Preek Sondag 7

Lees: Johannes 1:1-18; 20:19-31

Teks: Johannes 1:11 tot 13

H.K.: Sondag 7

Ps’s: 146:1,2; 2:6; 36:2,3; 71:1,4: 119:43,53

1. Inleiding.

In Sondag 6 is die weg terug na God toe aan ons geopenbaar: onse Here Jesus is hierdie weg. Daaroor gaan dit ook in Johannes, want in hoofstuk 14:6 sê Jesus: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Die vraag is nou: Hoe kom ons op daardie pad? Hoe kry ons deel aan hierdie Middelaar wat tussen ons en God wil gaan staan en ons met God met sy offer wil en kan versoen?

Sondag 7 gee die antwoord: deur die geloof. Deur die geloof plaas ons ons voet op hierdie lewensweg. Dit is daarom van lewensbelang dat ons sal weet wat hierdie geloof presies is.

Drie punte kom ter sprake:

1. Alleen deur die geloof word ons salig;

2. die geloof bestaan uit ‘n gewisse kennis en ‘n vaste vertroue; en

3. die geloof steun alleen op God se beloftes.

2.1. Alleen deur die geloof word ons salig.

In Adam het alle mense gesondig; in Adamalle mense onder die toorn van God. Die Heilige Skrif leer ons immers: Alle mense is in Adam. En daardie woorde in Adam beteken: Alle mense is aan Adam verbonde. Daarom, toe Adam geval het, het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (HK 3:7). En om die woorde van vraag 20 te gebruik: Deur Adam het alle mense verlore gegaan. God vertoorn Hom verskriklik oor ons sonde in Adam en die sonde wat ons self doen; Hy wil dit tydelik en ewig straf (HK 4:10).

Daar het egter ‘n genadewonder gebeur: Teenoor die in Adam plaas God die in Christus. In Christus word mense verlos van die toorn. Hy maak verdoemdes salig.

Maar nou is die groot vraag wat die Kategismus stel dit: Word alle mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Om dit maar so te stel: Alle mense is in Adam, by Adam ingesluit. Maar werk dit met die saligheid in Christus ook so? Is alle mense ook in Christus begrepe en in Hom verlos?

En dan kom die verdoemende antwoord van ons Kategismus: Nee! Net ‘n sekere groep word gered! Slegs die wat deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf word en al sy weldade aanneem. slegs diesulkes word salig. Die res is vir ewig verdoem.

Geloof-ongeloof – dit is die skeidende faktor! Dit bepaal wie die ewige rus ingaan en wie nie.

En daardie groot teenstelling, die verdelende faktor geloof-ongeloof, kry ons ook in die Johannes-evangelie. Dit is ook die bedoeling van Johannes met al die tekens in sy evangeliebeskrywing om mense tot hierdie allesbeslissende geloof te bring. Want ons in hoofstuk 20:31 sê hy uitdruklik: Hierdie (tekens) is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

Reeds in sy inleiding van die evangelie van Johannes, in hoofstuk 1:1-18, verkondig Johannes die groot skeiding:

  • Aan die eenkant is daar die wat nie glo nie, vers 11: Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Nadruklik noem die evangelis dit: sy eie mense, sy eie volk, die Jode het Hom nie aangeneem nie. En met die nie aanneem
    nie bedoel hy: Hulle het nie geglo nie.
  • Aan die anderkant is daar die wat glo, vers 12: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word. En dan verklaar Johannes wat hy met die aanneem bedoel: aan hulle wat in sy Naam glo.

In hierdie woorde is dit alreeds duidelik: Die beslissende faktor is nie behoort-aan-die-kerk of nie-behoort-aan-die-kerk-nie. Nee, geloof of nie-geloof in die Naam van Christus – dit is die groot skeidende faktor. Ons hoor immers van sy eie mense, van kerkmense wat nie geglo het nie. En ‘n ent verder, in Johannes 3:36 lees ons: Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Maar nou moet ons wel goed verstaan wat geloof is. Geloof is nie ‘n manier of middel of goeie werk waardeur ons die saligheid verdien nie. Wel is geloof die instrument waardeur ek die saligheid, wat Christus klaar en volledig vir my verdien het, vir myself toeëin en in ontvangs neem.

Geloof is die hand wat die bedelaar uitsteek om die aalmoes uit die hand van sy ryk weldoener in ontvangs te neem. Daardie bedelaarshand het nie gewerk vir die aalmoes nie, maar hy ontvang dit uit onverdiende guns alleen. Die Kerkvader Augustinus het daarom die geloof die hand van die hart genoem.

