Die groot kerkvader Augustinus het eenmaal gesê: As u my sou vra wat die belangrikste reël van die christelike godsdiens is, dan sou ek u antwoord: in die eerste plek ootmoed, in die tweede plek ootmoed, in die derde plek ootmoed, en altyddeur ootmoed.
Ootmoed beteken: afhanklikheid van God.
Ons kan die woorde van Augustinus daarom ook vertaal: afhanklikheid van God in die eerste plek, afhanklikheid van God in die tweede plek, afhanklikheid van God in die derde plek en altyddeur afhanklikheid van God.
Prakties beteken dit:
- nét God,
- nét sy Woord,
- nét Christus.
Anders gesê:
- niks van die mens nie.
Ons sal hierdie reël moet uitleef, wanneer ons die kerk, ons eie lewe, die samelewing wil verander. Nét God, nét sy Woord, nét Christus kan dit doen.
Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. (Psalm 121:1-2) Die woord hulp word in die Psalms nét van God gebruik.
Ek hef my oë bergwaarts heen
en staar die ure om,
tot my verlossing kom.
My hulp is van die HEER alleen.
Hy, oor my lot bewoë,
is eind’loos in vermoë. (Psalm 121:1, Totius)
…. My hulp is van die HEER alleen.
Daar is geen ander Helper nie. Ek kan myself nie help nie – in niks nie.
Maar Hy, sy Woord, sy Seun – dit is meer as genoeg.