Preek Sondag 16:43

Lees: Romeine 6

Teks: Romeine 6:3,4,6

H.K.: Sondag 16:43

Ps’s: Ps.89:1,6,7; 86:6; 119:2,7; 116:1,2,3; 116:9,10

1. Inleiding

In Eden het nie alleen ons liggaam aan die dood onderworpe geraak nie. In die paradys het ons nie net die ewige dood oor ons gehaal nie. Ons het óók geestelik gesterf. Dit wil sê: Alle gevoel vir God en ons naaste het gesterf; in ons harte was daar geen liefde meer
vir die HERE nie en geen liefde vir ons medemens nie; ons was dood in die misdade en die sonde. Dit is die geestelike dood.

Self kan ons nie uit hierdie dood opstaan nie – ewemin as wat ‘n dooie self uit die dood kan opstaan! Die doodsmag van die sonde is veels en veels te sterk vir ons. Christus se kruisdood – dit verlos ons van die heerskappy van die sonde. Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe.

Die dood van ons ou mens – dit noem die Kategismus in Sondag 33 die een deel van ons bekering.

Dit is die een verband wat in die besonder ter sprake kom in ons teksverse: die verband tussen die kruis van Christus en ons bekering.

Maar daar is nog twee verbande.

  • Paulus bring in Romeine 6 die sterwe en opstanding van Jesus ook in die nouste verband met ons waterdoop. Ons doop wys reguit na die kruis en die oop graf. Die doop verseker ons immers van die belofte: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe.
  • Die tweede verband is ons doop met die Heilige Gees. Ook dit het alles met die kruis te make: die Heilige Gees is die een wat ons deur die geloof deel gee aan die afsterwe van ons ou mens deur die kruis.

Ons let daarom op die volgende:

  1. Die kruis en ons bekering;
  2. Die kruis, ons bekering en ons waterdoop
  3. Die kruis, ons bekering en ons doop met die Heilige Gees

Eerstens dan:

2.1. Die kruis en ons bekering

In Romeine 5 het Paulus breedvoerig ingegaan op die groot wonderwerk: ons vryspraak voor die hemelse regbank. As skuldenaars het ons voor God, die Regter, gestaan, in die beskuldigdebank. In Adam, ons hoof en verteenwoordiger in die paradysverbond, het almal van ons oortreders geword. Toe hy in die sonde geval het, het ons saam met hom geval. Ons het die vonnis van die dood verdien. MAAR, sê die apostel, aan ons is ‘n oorvloed van genade bewys: die gehoorsaamheid van Christus is ons toegereken. Ja, op grond van die gehoorsaamheid van ‘n Ander, op grond van die gehoorsaamheid van die Seun van God, is ons vrygespreek. Wat ‘n ontsaglike wonder is dit nie!

Maar, helaas, was daar ook in die tyd van die apostel mense wat hierdie rykdom van God se genade misbruik het. Hulle het geredeneer: Maar as alles dan net genade is en as Christus dan alles vir ons gedoen het, dan kan ons maar aangaan met sondig, sodat die genade nog meer kan word.

Teen hierdie neem Paulus sterk standpunt in in Romeine 6. Hy doen dit deur sy lesers te wys op die betekenis van die dood en opstanding van Christus Jesus. Hy bring ons bekering in die aller nouste verband met die kruis en die oop graf van ons Heiland.

Luister, sê hy vir sy lesers, daar op Golgota, daar het nie alleen iets met Jesus gebeur nie. Daar het ook iets met óns gebeur, met ons ou mens.

Met ou mens bedoel hy: ons sondige geaardheid, ons sondige natuur, ons ek soos ons staan onder die heerskappy van die Bose, soos ons geword het deur die sondeval.

Wat het dan op Golgota, daar op Goeie Vrydag, gebeur? Wel, daardie dag was nie alleen die sterfdag van een mens, die mens Jesus Christus, nie. Op daardie dag het nie alleen die Seun van die mens, ons Here Jesus, gesterf nie. Ook ‘n ander mens het gesterf: ons ou mens het die laaste asem uitgeblaas. Die kruis was nie alleen die sterfbed van ons Heiland nie. Dit was óók die sterfbed van ons ou mens. Ja, sê die apostel, ons weet
dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie (v 6).

Ons weet dit – dit is ‘n geloofswete, ‘n weet op grond van die Woord.

Ons moet ook let op die saam: Ons ou mens is saam met Christus gekruis. Ons was by Hom ingesluit. Ons het deel aan dit wat met Hom gebeur het.

En dan laat Paulus die betekenis, die vrug van hierdie saam sien. Hy laat dit sien met sy sodat: sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Daardie sodat kry ons ook in antwoord 43 van die Kategismus: sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie.

Ek weet regtig nie waar die hersieners van die Kategismus in die sewentiger jare aan hulle weergawe kom nie. Die woord vlees, die bose luste van ons vlees – die woord het weggeval. Heeltemal. Maar vlees – dit is ‘n belangrike woord. Vlees – dit laat die mens sien in sy ablsolute swakheid, in sy totale verdorwenheid en in sy algehele onvermoeë.

Maar dit is nie al fout in die vertaling nie. Die woord in is ook vervang met oor: sodat die sondige begeertes nie meer oor ons regeer nie. Die woord in
sê egter veel meer as
oor. Die sonde heers in ons, in ons hart; dit lê beslag op die uitgange van ons lewe, op die wortel van ons doen en late.

