Reeks Abraham 6

Lees: Genesis 15:1-6; Romeine 4

Teks: Genesis 15:1 (Reeks Abraham nr.6)

Datum: 13 Mei 2012

Psalms: 18:1,2; 9:7 ;16:1,2; 18:14,16; 89:7

1. Inleiding

Ons geloofslewe is nie ‘n altyd reguitlopende lyn nie: Soms skiet die lyn die hoogte in; ander kere stort dit in die diepte neer. Ons geloof ken sy hoogte- én sy laagtepunte:

  • Soms bevind ons ons op die kruin van geloofsvreugde. Soms loop ons oor van geloofsvertrou, sodat ons dit saam met Dawid (Ps 18:29) uitroep: Want met u loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
  • Ander kere word ons geloofslewe weer gekenmerk deur ‘n gebrek aan vertroue in die HERE. Dan kan die toekoms vir ons so uitsigloos en donker lyk. Dan bevind ons ons onder in die dal van kleingeloof.

Hierdie opstygende en neerdalende lyn sien ons ook in die lewe van Abram, die vader van die gelowiges.

  • Want wel is dit so dat Hebreërs 11 hom plaas in die ry van geloofshelde: Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek (v 8). En: Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer…want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek (vv 17-18).
  • Maar Abram was nie supergelowige wat ver bo ons staan nie. Hy was ‘n mens net soos ons. Daarom het hy in sy geloofslewe ook die laagtepunte, die diep dal van kleingeloof, geken. En juis daar tref ons hom in die begin van Genesis 15 aan.

In die geskiedenis van Genesis 15 leer ons onsself ken.

Ja, maar ons leer óók God ken: Wie en Wat God vir ons is. Twee dinge word van Hom gesê, twee dinge wat so troosryk en leersaam is in ons tyd van hewige aanslae teen die kerk, in ons tyd van gejaag na aardse rykdom:

1. die HERE is ons beskerming; en

2. die HERE is ons rykdom.

2.1. Die HERE is ons beskerming

In Genesis 15 tref ons Abram dus aan op ‘n laagtepunt van sy geloofslewe.

Wat was dan die probleem? Wel, Abram was bang. Want anders sou die HERE sekerlik nie vir hom gesê het: Vrees nie, Abram….

Om dit uit te vind waarvoor hy bang was, moet ons mooi let op die begin van ons teks: Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom … en gesê: Vrees nie, Abram …. Na hierdie dinge, na hierdie dinge het Abram bang geword en het die HERE hom opgeroep om nie te vrees nie. Watter dinge was dit dan? Dit was die gebeure in die vorige hoofstuk: Abram se oorwinning oor die wêreldmoondheid van Kedor-Laomer. Dit was ‘n grootse oorwinning. Maar nou het Abram, die dappere, Abram, die groot krygsheld, begin bang word. Waarskynlik het hy begin tob: Wat sal gebeur as Kedor-Laomer terugkom, as hy met méér konings teen my saamspan?

Dit is tog eintlik verbysterend dat Abram bang is, nie waar nie? Want:

  • Maar kort gelede het hy ondervind hoe magtig sy God is en hoe die HERE die vyand in sy hand gegee het nie. Ons kan maar gerus sê: Hy het die evangelie te siene gekry: Christus se die oorwinning oor Kedor-Laomer om sy ontwil – sigbare evangelie.
  • En dit is nie al nie. Christus het deur sy gesant Melgisedek na Hom toe gekom met sy Woord. En deur die krag van daardie Woord kon hy die duiwelse versoeking van die koning van Sodom weerstaan. Christus het sy Woord soos ‘n ondeurdringbare muur ingeskuif tussen die woord van die koning van Sodom en Abram.

