(2) Preek Jesaja 41:10,14

Lees: Jes.41:1-29

Teks: Jes.41:10,14

Psalms: 150:1,2,3; Geloofsbelydenis volgens Sk 27; 119:7, 8; 119:19, 33; 119:39

1. Inleiding

In hoofstuk 40:27-31 laat Jesaja ons sien wat so dikwels ons grootste probleem is: Ons sien God nie meer staan in ons lewe nie. Verder dink ons: God het geen oog vir ons nie; Hy sien nie ons lewensnood nie. Dit voel vir ons asof God nie ons lewenspad raaksien nie: die stryd waarin die kerk verkeer en alles wat ons elke dag moet dra. Maar Jesaja het ons laat sien: Die HERE is daar. As ons Hom met die oog van die geloof raaksien, ons God in sy trou en in sy almag – dan kry ons nuwe krag.

Dit is die geheim, ook van hierdie gedeelte van vandag: Ons moet God raaksien.

Maar ons moet ook weet waar Hy Hom laat sien, waar Hy Hom aan ons vertoon in sy groot liefde en almag: in sy Woord. Die HERE kom na ons toe in die kleed van die Woord, sê Luther. En ons moet weet wat ‘n troos ons het aan sy Woord. Juis sy Woord sterk ons en juis in die Woord laat Hy ons Hom sien en hoor
wat Hy elke dag vir ons wil wees en wil doen. Die kerk is op sigself so klein, so klein, so totaal hulpeloos, maar ons God is so almagtig sterk:

Die TEMA is: ‘n Klein kerkie, maar ‘n groot, getroue God.

Aan die hand van ons teks wil ek met u stilstaan by drie gedagtes oor die kerk, die volk van God. Die kerk is

  1. ‘n klein volkie
  2. ‘n klein volkie met ‘n troosryke Woord
  3. ‘n Klein volk met ‘n magtige, getroue God

Die kerk is

2.1. ‘n klein volkie,

‘n nietige, onaansienlike volkie in ‘n see van groot volke en magte.

So spreek Jesaja Israel, die kerk van die OT, ook aan: wurmpie Jakob, volkie Israel. Met verkleinwoorde spreek die HERE sy volk aan: nie wurm nie, maar wurmpie Jakob; nie volk nie, maar volkie Israel.

Wat ‘n magtelose, nietige ou diertjie is ‘n wurmpie nie. Een trap op hom en hy is dood. ‘n Hulpelose wesentjie, ‘n magtelose diertjie.

Ja, wat was Israel in die wêreld van daardie tyd: ‘n klein volkie as ballinge in die grote Babel. En juis in die tyd van hierdie profesie was die groot Kores en sy magtige Meders en Perse aan die opruk teen die Babiloniese wêreldryk, die een groot volk teen die ander groot volk en daar midde-in die klein volkie – wurmpie Jakob, volkie Israel.

So was dit deur die eeue heen met die kerk gesteld. Reeds toe Abraham uit Ur van die Chaldeërs getrek het, was dit so: Toe was dit ‘n handjie vol kerkmense omring deur die Kanaänitiese volkere – wurmpie Jakob, volkie Israel. Ja, en toe die Heilige Gees op Pinksterdag op die kerk neergedaal het, het daar op die een dag 3000 tot bekering gekom en toe het die kerk die wêreld ingetrek. Maar wat was die kerk toe? Was dit ‘n groot, magtige volk, ‘n skare? Nee, dit was ‘n klein volkie wat die heidense wereldryk van Rome, met sy magdom gode aan alle kante, binnegetrek het – wurmpie Jakob, volkie Israel.

Hoe kon so ‘n klein volkie ooit iets vermag in so ‘n groot wêreld? Hoe kon so ‘n klein volkie ooit staande bly te midde van magtige volke, geloofsvervolging en alle pogings van die duiwel om die klein volkie geestelik te breek. Want wat is die kerk tog? Niks anders nie as – wurmpie Jakob, volkie Israel.

Nooit was die kerk, die werklik troue volk van God, groot en magtig nie. Dit was selfs nie so toe die Reformasie van Luther en Calvyn op ‘n hoogtepunt was nie. Ook vandag is dit nie anders nie, maar ook in ons tyd en in ons land is die volk van God, hulle wat nog wil vashou aan die suiwer Woord en die Gereformeerde belydenis ‘n nietige handjie vol. Steeds geld die woord: wurmpie Jakob, volkie Israel.

Ons belydenis ken dit ook: die grootheid van die magte teen die kerk en die kleinheid van die volk van God. Want hoor maar die klein wurmpie bid: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. En dan verklaar ons Kategismus hierdie gebed so: “(Onse Vader) ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie”. Onse Vader, ons is so hulpeloos, niks anders as ‘n wurmpie nie en “daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie”. En dan kom die hulpkreet van wurmpie Jakob, volkie Israel: Onse Vader wat in die hemel is, verlos U ons van die Bose. “Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal”.

En hoe kom Hy ons dan te hulp? Hoe verhoor Hy sy kerk. Hy gee ons sy Woord. Sy Woord – dis al, net dit. Sy Woord – dis al, maar dit is ook alles.

