Preek Sondag 5

Lees: Psalm 32

Teks: Psalm 32:1,2

H.K.: 5:12-15

Psalms: 97:1,7; 32:1,2; 32:3,4; 32:5,6; 33:1,2

1. Inleiding

In Sondag 2 tot 4 het ons harde dinge te hore gekry: Deur die influistering van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid het ons onsself in die skuld gedompel. Deur eie skuld is ons nie meer instaat om die Wet te onderhou nie, deur eie skuld is ons nou onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad. Ons het die tydelike en ewige straf van God verdien. Op daardie skokkende noot het Sondag 4 geëindig.

In Sondag 5 begin die Kategismus met die tweede afdeling: die deel oor die verlossing. In die heel eerste Sondag in hierdie afdeling – die Sondagsafdeling wat vandag behandel word – kom ter sprake: Is daar nie ‘n manier om vry te kom van die straf wat ons so dubbel en dwars verdien het nie? Is daar nie ‘n weg waarlangs ons band met God weer herstel kan word nie?

Drie dinge kom dan aan die orde:

1. Herstel kan slegs tot stand kom deur betaling van skuld (V/A 12);

2. skuldbetaling is nie te wagte van sondaars of van engele nie (V/A 13-14);

3. alleen ‘n Middelaar wat God én mens is, kan die skuld betaal (V/A 15).

2.1. Herstel kan slegs tot stand kom deur betaling van skuld (V/A 12)

In Sondag 5 het die sondaarmens tot die ootmoedige erkening gekom: Ons is skuldig en strafwaardig. Hier word nie meer met God getwis en gesê dat die sonde nie ons skuld is nie. Hier probeer die mens nie meer beweer dat die straf onregverdig is nie, maar hy gaan daarvan uit dat ons volgens die regverdige oordeel van God tydelike en ewige straf verdien het. God het ons skuld aan ons geopenbaar – soos Dawid deur die Godsopenbaring van die profeet Natan van skuld oortuig is.

Al wat oorbly, is die vraag: Hoe kan ons van hierdie absoluut regverdige straf verlos word en weer in genade aangeneem word? Die antwoord is: deur skuldbetaling.

In Sondag 5 is daar drie sleutelwoorde: geregtigheid, skuld en betaal.

  • Daar is eerstens die woord geregtigheid: “God wil dat aan sy geregtigheid voldoen word”.

Ons het die woordjie geregtigheid al in die laaste vraag van Sondag 4 gehoor. Toe het die mens nog probeer om ‘n uitvlug te soek, deur te sê: Maar God is tog barmhartig en genadig? Hy is tog liefde? Sal Hy nie daarom miskien die sonde deur die vingers sien en vergeet van sy straf nie? Die antwoord het ‘n streep getrek deur daardie uitvlug: Dit is waar, God is barmhartig, MAAR Hy is ook regverdig. “Daarom eis sy geregtigheid dat….die sonde gestraf moet word…”. Die skuld moet betaal word.

Hoor u hoe sterk stel Sondag 4 dit? God se geregtigheid EIS dat die sonde gestraf moet word. En hier in Sondag 5 hoor ons dit weer met soveel nadruk: God WIL dat daar aan sy geregtigheid voldoen word.

God EIS en GOD WIL!

God HANDHAAF sy geregtigheid.

Wat is hierdie geregtigheid van God? Daarmee bedoel die Bybel die trou van God. God bly getrou aan sy Woord, Hy bly by die woorde van sy verbond. Hy sien nie af van sy eis dat sy Wet 100% gehou en dat die straf vir ons oortredings volkome gedra moet word nie. Dit is God se geregtigheid of verbondstrou. Dit is die enigste weg terug na die paradys. God sien die sondes dus nie deur die vingers nie. Hy sien nie af van sy straf waarmee Hy gedreig het nie. God vergeet nie van sy liefdesgebod en dat dit ten volle gehou moet word nie.

  • Die ander twee sleutelwoorde is skuld en betaal.

Drie maal val die woordjie betaal in Sondag 5. In die eerste vraag word ook nog benadruk dat ons ten volle moet betaal.

‘n Rekening word deur die HERE in sy Woord aan ons voorgehou en die eis word gestel: Betaal! Betaal ten volle! En solank dit nie gebeur het nie, kan daar geen sprake wees van ‘n herstel van die lewensband tussen ons en ons Vader nie. Solank ons skuldbetaling uitstaande is, staan ons voor ‘n geslote hemelpoort.