Maar nie net by Abram kry ons dit nie – hierdie laagtepunte ondanks die Woord, ondanks die heerlike evangelie van Christus se triomf nie:

  • Ons sien dit ook in die lewe van Israel nie: Keer op keer en male sonder tal het die HERE sy volk op luisterryke wyse verlos: die uittog uit Egipte, die deurtog deur die Skelfsee en nog baie meer. En tog: hoevele male het hulle nie gewanhoop en gevrees in die aangesig van hul teenstanders nie – en dit maar kort nadat hulle die reddende regterhand van die Here gesien en gevoel het.
  • én – ons sien dit ook in ons eie lewe. Want ons het ‘n veel en veel ryker openbaring van God se almag. Ons het kennis van die mees glorieryke oorwinning: die oorwinning van die kruis, die triomf van die Seun van God oor ons grootste vyand, die Satan, op die slagveld van Golgota. Ons weet hoe Hy die dood ontroon het deur sy opstanding uit die graf. En dat Hy opgevaar het na die hemel: dat Hy beklee is met alle mag in die hemel en op die aarde en dat Hy met sy almag met ons is. Ja, ons weet dit alles. En tog, en tog …. dit alles het ons, maar nogtans … hoeveel keer twyfel óns nie, is óns bang vir die toekoms en is óns onseker oor ons voortbestaan as kerk? Dan leef óns asof daar nooit ‘n kruis was nie en asof daar geen God in die hemel is nie en asof ons geen beloftes van die HERE het nie.

Daarom het ons geen rede om op Abram neer te sien nie, maar wel alle rede om langs die vader van die gelowiges te gaan staan en die HERE te pleit: Kom U ons kleingeloof te hulp!

En dit sien ons op so ‘n heerlike wyse geopenbaar in hierdie geskiedenis: hoe die HERE Abram in die krisis van sy geloofslewe te hulp snel. So is God. Hy raak nie ongeduldig met hom nie. Maar Hy kom na Abram toe met sy Woord. Want na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom...”. Dié woord, dit is alles. Dié woord moet vir Abram genoeg wees.

En so het God deur die eeue heen sy volk getroos en gesterk: met sy Woord. Altyd weer het sy Woord weerklink. Want telkens weer hoor ons hoe die HERE tot Israel spreek deur die mond van sy profete. En uiteindelik het God so ver gegaan dat daardie Woord vlees geword het om ons te red en te bewaar: Jesus is gebore en het gesterf en opgestaan! En daarna het die Here sy Woord die wêreld in laat gaan deur sy apostels en evangeliste en met daardie Godswoord moes hulle die gemeentes opbou en versterk in hulle geloof.

Met ons, gelowiges van die een-en-twintigste eeu, gaan dit nie anders en handel die Here nie anders nie: Met sy Woord daal die Here uit sy hoë hemel neer in die diepte van ons bestaan en in die afgrond van ons ongeloof. Is dit nie ‘n ontsaglike groot wonder nie: dat die Allerhoogste God Hom nog bemoei met mense wat net stof en as is en met mense wat Hom soveel kere terleurstel, nie? Is dit nie genade om van stil te word nie? Met daardie Woord snel Hy ons te hulp en daardie Woord, ja, dit kom na ons toe daar by die huis en hier in die kerk. Waardeer ons nog sy Woord? Gaan luister ons nog daarna? Want, ja, met daardie Woord wil Hy ons verlos uit ons angs en ons vertwyfeling en ons verdriet en ons kleingeloof. Met daardie Woord wil Hy ons geloof versterk.

… DEUR ons aandag op Hóm en op Hóm alleen vestig: op Wie en Wat Hy vir ons is, wat Hy doen, sy dade.

Want met nadruk staan dit in die oorspronklike: Ék. Ék is jou skild…. Ék, die HERE self, Hy is die hart en die sentrum en die middelpunt van die trooswoord wat tot Abram kom. Want die Bybel is per slot van rekening nie in die vernaamste plek ‘n boek wat ons vertel van die doen en late van mense en van Abram se dade en Dawid en andere se handelinge nie. Dit is die Boek oor God en wat God doen tot heil van sy volk. Dit is die Woord wat aan ons verkondig wat Hy vir ons wil wees.