Die Kategismus laat verder die vrug van die afsterf van die ou mens nie net na sy negatiewe kant sien nie. Hy wys ook op die positiewe sy, op dit wat in die plek daarvan gekom het: maar dat ons onsself aan Hom sal offer tot danksegging. Daarin hoor u Romeine 12 vers 1 terug: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Daarmee word ons hele dankbaarheid 100% gewortel in die heilswerk van Christus. En nog skerper: Daarmee word gesê dat ons nooit een enkele vrug kan voortbring sonder en buite die krag van sy kruis nie. En daarom help dit ook heeltemal niks as ons ‘n sondige wêreld en regering op hulle sondes wys – as ons hulle nie op die lewegewende grond van ons bestaan, op die verlossende krag van die kruis wys nie.

Dit is op grond hiervan dat Kohlbrugge ook gesê het: “Op Golgota is ek bekeer”. En daarmee het hy ‘n ontsaglike belangrike waarheid by ons tuisgebring: ons bekering is nie in die eerste plek ons daad nie, maar ‘n daad van God in sy Seun. Ons bekering is nie in die eerste plek iets wat ons doen nie, maar iets wat die Here Jesus gedoen het daar op Goeie Vrydag en Opstandingssondag. Ons bekering is nie in die eerste plek iets wat by ons begin nie, maar dit begin daar, by die kruis en die oop graf van ons Heiland. Daar lê die wortels van ons bekering en die geheim van ‘n nuwe lewe. Pase was enersyds die sterfbed van die ou mens. Andersyds is dit die geboortebed, die kraamkamer, van die nuwe mens.

Wat beteken dit nou vir ons daaglikse lewe? Dit gaan oor die toepassing! Hier wil ek twee punte vir u aanstip:

  • Eerstens wil ek dit sê: As ons ons lewens wil verander, ons huwelik, ons gesinslewe, ons verhouding met ander mense, ja, as ons ons wil bekeer, moet ons op die regte plek begin: by Golgota en by die oop graf. Anders gestel: sonder geloof in Jesus Christus, sonder geloof in sy kruis en opstanding, kan daar geen sprake wees van ‘n nuwe lewe by ons nie. Daarom kan daar in ons samelewing en in ons land geen liefde en vrede tussen mense kom nie …. tensy mense tot geloof in die kruisgebeurtenis kom.
  • In die tweede plek wil ek dit duidelik aan u stel: As ons waarlik in Jesus Christus glo, dan moet daar ook iets in ons lewens gebeur. Dan kan ons nooit dieselfde bly nie. Dan kan ons nie meer in in sonde, in liefdeloosheid, in haatdraendheid, in ‘n gebrek aan vergewensgesindheid voortleef nie.

Maar ons kom by die tweede hoofpunt:

2.2. Die kruis, ons bekering en ons waterdoop

Paulus bring die kruis en opstanding nie alleen in verband met ons bekering nie, maar ook met ons DOOP. Hoor maar wat sê hy: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel”. Hier is weer die woord weet: ons moet dit tog weet.

Ons doop het dus alles met die kruis te make. En as ons ons doopsformulier lees sal u presies verstaan wat ek bedoel. Want in die formulier kom die kruis inderdaad ook ter sprake. Want daar hoor ons: “En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseël die Seun aan ons dat Hy ons so van al ons sondes was – waarmee Hy ons in sy dood en opstanding inlyf – dat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word”.

Laat ek dit in nog eenvoudiger woorde vir u sê: daardie dag toe u gedoop is, is u ingelyf, het u deel gekry aan die heerlike gebeurtenis van die kruis en opstanding van ons Here Jesus Christus. Op daardie feestelike dag van u doop het God self na u toe gekom. Daar by die doopvont het Hy aan u beloof: Hy wil u in Christus van al u sondes bevry, ja, Hy wil u ou mens in Christus se dood doodmaak.

Maar nou die derde:

2.3. Die kruis, ons bekering en ons doop met die Heilige Gees

Daar is mense wat sê: hier in Romeine 6 gaan dit nie om die waterdoop nie. Dit gaan om DIE DOOP MET DIE HEILIGE GEES.

Ek persoonlik dink nie dat dit nodig is om tussen die twee te kies nie. Dit gaan om beide: die doop met water en die doop met die Heilige Gees.

Die doop met die Heilige Gees is ‘n lewensbelangrike saak. WANT:

Ons moet onthou dat God aan ons in die doop, in die waterdoop, en in sy Woord heerlike dinge beloof: Hy beloof om ons deel te gee aan die rykdom van Pase, aan die gebeurtenis van afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens deur die sterwe en opstanding van ons Here. Maar as ons nie glo nie, bly die kruis en oop graf buite ons lewe staan. Dan kry ons geen deel daaraan nie. Dan gaan die beloftes by die doop aan ons gegee, nie in vervulling nie.

En dit is juis hier waar die werk van die Heilige Gees so onmisbaar is. Self kan ons en wil ons nie begin glo nie, maar die Gees van Christus skenk ons die geloof. Hy oortuig ons om vas te gryp aan die dood en opstanding van Christus. Dit is wat bedoel word met die doop met die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is die Een wat die kruis in ons hart inplant. Hy gee ons deur die geloof deel aan die rykdom van die sterwe en opstanding van die Here Jesus. En dan is Pase vir ons nie maar net meer ‘n gebeurtenis wat 2000 jaar gelede plaasgevind het nie. O nee, dan word dit ook Pase in ons lewe van vandag. Want dan sterf die ou mens in ons en ons word nuwe mense. Dan kom daar die daaglikse vernuwing van ons lewe waarvan ons doopsformulier praat, die dankoffer van ons Kategismus

3. Slot

Dis u wil dat ons u woorde

in getrouheid sal betrag.

Kon ek maar, ek sou ‘t van harte.

HEER, verleen U my die krag! (Psalm 119:2)

… die krag van die kruis.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s