Preek Sondag 9

Lees: Genesis 1; Psalm 121

Teks: Psalm 121:2

H.K.: Sondag 9

Ps’s: 33:2,10; Geloofsbelydenis; 121:1,2; 121:3,4; 68:9,15,16

1. Inleiding.

Ek glo in God die Vader. Ek glo – Daarmee begin ons ons belydenis. Ons begin nie met: Ek
, nie. Dit is belangrik dat u dit moet raaksien. Want met die woorde ek glo sê ons: Dit gaan beslis nie om teoretiese nadenke daaroor of oor ‘n akademiese besinning oor God die Vader nie. Dit gaan om ek, om wat ek glo. Dit gaan om wat ék vas en seker weet en waarop ék met my hele lewe steun.

Dit is van so kardinale, wesenlike, lewensbelang, dat ek dit ter inleiding wil sê en wil beklemtoon: Dit gaan vanaand om geloof – en hopelik met elke erediens. Dit gaan om die ware geloof. Dit handel oor daardie geloof, waarvan ons in vraag en antwoord 21 bely: ‘n Ware geloof is kennis en vertrouemy geloofs-kennis en my geloofs-vertroue.

Kennis én vertroue, vertroue én kennis – ons moet terdeë besef: hierdie twee hoort onlosmaaklik bymekaar; hierdie twee mag nooit losgemaak word van mekaar nie; die een kan nie bestaan sonder die ander nie:

  • Enersyds moet ons beslis
    onthou: Ons vertroue word geskep, ons vertroue word gebore uit ons kennis van God;
  • Andersyds moet ons beslis
    weet: wie God nie vertrou nie, hy ken God ook nie, hy ken Hom nie in sy almag en in sy betroubaarheid en in sy liefde nie.

Hierdie kennis en vertroue het alles met die Woord te make. Want die Woord bring kennis en die Woord skep vertroue. So werk die Gees: deur die Woord.

Hierdie twee dele van die ware geloof is ook duidelik ter sprake in Sondag 9, in ons geloofsbelydenis aangaan God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde:

  • Eerstens het ons belydenis dit oor die kennis: die kennis dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat hemel en aarde, met alles wat daarin is, uit niks geskape het, wat ook deur sy ewige raad en voorsienigheid dit nog onderhou en regeer ter wille van sy Seun Christus my God en my Vader is.
  • In die tweede helfte kry ons die vertroue: op wie ek so vertrou dat ek nie twyfel nie of Hy sal my met alles wat nodig is vir liggaam en siel versorg en ook al die kwaad wat Hy oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste bestuur, omdat Hy dit kan doen as ‘n almagtige God en ook wil doen as ‘n getroue Vader.

U moet hierdie vraag maar weer goed gaan deurlees by die huis. Dan sal u sien hoe die vertroue
bou op die kennis en voortvloei uit die kennis en teruggryp op die kennis. Hierdie vraag is ‘n twee-eenheid. Geloof is ‘n twee-eenheid. Kennis en vertroue is inmekaar gevleg.

Ek staan daarom met u stil by:

  1. ons geloofs-kennis van God die Vader en
  2. ons geloofs-vertroue in God die Vader

2.1 Ons geloofs-kennis van die Vader

Genesis 1 begin met kennis – kennis van ons Vader, geloofs-kennis. Dit laat ons ons God en ons Vader sien in sy almag, in sy indrukwekkende majesteit en in goddelike heerlikheid. Want God het net spreek – en dit was daar! En God sê net: Laat daar lig wees – En daar was lig! Net deur sy Woord het Hy hemel en aarde, met alles wat daarin is, uit niks geskape.

En male sonder tal, in Ou en Nuwe Testament, word hierdie Vader-kennis by ons tuisgebring. So sing Psalm 33:6 in die hoogste tone van God se skeppingswerk en van sy Skeppersalmag: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.”

Maar die Vader van Israel en ons Vader het Hom nie net ken-baar gemaak in sy skeppingswerk nie. Ons leer Hom ook ken in sy onderhouing en regering van hemel en aarde. Van sy skepping én van sy regering praat die HERE o.a. in Jesaja 45:6-7: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.”

Maar nou is daar tog iets wat opval in ons Kategismus, iets wat u moet raaksien om goed te begryp wat hier in Sondag 9 presies bely word. Dit is die feit dat God se skeppingswerk en sy onderhouding en regering nie die hoofsin, nie die hoofgedagte uitmaak nie. Dit staan – om dit nou maar in taalkundige terme te sê – in bysinne daar.

Wat is dan wel die hoofsin? Die hoofgedagte is dit: dat die God wat alles geskep het, dat die God wat alles nog versorg en in sy hande hou – die God is my God en my Vader.