Waarin bestaan die betaling? Enersyds daarin dat die sonde gestraf moet word (vgl. v/a 14), andersyds dat die wet vervul moet word (vgl. v/a 13).

Langs die weg van betaling word aan God se geregtigheid voldoen.

Wie sal betaal? Dit is die volgende:

2.2. Betaling is nie te wagte van sondaarmense of van blote skepsels soos die engele nie (V/A 13-14)

Nou begin die Kategismus na betalingsmoontlikhede soek.

  • Die eerste een word gestel in vraag 12: “Kan ons deur onsself betaal?

As ons nou alles op alles sit en vroom lewe en hard werk vir die Kerk en baie doen vir liefdadigheid, kan ons deur ons goeie werke die deur na die paradys oop forseer en weer in guns en genade aangeneem word?

Ag, deur die eeue heen, sonder ophou, het mense dit probeer. Om maar te begin by die Fariseërs in die tyd van Jesus: Hulle gedagte kan verduidelik word met die beeld van ‘n weegskaal met twee bakkies. In die een word jou sondes geplaas, in die ander jou goeie werke. En nou moet jy net sorg dat die bakkie met die goeie werke meer weeg as die sondebakkie, dat die gewig dus oorhel na die regte kant toe. Om dit te kon bereik, het die Farisëers duisend en een wette en verordeninge opgestel. As die mense dit gehoorsaam sou onderhou, dan sou die koninkryk van die hemel op die aarde neerdaal.

En in ons tyd het die mens nog nie verander nie. Duisende kerkmense glo: As jy maar net goed leef en genoeg doen vir die Kerk en sorg dat jou bydrae goed is, dan sal jy salig word. Die mens kan dus self betaal of dan ten minste wel ‘n gedeelte.

Maar wat sê die Kategismus? Kan ons self betaal? En dan kom die verdoemende antwoord: Nee, glad nie! Selfs nie vir ‘n gedeelte nie. En nog erger: Ons maak juis ons skuld elke dag nog groter.

En moet asseblief tog nie by die woordjie ons verby lees nie. Daar staan: ONS maak die skuld net daagliks meer. Nie: die ongelowiges en goddeloses doen dit nie. Natuurlik, hulle ook. Maar hier sê die gelowige belyder: Ook EK, ook ONS!

  • Die tweede betalingsmoontlikheid wat ondersoek word, kry ons in vraag 13: “Kan enige ander skepsel vir ons betaal?

Eintlik staan daar: Maar kan die een of ander (enige) blote skepsel vir ons betaal? ‘n Blote skepsel – met die bloot word bedoel: net, iemand wat net ‘n skepsel is en nie meer as dit nie, nie God nie. Nee, sê ons belydenis. Dit kan om twee redes nie: 1. Dit is nie regverdig nie en 2. dit is nie moontlik nie.

  • Dit sal nie regverdig wees as ‘n engel byvoorbeeld in ons plek gestraf sou word nie. God wil aan geen ander skepsel die skuld straf wat die méns gemaak het nie. Hoor u hoe word dit gesê: Die méns het die skuld gemaak. God het sy verbond met die méns opgerig en die méns het die verbond verbreek.
  • Dit is ook nie moontlik dat ‘n blote skepsel die straf kan dra nie. Want, sê ons belydenis, ten tweede kan geen blote skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie. ‘n Engel KAN NIE. Dit gaan hier oor onmag, onvermoeë. ‘n Engel is nie instaat om dit te kan doen nie. Dit gaan immers om goddelike toorn, wat skepsele se kragte te bowe. In Nahum:1 vers 6 lees ons: “… wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? …”.

Maar wie sal dan betaal? Dit is die volgende:

2.3. Alleen ‘n Middelaar wat ware God én ware en regverdige mens is, kan betaal( V/A 15).

God is God en reg is reg. God het reg op betaling. God eis dit. God wil dit. Aan sy geregtigheid moet voldoen word. Maar let nou op die verband waarin die kategismus die woord betaling gebruik: Word dit gedoen om ons in ‘n doodloop straat vas te pen? Word die betalingseis na vore gebring, om ons alle hoop op die verlore paradys te ontneem? Is die vrede met God onbereikbaar? Daar is geen sprake van nie. Lees wat daar staan: Daarom moet ons daaraan of deur onsself of – gee nou aandag – deur ‘n ander ten volle betaal.

In hierdie klipharde sin sien ons plotseling die blye Evanglie skitter. God hou aan sy betalingseis vas, maar tegelyk word ‘n ruim uitsig op verlossing oop gemaak. In die eerste vraag van Sondag 5 word die verlossingsweg al gewys: Daar is verlossing, ‘n ander wat in my plek ten volle vir my betaal.

