Augustinus en sy lieflingspsalm

In die jaar 354 nC is êrens in die noorde van Afrika ‘n seuntjie gebore. Sy naam was Aurelius Augustinus. Augustinus was deur die Here bestem om ‘n groot man in sy kerk te word.

Maar – as dit van Augustinus self sou afgehang het, sou dit nooit gebeur het nie. Inteendeel, hy het vir sy moeder, Monica, groot en bitter verdriet gebring. Van kleins af aan het sy moeder hom die verhale uit die Skrif vertel. Maar –dit het gelyk asof dit pure verniet was. Want namate Augustinus ouer geword het, het hy ontaard in ‘n onverskillige, goddelose losbol.

Na sy skoolopleiding het hy in Cartago gaan studeer vir advokaat en redenaar. Daar het dit met Augustinus gegaan van kwaad tot erger. Hy het aan die wildste feespartye deelgeneem. Uiteindelik het hy hom by ‘n sekte aangesluit, wat ‘n meer heidense as Christelike sekte was. Aan sy ma se trane het hy hom nie gesteur nie. Dit het ook nie gelyk asof die Here Monica se hartstogtelike gebede nie verhoor het nie.

Tog was Augustinus nie gelukkig nie. Die sonde maak ons nie gelukkig nie, want die Woord van God sê in Psalm 32:10: Die goddelose het baie smarte.

Uiteindelik het hy in die stad Milaan beland. In daardie dae was daar in Milaan ‘n bekende prediker met die naam Ambrosius. Hy was ‘n boeiende spreker. Ook Augustinus het van hom te hore gekom en het gegaan om na hom te luister. Ag, waarskynlik was Augustinus nie so geïnteresseerd in die grys ou dominee se preke nie, maar omdat hy self ‘n redenaar was, wou hy iets by hierdie man oor die kuns van welsprekendheid leer.

Intussen het Augustinus se moeder ook na Milaan toe gegaan. Sy kon haar kind nie loslaat nie. Op ‘n dag het sy besluit om dominee Ambrosius te besoek. Sy het haar hart voor hom uitgestort en vir Ambrosius vertel hoe hard sy vir haar kind gebid het. En toe het die ou dominee vir haar gesê: “Moedertjie, wees maar gerus. ‘n Kind van soveel gebede kan nie verlore gaan nie!”

En die wonder, die Godswonder, het gebeur: Ambrosius se preke en moeder Monica se gebede het nie sonder vrug gebly nie. Sy sonde, sy berg van skuld voor God, het hom al meer en meer gepla. Op ‘n dag het Augustinus onder ‘n vyeboom neergekniel en gebid: “o God, hoe lank nog? Verlos my van die sonde. Vergeef tog my baie misdade”. Juis op daardie oomblik het ‘n kind in ‘n naburige huis ‘n liedjie begin sing: “Neem en lees! Neem en lees!” Wie die kind was, weet ons nie. Dit is ook nie belangrik nie. Maar vir Augustinus was dit meer as net ‘n kinderstem. Hy het gevoel: God spreek hom aan. So vinnig as wat hy kon, het hy hom huis toe gehaas. Daar het hy sy Bybel oopgeslaan en Romeine 13:13-14 gelees, waar daar staan: Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie. Dit het vir Augustinus gevoel asof hierdie woorde vir hom persoonlik geskryf is, want hy het in die grootste sonde geleef.

In die dae wat gevolg het, het Augustinus steeds meer en meer sy sonde en skuld ontdek. Maar hy het ook geleer dat Christus gekom het om sondaars te red. Die wonder van skuldvergiffenis is aan hom geopenbaar.

Veral Psalm 32 het ‘n besondere indruk op hom gemaak. Dit was Augustinus se llieflingspsalm. Daarom het Augustinus ook op sy sterfbed versoek dat die woorde van Psalm 32 op die mure van die kamer geskryf moes word: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.

Dit is die Psalm wat Dawid gedig, gesing het, toe hy die wonder van skuldvergiffenis ervaar het.

Maar dit is nie net bedoel as ‘n lied wat sing van Dawid se ondervinding nie. Nee, bo-aan hierdie Psalm staan: ‘n onderwysing. By monde van sy profeet Dawid, wil ons groot Profeet, Jesus, ons in hierdie Psalm onderrig gee. Hy wil ons leer hoe gelukkig, hoe heerlik geseënd elkeen is, wat sy berg van skuld nie vir God wegsteek nie, maar dit openlik vir Hom bely. Elkeen wat dit doen, sal die vrede en vreugde wat skuldvergifnis bring, ervaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s