Preek Sondag 16:40-42

Lees: Rom.8:31-39

Teks: Rom.8:34, 38, 39

HK: Sondag 16:40-42

Psalms: Ps.49:1,2; Geloofsbelydenis; 49:3,4; 118:10; 49:5,6

1. Inleiding

Almal van ons kom een of ander tyd voor die dood te staan: die dood van ‘n man of vrou, die dood van ‘n kind of van ‘n familielid, of die dood van ‘n bekende. En uiteindelik sal ons self ook voor die poort van die dood staan – ten minste: as Christus nie dan al gekom het nie. Die doopsformulier noem hierdie lewe ‘n geleidelike sterwe – ja, die dood is in alle lewendes reeds ‘n werkende mag, in jonk en oud. Ons lê nie eers aan die einde van ons lewe op ‘n sterfbed nie, maar die werklikheid is: Ons hele lewe van ons geboorte af is een groot sterfbed.

Dit is alles so oneindig droewig, so somber, so bitter hartseer.

Maar die troosboek, die Heidelbergse Kategismus, wil ons vandag troos met die enigste troos ook in ons sterwe: met Christus, met sy skuldbetalende dood in ons plek. Want daardeur kry die dood van God se kinders ‘n totaal ander karakter, want daardeur word ons dood

  • van ‘n vloek in ‘n seën verander;
  • en van ‘n poort tot die ewige dood tot ‘n poort tot die ewige lewe.

Ek staan vandag in die besonder stil by vraag en antwoord 40 tot 42, by die dood van Christus en ons dood. In die verband 3 hoofpunte:

  1. Die noodsaak van Christus se dood;
  2. die getuienis van sy dood; en
  3. die vrug van sy dood vir ons

2.1 Die noodsaak van Christus se dood

Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe moes verneder? Waarom was dit nou eintlik nodig dat die Seun van God moes sterwe? Waarom kon Hy nie op ‘n ander manier vir die sonde betaal het nie?

Daarop antwoord die herders van Heidelberg: Dit moés! Dit kon nie anders nie, want die geregtigheid en waarheid
van God eis dit. Geregtigheid en waarheid, ja, dit is nie sulke maklike woorde nie. Ek sal dit aan u verduidelik: Met die geregtigheid van God word bedoel sy verbondstrou; die HERE bly getrou aan wat Hy gesê het in sy verbond. Dan is daar nog die waarheid van God. En ook hierdie woordjie het alles te make met sy verbond en sy verbondswoorde. Want God se waarheid beteken: God is ‘n waarmaker is van sy woord; Hy be-waarheid wat Hy sê. Hy laat geen een van sy verbondswoorde onvervuld nie. Hy is ‘n God van geregtigheid en waarheid.

Die HERE bly by sy woord. Nou ja, in sy verbond het God vir Adam gesê: Die dag as jy eet van die boom van kennis van goed en kwaad, sal jy sekerlik sterwe (Gen 2:17). En u ken die verhaal: Adam
hét
geëet van die verbode vrug. God se verbondstrou beteken nou dat Hy nie afsien van die straf, van sy verbondswoord waarmee Hy in die paradys gedreig het nie. Hy gaan daardie oordeelswoord bewaarheid.

Ons
moét dus sterwe. Dit die vonnis wat ons verdien. Hoe kan ons daarby verby kom? Op geen manier nie. God sien nie af van die straf nie. Maar dit beteken dan dat Christus ons op geen ander manier kon red as deur te sterf nie. God se geregtigheid en waarheid eis dit dat net so en so alleen vir die sonde betaal kon word.

 

En … van hierdie wonder lees ons in Romeine 8.

Wanneer ‘n mens Romeine 8 vers 33 en 34 lees, dan kry jy die gevoel asof jy jou in ‘n hofsaal bevind. Daar word naamlik woorde gebruik wat tipies hoftaal is, regsterme. Ons hoor van dinge wat met ‘n mens gebeur wanneer jy in die beskuldigdebank beland. So is daar sprake van beskuldigings, aanklagte, wat ingebring word en veroordeling. Uit die hele verband is dit duidelik dat God hier sit as Regter. Die beskuldigdes is die uitverkorenes van God, die gelowiges.

