Reeks Abraham 9

Lees: Genesis 18, 12:1-3

Teks: Genesis:18:17-19; 12:1-3 (Abraham reeks nr 9)

Datum: 17 Junie 2012

Psalms: Ps.138:1; 9:7; Ps 1:1,2; Ps 1:3,4; Ps 98:1,4

1 Inleiding

Wanneer ons hoor van die uitverkiesing, dink baie mense gewoonlik aan ‘n groep mense wat deur die Here uitverkies is tot die ewige saligheid.

Maar dit gaan oor meer: God verkies ons nie net om salig te word nie.

Hy verkies ons óók om ‘n besondere taak te verrig. Ek wil die taak so omskryf:

  • Ons word verkies om ‘n seën te wees; en
  • ons word verkies om ons kinders te onderrig, sodat ook hulle ‘n seën kan wees.

Aan die hand van die volgende hoofgedagtes wil ek ons teks met u oordink:

  1. die HERE verkies Abraham;
  2. die HERE verkies Abraham om ‘n seën te wees;

  3. die HERE verkies Abraham om sy kinders te onderrig, sodat óók hulle ‘n seën sal wees;

  4. die HERE verkies Abraham tot opvoeding in die HERE se weg

2.1 Die HERE verkies Abraham

Op ‘n sekere dag het Abram besoek gekry, hoë besoek. Drie gaste het by hom opgedaag. Dit was ook nie sommer sulke gaste nie: Een van die drie was die HERE self. Tydens dié besoek het die HERE weereens sy belofte aan Abraham herhaal: Hy sal ‘n seun ontvang. Die belofte van ‘n nageslag is dusherhaal.

Na die besoek het die manne opgestaan en en gekyk na die kant van Sodom. So staan dit in vers 16. In daardie sinnetjie lê iets dreigends, iets onheilspellends. Iets vreesliks is in aantog vir daardie goddelose wêreldstad. Die donker wolke van God se naderende oordeel was besig om saam te pak teen Sodom.

En wanneer die HERE so sy oë na Sodom opslaan, begin die Hy met Homself beraadslaag: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen…? Sal Hy teenoor Abraham swyg oor sy komende oordeel oor Sodom en Gomorra?

Die antwoord daarop is ‘n beslisde, duidelik nee. Nee, Abraham moet beslis daarvan weet. En dan motiveer die HERE sy besluit so: Dit moet aan Abraham bekendgemaak word, want Ek het hom verkies...

En met daardie woordjie verkies staan ons van aangesig tot aangesig voor die leer van die uitverkiesing: God het Abraham uitverkies.

Vir verkies staan hier ‘n woord wat ook dikwels met ken vertaal word, onder andere in Psalm 1:6: Die HERE ken die weg van die regverdige. Dit is ‘n ryk en heerlike woord. Dit beteken: Hy seën hulle met sy genadige verlossing, met sy heerlike beloftes, met sy sorg, met sy ryk Woord.

Maar waartoe verkies God? En daarmee is ons by ons tweede hoofpunt:

2.2 die HERE verkies Abraham om ‘n seën te wees

Om Genesis 18 en ons teksverse goed te begryp, moet ons dit sien in verband met God se beloftes aan Abraham in Genesis 12 en spesifiek die woorde van vers 2. Daar sê die HERE aan hom: En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.

Ek vestig u aandag veral op die woorde: dat jy ‘n seën sal wees. In die oorspronklike staan dit as ‘n gevolg en as ‘n bevel:

  • Omdat hy geseën is, sal hy ook gevolglik ‘n seën wees;
  • omdat hy geseën is, moet hy ook ‘n seën wees.

Dit sê ontsaglik baie vir ons as Nuwe Testamentiese Kerk: Abraham en die volk wat uit hom gebore word, sal, ja moet ‘n seën wees vir mense. En die rede daarvoor is: Die kerk is geseënd met die Evangelie, met die Seun van God. Abraham en sy nageslag is verkies, is geken deur God. Daarom en so en as gevolg daarvan is die kerk ‘n seën. Maar nou moét ons ook ‘n seën wees deur Christus te verkondig. Is ons ‘n seën vir ons omgewing en vir ons kerkverband?

Hierdie belofte en bevel dat die kerk ‘n seën is en moet wees – om daardie opdrag draai dit in Genesis 18. Daar word tweemaal daarna (na Gen 12 vers 2 teruggegryp in die hoofstuk. Die eerste keer is vers 18.

En dan moet u sien dat dit in verband met die HERE se vraag staan: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen … ? En dan word die nee so gemotiveer: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?

Daarmee sê die HERE: Ook dit moet Abraham weet, ook van my oordeel oor Sodom … sodat hy ‘n seën sal wees.

Maar nie net Abraham moet ‘n seën wees nie. Ook die volk uit hom gebore moet dit wees.

