Preek Sondag 19 v/a 50-51

Lees: Ps.47, 110

Teks: Ps.47, Ps.110:1,2

H.K: Sondag 19:50-51

Psalms: 68:1,2; Geloofsbelydenis; 47:1,2; 47:3,4; 110:1,2

1. Inleiding.

Wêreldgebeure en dinge wat in die kerklike lewe plaasvind, kan ‘n mens soms so somber maak, nie waar nie? Ons probleem is egter: Ons kyk so dikwels nie verder as die harde, sigbare werklikheid rondom ons nie. Ons staar ons blind op dit wat ons met ons oë sien: die probleme in die land en die afval in die kerk. Ons het oog net vir die oormag teen ons.

Sondag 19 leer ons egter om verder te kyk as wat die oog van die liggaam sien. Die Kategismus vestig die oog van die geloof op ‘n ander werklikheid: die werklikheid van Christus se koningskap! Want Hy regeer: Hy het die teuels van die wêreldgeskiedenis in sy hande; en – in die kerk het Hy die heerskappy. En Hy is beklee met alle mag.Wat ‘n troos!

In verband met die troos van
die koningskap van Christus let ons op twee punte:

1. die heerlikheid van sy koningskap;

2. die nut van sy koningskap.

2.1. Die heerlikheid van Christus se koningskap.

Waarom, so vra ons belydenis, waarom word daarby gevoeg: En sit aan die regterhand van God?
Die artikel oor die sit aan die regterhand word dus volgens die Heidelbergse Kategismus by die artikel oor die hemelvaart gevoeg.
Deur dit so te stel, wil die Kategismus ‘n verband lê tussen die twee artikels. Die twee gebeurtenisse hoort bymekaar.

In antwoord 50 lê die Kategismus self die verband: (Dit word bygevoeg) omdat Christus daarom (met dié doel) na die hemel opgevaar het, dat Hy Hom daar sou betoon as die Hoof van sy Christelike Kerk, deur wie die Vader alle dinge regeer. Dat Christus gaan sit het aan die regterhand van God, sy troonsbestyging, sy koningsheerskappy – dit was die doel van die hemelvaart van Christus. So kan ons die Kategismus verstaan.

En nou wil ek by twee Psalms met u stilstaan om die heerlikheid van Christus se koningskap te laat sien::

1. Die eerste is Psalm 110.

U weet almal dat die woorde van vandag se artikel onder andere uit Psalm 110 kom. In daardie Psalm vertel Dawid van ‘n openbaring van God, wat hy ontvang het: Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand. Hierdie openbaring het Dawid van Christus Self gekry. Immers, ook in die Ou Testament en dus ook in die Psalms is Christus ons ons hoogste Profeet en Leraar, wat ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle geopenbaar het. Hy is die groot Bybelskrywer, wat in die Woord van Ou en Nuwe Testament deur sy Gees aan die woord is.

In Matteus 22 (vv 42-45) is die groot Skrywer van die Psalms weer aan die woord, Jesus Christus onse Here. En daar in Matteus sê die eintlike Psalmdigter dit in die duidelikste taal: Dawid het in Psalm 110 nie van homself gepraat nie, maar van Christus. Vir sy Christus sê die Vader dus: “Sit aan my regterhand”.

Psalm 110 vers 1 is terloops die teks wat die meeste aangehaal word in die Nuwe Testament – 21 maal.

Sit aan my regterhand – daarmee word die heerlikheid van Jesus se koningskap geteken.

Vir ons klein menseverstandjie is dit onmoontlik om iets te begryp van die onbeskryflike groot heerlikheid van Jesus se koningskap. Daarom gebruik die Bybel ‘n aardse beeld, ‘n beeld ontleen aan die paleislewe van daardie tyd om iets daarvan by ons tuis te bring. Die plek aan die regterhand van ‘n koning was naamlik die plek van die hoogste eer en mag!

En nou moet ons dit alles toepas op ons Here Jesus. Met sy hemelvaart het Hy nie sommer die troonsaal van ‘n klein, aardse koninkie betree nie. Nee, Hy het die hemelse paleis van die Koning van alle konings, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde, binnegegaan. En dan word Hy deur die Vader self beveel: Sit aan my regterhand. En dan voeg ons Twaalf Artikels uitdruklik daarby: aan die regterhand van God, die almagtige Vader. Dit beteken: ons Here Jesus word op daardie moment beklee word met die allerhoogste eer en mag denkbaar – óns Koning, óns Here!

2. Nou die tweede Psalm: Psalm 47.

Ook in hierdie Psalm word die nouste verband gelê tussen hemelvaart en die koningsheerskappy van Christus.