En as ‘n mens dan daarby dink aan dit wat Paulus vroeër in hierdie brief – in die 3e hoofstuk – ook van die gelowiges gesê het – as ons daaraan dink, dan kan die uitverkorenes maar een vonnis uit die mond van die hemelse Regter verwag: onregverdig, die ewige dood skuldig. Want in Romeine 3 het Paulus onomwonde verklaar: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (v.10). Ook die uitverkorenes verdien nie die vryspraak nie.

Daar kan daarom vir een en almal van ons net een vonnis wees: die dood. Immers, die loon van die sonde is die dood, sê Paulus in Romeine 6:23.

Daar is niemand regverdig nie … die loon daarvan is die dood … As daar in ons Bybel en in die Romeinebrief niks anders as net dit gestaan het nie, sou ons hier in hoofstuk 8 net ‘n klaaglied kon verwag: ‘n jammerklag van verdoemdes, van ewig sterwendes.

Maar in plaas van ‘n klaagsang het ons ‘n triomflied. Dit is is een groot loflied op God se genade in Christus, ‘n magtige triomfsang oor die regverdigmaking van onregverdiges in Christus. In Romeine 3:21-8:30 is hierdie wonder beskryf. In ons voorgelese gedeelte word dit in ‘n oorwinningslied saamgevat.

En die inhoud van die evangeliese lied is:

  • Mense wat in hulle self deur en deur skuldig (on-regverdig) is, word deur die Regter self – deur God die Vader – regverdig gemaak …
  • Mense wat in hulleself net een ding verdien het, die doemvonnis van die dood, word vrygespreek.

Hoe is dit moontlik? Het God dan afgesien van sy geregtigheid en waarheid? Nee, maar ‘n Ander het gesterf in ons plek: Christus is dit wat gesterf het, sê vers 34.

Maar die apostel stop nie by die sterwe van Christus nie. Daar is nog meer. Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is. En nou moet u weet: Die opwekking was ‘n daad van die Vader, ‘n verklaring van die regverdige en waaragtige Regter van hemel en aarde. Die opwekking is God die Vader se kwitansie: Inderdaad, die skuld is klaar betaal. Hier is die betalings-bewys dat ons doods-vonnis uitgedien en ons skuld uitgedelg is: Christus het opgestaan uit die dood – ja, uit ons dood. Met die opwekking sê die Vader: Nou is dit klaar, genoeg. Nou is sy geregtigheid en waarheid vervul.

Dit is belangrik – u begryp dit sekerlik – dat ons moet weet dat Christus werklik gesterf het. En dit bring ons by die tweede, by

2.2. die getuienis van sy dood

Jesus
hét
gesterf. En, sê die Kategismus, sy begrafnis getuig daarvan. Sy graf is die getuienis dat Hy inderdaad die dood ingegaan het.

Nou kom daar egter by hierdie antwoord van die Kategismus’n vraag by ‘n mens op: Van Jesus se dood hoef tog nie meer getuig te word deur sy begrafenis nie? Die getuienis van sy dood is tog gelewer? Want Johannes 19:33 tot 34 vertel: Toe die soldate by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.

Inderdaad. En tog, tog het ons hier, in die begrafnis van Jesus, ‘n besondere getuienis. Ek wil aan u verduidelik: Ons het van die Heidelbergse Kategismus nie alleen in ‘n Duitse teks nie, meer eweneens in ‘n Latynse teks. As ons na die Latynse teks kyk, sien ons dat dit in die begrafnis van Christus gaan om ‘n testatum facere, ‘n getuienis wat gelewer word deur ‘n regbank en voor ‘n regbank. Die wêreldse regbank, wat Jesus amptelik ter dood veroordeel het, moet ook amptelik verklaar dat die straf 100% gedra is.

In Markus 15:43 tot 45 hoor ons dat Josef van Arimathéa dit waag om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk. In Matteus 27 vers 58 staan daar dat Pilatus beveel het dat die liggaam afgegee moes word. Dit gaan om ‘n amptelike, gesagvolle bevel.

Die begrafnis van Christus is ‘n publieke getuienis van owerheidsweë: Die straf van die dood is inderdaad voltrek.

Dit is veelseggend dat ons in die Bybel lees van mense wat in die hemel opgeneem word sonder om te sterf:

  • In die Ou Testament is daar Henog (Genesis 5:24) en Elia (2 Konings 2); en
  • in die Nuwe Testament is daar die gelowiges wat nog sal leef by die wederkoms van Christus (1 Tess 4:13-17).

