Preek Sondag 3

Lees: Rom.5:1-21

Teks: Rom.5:12,18,19

H.K.: Son.3:6-8

Psalms: 33:1; 51:1,2; 51:3,4,5; 51:6,7,8; 32:1,6

1. Inleiding

Sondag 2 van die Heidelbergse Kategismus wys ons op die kenbron van ons ellende: die Wet van God. Gekonfronteer met die spieël van die Wet laat Christus ons deur sy Gees sien: Ons is sondaars en ons is die ewige verdoemenis dubbel en dwars waardig.

In Sondag 3 kom twee dinge aan die orde: 1. waar die sonde vandaan kom en 2. hoe diep ons geval het.

Ek behandel hierdie Sondag daarom aan die hand van die volgende punte:

1. God het ons na sy beeld geskape;

2. die beeld is vernietig deur ons sondeval in Adam; en

3. God alleen herskep die beeld deur die wedergeboorte

2.1. God het ons na sy beeld geskape.

Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep ?

Met hierdie vraag val Sondag 3 weg.

Is ons ellende God se skuld? Miskien vind u dit skokkend dat dié vraag gestel word, maar so was die mens van die begin af: Voortdurend probeer ons van onsself wegwys en die skuld op God afskuif. Adam het dit reeds gedoen toe hy God na die val verwyt het: “Die vrou wat U my gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet (Gen 3:12)”.

Op verskillende ander maniere word God ook vandag nog in die beskuldigdebank geplaas oor al die ellende wat daar in die wêreld is.

Die vraag moet dus beantwoord word: Lê die probleem by God en sy skeppingwerk?

Die Woord van God – en dit alleen- kan ons die antwoord gee.

Om ons valse beskuldigings en ons skynheilige verontskuldigings te weerlê, neem die Kategismusleermeester ons aan die hand na die skeppingswerk van God in Genesis 1: Ses maal sê die HERE aangaande sy handewerk: Dit was goed. En nadat die mens geskape is, die kroon van God se skeppingswerk, hoor ons die sewende maal uit die mond van die HERE: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed (Gen 1:31).” En na ‘n intensiewe en indringende studie kom die Prediker in hoofstuk 7 vers 29 tot dieselfde gevolgtrekking: “Kyk, dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.”

God het ons na sy ewebeeld geskape. Dit beteken God het ons geskep as sy verteenwoordiger hier op aarde. Die mens is in die hoë posisie van onderkoning van die HERE aangestel. “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon”, sê Psalm 8.

En – God het sy beelddraer-onderkoning nie geskape vol sonde nie. Die mens het nie as rebellekoning in die wêreld gekom nie. Inteendeel, ons Kategismus sê op grond van onder andere Efesiërs 4 vers 24 twee dinge van dié beeld:

  • Eerstens: Adam is geskape in ware geregtigheid. Dit is ‘n verbondswoord. Hy het in die regte verbondsverhouding tot sy Grootkoning, die HERE, gestaan. Hy was onderdanig en gehoorsaam.
  • Hy is tweedens ook skape in ware heiligheid. Dit wil sê: Die mens se lewe voor die sondeval is gekenmerk deur absolute toewyding aan God. Hy was vervul van ware liefde tot God en medemens.

Ons kan alles saamvat in die drie gedagtes van TOERUSTING, OPDRAG en KON:

  • Die geregtigheid en die heiligheid is die toerusting wat hy van God ontvang het. God het die mens al die gawes gegee wat nodig was om ‘n geskikte onderkoning te wees.
  • In die vervolg van vraag 6 kry ons die opdrag: Die mens is geskape en toegerus as onderkoning “sodat (sodat – dit dui op ‘n gevolg), sodat die mens gevolglik God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys“.
  • Dit was dus die mens se taak as onderkoning. En hy kon dit doen. U moet die woordjie kon nie miskyk nie. Hy KON God ken, liefhê en prys. Hy kon, want God het Hom daarvoor toegerus.

èPresies dit word gesê, wanneer Genesis 1 van die mens sê: Hy is goed geskape is. Daardie woordjie goed het die betekenis: Die mens hét aan die doel beantwoord waarvoor God hom geskape het; hy hét as goeie onderkoning uit die hand van die Skepper gekom en hy kón sy opdrag as onderkoning nakom.