Die agtergrond van hierdie Psalm is ‘n groot oorwinning wat God behaal het oor sy en sy volk se vyande. En dan hoor ons in vers 6: God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. Daarin hoor ons die woorde van 2 Samuel 6 vers 15, die opvoer van die ark deur Dawid: “So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal.” Die Psalm is dus gedig by ‘n geleentheid toe die ark na ‘n groot oorwinning opgevoer is na Jerusalem – ja, toe dit opgevaar het, kan ons maar sê.

Die Psalm kan in twee dele verdeel word: Die eerste deel eindig by die woord sela in vers 5. Die tweede helfte begin in vers 6 na die sela.

Altwee dele begin min of meer dieselfde. Deel 1 begin met die oproep: Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ‘n stem van gejubel! (vers 2) Met dieselfde gejuig en gejubel begin deel 2 ook: God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank. (Vers 6).

Handeklap (1 Sam 10:24), geroep (2 Kon 11:12-13) en basuingeklank (1 Kon 1:39) hoort by ‘n troonsbestyging as ons na ander Skrifgedeeltes kyk.

Altwee dele gee ook dieselfde rede waarom gejubel en gejuig moet word: Die rede is die koningskap van God. Die rede word telkens ingelui met die woordjie want. Deel 1, vers 6, lui: Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ‘n groot Koning oor die hele aarde. En deel 2, vers 8, verklaar: Want God is Koning van die hele aarde …. En in vers 10 kry ons nog ‘n want, wat ons as klimaks kan beskou: ja, want aan God behoort die skilde (die vorste) van die aarde.

Dit is opvallend dat deel 2
begin en eindig ook met dieselfde woord: Dit begin met die woord opvaar in vers 6 en dit eindig in vers 10 met verhewe is Hy. In Hebreeus is dit elke keer dieselfde woord. Dit kan natuurlik nie in die Afrikaanse vertaling gesien word nie. Die opvaart en die verhewe omsluit die hele tweede deel en dit laat ons ook sien waarop die opvaart uitloop en waarin die verhewenheid bestaan: Want God is Koning van die hele aarde.

Maar die woord verhewe word ook nog ‘n derde keer in die Psalm gebruik: in die derde vers, in die Naam Allerhoogste, die Verhewene – so kan ons dit ook vertaal.

Sy ryksgebied word ook driemaal aangedui: die aarde – die hele aarde in vers 6, die hele aarde in vers 8 en die skilde, die vorste van die aarde in vers 10. Trouens, dit hoor ons ook in die ander hemelvaartspsalm, Psalm 24: Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.

Dit is nie moeilik om te sien dat hierdie Psalm op Christus en sy hemelvaart slaan nie: Hy het opgevaar en Hy is verhef. Want God Hom ook uitermate verhoog (verhef), sê Filippense 2:9. Sy mag gaan oor alles en sy magsgebied strek oor alles: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Mt 28:18). Verhewe is Hy!

Nog twee belangrike opmerkings in verband met Psalm 47:

  1. Eerstens: Psalm 47 is vol van gejuig, van trompetgeskal en van jubeling. In vers 7 en 8 word ons vyfmaal beveel: Psalmsing! Die handeklap is ook ‘n uiting van vreugde. Dit is ‘n buitengewoon vreugdevolle Psalm. Die hemelvaart en koningskap van Christus is dus iets om oor te juig en te sing. Ons hoor dit ook in Filippense 4: Verbly julle altyd in die Here! Maak dit ons ook bly? MAAR … dit is en bly ook ‘n geloofs-sang en geloofs-vreugde. Want met die oog van die liggaam sien ons so min daarvan. Maar deur die geloof, op grond van die Woord weet ek: Hy regeer.
  2. Tweedens. Nog eenmaal sal daar trompetgeskal en gejuig weerklink. Maar die keer nie by ‘n opvaart nie, maar by ‘n neerdaling. Want wanneer Jesus weerkom, sal Hy van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God. (1 Tess 4:16). Vir sy vande sal dit verskriklik wees, maar vir sy kinders heerlik: Want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. ( 1 Kor 15:25).

Ons let laastens op :

2.2. Die nut van sy koningskap.

Die kerk ontvang besondere weldade van haar Koning. Die Heidelbergse Kategismus noem twee in V/A 51:

1. Ten eerste
stort Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede uit.

Dit is wonderlik hoe dit gestel word: uitstort! Dit spreek van oorvloed, van strome van seëninge. Ons mag nooit gering dink van die gawes wat die Here aan sy volk gee nie! Hy stort deur sy Gees hemelse gawes in ons uit . Op Pinksterdag is die sluise van die hemel oopgetrek vir God se volk. Op daardie dag het ons Here Jesus sy Heilige Gees oor sy kerk uitgestort. Handelinge 2 praat letterlik daarvan: die uitstorting van die Heilige Gees (v.44) :”En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees.