Hierdie mense het nie gesterf nie. Hoekom nie. Omdat Christus klaar die straf, die dood as straf, gesterf het.

Derdens:

2.3. Die vrug van sy dood vir ons

Jesus het dus inderdaad gesterf
én Hy het gesterf in ons plek. Hy het volledig klaar betaal vir ons. Daarmee het Hy ons straf gedra en ons dood, wat God geëis het kragtens sy verbond, het op Hom neergekom.

Maar dit plaas ons voor ‘n probleem: As Jesus ons straf gedra het en die dood wat ons verdien het, gesterf het, waarom moet ons ook nog sterf? Waarom is daar dan nog soveel oop grafte en waarom sterf daar nog soveel gelowiges? Is dit nie tweemaal betaal nie?

Daarop wil ons belydenis ons antwoord gee in antwoord 42: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie, maar slegs ‘n deurgang tot die ewige lewe. Die dood is nie meer ‘n poort na die doderyk nie, maar dit is die deur na God se paradys. Ons dood is dus nie meer ‘n straf op ons sonde nie, maar daardeur word die deur van die Vaderhuis vir ons geopen en gaan ons in in die vreugde van ons Here.

Die getuienis wat Kohlbrugge afgelê het van die sterwe van sy eerste vrou, is diep aangrypend: “Ek het saam met haar geworstel, ek was saam met haar in die duisternisse van die doodskaduwee, ek kon saam met haar juig. Ek was saam met haar tot aan die poort van die hemel gewees. En toe sy ingegaan het, het ek die Here geprys vir sy trou en vir sy genade.”

En toe Kohlbrugge self sterwend was, het iemand vir hom gevra: Dominee, is jy nie bang om te sterf nie? Daarop het hy geantwoord: Nee, ek het klaar gesterf – op Golgota.

Ons gaan nie deur die doodsjordaan om daarin te bly lê nie, maar ons gaan deur die doodsjordaan heen die ewige Kanaän binne. Met ons dood gebeur met ons wat met Lasarus gebeur het: Die engele dra ons in die hemelse heerlikheid in.

Daar is besondere feite, bekende feite in verband met die dood van Christus waarop ek tog u aandag moet vestig:

  • Net voordat Jesus sterf, sê Hy vir sy Vader: Vader, in u hande gee ek my gees oor (Lukas 23:46) Jesus weet dus: In sy sterwe, dwarsdeur sy sterwe heen, is sy gees in die hande van sy Vader. En as Hy so sterf, sterf Hy as ons Borg en Middelaar. Dan is ons by Hom inbegrepe, ingesluit. Daarom ook kon Stéfanus die Here sterwende aanroep: Here Jesus, ontvang my gees! Hy sterf, maar hy lewe.
  • Jesus sterf, maar voordat Hy sterf, sê Hy vir die een moordenaar: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Luk 23:46). Jesus sterf, maar Hy lewe. En Hy sterf en lewe as ons Borg en Middelaar. Die moordenaar sterf, maar ook hy sterf én lewe … saam met Christus in die paradys. Want wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.

Ons lewe by God lê vas in die borgtogtelike, plaasvervangende sterwe én lewe van Christus. Daarom: “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel.” Ek sal nie sterwe nie, maar lewe, lewe. Lewe in en deur Gods regterhand – deur Christus. Here Jesus, ontvang my gees!

3. Slot

Ja, voor die poort van die dood, nee voor die poort van die ewige lewe kan ek in en deur en danksy die sterwe en lewe van Christus jubel::

Dit is die poort van Isr’els HERE,

wat voor sy huis as wagter staan;

die poort wat meld van heil en ere,

waardeur sy gunsvolk in mag gaan.

Daar sal ek, HEER, met dankgebede

U groot maak op die dag van fees,

want U was in my angsverlede

vir my tot hulp en heil gewees. (Psalm 118:10)

En:

Dan gaan ek in na Gods altare,

tot God, my God, my vreugde=en lied;

dan speel ek met die harpenare,

dan ruis vir U my blye snare –

vir U wat my, ná kort verdriet,

‘n eewge vreugde bied. (Ps 43:4)

 

Ek is daarvan versekerd, sê Paulus, ek is daarvan vas oortuig: Niks, niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie – ook die dood nie (Rom 8:38, 39).

Hierdie sekerheid lê vas in die feit dat Christus werklik gesterf het, my dood gesterf het.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s