Ja, dit is waar: Dit is ‘n klein volkie. Maar dit is

2.2. ‘n Klein volkie met ‘n troosryke Woord

Jesaja 40-66 staan bekend as troosboekie. Dit begin mos met die woorde: Troos, troos my volk.

Die profete kry opdrag van die HERE: Gaan troos my volk. Troos my volkie daar in ballingskap.

Die groot vraag is: Waarmee moet die profete die volk vertroos? En dan is die antwoord so heel, heel eenvoudig: Met die Woord. Net met die Woord.

So doen die Here dit vandag nog: Hy gee ons sy Woord. Met die Woord wat Sondae gepreek word, met die Woord in die katkisasieklas, met die Woord op huis besoek, met die Woord by die huisgodsdiens troos God ons ook vandag. Met die Woord troos Hy bejaardes, maar ook jongmense. Met die Woord stuur Hy sy gesante uit, met die Woord alleen.

Die verwêreldlike kerk – die kerk wat soos die wêreld geword het – is nie meer daarmee tevrede nie. Die Woord alleen is nie meer genoeg nie. Die kinderjies moet prentjies kry en daar moet video’s vertoon word. Die Woord alleen is nie meer genoeg nie. Die klem is al meer en meer besig om te verskuif in die verwêreldlikte kerk: Die Woord is nie meer genoeg nie, maar die mens wil aan die woord kom. Die mens wil getuig, die mens wil aktief wees in die erediens. Die Psalm-Woord is nie genoeg nie, maar eie liedere, mensewoorde, moet bykom.

Waarom is dit so? Omdat die kerkmens van die nuwe millenium nie meer weet waaroor dit gaan in die kerk nie. In die kerk spreek God. In die kerk kom God aan die woord met sy Woord. En juis daarin, in daardie Woord, lê die kerk se skat, se rykdom, se troos.

Wat is die Woord?

Die Woord is die hand van God wat na die klein volkie uitgesteek word. Met die Woord kom die HERE self na sy volk toe. Die HERE kom na sy volk toe in die gestalte van die Woord.

Wat is die inhoud van hierdie Woord? Israel is

2.3. ‘n klein volkie, maar ‘n klein volkie met ‘n magtige HERE en getroue God

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (v.10). “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (v.14).

Wees nie bevrees nie. Israel was so bang.

Israel was so bevrees. En enersyds het Israel alle rede daartoe gehad. Want die kerk is so klein. Die kerk is so bang. En enersyds het ook ons alle rede daartoe, want ons het geen kans teen die magte wat teen ons aankom nie.

Enersyds het ons alle rede om bevrees te wees. Maar andersyds het ons geen rede om bang te wees nie. Ja, ons mag selfs nie bang wees nie. Dit kom as ‘n bevel tot Israel en ons: Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel.

Waarom is dit verbode, deur God verbode, om bang te wees. Dit sê die HERE so duidelik: “Want Ek is
met jou … Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand … Ék help jou …”. Hoor u dit: Dit is net Ek, Ek, Ek – die HERE. Israel se aandag word van homself afgetrek. Die Kerk se aandag word voluit op sy God gevestig.

Israel kan niks doen nie en die kerk is klein, maar God is groot. Ek versterk jou, Ek help jou.

Voorop staan die belofte: Ek is met jou. Ken u hierdie belofte? U moet dit ken, want dwarsdeur die Bybel weerklink hierdie trooswoord tot die kerk van alle eeue: Ek is met jou. Daarmee begin die Matteus-evangelie, met die geboorte-aankondiging van Jesus: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons”. En met dieselfde God-met-ons belofte stuur Jesus aan die einde Matteus sy kerk die wêreld in: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”. En Wie is hierdie God-met-ons? Dit sê Jesus self vir ons: “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde”. Ek is met julle, die almagtige God. God se klein kerkie, wurmpie Jakob, volkie Israel, word die wêreld ingestuur – die groot wêreld, die vyandige wêreld, die magtige wêreld. Maar met die klein kerkie gaan die groot God saam: Ek is met julle.

Ek help jou … Dit is ‘n militêre term. Psalm 68 verklaar dit vir ons:

Die HEER sal opstaan tot die stryd;

Hy sal sy haters, ver en wyd,

Laat wegvlug voor sy oë”

Die oorwinning kom van die HERE, van sy Christus.

Dit kom van sy reddende regterhand. Daardie hand is Christus:

Sy regterhand, vol sterkte=en ere,

sy heil’ge arm bring redding aan. (Ps 98 – wat ‘n kommentaar!)

3. Slot

Ons aandag word van onsself afgelei – deur die Woord.

Ons aandag word op God gevestig – deur die Woord.

Deur die Woord sien ons God weer staan – by ons, ons almagtige Helper.

Deur die Woord sien en hoor ons weer Wie en Wat God vir sy klein volkie wil wees.

Die Woord is alles.

Die Woord is ons troos.

HEER, u woord is my ‘n fakkel

wat sy ligglans voor my dra,

voor my voet die duisternisse

‘van my lewenspad verja.

‘k Het gesweer, deur u ontferming

dit bevestig, dat ek my,

van ‘n wêreldnag omgewe,

deur die ligglans wil laat lei. (Ps.119:39)

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s