En vir ‘n bang Abram, omring aan alle kante deur ‘n vyandige wêreld, sê Hy dan ook: Ek is vir jou ‘n skild. Dit wil Hy vir sy kind wees: ‘n skild ter beskerming – ‘n muur van staal, sê Calvyn. Hierby kan ons maar dink aan die skild van ‘n soldaat wat die kryger moet beskerm teen die pyle en die swaarde van die vyand.

En wat alles nou des te wonderliker maak, is die feit dat die HERE ons nie iets gee om ons te beskerm nie, maar Iemand. Ja, Hy gee Homself. Hy wil en is en sal Self daardie skild wees wat tussen ons en die vyandsvuur in gaan staan.

Die HERE Self ons skild – dit was ‘n beeld wat die Psalmdigters diep aangegryp het. Om by die Here te skuil en dat Hy ons beskerm – dit is ‘n sentrale, ‘n deurlopende lyn in die Psalms. Telkens noem hulle die HERE hulle skild. Dink maar net aan Psalm 18 vers 1, wat ons aan die begin van die diens gesing het:

“Die HEER’s my rots, my vesting sterk,

…my skild, die weerkrag van my heil…”. (Ps 18:1, Totius)

En waar in die Nuwe Testament het ons ‘n duideliker bewys dat die Here self – in eie Persoon! – as ‘n skild tussen ons en die duiwel wil gaan staan en sy vlammende pyle op Hom wil laat afkom as op Golgota. Want daar het Hy vurige pyle van die Bose trotseer en oorwin. Dit het Hy gedoen om sy volk te verlos. Teen die duiwel het ons daarom geen beter skild as die eie Lam van God en sy bloed nie. Daarom berym Totius Openbaring 12:10-12 in Skrifberyming 12:3 so treffend:

Die Lam wat hul laat triomfeer

sy bloed het hul gedek as skild

en al die pyle afgeweer.

Teen hierdie skild vermag al die aanklagte en aanvalle van die Satan niks nie. Daarom, wanneer die duiwel u beskuldig en u wil laat twyfel oor u verlossing, hou dan as skild op teen sy aanvalle: die skild van Golgota, die eie Seun van God. En roep Satan toe: my Lam, my Jesus, het volkome betaal vir al my sondes. Daarom kan jou pyle en jou aanklagte my nie deer nie.

Voor sy hemelvaart het ons Here Jesus verder aan sy kerk belowe: Hy wil met sy almag met ons wees. En is dit nie ‘n besondere gedagte nie: die almagtige Koning van die kerk soos ‘n skild rondom ons?! Troos dié skild u?

Neem die skild van die geloof op, sê Paulus in Efesiërs 6 vers 16. Daarmee bedoel hy nie dat die geloof self so magtige verdedigingsmiddel is nie. Ag nee! Ons geloof is so swak. Ons sien dit mos in hierdie geskiedenis. Maar met die hand van die geloof neem u God self, die skild van die gelowige, op. En dan is u so veilig as wat maar kan kom, want dan gaan u skuil agter God self.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. die HERE is ons rykdom

U sal sekerlik onthou dat die koning van Sodom, na die oorwinning van Abram oor Kedor-Laomer, aangebied het dat Abram maar die buit kon neem. Maar dié loon het Abram van die hand gewys. Die koning van Sodom mag nooit sê: hy het Abram rykgemaak, nie. Hy wou nie leef uit die hand van mense nie, maar uit die hand van die HERE alleen.

Was Abram miskien spyt dat hy die loon afgewys het? Dit is moontlik dat die duiwel hom in die verband probeer versoek het.

Calvyn sê hierby: Ons as mense word deur verskillende en ontelbare begeerlikhede van ons sondige natuur heen en weer geslinger en op verkeerde paaie gelei; ons is so geheg aan die teenwoordige lewe.