Ons moet dit baie goed verstaan: Nie die geloofshand sal my eenmaal red nie, maar wel dit wat in daardie hand lê: die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegdra.

Maar tog is die geloof absoluut noodsaaklik. Want as ek nie ‘n hand het nie – al is die tafel ook hoegelaai met die heerlikste lekkernye, as ek nie ‘n hand het om dit te neem en na my mond te bring nie, sal ek sterf van die honger. Dieselfde met die brood van die ewige lewe – al die rykdom van die evangelie sal my niks baat nie, as ek dit nie glo nie.

Ons word nie outomaties gered net omdat ons gedoop is, net omdat ons lidmate van die Kerk, net omdat ons lede van God se volk is nie.

Nee, sê Johannes, maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. In Christus, deur die geloof in sy Naam, ontvang ons die reg – die reg, so kan ons dit beter vertaal -, deur die geloof ontvang ons die reg van kindskap.

Hierdie kindskap is nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, sê Johannes. Dit wil sê: Dit het is nie te danke aan die mens, aan die mens se afkoms of behoort tot ‘n bepaalde volk of ons wil en inspanning nie. Inteendeel, dit kom van bo-af, van God af: dit is iets wat, … uit God gebore is. Op hierdie uit God gebore, die wedergeboorte gaan Johannes breedvoeriger in in hoofstuk 3. Hierdie nuwe geboorte het alles met Christus en sy Gees te make. Christus is van bo-af. Hy is die nuwe geboorte van bo-af. Deur die geloof kry ons daaraan deel. En die geloof is van bo-af deur die Heilige Gees. Deur die geloof in sy kruis word ons gebore as kinders van God, mense met kinderreg. Dit is alles die werk van God.

Op hierdie werk van God lê ons belydenis ook die nadruk. Deur die geloof, sê die Kategismus, word ons in Christus ingelyf. Word ons ingelyf – dit is die passiewe vorm. In die skepping van die geloof is ons passief. Voorop en met nadruk sê die leraar van Heidelberg dus wat God doen – tot roem en prys van Gods genade!

Maar daaruit vloei, tweedens, voort wat ons moet doen: God skenk ons die gawe van die geloof en nou het ons ook die verantwoordelikheid
om al sy weldade aan te neem deur ‘n ware geloof.

En dan is ons ryk, skatryk! Nee, dit is nie geloofshand wat ons so ryk maak nie, maar dit wat ons geloof in hande neem: die weldade van Jesus, sy versoeningswerk.

Maar nou ons tweede punt:

2.2. Die geloof bestaan uit ‘n gewisse kennis en ‘n vaste vertroue.

In Hebreeus klink die woordjie “geloof” byna net soos die woordjie “AMEN“. En dit is wat geloof inderdaad is: Om ja en amen te sê op die evangelie. Dit is waar en seker. Geloof is om met jou hele hart te beaam alles wat in die Woord van God staan.

  1. Die Heidelbergse Kategismus noem nou die geloof eerstens ‘n vasstaande kennis. Dit is tog vanselfsprekend, nie waar nie: Om te kan glo, moet ons Jesus Christus ook ken. Ons moet weet wat Hy vir ons gedoen het. Ons moet weet waarom ons Hom nodig het. Kennis is dus noodsaaklik. Sonder kennis kan daar geen sprake van geloof wees nie.

Ook in Johannes sien ons dat dit om ‘n geloof met ‘n baie spesifieke inhoud, met ‘n baie spesifieke kennis gaan. Dit gaan om geloof in die Naam van Christus, kennis van die Naam. Met Naam word bedoel: alles wat in die Naam opgesluit lê: dat Hy die Christus, die Gesalfde van God is, dat Hy die Seun van God is, wat deur God gestuur is om ons te verlos. Die hele Persoon en die ganse heilswerk van Christus is daarin ingesluit. In hoofstuk 20 vers 31 spel Johannes dit in besonderhede vir ons uit, wanneer hy sê: ons moet glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God.

Geloof is kennis – ‘n vasstaande, ‘n gewisse kennis. Dit is ‘n kennis wat gelaai is met sekerheid. Weet u waarom? Want dit gaan om kennis van die Woord van God, wat altyd waar is. Dit gaan om die Woord en die beloftes van die altyd waaragtige, betroubare God. Niks staan daarom meer vas as hierdie kennis nie.