Laat ek dit baie eenvoudig vir u so formuleer:

Die Kategismus wil ons hier troos
met die volgende kennis: dat God, die Almagtige, die God wat so sterk is dat Hy alles uit niks gemaak het, die God wat alles onderhou en regeer – dat Hy
my God en my Vader is
.

Maar daarmee is nog nie alles van ons lewensnoodsaaklike geloofs-kennis van die Vader gesê nie. Die belydenis gaan verder en sê: Ek glo dat die ewige Vader … ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is.

Ter wille van – dit is drie klein woordjies, maar dit is gelaaide woorde. Die ter wille van sy Seun Christus gee ons die rede, die onwankelbare grond waarom God ons Vader is: Dit is danksy Christus, danksy sy offerande. Deur sy kruis is ons verander van slawe van die duiwel tot kinders van ons hemelse Vader.

Die woorde ter wille van sy Seun Christus sê ook: Dit is nie ter wille van iets in onsself
dat God ons Vader is nie. Dit is nie omdat ons sulke goeie mense is nie, dit is nie nie omdat ons sulke voortreflike eienskappe het of omdat ons so hard vir die koninkryk van God werk dat ons kinders van die Here is nie. Inteendeel, die Bybel laat ons sien dat ons die reg op kindskap van God deur ons sonde in die paradys verbeur het en dit nog elke dag verbeur deur ons sondes.

Maar God sy dank! Of liewer: Die Vader sy dank – en dan kom ons weer by ‘n stuk Vader-kennis – , want so lief het God die Vader die wêreld gehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het aan die bittere en die smadelike dood van die kruis. Só ‘n Vader is die almagtige, die Skepper: Hy het sy eie Seun gegee om deur Hom die deur weer vir ons te open. Die offer van sy Seun was die sleutel tot die Vaderhuis. Ter wille van Hom wil God weer ons Vader wees. Wat ‘n Vader!

Die in Christus, om Christus ontwil is wesenlike deel van ons kennis aangaande God die Vader. In die ter wille van Christus lê vir my die sekerheid dat God my Vader wil wees en elke dag vir my wil sorg. In die ter wille van Christus is ons almagtige God se Vadersorg en Vaderliefde gewaarborg.

Die Almagtige God, die Skepper van hemel en aarde – Hy is om Christus wil my Vader.

  • Dít is die geloofs-kennis waaroor dit in Sondag 9 gaan,
  • en – hierdie geloofs-kennis wek geloofs-vertroue.

Ons staan vervolgens dan stil by:

2.3 Ons geloofs-vertroue in hierdie almagtige Vader

Ek wil hierdie hoofpunt begin met Psalm 121:

Ons kry verskillende soorte Psalms. Die Psalms word dikwels verdeel in Lofpsalms, Klaagliedere, Dankliedere, Liedere van herinnering – en dan ook
Vertrouenspsalms. En Psalm 121 is so ‘n Psalm: Dit is ‘n lied van vertroue – ‘n Psalm van geloofs-vertroue!

Nou weet ek dat u dalk gaan sê: Maar Psalm 121 is tog ‘n Bedevaartslied? Ja, dit is waar. Maar ook ons kry ook onder die Bedevaartsliedere verskillende soorte Psalms. So is Psalm 130 ‘n Klaaglied en Psalm 121 is ‘n Vertrouenslied.

Psalm 121 loop oor van vertroue in God se bewaring. Die woord bewaar is die sleutelwoord in hierdie Psalm: Die woorde bewaar en Bewaarder kom sesmaal voor in hierdie kort Psalm: … jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder … Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.

Op hierdie kennis het die Psalmdigter vertrou: op die bewaring van die Bewaarder van Israel.

Wat was die grond van sy onwrikbare geloofs-vertroue in die getroue bewaring van die troue Bewaarder van Israel? Dit sê hy aan die begin: Ek slaan my oë op na die berg. Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Waarom sou dit ‘n vraag wees: … Waar sal my hulp vandaan kom? Wonder hy miskien? Is hy dalk nie seker waar hy sy hulp moet soek nie? Nee, u moet hierdie vraag nie verkeerd verstaan nie. Dit is ‘n vraag wat die geleerde mense ‘n retoriese vraag noem. Dit is ‘n vraag wat uitgaan van die veronderstelling dat die vraagsteller die antwoord reeds ken. Die bedoeling van ‘n retoriese vraag is om die leser na die antwoord te lei, om die antwoord ook des te sterker te beklemtoon.