Hierdie manne van Heidelberg was egte herders. Stap vir stap het hulle alle ander moontlikhede tot betaling vir onsafgesny en stap vir stap lei hulle ons na die heel enigste Een wat ons sondeskuld wel kan uitdelg. Stap vir stap word ons dus geleer om heeltemal van onsself of van enige ander skepsel af te sien en alleen op Jesus te sien.

Hy is die Middelaar ons van God gegewe. ‘n Middelaar – reeds die woord self sê vir ons wat dit is: Dit is iemand wat in die middel gaan staan. Dit is ‘n persoon wat tussen twee strydende partye in gaan staan om hulle met mekaar te versoen, om die band te herstel. Dit kom ook uit in ons woorde bemiddel of bemiddelaar.

God het sy Seun gestuur. Hy is daardie Middelaar.

Hy was nie – om die taal van die Kategismus te gebruik -, Hy was nie ‘n blote skepsel nie. Inteendeel, Hy was sterker as alle skepsels, want Hy was ware God.

Hy kon ook in ons plek gaan staan, want Hy het ons menslike natuur aangeneem. Hy was ware mens. Hy het ons menslike natuur aan te neem, uitgesonderd die sonde.

En so, beklee met ons menslike natuur en toegerus met goddelike krag, kon Hy in ons plek gaan staan en het Hy die weg na die paradys vir ons geopen.

Maar hoe het Hy dit gedoen?
Langs die weg van God se geregtigheid, dit wil sê: Sonder om enigsins afbreuk te doen aan God se regverdige eis van vervulling van sy verbondseise en dat die verbondsstraf gedra moet word. In ons plek het die Seun van die mens die Wet 100% gehoorsaam en die hel van Godverlatenheid gedra.

Nog anders gesê: Langs die weg van volle betaling.

Van sy werk sing Psalm 32.

Deur die Woord van God, gebring deur die profeet Natan, het God self Dawid tot skuld-erkenning gebring. Maar wanneer Dawid tot skuldbelydenis kom, verkondig die HERE ook by monde van Natan aan Dawid die wonder van skuldvergifnis. In drie woorde spel Dawid daardie skuldvergiffenis vir ons uit in Psalm 32. Die drie woorde is: vergewe, bedek, nie toegereken nie.

  • Eerstens sê Dawid: Welgeluksalig is die mens wie se oortreding vergewe is. Die woord wat hier vir vergewe gebruik word, beteken eintlik: opneem en wegdra. Daarvan lees ons in Johannes 1 vers 29, waar Johannes die Doper na Jesus wys en sê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld optel en wegdra”. Die Vaderhand neem ons sonde en – Hy lê dit op sy eie Seun. Om weg te dra deur die kruis.
  • Tweedens sê Dawid: Welgeluksalig is hy wie se sonde bedek is. Om hierdie woord bedek goed te verstaan, moet ons dit lees teen die agtergrond van die Groot Versoendag. Op daardie dag, eenmaal in ‘n jaar, het die hoëpriester die derde vertrek van die tempel, allerheiligste, binnegegaan. Daar het God gewoon. Daar het ook die ark van die HERE gestaan en binne-in die ark was die twee tafels van die wet. En ons kan maar sê: Uit daardie ark het opgestyg voor die aangesig van die HERE Israel se sondes. Maar nou die wonder: Bo-op die ark het die versoendeksel gelê. Daarop moes die hoëpriester die bloed van die sondoffer sprinkel en – so is Israel se sondes voor God bedek. Deur die bloed van die kruis.
  • Derdens gebruik Dawid die woord toereken. Hy sê: Welgeluksalig is hy wie se ongeregtigheid nie toegereken is. Toereken – dit is ook weer ‘n woord uit die offerpraktyk van die Israeliete. Voordat ‘n dier geoffer is, moes die priester sy hande op die offerdier lê. Met dié gebaar het hy die sondes van die volk op die dier gelê. Dit is die dier toegereken. Hy moes sterf vir die sondes van sy volk. En daarin mag ons ‘n skildery sien van ons Here Jesus Christus. Die skuldbrief van ons sondes is aan die kruishout vasgenael. Die skuld is nie vergeet nie, maar deur ‘n ander betaal.

3.Slot

Ons is skuldenaars en skuldmakers. Christus is die skuldbetaler. Dis Christus wat die skuld wou dra, die dood vir ons gesterf het, ja….AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s