  1. Geloof is tweedens ook ‘n vaste
    vertroue. Dit is ‘n vaste vertroue, sê die Kategismus, dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Hier klink ‘n diep verwondering deur: nie net aan ander nie, maar ook aan my! Ja, ook aan my! O, wat ‘n wonder dat U dit ook vir my gedoen het! O, wat ‘n wonder dat U soveel vir my omgegee het, dat U u eie Seun nie gespaar het nie! O, wat ‘n wonder dat u my, ellendige, moedswillige, onwaardige sondaar, uit louter genade aangesien het!

Maar juis dit bekommer my in die Gereformeerde Kerk: dat die verwondering by soveel ontbreek. Ons beskou dit nie meer as ‘n wonder dat ons gered is nie. Ons dink dit is ‘n van selfsprekende saak. Ons meen dat God dit aan ons verplig was: Ons is mos kerkmense. Nee, God was dit aan geen mens verplig nie. Ons het alle reg, ook die reg op kindskap, verbeur en ons verbeur dit nog daagliks. Dit is daarom ‘n ontsaglike wonder wanneer God ons desnieteenstaande, ondanksy onsself en danksy Christus deur die geloof in Christus inlyf.

Kennis én vertroue, vertroue én kennis – ons moet nie, mag nie die twee uitmekaar haal nie. Die een kan nie bestaan sonder die ander nie:

  • Ons vertroue word geskep, ons vertroue word gebore uit die kennis van God. Dit enersyds.
  • Andersyds: wie God nie vertrou nie, ken Hom ook nie, ken Hom nie in sy betroubaarheid en liefde en almag nie.

Net so moet ek ook vertrou op die geloofskennis dat Jesus Christus gesterf het vir my sondes. Ek moet my oorgee, my toevertrou aan Hom, anders sal ek nooit bo uitkom nie.

In V/A 21 word verder vir ons gesê waar die geloofskennis en vertroue vandaan kom: Die Heilige Gees werk dit. God neem dus, deur sy Heilige Gees, die inisiatief. Hy neem ons by die hand. Self wil ons nie gaan nie. Ons verset ons met alle mag. Maar Hy breek die weerstand van ons hart. Hy bring ons by Jesus. Aan God alleen dus alle eer!

Hierdie werk doen die Heilige Gees deur die evangelie. Die Woord is sy instrument. Daarom is dit so belangrik dat ons Kerk toe moet gaan, dat ons huisgodsdiens moet hou.

Ons laaste punt vandag is:

2.3. die geloof steun op die beloftes van die Evangelie.

Waarop is ons geloof gerig? Wat is die onbeweeglik-vaste grond waarop die voete van ons geloof onwankelbaar vas staan? Heel eenvoudig: die beloftes van die evangelie. Dit is wat die Heidelberger noem die weldade van Christus. En hierdie weldade of beloftes word verder uitgespel in die woorde: dat God slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het. En ons kan die beloftes in een Naam saamvat: Ons Here Jesus Christus. In hierdie Naam het ons die lewe, het ons die reg om kinders van God te word.

Nie op ons sterk geloof nie, nie op ons goeie werke, nie op ons toegewyde en harde arbeid vir die Kerk, nie op dit of dat wat ons werk of doen, vertrou ons vir ons ewige behoud en saligheid nie. Ag, as ons daarin ons sekerheid moes sou soek, sou dit maar sleg met ons gesteld gewees het. Dan sou niemand van ons ooit seker kon wees of ons hemel toe gaan nie. Immers, daar is nog so baie aan en op te merk op elkeen van ons se geloof. Ons geloof is nog so swak en ons beste werke is met sonde bevlek.

Ons moet dus God se beloftes glo. Maar nou voeg die Heidelbergse Kategismus nog iets daaraan toe: EN die Twaalf Artikels, d.i. die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons elke Sondag hoor. Voeg die Kategismus nou nog iets BY die Bybel? Nee, hoegenaamd nie! Die Twaalf Artikels kom nie met iets nuuts nie. Dit wil slegs ‘n samevatting wees van die Evangelie.

Die Twaalf Artikels is dus nie ‘n droë, dor belydenis nie, maar ‘n opsomming van God se heerlike en troosryke beloftes! Dit is ‘n vertoonvenster waarin die rykdom van God se beloftes vir ons uitgestal word: die belofte van God se Vaderlike sorg, die belofte van skuldvergiffenis deur die bloed van die Seun en die belofte van die reinigende werk van die Heilige Gees.

3. Slot

Wat die Here in hierdie Sondag van ons vra, is dat ons die groot en wonderlike beloftes sal ken en daarop sal vertrou. Bid die Gees om die geloof.

AMEN.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s