En dit alles maak ons val des te erger: God het ons goed geskape; Hy het ons gegee alles wat ons nodig gehad het om goeie onderkonings te wees.

As die sonde dan nie God se skuld is nie, wie se skuld is dit dan wel?

2.2. die beeld is vernietig deur ons sondeval in Adam

Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan as God die mens nie so geskape het nie? En dan wys ons belydenis ons na die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar,
daar in die paradys, daar in Genesis 3, daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

En so, soos wat dit daar staan, is dit duidelik: die Kategismus gaan uit van die historisiteit van die feitlikheid van die sondeval: daar, daar het dit gebeur. En daar het ons natuur verdorwe geraak.

Maar, hoor ek u sê, dit was tog Adam en Eva? Hoekom word ek dan geraak deur dit wat ‘n ander gedoen het?

Laat ek dit verklaar: Adam was nie maar ‘n losstaande indiwidue, ‘n enkeling nie. Adam was die hoof en die
verteenwoordiger van die ganse menslike geslag. Die hele mensheid, ook u en ek, was by hom ingesluit . Daarom: Toe hy geval het, het ons saam met hom geval. Daarom praat ons Kategismus ook van ons, ons eerste voorouers.

Dit is ‘n gedagte wat miskien baie moeilik is om te verstaan. Tog is dit presies wat die Bybel ons leer. Onder andere Romeine 5 vers 12 leer ons dit. Want daar staan: Deur een mens (Adam) het die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood. Maar dit is nie al nie. Daar staan ook dat die dood tot alle mense deurgedring het. En hoekom? Dan sê Paulus: Omdat almal gesondig het. In die een mens, Adam, het ons almal gesondig en die dood skuldig geword. In vers 19 word gesê dat “….deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is….”. Dit beteken letterlik: Deur die ongehoorsaamheid van die een mens staan ons almal in die beskuldigdebank as skuldiges.

En nie net Romeine leer ons dit nie. Uit 1 Korintiërs 15 vers 22 is baie duidelik: Adam se sonde word ons toegereken. Want daar staan geskrywe: in Adam sterwe ons. In Adam. Daardie in Adam beteken heel eenvoudig: in gemeenskap met, in verbondenheid aan Adam en sy sonde. In Adam sterf ons. Omdat ons verbind is met Adam, gaan die doodsvonnis oor ons in vervulling, omdat ons self in Adam gesondig het en daarom in hom self ook skuldig is, anders sou ons nie gesterf het nie.

Ek noem nog net een voorbeeld uit die Bybel, Psalm 51 vers 7. Daar skryf Dawid na sy sonde met Batseba: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore en in sonde het my moeder my ontvang.” Daarmee sê Dawid: Dit is nie alleen die sonde met Batseba wat hom skuldig stel en strafwaardig maak nie. Ook die feit dat hy in ongeregtigheid gebore is, dat hy gebore is belaai met die sonde van Adam, stel hom skuldig.

Die beryming van Totius (51:3) druk dit so duidelik uit:

Dis nie dié sonde (die met Batseba) alleen wat roep om straf:

(NEE, MAAR DAAR’s MEER) ek is in ongeregtigheid gebore,

en lê voor U in doemskuld gans verlore

al van die uur van my ontvang’nis af.”

Dat ons deur een mens, deur en in Adam, almal oortree het en almal skuldig geword het, is inderdaad baie moeilik om te verstaan. Tog moet ons dit gelowig aanvaar en wel om die volgende drie redes:

  1. Ons moet dit eerstens gelowig aanvaar, omdat dit die duidelike leer van die Bybel is.
  2. Ons moet dit tweedens gelowig aanvaar, omdat God ook hiervan sê dat dit goed is: dit is goed dat Adam so geskape is dat ons by hom ingesluit is.
  3. Ook om ‘n derde rede moet ons dit gelowig en dankbaar aanvaar dat God die mensheid so geskape het dat een almal verteenwoordig het. Dit is goed, want juis daardeur het God die weg tot ons verlossing vir ons geopen het. Want nou kan ons ook deur die toedoen van een Mens, die tweede Adam, Jesus Christus, gered word. Want in die volheid van die tyd het Hy gekom, ons Middelaar, om ons sondes op Hom te neem en die lewe vir ons te verdien. Daarom, wie niks wil weet van die leer dat deur die sonde van die eerste Adam almal tot skuldenaars gestel is nie, hoe kan so iemand glo dat Een vir die sondes van baie kon sterf?

