Preek Sondag 4

Lees: Eksodus 34

Teks: Eksodus 34:6,7

H.K.: Sondag 4

Ps’s: 42:1; Geloofsbelydenis; 116:1,2,3; 103:1,2; 103:5,6

1.Inleiding.

Ons moet die Wet van die HERE onderhou, maar ons kan nie en ons wil nie. Ons is onbekwaam tot die goeie van die wet en geneig tot alle kwaad, tot alle wetsverbrekeing. Daarop kan net een ding volg: Die straf van die HERE. Daaroor handel Sondag 4 en die volgende kom ter sprake:

1. hierdie straf is nie onbillik nie;

2. die straf is tydelik en ewiglik; en

3. die straf is regverdig.

2.1. Die straf is nie onbillik nie.

Alreeds in Sondag 2 het die leermeester van Heidelberg ons geleer hoe hopeloos dit geestelik met ons gesteld is: Ons moet die wet ten volle onderhou, maar ons kan nie. Die wet eis liefde, maar ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat.

En tog, tog sien God nie af van sy eis dat ons sy gebooie 100% moet onderhou nie. Ondanks ons totale onvermoeë. Daarom word die vraag gestel: Is dit nie vreeslik onregverdig van die Here dat Hy iets van ons verwag wat ons nie kan doen nie?

Ons kan die antwoord in twee dele verdeel.

  1. Eerstens word bely: God is nie onbillik en onregverdig nie, want God het die mens so geskep dat hy die wet wel kon doen.

Om dit nou maar met ‘n beeld te verduidelik:

As iemand as mynwerker opgelei is en sy werkgewer sou van hom eis om die boekhouding van die myn te doen, is dit ‘n onredelike eis. Die werker is tog nie toegerus vir daardie opdrag nie. Hy het nie die gawes daarvoor nie. In so ‘n geval kan die werkgewer hom nie later verwyt as hy nie bekwaam is om die werk te doen nie. Dit is egter ‘n ander saak as die werker dronk by die werk kom en sy werk as myner daarom nie kan doen nie. Dan is sy onvermoeë wel sy eie skuld.

Presies daarop kom die antwoord van die Kategismus neer: God het die mens so geskep dat hy die wet kon doen.

Daarmee gryp ons Heidelberger terug na vraag en antwoord 6 van Sondag 3: God het die mens goed geskape. God het hom alles gegee wat nodig was om ‘n goeie onderkoning, om werklik beelddraer van die HERE te kon wees. Hy het die mens toegerus met die gawes van ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy onderkoning kon wees en die wet van die Grootkoning kon onderhou.

  1. Maar wie se skuld is die onvermoeë dan? Dit is die tweede deel van antwoord 9:
    dat die mens die wet nie meer kan onderhou nie, is die duiwel se skuld én die mens se eie skuld.
  • Eerstens wys ons belydenis op die aandeel, op
    die aanhitsing van die duiwel
    . Die duiwel het ‘n hand gehad in die mens se val. Hy het Eva aangehits om te eet van die boom. In die oorspronklike Duitse teks staan nie ingewing nie, maar aanhits, aanpor, opstook:: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Gen 3:4-5)
  • Die duiwel het dus terdeë ‘n aandeel in die sondeval gehad. Maar ons belydenis wys ook op die mens se eie skuld: Die mens het homself en sy hele nageslag deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof. Ons kan die skuld nie net op die duiwel se skouers pak nie. Die mens het self ook die verkeerde gewil. Dit was moedswillige ongehoorsaamheid van die mens. Ons het geen verskoning nie.

En die resultaat was: Ons het ons
van daardie
gawes beroof
. Dit is die gawes waarmee God die mens toegerus het om beeld van God te kon wees en om God te kon liefhê en prys. Hierdie gawes het die mens deur eie skuld en moedswilligheid verloor. Hy het homself en sy nageslag van hierdie gawes beroof. In die Latynse teks van die Kategismus staan daar nie net gawes nie, maar van hierdie goddelike gawes – dit benadruk nog sterker dat God wel die gawes gegee het, wat nodig was. Met die homself beroof daarenteen wil die Kategismus benadruk: Dit is eie skuld dat ons die wet nie meer kan onderhou nie.

