Die ryk seën van 2 Korintiërs 13:13

AH Bogaards

2013

Lees: 2 Kor.13

Teks: 2 Kor.13:13

Psalms: 135:1; 38:1; 128:1,4; 134:1,2,3

1. Inleiding.

Sondag na Sondag hoor ons hierdie woorde van ons teks: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal ! Amen. Aan die einde van elke diens steek die dominee sy hande sëenend oor u uit en dan spreek hy oor u hierdie seën van 2 Kor.13:13 uit.

Maar hoor ons dit nog? Dring dit nog tot ons deur? Weet ons nog wat dit vir ons beteken? Of sou die dominee die diens ook maar kon afgesluit het met ‘n gewone groet: “Nou ja, gemeente, geniet u week en ons sien mekaar weer volgende Sondag. Totsiens dus “.

Daar is mense wat voel dat ons die vorm van ons eredienste moet verander. Ons moet vernuwe, allerhande nuwighede invoer. Dit sal die mense weer kerk toe trek.

Dit is nié die antwoord op die probleem nie. Die oplossing is eerder: dat ons tot ‘n herwaardering van die Oue (= die stokou, ewig gelde, heerlike Woord van God) sal kom, geloof in die eeue oue Woord van God.

Ons sal weer gelowig na moet dink en deurdink wat hierdie wonderlike seën van ons teks, die seën van elke dienseinde beteken: Wat ‘n weelde, wat ‘n rykdom word daarin ons nie toegesê nie! En ons ons eers onder die indruk gekom het van die skat wat in die eindseën aan ons beloof word, sal ons geen wil misloop nie.

Sodat u en ek weer die slotseën sal waardeer, daarom oordink ek ons teks met u.

Ons let dan i.v.m. die seën op die volgende:

1. WIE ons seën;

2. WAT die seën behels; en

3. WIE geseën word.

Dit gaan dus om die Seëner, die seën en die geseëndes.

2.1. WIE ons seën.

Ons is gewoond om ons briewe af te sluit met woorde soos: die uwe: Of: met hartlike groete, ens. Maar Paulus doen dit op ‘n ander manier, wanneer hy aan die gemeente van Korinthe skryf. Aan die slot van sy brief sê hy die kerk aldaar die seën van die Drie-enige God toe: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal. Amen “.

Ek sê: Paulus sê die Korinthiërs hierdie dinge toe. Maar eintlik sê ek dit nie reg nie. Immers, agter die apostel staan Iemand anders. Dit is die Here. Hy is die eintlike Skrywer van hierdie brief. Die Heilige Gees is die groot Bybelskrywer. Daarom is dit God self wat sy kerk van alle eeue die seën van v.13 toesê. Hy is die uitdeler van hierdie skat.

En nou ons en ons eredienste: Hierdie sulke mooi woorde spreek die predikant aan die einde van die diens oor ons uit. Maar weer sê ek dit nie reg nie. Nie die dominee sê ons die seën toe aan die slot van ons samekomste nie. Dit is die Here self! Immers, Hy spreek by monde van sy diensknegte en Hy praat met ons deur die verkondigers van sy Woord. Hy staan dus agter die dominees en hulle is instrumente in sy hande om u te seën.

Weet u dit nog: dit is die wonder van elke erediens, dat God self daar is? Ja, die Here is hier in ons midde. Ook nou. Hy het dit self beloof: Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is ek self in hulle midde. Dit is die grootse, die heerlike, die salige van elke erediens. Dit maak hierdie Sondag-samekomste van die gemeente tot iets wat ons vir geen geld ter wêreld wil misloop nie. Ons Bruidegom self is hier en niks is vir die bruid belangriker as om sy stem te kan hoor en sy vreugdevolle nabyheid te mag ervaar nie. Sien u die eredienste nog so?

‘n Erediens is dus nie bloot maar net ‘n samekoms van mense nie. U kom hierheen om God te ontmoet. Die hele kerkdiens is ‘n gesprek tussen God en sy gemeente. Hy spreek u toe in die Wet en die Skriflesing en prediking. En u as gemeente antwoord daarop met u sang en u gebede en u geloofsbelydenis.

Dieselfde geld ten opsigte van die seën aan die einde van die diens: die Here is daarin aan die woord. Die Koning van die kerk lê u sy seën op. ‘n Mens, ‘n dominee, doen dit nie. God self doen dit. Hy reik u daarin ‘n skat toe van ongekende waarde. Hy is die Seëner, die Uitdeler, die Skenker daarvan.

Ons dan kyk vervolgens na:

2.2. die seën self, d.w.s. die inhoud van die woorde. Anders gesê: wat word in die seën ons toegesê en belowe?

God self, God Drie-enig – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees – word ons aangereik. Hulle self en wat hulle doen en wil doen tot ons heil en saligheid – Hulle en Hulle heilswerk word aan ons belowe.