Laastens kyk ons hoe diep die mens geval het. Dit was só diep, só ontsaglik diep dat

2.3. God alleen die beeld kon herskep en dit deur die wedergeboorte

Die Kategismus vra in vraag 8: Is ons so verdorwe (so sleg) dat ons glad nie instaat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is ?

Die antwoord is RADIKAAL: Ja. Ons is RADIKAAL verdorwe. Ons is SO ERG verdorwe, in die mate (so staan daar letterlik: dermate), dat ons glad nie instaat is, hoegenaamd nie instaat is om eens iets goeds te doen nie. Inteendeel, ons is geneig tot alle kwaad. Van die hele beeldskap kom daar heeltemal niks meer tereg nie: geen liefde nie, maar haat.

  • Ons is só bedorwe, in die mate, dat GOD moes ingryp … Mense kon nie help nie. Ons kon onsself nie help nie. God alleen kon dit doen.
  • Ons is só bedorwe, in die mate dat wedergeboorte die enigste oplossing was. Daar moes ‘n nuwe geboorte plaasvind. Iets wat net God kon doen … deur sy Gees.

Het u miskien raakgesien dat daar in Sondag 3 van twee geboortes sprake is?

  • In vraag 7 hoor ons van die eerste geboorte. Dit is ons geboorte IN ADAM. Deur die val en ongehoorsaamheid van Adam word ons almal in sonde ontvang en gebore. Dit is die eerste geboorte. Deur hierdie geboorte is ons dood, dood in die misdade en sondes, geestelik dood, ewig dood, liggaamlik sterwend.
  • In vraag 8 kom die tweede geboorte ter sprake. Dit is die wedergeboorte deur die Heilige Gees. Ek kan ook maar sê: Dit is die geboorte IN CHRISTUS. Hy is die tweede Adam. Deur die Heilige Gees word ons in Christus ingelyf. Dan word ons nuwe mense, mense wat geestelik lewe, ewig lewe.

Ursinus se beskrywing van wedergeboorte is vir my so geweldig treffend. Weet u wat noem hy wedergeboorte? Herstel van die beeld van God. Deur die wedergeboorte is die beeld van God weer terug. Hoe kan dit? IN CHRISTUS.

IN CHRISTUS – Calvyn betrek ons wedergeboorte in sy Institusie (Boek III, 3, 9) op die dood en opstanding van Christus:

  • Eerstens sê hy: As ons waarlik deel het aan Christus se dood, word ons ou mens deur sy krag gekruisig, en die liggaam van ons sonde sterf, sodat die bedorwenheid van ons eerste natuur geen krag meer het nie.
  • Tweedens sê Calvyn: As ons in Christus se opstanding deel, word ons daardeur opgewek tot ‘n nuwe lewe wat met God se geregtigheid ooreenstem.

Aan die kruis sterf die rebellekoning en saam met Christus staan die onderkoning op “wat na God geskape is (= wat na sy beeld herskep is) in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef.4:22-24).

3.Slot

Ons val is ons eie skuld. Wat ‘n wonder dat God ons nie daarin gelaat het nie.

Deur ons te leer hoe hopeloos ons toestand is, wil die Kategismus ons na die enigste een toe dryf wat kan help: na God toe, na God in Christus.

Ons ontvang die Gawe van God: sy Seun. Christus is die GAWE wat ons nodig het vir ons OPDRAG as onderkonings. Ons ontvang die geregtigheid en heiligheid in Christus. Ons ontvang die Seun van God, sodat ons in en deur en danksy Hom, sodat ons gevolglik God, ons Skepper, reg kan
ken, Hom van harte kan
liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys“. Ons kan weer – in Christus.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s