Skerp word die kontras getrek in die Kategismus: God het … maar die mens het. God het die mens so gemaak dat hy wel die eise van die Wet kon nakom, maar deur eie skuld kan die mens
nie meer nie. Die grootheid van God se goedheid, maak die grootheid van die mens se skuld des te meer.

Ook uit antwoord 9 – soos by 6 – is dit duidelik: die sonde van die een mens, Adam, het gevolge gehad vir sy hele nageslag: die mens het homself en sy hele nageslag deur hierdie een daad van moedswillige ongehoorsaamheid, daardie historiese gebeurtenis, aanhitsing van die duiwel van die gawes beroof.

God se straf is dus volkome billik. En

2.2. die straf is tydelik en ewiglik

Ons sondes is vir God geen kleinigheid nie. Hy vertoorn
Hom verskriklik.

Sy toorn gaan 1.
oor ons aangebore sondes en 2. oor ons sondes van elke dag.

  1. Ook die sondes van Adam word op ons rekening geskryf en ook hierdie sondes roep om straf. Dit is die aangebore sondes, erfsonde.
  2. En dan kom daarby die sondes wat ons self doen elke dag – ons sondes in gedagtes, woorde en dade.

Wie huiwer nie wanneer die Kategismus spreek oor God se straf nie? Wie sidder nie wanneer dit so sterk uitgedruk word nie: God vertoorn Hom verskriklik oor ons aangebore sowel as oor ons daaglikse sonde, nie? Wie skrik nie as wanneer hierdie Skrifwoord tot ons kom nie: “Onse God is ‘n verterende vuur?” (Heb 12:29) En: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb 10:31)

Tydelik en ewiglik, sê ons belydenis, wil die Here die sonde straf. Tydelik, dit wil sê: Reeds in hierdie lewe, reeds aan hierdie sy van die graf begin daar iets deurbreek van die ewige straf wat kom. Natuurrampe en siektes – dit is alles boodskappers van die groot en vreeslike dag van die Here wat kom. Dit is heroute van God wat ons oproep tot bekering, wat ons oproep om na Jesus te gaan, as ons sy ewige toorn wil ontvlug.

Wel moet ek dit duidelik stel: Dit geld alleen vir onbekeerdes dat siektes en dergelike rampe die voorpunt is van die groot straf wat kom. Vir gelowiges kom die dinge in ‘n ander lig te staan. Wie aan Jesus behoort deur ‘n ware, vrugdraende geloof, moet teëspoed nie sien as straf nie, maar as liefdevolle, vaderlike tugtiging van God om ons so ver te bring om digter by die Here te leef. Dit kan ook bedoel wees as beproewing waardeur die Here ons geloof wil toets.

Maar ek kom terug by die tydelike en ewige straf waarvan ons belydenis praat In die paradys het die HERE vir Adam gesê het: “… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” In daardie een woord
sterwe word die HERE se verskriklike toorn, sy tydelike en ewige straf saamgevat.Onder hierdie woord sterwe het ons Gereformeerde vaders altyd drie dinge verstaan: die liggaamlike, die geestelike en die ewige dood. Dit is die tydelike en ewige straf van God.

  1. Eerstens is daar die liggaamlike of tydelike dood. Dit is die tydelike verbreking van die band tussen liggaam en siel. Die liggaam sterwe en ontbind. Nee, dit was nie so dat Adam en Eva onmiddelik dood neergeslaan het nie. Maar wel het die lewe, soos die doopsformulier dit noem, ‘n voortdurende, gelydelike sterwe geword. Gelydelik word ons liggame afgetakel en elke dag is ‘n tree nader aan die graf.
  2. Die mens het tweedens ook geestelik gesterf. Dit wil sê sy lewensband met God is gebreek. In sy hart het hy gesterf, want waar daar eens net liefde in sy hart gewoon het, het die sonde, haat teen God, sy intrek geneem. Ook ten opsigte van sy medemens het die gesterf: Naasteliefde het plek gemaak vir selfsug. Die wêreld het verander in ‘n plek van haat, nyd, jaloesie, onverdraagsaamheid en oorloë, ‘n voorhof van die hel. Want dit is hier en nou reeds hel wanneer mense mekaar haat en nie in liefde met mekaar kan omgaan nie.
  3. Die derde is die ewige of tweede dood. Dit is die absolute Godverlatenheid in die hel.

