Preek Sondag 12 & 13a en Psalm 2

Lees: Psalm 2

Teks: Psalm 2

H.K.: Sondag 12 en 13:33

Ps’s: 45:1; 2:1,2; 105:5; 105:6; 2:3,4; 2:5,6

1. Inleiding.

Die Kategismus is troosboek. Van begin tot einde. Dit geld eweneens van die Naam Christus. Ook daarin lê vir ons ‘n besondere bemoediging opgesluit.

Ek wil my vanaand beperk net tot een deel van die troos in die Naam Christus: sy salwing as óns ewige Koning. In die behandeling van Psalm 2 kom ook Christus se Seunskap van God ter sprake. Daarom betrek ek ook vraag en antwoord 33 hierby.

En dan gaan aan die hand van Psalm 2 met u die volgende oordink:

  1. die stryd teen die gesalfde Koning
  2. die salwing van die Koning
  3. die reaksie van die gesalfde Koning
  4. die vermaning tot onderwerping aan die gesalfde Koning

2.1 Die stryd teen die gesalfde Koning

Die eerste drie verse van Psalm 2 gee ons ‘n kyk op die wêreldgeskiedenis, op die kerkgeskienis, en óók op ons eie lewensgeskiedenis. Psalm 2 verkondig aan ons: die groot stryd, die oorlog van die Satan en sy Antichris teen die HERE en sy Gesalfde, Christus. Dit is ‘n aanslag wat in ons tyd voortgaan, wat ons en ons kinders ook raak en wat sal duur tot die wederkoms van Christus.

In Handelinge 4:26-27 pas Petrus die opstand en samespanning van die konings en nasies in Psalm 2 toe op die saamvergader van Herodes, Pilatus, Israel en die heidene teen Christus en die kruisiging van Christus: “… waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het”. Daar sien ons dat dit ‘n aanslag is van buite die kerk, maar ook van binne, ook van die kant van die valse kerk.

In Psalm 2 en deur die Bybel heen sien ons verder: Hierdie gewoel, hierdie rewolusie stook van die nasies is juis gemik teen die Woord van die Koning. Want in vers 3 sê hulle vir mekaar: Kom, laat ons die bande van die HERE en sy Gesalfde stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp. Die beeld is die van ‘n juk wat op die nek van osse gesit word. Die konings en die nasies wil die juk van Christus van hulle afgooi.

En … hierdie juk is die Evangelie. Want in Matteus 11:29-30 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Daar word die juk ook beskryf as die leer van Jesus. Met die juk van Jesus en met sy leer word dieselfde bedoel. Ons kan die woord bande in Psalm 2 vers 3 inderdaad ook vertaal met
leer of onderwysing. Ook ons Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29 beskryf die juk van Christus as die Woord van God. Dit is dieselfde.

Dit is belangrik dat u moet raaksien dat in sowel Psalm 1 as in Psalm 2 die Wet, die Woord van die HERE, ‘n besondere plek inneem. In Psalm 1 en 2 kom ook in verband met hierdie Woord van Christus ‘n groot teenstelling geopenbaar: Van die gelowige word in Psalm 1 vers 2 gesê: Hy oordink die wet van die HERE dag en nag; hy verlustig hom daarin. In Psalm 2 vers 1 daarenteen word van die goddelose verklaar: Hy bedink nietige dinge; hy wil die julk van die Woord afwerp. In Psalm 1 vers 2 en in Psalm 2 vers 1 word presies dieselfde woord in die Hebreeus vir oordink en bedink gebruik: Die regverdige oordink die Woord van God en vind vreugde daarin; die konings en nasies daarenteen oordink opstand teen die Woord.

Rewolusie teen Christus en sy Woord – dit is die groot oorlog van die eeue. En dit is ‘n stryd waarby ook elkeen wat die Naam van Christus dra, elke Christen, betrokke is. In Johannes 15:20-21 sê Jesus dit vir sy Kerk: Ons sal gehaat en vervolg word ter wille van die Naam van Christus en sy Woord.

Ons kom by die tweede deel van Psalm 2, vers 4 tot 6.

2.2 Die salwing van die Koning

Anders gesê: Dit gaan oor die HERE, die Vader se reaksie op hierdie rewolusie.

Maar voordat ek daarop ingaan, wil ek nog iets sê oor die nietige dinge van vers 1: “Waarom bedink die volke nietige dinge?” Met die nietige dinge word letterlik bedoel: iets wat op niks uitloop nie.

Daar is gelowiges, kerkmense, wat vol is van allerhande samesweringsteorieë: New Age, Illuminatie, Vrymesselary en ek weet nie wat nog alles nie. En hulle raak bang.