Waarom gaan ons kerk toe? Miskien vind u dit ‘n vreemde vraag. Maar ek sal verduidelik: daar is lidmate wat net kerk toe gaan om iets te kry: vergewing en geluk en die ewige lewe. Dié mense is meer geïnteresseerd in die goed van God as in die God van die goed. Wie met dié intensie na die huis van die Here gaan, ontvang niks nie. Ons gaan nie om iets nie, maar om Iemand te ontvang, om God Drie-enige te mag ontvang, om met Hom in gemeenskap te mag tree en die vreugde van sy nabyheid te mag beleef. En as ons Hom het, verkry ons ook ‘n onbeskryflike groot rykdom.

Ons moet dus sê: in die slotseën word nie , maar iets nie, maar Iemand ons aangereik en beloof, naamlik die Drie-enige God.

  1. Eerstens noem die apostel Paulus GOD DIE SEUN: “Die genade van ons Here Jesus Christus sy met julle almal”.

Wat is genade? Dit is onverdiende guns en goedheid; vergewing van sondes en kwytskelding van straf! In hierdie een woordjie genade is saamgevat: alles wat Christus vir ons gedoen het. Ons kan daarby dink aan sy lyding en sterwe om ons skuld te betaal, sy oorwinning oor die mag van die sonde en die duiwel en sy triomf oor die dood. Die ganse rykdom van die heilswerk van ons Borg en Middelaar word ons dus hier toegesê en aangereik. Is dit nie ‘n weelde nie?! Is dit nie ‘n rykdom nie?! En elke Sondag, met die uitspreek van die seën, word God se hand, met hierdie skat daarin, na u toe uitgesteek. En wie kan, wie wil dan nog wegbly uit die kerk? Die vraag is maar: is ons nog onder die indruk van die waarde van die geskenk wat hier ons aangereik word? Waardeer u dit nog? Dan sal u hier wees om dit te ontvang uit die hand van die Gewer.

Dit word voorts genade genoem, omdat ons dit nie verdien
het nie. Ons het geen reg daarop nie. Ons het alle reg en aanspraak verbeur deur ons sondes. Dit maak dit ‘n des te groter wonder as God dit dan nog elke Sondag aan ons wil gee. Sien u nog die wonder daarin raak? Ek bedoel ook in die feit dat die Here nog op elke rusdag u sy seën wil skenk?

Die genade van Christus word verder hier voorop geplaas in die lys van seëninge, omdat dit alleen danksy die soenverdienste van Christus is, dat ons ook die ander twee, die liefde van die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees kan smaak. Sy heilswerk is die fondament en die grondslag van die gebou van God se seëninge. Sy kruis is die fontein waaruit die liefde van die Vader en die gemeenskap van die Gees borrel. Daarom: na die kruis! Daar lê die oorsprong van ons seëninge. Daarin lê ook die waarborg en die heerlike sekerheid dat ons dit sal ontvang. Anders gesê: glo in Jesus Christus.

  1. Ons kom by die tweede seën: God die Vader. “Die liefde van God sy met julle almal”.

Toe ons in die paradys in sonde geval het, is die liefdesband van die Vader met ons afgesny. In die plek daarvan het toorn en straf gekom. Maar juis dit is die wonder van die evangelie: dat Christus daardie stukkende band kom herstel het en alles weer heelgemaak het tussen ons en God. Dit beteken: die liefde van die Vader is terug. Iets van die paradysvreugde van weleer!

Daar is niks waarna ‘n mens meer verlang as liefde nie. Nie waar nie? Ons hunker na iemand wat vir ons omgee. In ‘n harde, sondige wêreld is daar egter helaas so min daarvan. Is dit dan nie iets heel besonder as die belangrikste Persoon in die wêreld, as God self ons elke Sondag sy liefde beloof nie?

En onthou: sy liefde is dade. Hy sê u toe dat Hy u wil koetser en wil beskerm. Hy wil u versorg na liggaam en siel. Hy wil u lewe in sy hande neem en alles vir u ten goede laat meewerk. Is dit nie heerlik om elke Sondag weer daarvan verseker te word nie?

Vir ‘n kind is dit belangrik om te weet: pa is lief vir my. ‘n Kind wil dit ook hoor! Weet julle dit nog, vaders? So kan ‘n kind van God ook nooit genoeg daarvan kry om dit telkens weer te hoor nie: my hemelse Vader is lief vir my! In liefdelose wêreld vol haat en pyn en eensaamheid, waar mense mekaar aan die kele gryp verwaarloos, is daar tog, tog nog Iemand wat werklik vir my omgee en my werklik liefhet: my hemelse Vader. Ja, Hy belowe my dit elke Sondag. Wil u dit ook elke keer maar weer hoor? Klink dit vir u soos hemelse musiek in u ore: die liefde van die Vader sy met julle? Dan sal kerkgang vir u steeds ‘n vreugde en ‘n verlange van u hart wees!

  1. En nou die derde deel van die ryk seën: die Heilige Gees. “Die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal”, sê die apostel.