Ja, die toorn van God is verskriklik en van hierdie straf moet ons ook derdens sê:

2.3. Die straf is regverdig.

Uit die Skrif het die belydenis ons oortuig: Ons verdien die straf en dit is ‘n vreeslike straf.

Wanhopig vra die mens in die laaste vraag daarom: Is God dan nie ook barmhartig nie? Hy is tog liefde?

Dit is tipies van die mens van ons tyd: Hulle wil niks daarvan hoor dat God die sondes straf nie. En dan haal hulle so graag die tekste aan wat daaroor spreek dat God liefde is. Kyk nou maar in Eksodus34 vers 6 en 7 waar daar staan: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die ongeregtigheid bewaar vir duisende.” Ja, dis waar dat dit daar staan, maar daar staan ook meer naamlik. dat Hy “die ongeregtigheid en die oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.”

O, sê party slim manne in ons tyd, maar dit staan in die Ou Testament en die God wat daar verkondig word is nie dieselfde as die God van die Nuwe Testament nie. Die God van die Ou Testament is ‘n God van wraak, die God van die Nuwe Testament is ‘n God van liefde. Maar juis in Romeine 6:23 staan daar: Die loon van die sonde is die dood. En wie sy Nuwe Testament ken, sal weet dat God nie afsien van sy straf nie, maar dat ons onder die Nuwe Verbond eerder ‘n verswaring kry van die verbondsstraf. Omdat ons meer weet, kry ons ook meer verantwoordelikheid om te dra.

God is barmhartig. Dit is waar. Maar Hy is ook regverdig. Of om die woord regverdig ‘n bietjie anders te vertaal: Hy is getrou aan sy verbond. Hy bly by dit wat Hy daarin gesê het. Hy hou Hom by sy verbondswoord: Die straf op die sonde is die dood.

God se barmhartigheid of liefde beteken dus allermins dat Hy ophou om regverdig te wees en dat Hy afsien van die straf waarmee Hy gedreig het.

En nou mag ons in die Woord hoor: Hierdie twee lyne, God se barmhartigheid en God se regverdigheid, loop saam op Golgota: Daar is op die heerlikste wyse die regverdigheid en die liefde van God geopenbaar.

  • Enersyds was die kruis ‘n tentoonstelling van sy regverdigheid: Eerder as om die sonde ongestraf te laat, het Hy dit gestraf aan sy eie Seun.
  • Andersyds was Golgota die allerheerlikste openbaring van God se barmhartigheid: So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons oorgegee het aan die bittere en smadelike dood van die kruis.

    èGolgota is die hoogste bewys van God se liefde én regverdigheid.

Wie verlos wil word van die doodstraf, die regverdige straf wat ons verdien het, moet daarom daarheen: na die Seun van God!

Want die drieërlei dood het Jesus oorwin vir almal wat Hom liefhet:

  1. Hy het die liggaamlike dood oorwin, want Hy het opgestaan uit die graf.
  2. Hy het die geestelike dood verpletter, want Hy het die mag van die Satan en die sonde geknak. Aan die kruis.
  3. Derdens het ons Here Jesus ook die ewige dood aan die kruis oorwin, want daar op Golgota het Hy die hel van Godverlatenheid gesmaak, sodat ons nimmermeer deur God verlaat sal word nie, maar vir ewig mag lewe in die lig van sy vriendelike aangesig.

3. Slot.

Na Hom toe wil die H.K. ons dryf en wie nie na Hom toe wil gaan nie, sal self die regverdige straf moet dra.

AMEN.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s