarvan die koerant vertel het, dít is slegte mense. Maar onsself, ag ons het foute en tekortkominge, maar sondaars, doemwaardig, nee, dit is ons nie.

Dit is ons nie, maar dit word ons as God met sy wet na ons toe kom. “Deur die wet is die kennis van sonde”, sê Paulus in Romeine 3:20. En in Romeine 7:7 verklaar die apostel: “… ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie”.

Calvyn gebruik die beeld van ‘n spieël om aan ons te verduidelik wat God se bedoeling met sy wet is. Hy kry hierdie beeld by Jakobus (1:21-25). Hy sê: As jy in ‘n spieël kyk, sien jy die vlekke op jou gesig. Die spieël laat jou sien hoe jy lyk. So is dit ook wanneer ons te staan kom voor die spieël van God se wet: Daarin sien ons, sê Calvyn, in die eerste plek ons magteloosheid om God se wil te doen. Uit ons magteloosheid vloei ons ongeregtigheid, ons sondigheid voort. Ons is magteloos om die wil van God te doen. Van nature kan ons, wil ons ook niks anders as sondig nie. Daarom sien ons derdens in hierdie spieël van God dat ons die oordeel van God verdien.

Die spieël van God se wet het vir Calvyn ‘n dubbele bedoeling:

  • In die eerste plek vermaan dit ons oor ons sonde; dit verseker ons van ons sonde; dit bevind ons skuldig en dit verklaar dat ons die vonnis van die ewige dood verdien.
  • In die tweede plek wil die wet ons verlos van ons hoogmoed. Voordat God met sy wet na ons toe kom, dink ons baie van onsself. Maar wanneer God ons lewe plaas in die weegskaal van sy wet, kom ons tot die ontdekking hoe oneindig ver ons tekort skiet in heiligheid en vroomheid.

WANT wat eis die wet van ons? Liefde vir God en ons naaste. En, vra die Kategismus, kan ons daardie eis ten volle nakom? Want dit moet ons weet: God is nie tevrede met 99% nie, maar hy vra van ons 100%. Die antwoord van ons belydenis is verdoemend: Nee, ons kan nie die wet ten volle onderhou nie. Inteendeel, ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. Die wet eis liefde en ons antwoord met die teenoorgestelde: met haat.

Maar wat het dit nou alles met genade en met Christus te make?

Dit bring ons by die tweede:

2.2. Die wet as spieël in die hand van Christus

Wanneer vraag 4 vra wat die wet van ons eis, dan lui die antwoord: “Dit leer Christus ons…” … Christus! Agter die wet staan Christus dus.

In Sondag 12 bely ons dat Christus ons hoogste Profeet en Leraar is, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het. Hy was dit alreeds in die Ou Testament. Hy is die een wat gespreek het in die profete. Ons hoor sy stem in die Psalms. Hy is eweneens die een wat in die wet van Moses aan die woord is.

En in sy Bergrede laat Christus ons sy wet sien in sy diepte.

Die wet is die wet van Christus. Dit is Hy wat die wet aan sy kerk gegee het. Die wet is spieël in sy hand.

Die wet is … instrument van die Seun van God tot ons heil en saligheid.

Maar hoe moet ons dit nou verstaan? Wys die wet dan nie ons verlorenheid uit nie? Verdoem die wet dan nie?

Sekerlik. Maar deur die spieël van sy wet stroop Christus ons van alle hoogmoed. Hy laat ons sien hoe totaal en al magteloos ons is om selfs een van God se gebooie te hou. Ons Here Jesus Christus self leer ons deur sy wet hoe deur en deur sondig ons is. Deur die werking van Christus se wet staan ons met leë hande voor God. Deur sy wet leer Jesus ons: Daar bly daar maar een pad oor en dit is: om met ons leë hande te vlug tot God se genade.

In ons hande is daar niks nie. Ons het heeltemal niks om aan God te toon op grond waarvan ons kan eis dat ons vrygespreek moet word nie. Ons leë hande moet gevul word met die heilswerk van Jesus Christus, met sy gehoorsaamheid, met sy offerande.

En dít wil God ook doen. Hy wil ons hande tot oorlopens toe vol maak met die weelde wat daat is in Christus Jesus onse Here.

MAAR dan moet ons hande wél leeg wees. Want solank ons nog vol is van onsself en solank ons nog dink dat ons dat ons nie so sleg is nie, so lank is daar nie plek in ons hande vir Christus nie. Maar dit is die genadefunksie van die wet: om ons te laat sien hoe brandarm, hoe totaal bankrot ons is in onsself. Christus wil, deur sy wet, arm sondaars dryf in die arms van ‘n skatryk Saligmaker.

