Reeks Abraham: Preek 1

Lees: Gen.11:27-12:3; Ps 29

Teks: Gen.12:1-3 (Reeks Abraham nr.1)

Datum: 11 Maart 2012

Psalms: Ps.45:1,2; Ps.25:6; Ps.45:9,10; Ps.29:1,2,3; Ps 29:4,5

1.Inleiding.

Nog nooit was daar ‘n mens of ‘n volk wat verlos is, omdat hy dit verdien het nie. Dit kan altyd en alleen toegeskryf word aan God se groot ontferming. Daarom is die kerk, die skare van verloste mense, ‘n wonder van God se genade in Christus.

Christus
roep mense wat gewillig vasgevang is in die boeie van die Satan uit die duisternis tot sy wonderbare wonderbare lig. So skep HY sy volk – deur die krag en heerlikheid van sy roepende Woord. Ja, as die Stem van die God van heerlikheid weerklink, word die kerk gebore uit die niks.

Dit sien ons ook in die geskiedenis van Abraham, die vader van die gelowiges.

Ons oordink vandag die roeping van Abram en dan let ons op die volgende punte:

1. Die HERE, die God van heerlikheid,
roep
Abram deur sy Woord;

2. Die HERE roep Abram tot gehoorsaamheid aan sy eisende Woord;

3. Die HERE roep Abram tot geloof in sy Beloftewoord.

2.1. Die HERE, die God van heerlikheid, roep Abram deur sy Woord.

Ek begin vandag met ‘n reeks uit die boek Genesis: die geskiedenis van Abraham.

Die naam Genesis beteken geboorte. Dit gaan in hierdie boek oor die geboorte van hemel en aarde en ook oor die geboorte van die kerk, die volk van God.

In die eerste vers van ons gelese gedeelte, in Genesis 11:27 staan daar: En dit is die stamboom van Tera. Vir stamboom staan daar ‘n woord wat eintlik beteken: geboortegeskiedenis of geslagsgeskiedenis. Dit gaan dus vanaf Genesis 11 vers 27 tot Genesis 25 vers 11 oor die geboorte- of geslagsgeskiedenis van Tera, die vader van Abraham. MAAR as u nou daardie hoofstukke gaan lees, sal u sien dat dit nie oor Tera gaan nie, maar wel oor Abraham. Ek wil dit aan u verklaar. Die bedoeling van die woord
geslagsgeskiedenis is nié: Nou gaan ons ‘n beskrywing kry van die geslagsgeskiedenis van Tera kry nie. Die betekenis daarvan is wél: Nou gaan ons sien wat daaruit voortgekom het, wat uit Tera gebore is. En meer presies: Ons gaan sien wat die HERE daaruit gebore laat word het.

Wat die HERE en net Hy en Hy alleen daaruit gebore laat word het – daaroor gaan in die geskiedenis van Abraham. Dit gaan om ‘n geboorte van bo-af, van God af. Wat voortgekom het uit Tera kan net beskrywe word as ‘n geboorte
deur die Woord, ‘n geboorte
deur die genade van God.

Wát het dan uit Tera voortgekom? Die kerk, die volk van God. Die kerk word gebore en instandgehou en staande gehou enkel en alleen deur God se genade en deur die krag van sy Woord. Dit is vandag nog so. Dit moet ons baie goed begryp.

Die kerk sal uit Abraham gebore word. Maar dit kan net die HERE doen. WANT as dit van Abraham afgehang het, as dit van die mens afgehang het, dan sou daar nooit ‘n kerk gewees het nie. Want in Genesis 11 vers 30 staan daar: En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie. En dan sê Calvyn daarby: God wil in Abram se persoon duidelik laat sien vanwaar en op watter wyse die kerk tevoorskyn gekom het. Want die kerk het op daardie stadium nog soos ‘n droë stomp onder die grond verskuil gelê. Abram is ‘n voorbeeld van ons almal se roeping: In Abram sien ons dat die dinge wat nie is nie, uitsluitlik deur God se genade uit niks tevoorskyn geroep word, sodat dit iets begin te wees. Vanwaar kom die kerk dus? UIT NIKS. Op watter wyse kom die kerk uit niks tevoorskyn? DEUR DIE WOORD.

En Sarai was onvrugbaar – daarmee word die doodstoestand van Tera en sy geslag beskryf.

Én, én ook die doodstoestand van Abram!

Ja, dit is waar. Want wie en wat was Abram voordat die HERE hom geroep het? Hy was ‘n afgodsdienaar. Hy was ‘n inwoner van die plek Ur. Dit was ‘n stad met ‘n grootse beskawing en ‘n ryk kultuur, maar tegelyk was dit ‘n diep heidense plek vol afgodstempels. En – aan daardie afgodery het Abram ook deelgeneem. Dit sê die Skrif self aan ons in Josua 24:2: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon – Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien. Abram was dus ‘n afgodsdienaar.

