Reeks Abraham: Preek 2

 

Lees: Gen.12:4-9; Hebreërs 11:1-16

 

Teks: Gen.12:4-9 (Reeks Abraham nr. 2)

 

Datum: 18 Maart 2012

 

Psalms: Ps 84:1,2; Ps 25:7; 105:1,2;  105:23,24; 37:6,7

 

1. Inleiding.

 

Daar was meer hervormers as net Calvyn en Luther in die tyd van die Reformasie. In Zürich was daar ’n man met die naam Heinrich Bullinger. Bullinger het ’n baie mooi boek oor die Christelike geloof geskryf. Die titel van die boek is Die ou geloof. In daardie lesenswaardige boekie toon Bullinger aan dat die Christelike geloof nie eers in die Nuwe Testament sy onstaan het nie. Die Christelike geloof ’n stokou geloof. Die hele verlossing van Christus Jesus is reeds lank, lank tevore beloof en geprofeteer ook aan die mense van die Ou Testament. Daarom het óók die aartsvaders – óók Abram dus –  ons Here Jesus Christus in die gees gesien en op Hom vertrou. By ons is alles wel duideliker én ons het die vervulling, terwyl dit by hulle nog in ‘n mate donker was en ’n saak waarvoor hulle nog gebid het.

 

Bullinger beroep hom vir sy standpunt op die kerkgeskiedskrywer Eusebius van Caeserea. Eusebius het alreeds in die twaalfde eeu geskryf: Almal vanaf Abraham terug tot op die eerste mens was Christene, al het hulle die naam Christen toe nog nie gedra nie. Dan verduidelik Eusebius: Die naam Christen beteken immers: iemand wat op Christus vertrou, iemand wat deur die leer van Christus aan die geloof, aan die genade, aan die geregtigheid van God vashou. En dit is presies wat die heilige aartsvaders gedoen het.

 

Daarop kan ons uitbrei: Christus het Abram verlos uit Ur van die Chaldeërs; Christus, die God van heerlikheid, het aan Abram verskyn; Christus het met Abram gepraat; en Christus het aan Abram sy eise en beloftes gegee.

 

  • Op grond van die Woord kan ons sê: Die heerlikheid van Christus straal ons toe in die Evangelie.
  • én – op grond van die Woord moet ons sê: die heerlikheid van Christus vol genade en waarheid het óók Abram verlig onder andere in die Woord van Genesis 12 vers 1 tot 3.

 

Ons bely hierdie dinge waarvan Bullinger praat trouens  ook in antwoord 19 van ons Kategismus. Daar bely ons uitdruklik: God het die heilige evangelie (ook) deur die heilige aartsvaders laat verkondig.

 

DAAROM: Die geskiedenis van die aartsvader Abraham is verkondiging van Christus en sy werk..

 

En nou gaan ons Christus, die God van heerlikheid, aan die Woord en aan die werk sien óók in Genesis 12 vers 4 tot 9. En as ons Hom nie hoor en sien in die geskiedenis van vandag nie, het ons daarvan heeltemal niks begryp nie.

 

I.v.m. ons teksgedeelte van vandag let ons op:

 

1. die skynbaar troostelose toestand vir Abram;

 

2. die HERE, die God van heerlikheid, troos Abram met sy Woord; en

 

3. Abram se geloofsreaksie op die troos.

 

2.1. Die skynbaar troostelose toestand vir Abram

 

Abram het ’n uiters moeilike opdrag gekry: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. (Gen 12:1) Hy moes alles agterlaat wat vir hom kosbaar en dierbaar was: sy land met sy afgode en gerief, sy familie in wie se gebied hy veilig gevoel het en ook sy geliefde vaderhuis.