Ons moet leë kruike word. So alleen kan ons gevul word met die beloftes van God.

Ons is nie geskikte hoorders vir die evangelie nie, sê Ursinus, een van die opstellers van die Kategismus. Ons word dit eers wanneer ons ons sonde en ellende leer ken. Deur die prediking van die wet – die wet wat ons sondigheid en doemwaardigheid onthul – deur die prediking daarvan word ons voorberei vir die evangelie.

Deur sy wet maak Christus vir Hom plek in ons hart, sê Luther. God kan sy genade nie anders kwyt as alleen aan diesulkes by wie die wet sy werk gedoen het nie. Sonder die werk van die wet leef ons in sorgeloosheid en valse gerustheid. Waar geen sonde is nie, kan geen sonde vergeef word nie.

Die kennis van ons sonde en ellende is ‘n saligmakende kennis. Hierdie kennis is soos ‘n spyker waarmee die siel in sy nood vasgeslaan word in Christus, die lewende Steen (Kohlbrugge).

Die laaste waarop ek u aandag wil vestig is dat

2.3. Die wet spieël vir jou as gelowige is

Ook hier in Sondag 2 tref die diep persoonlik trant van die Kategismus ‘n mens: “Waaruit ken jy jou ellende?” Die gelowige word hier aangespreek. Dit spreek vanself. Die ongelowige ken nie sy ellende nie. Hy is blind daarvoor.

In die hele Heidelberger, van Sondag 1 tot 52, word die gelowige aangespreek. Dit geld ook van Sondag 2.

Goed, sê u miskien, maar wat van vraag en antwoord 5: “…ek is van nature geneig om God en my naaste te haat”? Dit kan tog nie van ‘n gelowige gesê word nie? En vele teoloë beaam dit ook: Hier kan nie van ‘n gelowige, bekeerde, wedergebore kind van God sprake wees nie. Immers die gelowige het God se wet lief. Die digter van Psalm 119 sê byvoorbeeld: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag”. En in Psalm 37:31 sê Dawid van die gelowige: “Die wet van sy God is in sy hart”. En om maar net nog een voorbeeld te noem: In Romeine 7 vers 22 sê Paulus: “Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens”. Is dit nie genoeg bewyse dat hierdie woorde – ek is van nature geneig om God en my naaste te haat – nie op ‘n gelowige van toepassing kan wees nie?

Om hierdie vraag te beantwoord, wil ek u eers op Dawid wys: hoe hy Uria vermoor het en Batseba verlei het. Is dit nie haat teen God en sy naaste nie? Tweedens wil ek ook weer die 19de vers van Romeine 7 vir u lees. Daar skryf Paulus, die man wat hom so verlustig in God se wet: “… die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek”. En … dit skryf hy as wedergeborene!

Hoe moet ons dit nou verklaar? Dit leer Paulus ons in vers 14. Daar skryf hy van homself as wedergeborene: “… ek is vleeslik …”. Vlees – dit is die ou natuur in ons, die ou mens. Dit is die natuur waarvan Sondag 2 praat: … ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Teen daardie ou natuur van ons het ons ‘n lewenslange stryd. Selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid, sê ons Kategismus in Sondag 44. Die bedoeling van die prediking van die wet is daarom: “….sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken”. Daar, in antwoord 115, hoor ons dus weer ‘n keer van ons sondige natuur. En daar word ons nogeens daaraan herinner dat ons nooit klaar geleer raak oor ons ellende nie. Maar: deur die wet leer ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter ken.

Deur die prediking van die wet leer ons ons lewe lank en hoe langer hoe beter hoe nodig ons Jesus Christus het. Daarom, nadat Paulus verklaar het dat ook hy die wet nie kan onderhou nie, roep hy dit uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood (hierdie vlees, hierdie sondige natuur)? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (24-25)

3.Slot

Ons kom as gelowiges nooit los van die wet nie. Steeds weer en weer moet ons in hierdie spieël van Jesus Christus kyk. En telkens weer herinner dit wat ons in hierdie spieël sien ons daaraan: Ons kan sonder Christus Jesus nie lewe nie.

Nog net een opmerking en daarmee wil ek vir vandag volstaan: ‘n Spieël is niks werd as u blind is nie. Dan sien u nog steeds niks van die vlekke en die vuiligheid van u gesig daarin nie. Dit is daarom dringend noodsaaklik dat die Heilige Gees ons blinde oë sal verlig. Daarom moet ons ook bid: dat die Seun van God met die vinger van sy Heilige Gees sy wet op die tafel van ons hart sal skryf.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s