U begryp dus: Dat God Abram geroep het, was nie omdat hy soveel beter as al sy tydgenote was nie.

Die geheim van Abram se roeping word aan ons onthul in Jesaja 29 vers 22. Daar lees ons: … so sê die HERE tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het … Die HERE het Abraham verlos! Letterlik staan daar: vrygekoop. Dit is dieselfde woord wat gebruik word vir Israel se verlossing uit die slawehuis van Egipte (Eks 12 en 13). Israel is vrygekoop uit die slawehuis van Egipte deur die bloed van die Paaslam. Christus se offer was die geheim van Israel se verlossing uit die slawehuis van Egipte. Dit is ook die geheim van Abraham se verlossing uit die slawehuis van Ur. In Christus se offer lê die geheim van die geboorte van die kerk. En dit alles word óók op óns toegepas in 1 Petrus 1 vers 18 en 19: Julle weet dat julle nie deur silwer of goud losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Ons lees nie dat Abram eerste na die HERE toe gekom het nie. Inteendeel, die eerste wat ons hoor, is die genadige roepstem van die HERE wat na hom te uitgaan. En terwyl Abram met die rug na God toe leef en Hom nie soek nie, soek die HERE hom op en roep hom tot ‘n lewe in sy salige teenwoordigheid. So is dit altyd: God is die eerste in die verlossing van die mens.

Christus het aan Abram verskyn. Want in Handelinge 7 vers 2 sê Stefanus: Die God van die heerlikheid het aan Abraham verskyn. Dit is Christus. Hy is die God van heerlikheid. In 1 Korintiërs 2 vers 8 noem Paulus Hom die Here van die heerlikheid en in Johannes 1 vers 14 staan daar: Die Woord het vlees geword en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Hoe trek Christus Abram nou op uit die moeras van die heidendom? Hy verskyn aan Abram en sy heerlikheid straal Abram toe in sy roepende Woord. In ‘n paar onopvallende woordjies staan dit daar: En die HERE het gesê. Dit wil sê: Deur sy Woord bevry die God van heerlikheid Abram van die afgodedom. Die uitdrukking die God van heerlikheid kom uit Psalm 29, die Onweerspsalm, die Psalm van die sewe donderslae, die Eer aan God in die hoogste hemele van die Ou Testament. Sewemaal hoor ons van die stem van die HERE: Die God van eer (die God van heerlikheid) van heerlikheid donder. Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon. (vv 3-5).

Die donderslae van die Stem van die HERE weerklink in die lewe van Abraham.

2.2. Die HERE roep Abram tot gehoorsaamheid aan die eise van sy Woord

Drie maal donder dit in Abram se ore: Gaan! Gaan! Gaan! Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis.

Hierdie woorde is soos drie bylslae aan die wortel van Abram se lewensboom – sy lewensboom wat gewortel is in land, familie en vaderhuis:

  • Hy moet die gerief van sy land en die weelde van Ur agter hom laat. Hy moet breek met die afgode. Hy moet dit waag met die enige, ware God.
  • Hy moet sy familie, sy stam, agterlaat – daar waar hy beskerming geniet het. Abram sou moes leer om sonder mensehulp klaar te kom. Hy sou moes leer om in ‘n wêreld vol vyandskap en haat op die HERE alleen te vertrou. Dit moet ons ook leer. Ons is so geneig om op mense en menslike planne te vertrou vir die voortbestaan van die kerk. Maar hierdie teks roep ons op om ons in die arms van God te werp en om ons aan Hom alleen toe te vertrou.
  • Die derde wat die HERE van Abram eis is: Gaan uit jou vader se huis. Die teerste, die band van bloed, sy liewe vaderhuis, moet hy vaarwel toeroep.

Die donderende Woord van God ontwortel Abram. MAAR Hy ont-wortel hom om hom te wortel in die vrugbare grond van sy beloftes. Dit is boompie verplant, maar in hierdie geval is dit so heilsaam, want die lewensboom van Abram word uitgeruk uit die heidense bodem en dit word ingeplant in die heilsbodem van God se Woord. Uit die doodbrengende rotsbodem van sy heidense omgewing word hy oorgeplant in die lewende en lewegewende Beloftewoord van die alleen lewende God.

By hierdie wonder-mooie beloftes staan ons vervolgens stil en ons let daarop dat:

2.3. die HERE Abram roep tot geloof in sy Beloftewoord

Eers het die HERE Abram gedryf met die drie donderslae van sy bevelende Stem: Gaan! Gaan! Gaan! Nou trek Hy Abram ook nog met die sewe donderslae van sy belowende Stem, deur die krag van sy Beloftewoord. Want aan Abram word beloof: ‘n ander land, ‘n groot nasie, ‘n groot naam, ‘n seën vir ander mense, ‘n vloek vir nog ander, ‘n seën vir die geslagte van die aarde en ‘n persoonlike seën.