 

Aan die ander kant moes hy nou sy lewe toevertrou aan ‘n God – die HERE – wat hy nog skaars geken het. En al wat hy van die HERE  ontvang het, was net ’n Woord, ‘n Beloftewoord: Gaan … na die land wat Ek jou sal aanwys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak … MAAR – van al daardie beloftes het Abram nog niks gesién nie. Waar die land was, het hy nie geweet nie. Hoe dit lyk, is nie vir hom gesê nie. Hoe die groot nasie ooit gebore moes word uit ’n onvrugbare Sarai – dit het hy nie geweet nie.

 

Maar … Abram gaan: gedryf en getrek deur die krag van die Woord. Die Woord is die geheim van, die dryfkrag agter sy gehoorsaamheid. Want direk op die bevele en beloftes van die eerste drie verse staan daar: Toe het Abram weggetrek – soos die HERE hom gesê het. Soos die HERE hom gesê het – dit staan daar met nadruk. Abram laat hom absoluut lei deur wat die HERE hom gesê het. Al het hy nog niks gesien nie.

 

Dit is presies wat ons hoor in Hebeërs 11:8: Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. En dit is wat geloof is, die geloof waarvan Hebreërs 11 sê: Dit is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Abram het vas vertrou op die beloftes en met sekerheid gehoop op die vervulling daarvan.

 

Die feit dat Abram nog niks van die land gesien het nie, moes alreeds vir hom ’n geloofsbeproewing gewees het. Maar by sy aankoms in die land het daar nog ‘n toets op hom gewag. Want in vers 6 staan daar: Die Kanaäniete was toe in die land. Dit is nie sommer so ‘n terloopse, onbelangrike opmerking nie. Daarmee sê die Bybelskrywer: Die land van belofte was besette gebied; magtige heidense volkere het die beheer gehad. Abram sou sekerlik gewonder het: Hoe moet ek en my nageslag ooit in besit kom van hierdie land? Abram was ’n mens net soos ons.

 

Daar ‘n beslisde ooreenkoms tussen ons en Abram. Hierdie aarde waarop ons woon, is immers ons erfenis. Dit is die land wat aan ons belowe is. Want Jesus sê uitdruklik in sy Bergrede: Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. (Mt 5:5) Maar wat ‘n terleurstelling kry ons nie as ons rondom ons kyk: Dit is immers nie onbewoonde terrein nie? Inteendeel, dit is besette gebied: Heidense magte is in beheer; goddelose magte gee die toon aan; vir ‘n Christen is daar geen plek nie en ons word nie toegelaat om hier te leef soos die HERE dit van ons verwag nie.

 

Maar dit is ’n besondere woord: Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Weet ons wat is ’n sagmoedige? Dit is iemand wat dit absoluut in die hande van die Here laat en heeltemal op Hom vertrou om die belofte te ontvang. Dit is iemand wat hom heeltemal verlaat op die Woord en glo dat Hy ook sal sorg dat dit sal gebeur.

 

Maar ons let op die tweede:

 

2.2. Hoe die HERE Abram troos onder daardie omstandighede

 

Dit staan in vers 7: Daarop verskyn die HERE aan Abram … Wonderlik, nie waar nie? In hierdie krisisoomblik in Abram se geloofslewe laat God hom nie aan homself oor nie. Die allerhoogste God en Koning daal neer na sy dienskneg om hom te bemoedig, om sy geloof te versterk. Die God van heerlikheid – dit is Christus – verskyn aan hom. Dit leer Handelinge 7 vers 2 ons.

 

Hoé versterk Hy nou Abram se geloof? Weereens nét deur te spreek. Weereens is dit al wat Abram kry: nét ‘n woord, die Woord van die HERE. Steeds ontvang hy nie eens ‘n vierkante millimeter van die land van belofte nie en steeds word Sarai se onvrugbaarheid nie weggeneem nie. Slegs die beloftewoord word aan hom gegee: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.

