Reeks Abraham 11

Lees: Genesis 22

Teks: Genesis 22:1, 10-13

Datum: 19 Augustus 2012

Psalms: 84:1,2; 116:1; 116:2,3; 116:4,5,10; 118:11,13

1. Inleiding

Ons kom vandag by die hoofstuk in die geskiedenis van Abraham, wat ons die klimaks, die saamtrekpunt, die ontknopingspunt van die hele geskiedenis van Abraham kan noem:

  • God laat hier sien hoé Hy sy belofte van ‘n groot volk soos die sterre aan die hemel in menigte gaan realiseer: Hy gaan dit doen deur die plaasvervangende offer van Christus; maar
  • Hy openbaar ook aan ons dat die geboorte van die kerk, dat sy beloftes nie losgemaak kan word van ‘n lewende geloof, ‘n geloof wat in geloofsdade uitkom nie.

Ek staan stil by die volgende hoofgedagtes:

  1. Die HERE toets Abraham se geloof
  2. Abraham se geloofsantwoord op die toets
  3. Die HERE openbaar die uitkoms van die toets

2.1 Die HERE toets Abraham se geloof

Ons moet altyd mooi luister na elke woord wat daar in die Skrif staan. Die geskiedenis van die offerande van Isak begin met die sin: Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel. Dit is ‘n sleutelvers tot die verstaan van dié geskiedenis. Dit sê vir ons waaroor dit in hierdie hoofstuk gaan: Die HERE gaan Abraham se geloof op die proef stel, dit toets.

Hierdie beproewing vind volgens vers 1 ook op ‘n baie spesifieke tydstip plaas: ná hierdie dinge. Dit is eweneens veelseggend. Want dit wil sê: Nadat daar sekere dinge in die lewe van Abraham plaasgevind het – toé het dit gebeur God Abraham op die proef gestel. Dit is belangrik dat ons moet weet wat hierdie dinge is.

Kom ek vat dit so saam: Die hierdie dinge slaan op die geboorte van Isak. Die HERE het op so ‘n heerlike wyse sy belofte aangaande die beloofde saad, die saad in wie al die geslagte geseën sal word, vervul: Uit die dooie moederskoot van Sara en uit die verstorwe liggaam van Abraham het God die geboorte, die lewe van die kerksaad geskenk. Wat ‘n Godswonder, wat ‘n skeppingswonder: Uit die niks, uit die dood het die kerk tevoorskyn gekom deur die krag van die HERE se Beloftewoord. Dit is wat bedoel word met hierdie dinge.

En nou: Juis
ná hierdie dinge, toé het dit gebeur dat die HERE as ‘t ware met een slag die gebou van Abraham se hoop ineen laat stort het. Plotseling, terwyl Abrahan hom nog verlustig het in die seun van die belofte, het die bevel van God soos ‘n bliksemstraal uit die hemel gekom: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer … (v 2)

Dit is opvallend met hoeveel nadruk die seun van Abraham beskryf word: … jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak. Om die betekenis van hierdie bevel en woorde te begryp, moet ons weet: Isak was nie maar net ‘n gewone seun nie. Hy was die seun van die belofte, hy was die saad in wie al die geslagte van die aarde kragtens God se belofte geseën sou word, hy en niemand anders nie: nie Eliëser nie, nie Ismael nie, maar net Isak, hy was die enigste. Hy was die seun in wie die heil van die hele wêreld opgesluit gelê het. Uit hom sou immers eendag die groot Saad, die Christus, gebore word.

Daarom skryf Calvyn ook so treffend hierby: Nie alleen Abraham se verlies as vader het hom diep hartseer gemaak nie. Nee, maar dit was veral die feit dat deur die dood van Isak die hele heil van die wêreld skynbaar uitgeblus sou word en sou wegsterf.

Die toets wat God Abraham opgelê het het dus hierin bestaan: Hy het ‘n belofte verkry, wat hom so ontsaglik bly gemaak het. Nou kry hy egter daarteenoor ‘n bevel, wat skynbaar die belofte tot niet sal maak. Dit lyk dus asof daar ‘n vreeslike teenstrydigheid is in God se Woord: tussen God se belofte enersyds en sy bevel andersyds: Neem Abraham die bevel ernstig op, word die belofte in Isak tot niet gemaak. Neem hy die belofte ernstig op, is daar skynbaar geen plek vir die bevel nie.