Die gemeenskap van die Heilige Gees is eweneens ‘n vrug van die genade van Christus. Hy het die Heilige Gees vir ons verwerf en op Pinksterdag op ons, sy kerk, uitgestort.

Ook hierdie weldaad kan ons nie mis nie. Immers, die Heilige Gees is die een wat ons die geloof skenk. En deur die band van die geloof verbind Hy ons aan God en Christus. Hy is die Een wat ons deur die gawe van die geloof inlei in die skatkamers van Christus. Daar is niks wat Hy liewer doen as dit nie: om ons na Christus te neem en Christus aan ons te toon nie. Hy open ons oë vir die liefde van God in die gawe van sy Seun. En Hy verlig ons verstand om die Skrifte, wat van Christus getuig, te verstaan.

As ons die Gees van God nie het nie, bly ons buite staan. Dan gaan ons nie in in die skatkluis van Christus se genadegeskenke en goedheid nie. Want dan verlang ons nie daarna nie en ons waardeer dit ook nie.

Maar weereens, dit is die wonder van die slotseën van elke diens: die Gees word ons daarin aangereik. Hy word aan ons beloof.

Vir die Heilige Gees mag en moet ons ook bid. Dit kom as ‘n bevel en ‘n belofte in Lukas 11:9-13: Luk 11:9 En Ek sê vir julle: Bid (BEVEL), en vir julle sal gegee word (BELOFTE); … Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; … En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee … As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

 

In die seën gaan dit dus oor God: oor die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hulle is die inhoud en die weelde van die seën wat u telkens weer mag hoor.

En dan eindig die seën van vers 13 met die woordjie Amen. En ons moet dit goed begryp: dit is God se Amen. Hy sê dit. Dit is sy woord. Dit is deel van sy seën. Daarmee sê God Self: dit is waar en vas en seker wat Hy in sy seën beloof. Hierdie amen spreek God uit om ons ontwil, ter wille van ons kleingeloof en ons twyfelmoedigheid.

Maar met die Amen is ons ook weer terug by die begin van die seën: die genade van ons Here Jesus Christus. Daarin lê die oorsaak en die sekerheid en die vastigheiud en die ontvangs van die beloftes in die seën. IMMERS … hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Vhristus is hulle ja en in Hom amen – deur die geloof in Hom. (2 Kor 1:20).

Maar ons kom by die laaste:

2.3. wie geseën word.

Onder hierdie punt gaan dit oor die ontvangers, die geseëndes, hulle wat mag deel in die rykdom waarvan 2 Kor.13:13 praat.

Paulus laat ons nie in die onsekerheid oor wie hier aangespreek word nie: ” Die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle ALMAL “. Dié seën is bedoel vir almal. Dit is die hele gemeente van Korinthe en alle gemeentes deur alle eeue heen.

En wanneer die Here aan die einde van die diens die gemeente van D. aanspreek, sê Hy dit ook vir u: dit is bedoel vir elkeen van u. Met die slotseën steek die Here sy hand na elke lidmaat, hoof vir hoof, uit en reik u sy rykste seën toe. En die Here bedoel dit ernstig : hier, hier is dit en dit is ook vir u bedoel, ja, ook vir u. Geeneen van u hoef uitgesluit te voel nie. Dit is vir almal. En die Here bedoel dit opreg. Hy wil dit aan u gee. Hy wil hê dat u dié skat in ontvangs sal neem. U hoef nie daaraan te twyfel nie. God kan immers nie jok nie. En hier staan dit: ALMAL!

Maar beteken dit nou dat almal dit ook daadwerklik en beslis ontvang en geseënd hier uitstap? Helaas en ongelukkig nie! Vele lidmate stap ongeseënd en sonder God Sondag na Sondag by daardie kerkdeur uit en sonder God gaan hulle die lewe in…en die dood.

Maar hoe kan dit dan? Is God se Woord dan nie betroubaar nie? En het God dit nie werklik bedoel toe Hy gesê het dat dit vir almal is nie?

Nee, aan die opregtheid van God se spreke hoef ons nie te twyfel nie. Maar die probleem is dat ons sy Woord nie reg verstaan nie. As God ons seën, dan reik Hy dit ons aan: hier, hier is dit ook vir jou. Maar soos met enige geskenk moet ons dit ook in ontvangs neem, anders kry ons dit nie. Ons moet dit met die hand van die geloof vir onsself toeëin, anders gaan ons ewe arm uit die kerk as wat ons daar in gekom het.

Die groot fout van baie Gereformeerdes is dat ons dink die seën werk soos ‘n towerformule. Dit wil sê ons dink dit werk sommer so outomaties en sonder dat ons waaragtig glo en ons bekeer – sommer so word dit ons deel. Maar dit is onwaar. God se beloftes – en dit sluit sy seën in – dit eis van ons geloof. Ons moet gelowig luister na die seën en dit gelowig aanvaar.

3. Slot.

‘n Skat word u aangebied. Neem dit met die hulp van God met blydskap in ontvangs.

AMEN

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s