 

Die stem van die harde werklikheid sê: Die Kanaäniete was toe in die land. DAARTEENOOR sê die Stem van die HERE: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Dit staan met nadruk voorop: Aan jou nageslag. Dit is ‘n herhaling van sy reeds gegewe belofte, die landsbelofte, maar hierdie keer word tog iets meer gesê: Die presiese land word aangewys. Hierdie land, hierdie land Kanaän, sal die HERE aan Hom gee. Die HERE sê vir hom: Hierdie land, hierdie nou besette gebied – dít sal Ek gee. Christus openbaar aan Abram wat HY sal doen. Daarin lê ’n heerlike sekerheid: dat God dit sal doen; dat dit nie van swak mensies afhang nie.

 

Die HERE verskyn nie aan ons op dieselfde wyse as aan Abram nie. Tog ken ons, net soos Abram, Godsontmoetings. Die HERE laat ons in ons krisisse nie alleen nie. Hy daal na ons toe neer, Hy die alvermoeënde en heerlike God. Is dit nie ‘n wonder nie? Maar wáár vind hierdie Godsontmoetings in ons lewens plaas? Hier in die erediens, maar ook daar rondom die huisaltaar.

 

Maar wát gebeur tydens hierdie ontmoetings? Gee Hy ons hier alreeds ‘n stukkie van die nuwe aarde? Nee, al wat in die kerk gebeur is: God spreek. Hy gee ons nét sy Woord. En daardie Woord moet vir ons genoeg wees. Die Woord is God se manier om ons te vertroos en te versterk. Hy bepaal ons aandag in sy Woord by wat Hy doen en sal doen.

 

Dit is opvallend dat die HERE sy belofte aan Abram herhaal. Hy sê weer wat hy alreeds gesê het. ‘n Mens sou sê: Is dit nou werklik nodig? Die Woord moes mos vir Abram genoeg gewees het? En tog doen die Bybel dit meermale: om te herhaal en te herhaal en nogeens te herhaal. Hoekom doen die HERE dit? Omdat Hy weet hoe gou ons vergeet wat Hy vir ons gesê het. Die HERE ken ons beter as wat ons dink. Daarom moet ons nie dink: ons het dit nie nodig om elke Sondag weer oor en oor herinner te word aan dieselfde, bekende dinge nie.

 

Ons aandag kan so vasgevang word deur hierdie aarde en deur die dinge wat daarop gebeur, dat ons heeltemal vergeet waarheen ons op pad is en watter grootse en volmaakte erfenis op ons wag. As ons rondom ons kyk, as ons die harde werklikheid aanskou, dan sê ons: Sonde, duiwel en dood heers op hierdie aarde.. Maar wanneer God ons ontmoet, dan sê Hy vir ons: hierdie aarde sal nie vir altyd so wees nie, maar eendag sal alles nuut gemaak word. Hy gee ons hoop en uitsig dat hierdie stukkende aarde eenmaal weer volkome heel gemaak sal word en dat alles dan weer so volmaak en mooi sal wees. Dit is die lig wat God in sy ontmoetings met ons gee.

 

Die Woord sê: die aarde is ons erfenis. Die werklikheid daarenteen sê iets anders: Die harde realiteit sê die aarde word deur vreemde magte beset. Maar geloof is: om te glo dwarsdeur die teenstrydige heen, om te glo in God se betroubare Woord, om te glo in wat God doen.

 

Ons sien in die derde plek:

 

2.3. Abram se geloofsreaksie op die troos

 

In hierdie geskiedenis sien ons Abram reageer op die Beloftewoord wat hy van die HERE ontvang: Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het (vers 7).

 

Dit is ’n besondere reaksie van Abram:’n altaar! En uitdruklik staan daarby: ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het, vir die HERE wat met hom gepraat het. Die altaar het alles te make met die verskyning van die HERE, met sy Woord aan Abram. Ja, want óók die altaar is die Stem van God, die Woord van God. Ook in die altaar is Hy aan die Woord.

