Isak Preek 4

Die geboortegeskiedenis van Isak

Reeks preke oor die openbaring van die HERE se verbond en uitverkiesing in die geboortegeskiedenis van Isak

Dr AH Bogaards

2012

 

Preek 4

Lees: Gen.26:34-28:10; Heb.11:20

Teks: Heb.11:20 (Isak: nr.4)

Datum: 14 Oktober 2012

Psalms: Ps.103:1,2; Ps.103:3,4; Ps.103:5,6; Ps 118:11; Ps.103;8,9,10,11

1. Inleiding

God se kerk word gebore, maar dit is alleen danksy Christus. As u my vra: Wat is wedergeboorte (geboorte), dan sê ek vir u: Jeus, sy werk, die Woord!

God se kerk word gebore, maar dit is alleen danksy sy werk en ondanks kerkmense se teëwerking en ongeloof.

  1. Ongeloof van Isak en Rebekka en God se wil
  2. Isak tot geloof in God se wil gelei
  3. Esau verwerp God se wil

2.1. Ongeloof van Isak en Rebekka en God se wil

Isak het oud geword. Sy oë was swak, sodat hy nie meer kon sien nie. Wanneer sy sterfdag sou kom, was vir hom onseker. Waarskynlik het hy gemeen dat dit nie meer ver kon wees nie. Daarom het hy gevoel: Nou is die tyd ryp om Esau te seën.

Esau – ja, hy is dit, hy moet die seën ontvang. Hy is immers die eersgeborene. Boonop was hy Isak se gunsteling. Kragtens daardie seën sal hy die draer word van al die groot beloftes van die HERE. Uit hom sal die Christus, die Messias, gebore word. In Esau sal al die geslagte van die aarde geseën word. So het Isak in ieder geval gemeen. Dit was sy wil.

Juis daarin kan ons sien dat Isak nie alleen fisies blind was nie. Hy was ook geestelik blind. Hy was blind vir God se Woord en wil. Want immers: Voor die geboorte, toe die twee kinders in Rebekka se skoot teen mekaar gestamp het, het God sy wil oor hulle bekendgemaak: …die oudste sal die jongste dien (Gen 25:23). Vanselfsprekend sou Rebekka hierdie openbaring – hierdie Godswoord – nie vir haarself gehou het nie. Isak was dus bekend met God se wil. Maar hy verset hom daarteen. Hy wil hom nie daaraan onderwerp nie. G’n mens wil dit van nature doen nie!

Dit is verder baie veelseggend dat, net voor hierdie besluit van Isak om Esau te seën, vertel word van Esau se huwelike (Gen.26:34-35). Met nadruk word vermeld dat hierdie twee vroue Hetiete was. Hulle was dus heidene. Boonop sê die Bybelskrywer: En hulle was vir Isak en Rebekka ‘n bitter verdriet. Dit sal sekerlik gewees het, omdat hulle nie gelowiges was nie. In sy huwelikskeuse kom Esau se minagting vir die verbond na vore. Eers het hy sy eersgeboortereg verkoop en nou nog dit.

En so iemand wil Isak jou werlik waar nou seën! Die goddelose Esau!

Isak laat hom nie lei deur die Woord nie, maar deur sy menslike voorkeure. Hy laat hom lei deur sy mond, sy smaaksintuie. Want in Genesis 25 (v.28) staan: Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak. En hier hoor ons weer: ….jag vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê… (vv.3-4). Daarin was Esau ‘n regte aartjie na sy vaartjie. Want hy verkoop vir ‘n pot lensiesop, om sy mond ontwil, sy eersgeboortereg.

Isak se geloofslewe vertoon hier ‘n uiters diep laagtepunt.

En Rebekka, sy eggenote? Was sy beter?

Ja, by haar is dinge in sekere opsigte anders. Sy werp alles in die stryd dat Jakob die seën moet ontvang. Daaruit blyk dat sy erns maak met die Woord van God aan haar: …die oudste sal die jongste dien. Laat U wil geskied – dit was haar lewenshouding.

Maar dan die negatiewe by haar: Laat U wil geskied, maar ….. ek sal sorg dat U wil geskied. Want: sy span menslike lis en bedrog in om te verseker dat Jakob en nie Esau nie geseën word. Sy sal God ‘n handjie help dat dinge in die kerk loop soos dit moet loop.