Dit is die derde:

2.3 die HERE verkies Abraham om sy kinders te onderrig, sodat óók hulle ‘n seën sal wees

Ek het hom verkies, sodat …” Sodat! Daar is dus sprake van ‘n sodat, ‘n doel, ‘n oogmerk, wanneer die HERE uitverkies. Die HERE verkies altyd met die oog op diens. Hy kies mense uit met die oog daarop dat hulle iets vir Hom sal doen, dat hulle Hom sal dien.

Die HERE het dus vir Abraham iets om te doen. Wat dit is, sê die HERE in geen onduidelike taal nie: Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om reg en geregtigheid te doen.

Eenvoudig gestel: die HERE het Abraham uitverkies om profeet te wees en dan heel in die besonder profeet in sy huis, profeet vir sy huisgenote, vir sy vrou en sy kinders. Hy moet huisgodsdiens hou. Hy moet hulle onderrig in die dinge van die HERE. Om dit so te stel: Hy moet ‘n seën wees ook vir sy kinders.

En dan kom daar ‘n tweede sodat aan die einde van vers 19: Abraham moet huisgodsdiens hou, hy moet ‘n seën wees vir sy kinders, sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het. Dit beteken: Deurdat die kinders ook draers en uitdraers van die seën van Abraham is – langs die weg sal die HERE sy belofte van ‘n seën-wees in vervulling laat gaan.

Dit is die tweede teruggryp na Genesis 12 vers 2.

Hierdie gedeelte bevat ‘n groot les ten opsigte van huisgodsdiens vandag.

Ons word deur die Here uitverkies nie maar net om salig te word en salig agteroor te sit in die trein op weg na die nuwe aarde nie. Ons word nie verkies om niks te doen nie, maar God verkies ons tot diens, om iets te doen vir Hom. En een van daardie take is om die evangelie oor te dra aan die volgende geslag, sodat ook hulle ‘n seën kan wees. Doen ons dit nog? Staan die huisgodsdiensaltaar nog in u huis?

Let wel: Abraham as gesinshoof ontvang die opdrag. Hy as vader kry die bevel. Hy moet dit doen. Hy moet die leiding gee. Ons as vaders mag dit nie aan ons gesinne oorlaat om dit maar self te doen nie. Ons het die plig van die HERE gekry en ons het daardie eis nie nagekom as ons elkeen maar op hulle eie uit die Bybel laat lees en as ons ons kinders aan hulself oorlaat om die katkisasie onder die knie te kry nie.

Dit is verder opvallend hoe Abraham se taak omskryf word. Want daar staan nie opvoed nie, maar heel opmerklik beveel: … dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel
sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou…”.

U vra dus nie u kinders vriendelik om hierdie of daardie woord van God te eerbiedig nie, maar u beveel dit. Dié woordjie spel een ding: u het gesag. En daardie gesag kom van bo-af. God het dit vir u gegee. Want Hy sê immers in hierdie teks dat Hy aan Abraham en alle ouers die opdrag gegee het om hulle kinders te beveel. Agter u gesag as ouers staan daarom die HERE self in eie persoon.

Kinders, sien julle nog die HERE agter julle ouers staan? En sal julle daarom onthou dat opstand teen julle ouers opstand is teen God self?

Ons moet ons kinders beveel. Helaas is hierdie Bybelse eis nie meer die standpunt van die moderne ouer nie. Ons voel eerder: ons kinders moet vrygelaat word. Hulle moet self kan kies wat hulle wil doen en wat hulle nie wil doen nie. So ‘n standpunt klink baie liefderyk, maar dit is dit allermins. ‘n Ouer wat toelaat dat sy kind op die verkeerde pad gaan en op ‘n heillose weg teen God se gebooie in, is allermins ‘n liefdevolle, goeie ouer.

Maar ons kom by die vierde: die inhoud van ons onderrig. Wat moet ons ons kinders leer? En dan sien ons:

2.4 die HERE verkies Abraham om sy kinders te onderwys in die weg van die HERE

Ons sal by ons kinders moet tuisbring dat daar maar een weg is en dit is nie die weg van die wêreld of die weg van ons eie hart of wat onsself goeddink nie. Die HERE sê aan Abraham baie presies wat daardie regte pad is: dit is om geregtigheid en reg te doen. Eenvoudiger gesê: dit is om ons te laat lei deur die gebooie en die woorde van die HERE.

Ons mag en moet ons kinders vertel van die groot dade van die HERE. Ons moet hulle bekendmaak met God, Wie en Wat Hy is. Ons moet vir hulle sê dat Hy groot en heilig en heerlik is, dat Hy beklee is met mag en majesteit. Ons moet hulle ook vertel dat Hy genadig en barmhartig is, dat Hy lankmoedig en geduldig is en groot van verbondsliefde. En ons mag met vreugde aan hulle verkondig dat God ryk is in vergiffenis.