God dryf ons en Hy trek ons, sê Calvyn. Hy dryf ons met sy bevel en Hy trek ons met sy heerlike beloftes.

Dis ‘n skat wat aan Abram beloof word, maar – let wel – hy sien dit nog nie. Dit bly ‘n saak van geloof. Die geloof is immers, in die woorde van die Hebreër-brief, ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (11:1). Kom ons let oorsigtelik op die beloftes, dan sal u sien wat ek bedoel en dan pas ons die dinge ook op onsself toe.

Aan Abram word belowe: ‘n land, ‘n groot nasie en dat hy ‘n seën sal wees.

1. Die HERE beloof aan Abram eerstens ‘n land. Maar hy het dit nog nie! Nee, sê Calvyn, Hy laat Abram nie dadelik die land sien nie. Dit doen die Here om hom des te beter te kan toets of hy waarlik geheg was aan sy Woord. Hy sê as t’ware aan Abram: Ek beveel jou om blindelings uit te trek en Ek verbied jou om te vra waarheen Ek van plan is om jou te lei, totdat jy jou vaderland vaarwel gesê het en jou heeltemal aan My oorgegee het.

2. Die HERE beloof tweedens dat Hy Abram tot ‘n groot nasie
sal maak. Dit was moontlik vir Abram nog moeiliker om daaraan te glo, WANT Sara was onvrugbaar. Hy sou moes glo dat dié God wat Hom geroep het, instaat is om lewe uit die dood te gebied. As daar ooit ‘n groot nasie uit hom sou voortkom sou dit alleen danksy ‘n wonder van God wees.

As God ‘n mens wil grootmaak, sê Kohlbrugge, verneder Hy ons eers diep en maak Hy ons heeltemal klein, sodat ons by onsself niks anders as onvrugbaarheid sien nie. Dit doen die HERE sodat ons alle vertrou op mense sal laat vaar en sodat ons op Hom alleen sal vertrou.

Ja, dit sal ons ook moet glo: As daar ooit iets van die kerk tereg sal kom ook in ons tyd, sal dit net God se werk wees en net deur die krag van sy Woord.

3. Die derde en seker die grootste wat die HERE Abram beloof, is dat hy ‘n seën sal wees. Hierdie seën slaan op Niemand anders as ons Here Jesus nie! Immers, uit Abram se nageslag sou die Heiland van die wêreld gebore word. Ook hierdie belofte se vervulling het Abram nie met sy vleeslike oë aanskou nie, maar hy het wel geglo in die Verlosser wat sou kom. Want in Johannes 8:56 sê Jesus: Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly“. Ja, hy hét dit gesien: met die oog van die geloof!

Omdat Abram die sëen gehad het, daarom sou hy ‘n ook sëen wees vir die wêreld. Sien hom daar ry op die lang pad na Kanaän: die evangelie op ‘n kameel se rug?! Ja, want uit Abram sal gebore word die Saligmaker van die wêreld en elkeen wat glo in die beloftes wat aan hierdie man geskenk is, hulle sal geseënd wees.

In vers 2 staan daar: dat jy ‘n seën sal wees. In die oorspronklike staan dit as ‘n gevolg en as ‘n bevel. Omdat hy geseën is, sal hy ook gevolglik ‘n seën wees. Omdat hy geseën is, moet hy ook ‘n seën wees.

Dit sê ontsaglik baie vir ons as Nuwe Testamentiese Kerk: Abraham en die volk wat uit hom gebore word, sal, ja moet ‘n seën wees vir mense. En die rede daarvoor is: Die kerk is geseënd met die Evangelie, met die Seun van God. Daarom en so en as gevolg daarvan is die kerk ‘n seën. Maar nou moét ons ook ‘n seën wees deur Christus te verkondig.

Maar dit beteken ook: Wie belangstel in God se seën, in Christus en sy heil, hulle moet ook geïnteresseerd wees in sy kerk waardeur Hy seën. Want die HERE self maak Abram en die kerk tot draer en verkondiger van sy seën. Wie daarom by die kerk verbyloop, loop by God en sy seën verby. Wie teen hierdie seën ingaan, wie Christus verwerp – sulke mense sal deur God self vervloek word.

3. Slot.

Die kruis en die oop graf is die donderslae van die Stem van God. Dit is die verskyning van die God van heerlikheid. En ons het sy heerlikheid aanskou vol van genade en waarheid. En daardeur kom die kerk te voorskyn uit die niks, uit die dood uit, kinders van God: wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. (Joh 1:12-13).

Dit is: Eer aan God in die hoogste hemele.

AMEN.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s