Ek wil nie op die teorieë ingaan nie, op die waarheid of die onwaarheid daarvan nie. Dit is wat my betref baie spekulerend van aard. Wat wel ‘n feit is, is dat daar deur die eeue heen inderdaad sameswerings en opstande teen die HERE en sy Gesalfde is. Die HERE self leer ons dit immers in hierdie Psalm.

Maar die HERE sê ook iets wat vir ons baie troosryk en rusgewend moet wees:: Hy beskryf hierdie sameswerings as nietige dinge. Dit is dinge wat nie sal slaag nie, wat op niks uitloop – hierdie dinge waarvoor ons so bang is. Dit is God se beoordeling van hierdie rewolusie. Dit is ook die HERE se verkondiging aan ons tot ons bemoediging.

In vers 4 gaan die HERE verder om ons geloof te versterk: Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Die woorde Hy wat in die hemel woon en die Here staan voorop. Dit kry besondere nadruk. Ons kry dit ook in die Onse Vader: onse Vader wat in die hemel is. In die Onse Vader en hier word ons met die uitdrukking geleer: Die HERE is almagtig; Hy regeer oor alle dinge. Dit sê die Naam Here ook (Here hier met kleinletters). Alle skepsels – ook die opstandige volke en nasies, ook die duiwel en die Antichris -, al hierdie skepsele is só in sy hand dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie (HK 10:28). Daarom lag Hy, daarom spot Hy met hulle.

Martin Luther se kommentaar op hierdie woorde is baie besonder. Hy skryf: Dit eis ‘n sterk geloof van ons. Want wie het nou ooit kon dink dat die HERE, toe Jesus daar op Golgota gely het en toe die Jode skynbaar getriomfeer het – wie het toe kon dink dat die Vader in daardie oomblik gelag het? (Hy het gelag, omdat Hy geweet het dat hulle opstand op niks sou uitloop het nie). En dan gaan Luther verder. (Die HERE het vir hulle gelag), want toe Hy sy Seun uit die dood uit opgewek het, het Hy ‘n bespotting van hulle rewolusie gemaak. Ja, ‘n belagging, want al wat Herodes en Pilatus en die Jode met die kruisiging reggekry het, was om die HERE se verlossingsplan uit te voer.

En dan gaan Luther voort en trek hy dit wat in Psalm 2 gesê word, na ons toe deur. Hy sê: Dit wat hier geskryf is aangaande Christus, is ‘n voorbeeld vir ons. Almal wat werklik probeer om ‘n Christen te wees, veral hulle wat die Woord van Christus moet leer – hulle almal sal moet ly onder hulle Herodesse en Pilatusse en konings en heidene wat tekere gaan teen Christus. En as dit nie gebeur deur die hand van mense nie, sal dit sekerlik gebeur deur die duiwels en in elk geval deur ons gewete as ons sterf. Maar as dit gebeur, moet ons die woorde van vers 4 onthou: Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.

En imPsalm 37:12-13 lees ons ook inderdaad en dan in verband met die gelowiges: Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Maar dan ook: Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.

Hulle kners met die tande teen die gelowige, sê Psalm 37. En weet u: Die woord woel, die nasies wat woel teen Christus – dit het ook daardie betekenis: kners met die tande. En daar in Handelinge 7, nadat Stefanus die Woord van Christus in sy rykdom aan die Jode verkondig het, dan hoor ons: “En toe hulle dit hoor, was hulle woedend … en het teen hom op die tande gekners.” Maar wanneer die klippe op hom reën, gee Stefanus sy gees oor in die hande van die Koning van Psalm 2. En dan dink die Jode dat hy dood is, maar Stefanus se lewe is veilig by God! Weer het hulle niks reggekry nie. Weer was hulle planne en dade nietige dinge.

In die taal van Luther: Dit eis ‘n sterk geloof van ons, van predikante en ouderlinge en lidmate as ons in ons eie gemeente en in die kerkverband en in die wêreld verset kry as ons Christus verheerlik. Want dan moet ons ook bly glo dat die Here in die hemel lag oor hierdie opstand. Dan moet ons bly glo: Dit sal op niks uitloop nie. Die kerk is veilig.

En vers 4 en 5 kom die HERE met ‘n ernstige vermaning tot die opstandelinge. Hoe durf hulle hulle te verset teen die Koning van die HERE: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Die ék tog is weereens is sterk beklemtoning. Die woord salf het nie net die betekenis van salwing nie, maar ook aanwysing. Jesus word Christus, Gesalfde genoem omdat Hy deur die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is … tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer …”.

Daarom is opstand teen Hom ook opstand teen die Vader.

Van hierdie salwing en aanwysing hoor ons by die doop van Jesus. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. (Mt 3:16-17)

In vers 7-9 kry ons vervolgens

2.3 die reaksie van die gesalfde Koning

Hy brei uit op sy aanstelling deur die Vader.