Wat is hierdie hemelse gawes nou eintlik waarvan die leermeester van Heidelberg vertel?

Ons hoor ook daarvan in antwoord 55 van die Kategismus: Dit is die skatte en gawes van Christus – van Christus!

As ons nou wil weet wat die heerskappy van Christus aan die regterhand van God inhou en wat daarmee bedoel word dat Hy deur sy Gees die hemelse gawes uitstort, moet ons die boek Handelinge gaan lees. Daar sién ons die gawes.

*A. Die eerste gawe wat ek wil noem, is die gawe van die prediking, die Woordverkondiging. Dit is die heel eerste wat op Pinksterdag, na die uitstorting van die Heilige Gees, gebeur: Die apostels het begin preek. Hulle preke was pure Christus-prediking.

Dít is Christus aan die regterhand van God in aksie, handel Hy in Handelinge aan die regterhand van God: in die Woordverkondiging!

*B. Die tweede gawe wat ek wil noem, is die ampte in die kerk. Christus aan die regterhand van God handel deur sy ampsdraers. Hy stuur sy ampsdraers uit. Die ampsdraer Petrus staan op en die apostel preek die verhoogde Christus en al die heil wat in sy heerskappy is. Ons hoor in die boek van die Handelinge ook van ouderlinge en diakens. Die ouderlinge is geskenke van die Gees: Deur hulle wil Christus ons regeer. Deur die diakens wil Hy sy liefdevolle sorg na ons laat uitgaan en wil Hy ons liefde vir mekaar leer. Maar nie net die kerkraad ontvang gawes van die Heilige Gees nie. Elke gelowige kry besondere gawes: dit een dit en die ander dat, maar nooit is die een se gawes minderwaardig in vergelyking met die ander nie.

Dít is Christus aan die regterhand van God in aksie, handel Hy in Handelinge aan die regterhand van God: deur die ampte.

Ons moet die hemelse gawes
nóóit losmaak van die kerk, van die liggaam, van die lede van Christus nie. Hier in antwoord 51 leer ons: Christus, die Hoof van die liggaam giet die hemelse gawes
in ons, sy lede, uit. En in antwoord 55 hoor ons weer van die lede van Christus: dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede aan die Here Christus en al sy skatte en gawes gemeenskap het. Wie daarom geïnteresserd is in die gawes van Christus, moet ook intense belangstelling in die liggaam van Christus, in die kerk hê. Daar in die kerk ontmoet ons en kry ons die verhoogde Christus in aksie. Dáár vind ons sy skatte en gawes.

2. Maar ons kom by die tweede nut van Jesus se koningskap: Hy beskerm en bewaar ons teen alle vyande.

Solank as wat die kerk in hierdie wêreld is, sal die kerk vyandskap verduur – in vervolging, in dwaalleer.

Wat ‘n troos ontvang ons dan nie uit hierdie Sondag en uit Psalm 110 nie. Want in Psalm 110 vers 2 lees ons: Die HERE self gee aan sy Christus die septer, die simbool van koningskap en mag. By die simbool van mag kom ook die bevel tot magsuitoefening: “Heers te midde van u vyande”.Die Hebreeuse woord wat hier vir heers gebruik word, beteken letterlik vertrap. Dit dui op ‘n met geweld regeer oor onderworpe vyande.

Ons moet Sondag 19 lees teen die agtergrond van die tyd waarin die Kategismus opgestel is: aan alle kante het geloofsvervolging gedreig. Die kerk is bedreig. Onder daardie omstandighede het die kerk hom vasgeklem aan die belofte: Christus beskerm en bewaar sy kerk met sy mag teen alle vyande.

3. Slot.

In die Matteus-evangelie vertel Jesus sy volgelinge van die swaar vervolging en die afval van die laaste dae. In die wêreld sal hulle gehaat word. En dan, in die laaste hoofstuk van daardie evangelie, stuur Jesus sy kerk in so ‘n wêreld in om die evangelie te gaan verkondig. Maar dan verseker Hy hulle: Hulle gaan nie alleen nie. Maar Ek is met julle … en aan my is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Die almagtige Koning staan dus agter sy kerk. Is dit nie ‘n wonderlike gedagte nie? Met die troos van Psalm 47 en 110 word die kerk in die wêreld ingestuur.

AMEN.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s