Maar die proef bestaan juis daarin dat Abraham die héle
Woord
moet vashou: die beloftewoord sowel as die bevelswoord; dat hy ondanks die skynbaar teenstrydige bevel, nogtans moet glo dat God sy belofte sal hou.

Vers 1 sê dat God Abraham op die proef gestel het. Met die woord beproef word bedoel: om iemand te toets om te
weet of hy werklik is wat hy voorgee om te wees. In die Skrif word die woordjie weet dikwels na die woord beproewing bygevoeg. Dink maar aan Deuteronomium 8:2, waar die HERE vir Israel sê: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou … beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.” Dit kry ons nou óók in hierdie geskiedenis, want in vers 12 sê die HERE: … nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.

Dit was dus die bedoeling van die beproewing – om dit in die woorde van vers 12 te sê: Abraham moes in sy werke toon dat hy God vrees. Met die vrees van God word bedoel: dat Hy God liefhet, dat hy sy Woord liefhet, God vertrou en glo. En daardie vrees word verklaar in die tweede helfte van vers 12: dat jy jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. Daarin moet sy Godsvrees gestalte vind.

Jakobus 2:21-22 sê: Abraham se geloof het volkome geword deur sy werke toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie. Dit beteken nie dat sy werke hom geregverdig het nie, maar dat sy geloof volkome geword, wil sê: Dit het tot sy volle uitdrukking gekom.

En daarmee is ons reeds by die tweede hoofgedagte:

2.2 Abraham se geloofsantwoord op die toets

God spreek en Abraham gaan. Ook hier is dit die Woord wat hom in beweging bring. Ook hier is die Woord die dryfkrag. So is dit altyd: As God deur die krag van sy Woord op ons hart beslag lê, doen ons wat Hy sê, hoe moeilik dit ook al mag wees. Ons sal ook in die verdere verloop van die geskiedenis dit sien: die krag van die Woord. Deur die krag van die Woord word die geloofsgehoorsaamheid, die vrees van God, die werke van die geloof gebore.

Dit is baie opmerklik wat Abraham in vers 5 vir sy dienaars sê toe hulle by die berg Moria aankom: “Ek en die seun, ons wil daarheen gaan en aanbid en dan sal ons na julle terugkom.” Die ons staan in die grondteks: “Dan sal ons na julle terugkom” – ek én Isak.

Ons mag nie aanneem dat Abraham vir sy knegte gejok het dat ook Isak sou terugkeer nie. Trouens, hy was nie eens verplig om iets vir sy diensknegte te sê nie. Waarom stel Abraham dit dan so uitdruklik hier? En waarom is dit in die Heilige Skrif opgeneem?

Ongetwyfeld het ons hier met ‘n geloofsbelydenis te doen. Abraham het bly vashou aan die belofte van God dat uit Isak ‘n groot volk gebore sal word. Hy het die belofte vasgehou
én hy het die bevel gehoorsaam. In Hebreërs 11 vers 17 en 18 word nader vermeld wat in Abraham se gedagtes omgegaan het: Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word” En dan staan daar: Want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek.

Ons sien hier by Abraham dus wat ons kan noem opstandingsgeloof. God se leerskool met hom het hom reeds geleer dat God se belofte op wonderlike wyse in vervulling gaan: Isak is immers eers gebore toe toe sy eie liggaam en die moederskoot van Sara reeds verstorwe was (Rom 4:19). Ook toe het hy bly glo in God, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan (Rom 4:17) – en hy het die waarheid daarvan gesien. Ons mag glo dat hierdie geskiedenis ook by Moria sy dryfkrag en drakrag was. Dit is sekerlik nie te veel gesê om dit soos volg te stel nie: Die HERE se heilsgeskiedenis met hom was sy Bybel. Uit God se werke met hom in die verlede en uit sy Woorde aan Hom het hy God so leer ken. Ons sal Genesis 22 nooit kan losmaak van Genesis 11 tot 21 nie en trouens ook nie van Genesis 1-10 nie. Abraham het sy God uit sy Woord geken en daaruit is sy geloofswerke gebore en geskep.

Die na hierdie dinge van vers 1 kan ons dus ook veel wyer sien: Na hierdie dinge, na al sy werke en Woorde aan Abraham het die HERE Abraham op die proef gestel – nadat die HERE Hom goed toegerus het met sy openbaring!

2.3 Die HERE openbaar die uitkoms van die toets

Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag (Gen 22:9-10).