Hy maak aan die opstandelinge die besluit, die aankondiging van die Vader bekendgemaak: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. (v 7)

Die konings van die aarde moet dit weet, ons moet dit weet: Hy is die Seun van God. Van Dawid en die ander konings van Juda word wel in 2 Samuel 7 gesê: Jy sal vir my tot ‘n seun wees (so in die Grieks). Daardie tot, tot ‘n seun beteken: die konings uit die huis van Dawid het deur aanneming tot seun van God geword. Maar hier in Psalm 2 staan iets anders. Hier word gesê: Die Christus ís Seun van God. Dit wil sê: Hy is dit nie deur aanneming nie, maar Hy is dit van nature, Hy is natuurlike Seun van God, van dieselfde wese as sy Vader. Hy is self ook God.

En dan vertel Christus verder van die aankondiging van die Vader aangaande die Seun: Vandag het Ek self U gegenereer. Dit word in Handelinge 13 vers 32 en 33 toegepas op die opwekking van Christus deur die Vader. Die opwekking van Christus was God se aankondiging, die Vader se verklaring: Hy is die Koning.

Aan ons Koning word heerskappy oor alle dinge gegee. Hy sal die opstandelinge verpletter met ‘n ysterstaf. Hy sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

In vers 10 tot 12 kry ons

2.4 die vermaning tot onderwerping aan die gesalfde Koning

Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam (v12).

Kus die Seun – dit is besondere woorde, betekenisvolle woorde.

Geleerdes het al heelwat bokspronge oor die Seun gemaak. Hulle probleem is: hier – in ‘n Hebreeuse Psalm –, hier word ‘n Aramese woord vir Seun gebruik. Maar dat daar nog twee Aramese woorde in die Psalm gebruik word, dit pla hulle nie. Maar die woord Seun moét weggewerk word.

Wat hierdie geleerdes verder hinder, is dat die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, die woorde kus die Seun vertaal met omhels onderrig. Sien julle, sê hulle, in die Hebreeus het eintlik iets anders gestaan. Daar het nie die woord Seun gestaan nie. Daarom hoor jy nie die woord Seun in die Grieks nie. Die Septuagint het ‘n ander Hebreeuse grondteks as ons gehad. Die teks wat ons het, is dus korrup.

Wat hulle nie begryp nie, is dat die Septuagint hier nie ‘n vertaling gee nie, maar (soos meermale) ‘n parafrase. Dit gee nie ‘n letterlike, woord-vir-woord vertaling van die woorde kus die Seun nie. Dit wil eerder vir ons sê wat beteken die kus die Seun. En inderdaad, om die Seun te kus beteken: om sy onderwysing, om die Woord van die gesalfde Koning, om Christus se lering te omhels en jou daaraan te onderwerp.

‘n Besonder belangrike teks in die Hebreeuse Ou Testament is Genesis 41:40. Daar sê Farao vir Josef: Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik. Letterlik staan daar: my hele volk moet jou mond kus. Hulle moet luister na jou woorde.

En nou sal u ook die woorde van God in Matteus 17:5 ook beter verstaan. Want daar, op die berg van verheerliking, kom die stem van die Vader: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Luister na Hom dit wil sê: Kus die Seun!

In die laaste deel van vers 12 word almal salig gespreek, wat by hierdie Gesalfde van God skuil. Skuil by Hom – in die hele Ou Testament word dit net van God gesê. Daarom het ons hier nog ‘n keer ‘n bevestiging: die gesalfde Koning van Psalm 2 self ook God.

Skuil by Hom – wat beteken dit? Hoe doen ons dit? Deur ons te onderwerp aan sy Woord, deur te leef uit sy Woord, deur op Hom te vertrou. Die woord skuil word ook inderdaad met vertrou vertaal. By Hom, in sy Evangeliewoord is verlossing van die toorn wat kom. By Hom skuil ons teen die grypende vyandshande, wat die kerk vervolg. By Hom is sy kerk veilig. In Matteus 16:16 bely Petrus met die woorde van Psalm 2: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” En dan antwoord Jesus daarop: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (v 18)

Skuil by Hom. Juis dit doen die konings van die aarde in Openbaring 6 egter nie. Hulle steek hulle weg in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse sê hulle: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”

3. Slot

Ons kon vandag ‘n doop meemaak:

  • Deur die doop beloof Christus onder andere aan ons: Hy wil ons ewige Koning wees, Hy wil ons en sal ons bewaar. Dit moet ons aan ons kinders vertel. Ons moet hulle leer dat hulle by hierdie almagtige Koning moet skuil deur die geloof. By hom is ons so veilige as wat maar kan kom.
  • Maar ons moet hulle ook leer: Kus die Seun. Luister na Hom.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s