Dít is Rebekka se sonde. Dit is niks anders as ongeloof nie. Sy moes geglo het dat God se Woord self sy werk sal doen, die Woord dat die oudste die jongste sal dien. Met daardie Godswoord moes sy na Isak toe gegaan het en hom en Esau daarmee gekonfronteer het. Dit was haar roeping. Sy moes daardie Woord laat werk het. Maar nou wil sy self werk en doen wat God alleen kan doen. Sy het die kragtigste wapen denkbaar gehad: die HEER se Woord wat skeppingsmagtig is, wat lewe uit die dood gebied. Maar sy maak vlees – menslike lis – haar arm.

Erg, nie waar nie? En dit word nog erger as ons daaraan dink dat sy Jakob, haar kind, in haar val meesleur. Hy moet haar help in die uitvoering van haar sondige planne.

Wat ‘n moeder! Wat ‘n vader! Wat ‘n kinders! Ja, wat ‘n kerk!

En hoeveel keer probeer ons nie die kerk en ons kinders en ons samelewing verander nie deur menslike planne en truuks. Hoeveel keer is ons “Woordverkondiging” eintlik ‘n Christuslose mensewoord en ons kerkregering en kerkreg ‘n Christuslose, menslike stuk wettisisme, ‘n menslike mokerhamer. Mensewoorde, mensewerk, mensehande – ons sal sorg dat God se wil geskied.

Wat sal van die kerk word as dit in mensehande was en as as dit van mense afhanklik was!

Maar die kerk is nie in mensehande nie. MAAR DIT is die EVANGELIE: Die is in die almagtige Verbondsgod se almagshande. Hy sal sy wil laat geskied ondanks menslike onwil. Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Hy sal sy Woord in vervulling laat gaan. En daarin het Hy ons werklik nie nodig nie.

As dit van Isak afgehang het, sou die goddelose Esau die draer van God se beloftes geword het. Wat sou dan van God se kerk geword het? Maar God laat die planne van Isak op die rotse loop. Deur menslike lis word Jakob geseën. Dwarsdeur menslike sonde heen, laat God sy wil geskied. Rebekka en Jakob se sonde was nie God se skuld nie, maar tog gebruik God hierdie gebeure om sy wil te laat gebeur.

Maar ons sien nog iets. Ons hoor ook hoe die HERE

2.2. Isak tot geloof in God se wil lei

Isak se onwil om te buig voor God se wil word in donker kleure geteken. En as hy uiteindelik wel Jakob seën soos God dit wil, is dit alleen omdat hy deur Jakob bedrieg is.

In ons teksvers kom ons egter voor ‘n enorme probleem te staan. Want daar lees ons: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms (11:20). Dit is vir ‘n mens onbegryplik. Hoe kan die skrywer van die Hebreër-brief Isak ‘n plek gee in die gallery van (sogenaamde) geloofshelde soos Abel, Henog, Abraham, en die ander?

Nee, dat Isak ook deur die geloof dinge gedoen het, dit is nie die probleem nie. Maar wat onbegryplik is, is dat juis hierdie daad van hom, dat hy Jakob seën in die plek van Esau,as geloofsdaad van Isak vermeld word: hierdie ding dat hy Jakob en Esau geseën het. Juis dit is vir ons totaal en al onbegryplik! Immers, Isak wou juis nie vir Jakob seën nie. Hy wou nie buig onder God se wil nie. En wanneer hy dit wel doen, word hy soos ‘n blinde perd daarin gelei, nie deur geloof nie, maar deur lis.

En tog sal ons dit moet glo dat Isak deur die geloof Jakob en Esau geseën het. Immers, Niemand minder as God self sê dit in die Hebreër-brief.

In die lig van ons teks wil ek daarom hierdie geskiedenis vir u verklaar:

Sekerlik, daardie oomblik wanneer Isak Jakob seën, is daar van geloof in God se wil geen sprake nie. Wat hom betref is dit Esau, wat voor hom staan.

Maar dan kom die oomblik van waarheid: Die regte Esau stap in die tent in. En hy skreeu van woede as hy hoor wat Jakob gedoen het. En wat is Isak se reaksie dan? Ek het …hom ( Jakob) geseën – ook sal hy geseënd bly! Isak is oorweldig deur die Heilige Gees. Daarom sê hy verder vir Esau: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel…”. Daarin hoor ons die Woord van God aan Rebekka: Die oudste sal die jongste dien. Dan buig Isak daadwerklik deur die krag van die Woord – en op geen ander wyse nie.