Vir die derde keer in die geskiedenis van Abraham hoor ons van ‘n seremonie met
‘n
mes:

  • Die eerste keer was in Genesis 15, toe die HERE sy verbond met Abraham opgerig het. Toe moes Abram diere in twee sny en die twee helftes teenoor mekaar sit.
  • Die tweede keer was met die besnydenis in Genesis 17.

Beide seremonies wys onder andere na die oordeel van die verbond:

  • Wanneer die twee partye in die verbond tussen die in twee gesnyde diere geloop het, het hulle verklaar: Ek mag soos hierdie diere in stukke gekap word as ek die verbond nie hou nie.
  • Die besnydenis het dieselfde betekenis gehad. Die voorhuid, wat met ‘n mes afgesny is, het die hele man, die hele mens verteenwoordig. Daarmee is gesê: As ek die verbond nie hou nie, mag ek, die hele mens, afgesny word van die verbond.

Daarom word in Hebreeus o.a. in Genesis 15:18 letterlik gepraat van ‘n verbond sny. En in Genesis 17:14 sê die HERE: En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei – uitgesny – word: hy het my verbond verbreek. Dit verwys na die seremonie met die mes.

Dit is ter wille van die verstaan van die Moria-gebeure belangrik om die verband met Genesis 15 en 17 te sien. Wanneer Abraham die mes oplig om Isak te slag, is dit – om dit so te sê – die oordeelsmes van die verbond. As dit van die mens afhang, sal daar geen nageslag, geen groot volk, geen kerk wees nie. Geen mens kan immers die verbond volmaak hou nie. Daarom moet Isak en sy hele nageslag – ook ons – van die verbond afgesny word.

En nou gaan dit gebeur. Abraham maak gereed om Isak af te sny. Maar … op daardie oomblik toe Abraham die mes lig, het daar ‘n wonder gebeur. … die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! … Moenie jou hand na die seun uitsteek nie (vv 11-12).

Uit die verband is dit baie duidelik dat hierdie Engel van die HERE Niemand anders is as God self, wat in vers 1 met Abraham gepraat het nie. Die Engel verklaar immers uitdruklik aan Abraham: … nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. En in vers 16 sê die Engel dit nog duideliker wanneer Hy verklaar: Ek sweer by Myself, spreek die HERE

In die Gereformeerde teologie is dit daarom altyd so verstaan, dat hierdie Engel van die HERE niemand anders as die eie Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte is nie.

Hy bring ook hier alreeds die uitkoms. Want … toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer (v 13).

Hier moet weer op Genesis 15 en die vervulling van Genesis 15 in Genesis 22 gewys word. In Genesis 15 het iets wonderliks gebeur: In plaas dat Abraham saam met die HERE tussen die stukke diere deurgeloop het, het die HERE alleen tussen die stukke deurgegaan. Daarmee sê die HERE: Hy neem dus die volle verantwoordelikheid vir die verbond en die die vervulling van die verbond op sy skouers. Dit sluit dus ook die oordeel oor verbondsbreuk in. Hy sal liewer afgesny word.

Dit sien ons gebeur in die voorsiening van die ram in die plek van Isak. Dit wys op die plaasvervangende offer van Christus. En in Jesaja 53 vers 5 en 8 lees ons inderdaad hoe die HERE die oordeel op sy Seun laat neerkom het: “… die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom … en … wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes?” Hoor u weer die afsny? Die vervulling van die seremonie met die mes?

In Genesis 22 vers 15 tot 18 kom die stem van Christus vir die tweede keer tot Abraham: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel
… omdat jy na my stem geluister het. Daarin hoor ons weer die belofte van Genesis 15 vers 5 terug: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.

Hier in Genesis 22 word die vervulling van die belofte verbind aan Abraham se geloofsgehoorsaamheid: … omdat jy na my stem geluister het. God se beloftes eis van ons geloof. Maar die beloftevervulling het ook alles te make met die ram in die plek van Isak. Want in Jesaja 53 vers 10 word van Christus se afsny in ons plek gesê: As sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien. Dit sal die resultaat wees van die kruisoffer: dat die beloofde saad sal kom, die kerk.

3. Slot

Die kerk, die volk soos die sterre van die hemel in menigte, word gebore deur die kruis, deur die plaasvervangende offer van Christus.

Maar die belofte van die groot volk kan ook nooit losgemaak word van die daadgeloof in die enige offer van ons Here Jesus Christus nie.

Beide moet in die geloof vasgehou word: belofte en eis van die verbond. Geloof is om te buig voor die hele Woord van God: dit wat Hy beloof én dit wat Hy vra.

En dié geloof word gebore deur die krag van die Woord. AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s