 

In verband met die altaar twee opmerkings:

 

1.      Eerstens: Die altaar is die Stem van Christus TEENOOR die stem van die afgode.

a) Want in vers 6 lees ons: dat Abram gekom het by die terpentynboom met die naam More. Dié naam beteken leraar. Die heidene het dus ‘n terpentynboom as leraar gehad. Dit was ‘n waarsêersboom. Die heidense priesters het geglo dat hulle die toekoms kon voorspel uit die buig van die boom se takke en die geruis van die wind deur die blare. ‘n Afgodediens was dus daar aan die gang. Die heidene het hulle verbeel dat hulle daar die stem van hulle afgode daar kon hoor.

b) Maar juis daar, daar waar die heidene gemeen het om die stem van hulle afgode te hoor, daar laat Abram die Stem van sy God gehoor: die Stem van die alleen ware en die alleen lewende God. Juis daar, daar waar die heidene hulle afgode vereer, rig Abram ‘n altaar op om sy God, die HERE, te vereer. Teenoor die diens van die afgode plaas hy ‘n altaar en dit was sekerlik bedoel as ’n getuienis teenoor die heidendom.

2.      Tweedens: Die altaar  is die Stem van Christus in ANTWOORD op die  Kanaäniete se besetting van die beloofde land.

a) Voordat Abram nog in Kanaän gekom het, het die slangesaad van Genesis 3 vers 15 reeds sy skuif gemaak op die skaakbord en die land van belofte geskaak. Immers, die Kanaäniete was toe reeds in die land. Dit beteken: Die land van die vrouesaad was beset deur  die slangesaad.

b) Hoe sal die nageslag van Abram ooit die land van belofte ontvang? Die altaar is die antwoord. Die altaar sê: God sal dit doen. Deur die altaar sal God dit doen. Die altaar is God se skuif op die skaakbord. Die altaar wys heen na die kruis – die altaar van die kruis. Met die met die kruis sit Hy die Satan skaakmat. Aan die kruis het Hy oor die Satan en sy magte getriomfeer (Kol 2:15). Midde-in die besette gebied sit God sy altaar as teken: hierdie land is syne; en dit behoort aan sy volk; daarvoor sal die kruis sorg.

 

Deur die altaar van Golgota is ons kinders van God. Deur die altaar is ons erfgename saam met Christus, deur Christus, danksy Christus. In die altaar lê dit vas en seker  dat hierdie aarde ons erfenis is.

 

In vers 8 hoor ons van ’n tweede altaar wat Abram opgerig het. En dan staan daarby: En Abram het die Naam van die HERE aangeroep. By die altaar. Dit gaan om ’n erediens – maar dan uitdruklik ’n erediens uitdruklik by die altaar. By die altaar ontmoet Abram God en by die altaar aanbid hy God. By die altaar ontmoet ook ons die HERE. Dit wil sê: by die offer. Die offer van Jesus Christus, die altaar van Golgota,  maak ons ontmoeting met God moontlik.

 

In vers 8 lees ons: Abram het sy tent opgeslaan. En Hebreers 11 vers 9 sluit daarby aan: Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. (Heb 11:9). Die tent sê dus: Hy was nog ’n vreemdeling sonder besitreg in die land van belofte. Maar langs die tent het hy ’n altaar gebou. En die altaar verkondig: erfgenaam van die belofte!

 

By die ou geloof – soos Bullinger dit noem -, by die ou geloof in Christus het Abram geleef en gesterf en leef hy nog tot in alle ewigheid:

 

  • By die Woord wat gegee is deur Christus;
  • by die Woord wat handel oor Christus.

 

Nee, Abram het alles nog nie so presies soos ons geweet nie. Tog het hy geglo: God sal dit doen. Daarvan spreek die altaar.

 

3. Slot.

 

Die Woord van God is al wat ons het. Maar dit is ook alles – die Woord van die altaar. Die Woord van die altaar bring en gee rus:

 

Die mossie vind ‘n huis, o HEER,

 

die swaeltjies lê in nessies neer;

 

en ek vind rus by u altare,

 

waar U vir my ‘n woning maak

 

en U, my Koning, my bewaak.

 

Gedugte HEER der leërskare,

 

welsalig wie in u paleis

 

U altyddeur mag loof en prys! (Ps 84:2 – Totius).

 

AMEN.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s