Maar daar is ook nog iets van God wat ons kinders moet weet en dit kom ter sprake in ons voorgelese gedeelte. Die HERE wil naamlik Abraham op hoogte stel van iets. Daar is iets wat Hy nie vir hom wil verberg nie. Abraham moet dit weet.

Abraham moet kennis dra van God se toorn en gerig oor Sodom. En dit staan in die allernouste verband met die opdrag wat hy van die HERE ontvang naamlik. dat hy sy kinders moet vertel van die weg van die HERE. Want in die ontsaglike uiteinde van Sodom laat die HERE sien wat die uiteinde is van almal wat daardie weg verlaat.

Ons mag nooit halwe waarhede aan ons kinders vertel nie. God is liefde. Dit is waar. Maar God is nie net liefde nie. Hy kan Hom ook vertoorn. So is God! Ouers, vertel dit aan u kinders!

Ons moet beslis weet; Hy is ‘n God wat nie doof is vir die roepstem van ons sonde nie, want in vers 20 staan daar: Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot … In ‘n groot stad is daar baie geraas. Daar is byvoorbeeld die gebruiklike straatrumoer: die gepraat en geskreeu van mense en die geluid van voertuie. Wat kon ‘n mens nie alles hoor in die strate van Sodom nie: die skaterlag en die skreeu van angs, die geboortekreet en die doodsnik. Dit is eintlik ‘n geroesemoes van geluide wat die strate en die pleine vul. Maar nou spits die HERE sy ore vir ‘n geluid, ‘n roep wat onophoudelik tot Hom kom. Wat se geroep is dit? Waarom roep dit so luidkeels? Dit is die roep van die sonde! Dit roep om straf. Meermale in die Bybel word die sonde so voorgestel: as ‘n roepstem wat ten hemel klim en roep om God se verbondswraak. Dit is ‘n roepstem waarvoor God nie hardhorend is nie. Daarvan is die verskriklike lot van Sodom vir ons ‘n waarskuwende voorbeeld … ‘n voorbeeld om oor te vertel.

En nou was Sodom ‘n heidense stad, wat minder van God geweet het as ons. Ons weet meer as hulle. Ons het die Bybel, Gods heerlike evangelie. Maar weet u dat daardie groter kennis ons verantwoordelikheid des te groter maak? Want moenie vergeet dat Jesus self vir die kerk van sy tyd gesê het: dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle nie. En daarmee het Hy bedoel: as ons sondig teen ons beterwete in en sondig terwyl God se genade in so ‘n ryk mate ons aangebied is, ontvang ons ‘n soveel swaarde straf.

Die HERE self ag dit noodsaaklike kennis: sy straf oor die sonde. Dit is in die oë van God absoluut nodige kennis om ‘n seën vir die nasies te kan wees. En tog, tog is daar by geleerdes en kerke die opvatting dat ons nie meer daaroor mag praat of preek nie. Dit is Ou Testamenties – ‘n God van verbondswraak. Die Nuwe Testament verkondig na hulle mening God as ‘n God van liefde. Daarom is die Wraakpsalms so ongewild as wat maar kan kom.

Maar om die oordeel van God te verkondig, het alles te make met ons opdrag om ‘n seën te wees. As ons verloregaande wêreld ongewaarsku verlore laat gaan, is ons allermins ‘n seën. Dan is ons ‘n vloek.

Ons hoor meermale in die Bybel dat die sonde roep na God. Aan Kaïn sê die HERE: die stem van die bloed van jou broer roep van die aarde af. So weergalm ook ons sondes tot in God se hemelse paleis en dit kom tot voor sy regterstoel. Geeneen van ons sondes gaan by Hom verby onopgemerk nie.

Maar genadiglik is daar nog ‘n ander roepstem. Dit moet u ook aan u kinders vertel. En daarvan lees ons in Hebreërs: die bloed van Christus wat van beter dinge praat as die bloed van Abel. Want die bloed van Abel roep om straf, maar die bloed van Christus pleit om vergiffenis. Ouers, leer u kinders om agter daardie bloed te gaan skuil met hulle sondes. Dan is hulle veilig teen die ewige gerig van God, waarvan Sodom maar ‘n klein afskaduwing was.

Nee, die bloed van Christus kan nooit ‘n verskoning wees om nou maar aan te hou sondig nie. Wie meen hy kan nou maar onbekeerd voortleef, Christus het immers alles betaal … hy het reeds die skuilplek van die bloed van die kruis verlaat. Hy staan onbeskermd op die dag van Christus se wederkoms.

4 Slot

Op u as ouers rus die dure plig om u kinders te leer:

  • van genade en van liefde, maar ook van oordeel en gerig.

Op ons rus die ernstige verantwoordelikheid om hulle te wys op:

  • Jesus Christus – die weg en die waarheid en die lewe;
  • maar ook daarop dat Hy weerkom as Regter.

Op ons rus die verantwoordelikheid om vir die wereld ‘n seën te wees deur verlossing en oordeel te verkondig.

AMEN.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s