In hierdie geloofsversoeking kom die HERE Abram te hulp, weer met sy Woord. Hy doen dit altyd met sy Woord. En in sy Woord sê God vir sy kneg: Ék, Ek self, Ék
is jou uitermate grote loon. So kan ons die woorde ook vertaal. Weer ontvang Abram die Woord en weer wys die Here Abram in daardie Woord op Homself: wat Abram aan God het. Ons moet besef dat God ons kosbaarste besit is.

Calvyn skryf by hierdie woorde: Dan eers is ons werklik gelukkig, as God ons Vriend is. Want God oorlaai ons nie alleen met allerhande weldade nie, maar Hy gee Homself aan ons om te geniet. Want wat sou ons as mense nog meer kon verlang as om God te besit.

Maar, sê Calvyn, niks is moeiliker as om die verkeerde luste van die vlees te beteuel nie en ons goddelose ondankbaarheid is so erg, dat God ons nooit genoeg gee nie. Daarom noem die HERE Homself nie net ons loon nie, maar ons baie groot loon. Daarmee moet ons meer as tevrede wees. Hierdie baie groot loon – God self – is die oorvloedigste stof tot vertroue en ‘n hegte steun.

Vir Abram was die Woord van die HERE besonder troosvol.

Maar hy het tog nog ‘n probleem gehad: Die nageslag, die saad, wat die HERE aan hom beloof het. Want hy en sy vrou was al oud en nog het hulle nie ‘n kind van hul eie gehad nie.

Miskien dink: wat het dit met die loon te make waarvan God gepraat het? ALLES! Dit het alles daarmee te doen. Want immers: uit die nageslag, uit die saad van Abram sou dié Saad, die Christus, gebore word, in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Die Seun van God, self God, Hy is ons uitermate groot loon. Want Hy – God in eie persoon dus – HY is ons verlossing. EN
ons weg na die Vader. EN
ons Bruidegom. As ons Hom het, het ons alles. Dan het ons God. Na daardie loon , die koms van die groot Saad, het Abram ook uitgesien.

Dit is wonderlik hoe die HERE Abram se geloofstwyfel te hulp kom:

  1. Eerstens herhaal Hy sy belofte van ‘n groot nageslag.
  2. Tweedens gee Hy Abram ook ‘n teken: die sterre aan die hemel. So ontelbaar, sê Hy vir Abram, so sal jou nageslag wees.

Ons is omring deur skrik en duisterheid:

uit donker plekke loer die onheilsmagte.

Maar bo ons skyn die helder sterrewagte

van u verbond, waarop ons voor U pleit.

So het God sy volk se kleingeloof telkens weer met tekens te hulp gekom. Ook ons ontvang twee tekens: die doop en die nagmaal. En in beide gaan dit om God se loon aan ons: God self. Immers, in die doop word God self, die Vader en die Seun en die Heilige Gees aan ons belowe. Beide die doop en die nagmaal belowe en verseker dat die aan Abraham beloofde Saad, dat die Verlosser, dat die rykste loon denkbaar ook vir ons bedoel is en beloof word.

Abram het op God Self gesteun, toe hy hierdie beloftes geglo het. Daarom word daar gesê: En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Hier in Genesis 15 is geen sprake van werke nie, maar net geloof. En daardie geloof was nie eens Abram se eie werk nie. Inteendeel, hy het gevrees. Maar toe het die HERE sy Woord en sy teken vir Abram gegee. En deur die krag van sy Woord is die regverdigmakende geloof by Abram geskep.

3. Slot

Met die Woord van Genesis 15 het God ook ons vandag te hulp gekom in ons vrees en nood. Met die Woord het Hy ons op Homself gewys. En:

  • wie God het, het ‘n beskermer sonder weerga.
  • wie God het, het ‘n weelde wat nie gemeet kan word nie.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s