Isak se smaak vir wildsvleis het plek gemaak vir smaak vir God se Woord. Die blinde Isak kan weer sien.

God is groot. God is goed. Hy handel met ons nie na ons sondes (nie) (Ps 103). Deur die bloed van Christus trek Hy ‘n streep deur die sonde van Isak. En dan, ja dan skryf God in die plek daarvan: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën. In plaas van die sonde van Isak voor die terugkoms van Esau, skryf God dus Isak se geloofsdaad van na die koms van Esau op. Want So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Ps 103). God doop sy pen in die die bloed van die Lam en dan skrywe Hy: Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën.

God is groot. God is goed. Hy laat ons nie staan in ons ongeloof nie, maar Hy buig ons wil om na sy wil. Isak buig hom deur die onweerstaanbare genadekrag van God onder God se wil, maar

2.3. Esau verwerp God se wil

‘n Mens lees so maklik oor die diepte van die tragedie wat hom hier afspeel wanneer Esau te hore kom dat Jakob geseën is. Kom ons kyk daarom met groot aandag daarna:

In Hebreërs (12:17) lees ons dat Esau toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.

Sy trane was krokodiltrane. Dit was trane sonder berou.

Waarin sou egte berou dan bestaan het? As hy hom sou onderwerp aan God se beskikking: Die oudste sal die jongste dien. Erkenning van Jakob as die geseënde van die HERE – daarin sou Esau se heil lê. Op Jakob het nou die seën van Abraham oorgegaan: …in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word (Gen 12). Jakob sal nou draer van God se verlossingsboodskap word en uit hom sal die Verlosser gebore word. Daarom sal in Abraham en Jakob al die geslagte van die aarde geseën word. Berou beteken dus: Dat Esau by die tente van Jakob sy heil sal gaan soek, dat hy sal leef van die seën wat God aan Jakob skenk.

Maar juis dit wil Esau beslis nie doen nie. Hy wil met Jakob en die seën van Jakob niks te make hê nie. Daarom vra hy van sy vader ‘n ander seën. Dit is: ‘n seën buite die seën van Jakob. Dit wil ten diepste sê: buite Christus.

Jakob is die geseënde saad. Esau word ‘n vervolger van die geseënde saad. Want aan die einde van hierdie hoofstuk sien ons hom ‘n moordenaars vuis teen Jakob bal: Wag maar totdat vader Isak dood is, dan sal ek my broer Jakob – die draer van God se seën – doodmaak. En daarmee stamp hy teen sy broer, soos hy reeds gedoen het in die moederskoot (25:22).

Esau se berouloosheid kom verder daarin na vore dat hy na hierdie gebeure vir hom nog ‘n vrou buite die verbond vat: ‘n dogter van Ismael (28:8-9). By Esau is daar verharding in die sonde. Dat Esau, die verbondskind, daarom deur God verwerp is, was volkome regverdig. Dit was sy eie skuld. Esau se goddelose huwelike vorm die omraming van hierdie geskiedenis en verklaar hierdie geskiedenis: Dit begin met sy huwelike met die heidense dogters van Het (Gen 26:34-35) en dit sluit af met sy huwelik met die dogter van Ismael (Gen 28:9) – dit laat sien sy houding teenoor die verbond en sy minagting vir God se seën.

En Jakob? Het hy sy uitverkiesing aan homself te danke gehad? Nee, hierdie geskiedenis laat ons duidelik sien: Sy verkiesing was nie uit die werke nie, maar louter genade. Op die vraag waarom die HERE Jakob dan wel kies, is daar maar net een antwoord: in Christus. Dit wil sê: Danksy Christus en ondanks homself.

3.Slot

‘n Kerkgebou verrys hier in Genesis….maar dit verrys op die hoeksteen Christus.

‘n Kerkgebou verrys, maar … dit is slegs deur God se alvermoë.

Dit is presies wat Psalm 118 vers 11 (berymd) ons leer: Die kerk,

Die werk van godd’like alvermoë

is van God self geskied, deur wie

die wonder oprys voor ons oë;

ons sien dit, maar deurgrond dit nie.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s