Die Psalmdigter wéét waar sy hulp vandaan kom: My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Dit is die grond van sy vertroue. Daarin lê die sekerheid van sy geloofs-vertroue: dat die HERE hom sal bewaar en kan bewaar – nou en tot in alle ewigheid, aan hierdie sy van die graf, maar ook dwarsdeur die dood heen tot in ewigheid.

Hierdie man se geloofs-vertroue is gebou op HIERDIE geloofs-kennis: My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hierdie Woorde is die fondament van hierdie Vertrouenspsalm.

My hulp – die woordjie hulp – dit word in die Psalms nét van die HERE gebruik. Hy is die Psalmdigter se enigste hulp. En hoor hoe vol vertroue se die Psalmis my: my hulp! Dit is mos wat geloof is: om te sê: my, nie alleen aan ander nie, maar ook aan my!

En nou wil ek by hierdie Psalmdigter se geloofskennis stilstaan aan die hand van die eerste deel van Sondag 9:

  1. Hy sê eerstens
    HERE, my hulp is van die HERE. Dit is die Naam HERE met vier hoofletters. Dit is die Verbondsnaam. En hierdie Naam sê alles van Christus, van daardie ter wille van Christus. Want op grond van die bloed van die verbond het God se verbond met sy volk opgerig. In die bloed lê dit vas. Die bloed is die sement, die bloed is die onwankelbare waarborg, die bloed is die onwrikbare sekerheid van die verbond. Dit alles lê opgesluit in hierdie een en heerlike Naam HERE. In hierdie verbondskennis, in hierdie heerlike geloofskennis lê die man se geloofssekerheid, die onwrikbare oortuiging: die HERE sal hom bewaar.
  2. Tweedens sê Psalm 121: My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. En daarmee sê hy: Die HERE kan my ook bewaar. Immers, Hy het die hemel en aarde gemaak.

Die geloof gryp voortdurend terug op die geloofs-kennis. Sien u hoe die plant van geloofs-vertroue groei uit die grond van geloofs-kennis?

En hierdie teruggrype na die kennis, kry ons ook in Sondag 9. Luister maar mooi na die einde van vraag en antwoord 28: Op sy hulp, op sy sorg vertrou ek sonder om te twyfel, omdat – omdat, omdat

  • omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan doen en
  • omdat Hy dit ook as ‘n getroue Vader wil doen.

Kan en wil. Dit gaan om twee gedagtes: kan en wil:

  • Die HERE kan, want Hy is ‘n almagtige God, Skepper van hemel en aarde.

Met hierdie kan, met hierdie skeppingswerk van die HERE het die kerk in Ou en Nuwe Testament hulleself voortdurend vertroos. Male sonder tal word die kerk van die Ou Testament daaraan herinner. En ook in die Nuwe Testament word op die skeppingswerk en Skeppersalmag van God gesteun met vertroue.

Ons moet leef vanuit die skeppingswerk van die HERE. In skepping openbaar God Homself. Maar dan waarsku Calvyn ons: Hierdie selfopenbaring van God in die skepping is nie ‘n poging tot wêreldverklaring nie, maar dit is ‘n prediking van God in sy almag, in sy liefde, waaruit sy goedheid ons toestraal.

  • Die HERE kan. En Hy wil
    ook, want Hy is ‘n getroue Vader, my Vader om Christus wil.

By die kennis van die kruis sien ons God se Vaderliefde en trou op die allerheerlikste wyse aan ons geopenbaar. In Jesus Christus kry ons ‘n kyk in God se Vaderhart. In Jesus sien ons hoe groot sy liefde vir ons, sy wegloopkinders, was, want die Vader het selfs sy eie Seun nie gespaar om ons te red van die slawerny van die duiwel nie. Daarom: op Golgota het ons die hoogste bewys van sy liefde. Die heerlikste kennis wat daar is.

Golgota is ook die fondament van God se Vaderliefde. Om Christus wil sal Hy ons nimmermeer verlaat nie, maar is Hy ons Hulp, ons Bewaarder tot in ewigheid.

Aan die voet van die kruis word alle twyfel weggeneem. Daar sien ons dat ons ‘n Vader het wat alles vir ons oor het. Daar kry ek die sekerheid: ek het ‘n Vader wat my wil help.

3. Slot

Vol geloofsverwondering kyk ons na die kennis van God se almag en trou in die Evangelie en met ontroering staan ons stil by die genadewonder: ter wille van Christus – my God, my Vader! En dan sing ons – diep aangegryp deur hierdie kennis – vol geloofsvertroue:

Dié God van volle saligheid

versterk ons in die dag van stryd

en dra ons deur die lewe.

Hy kan en wil en sal in nood,

selfs as ons sidder vir die dood,

volkome uitkoms gewe. (Psalm 68:9 – Totius)

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s