(4) Abraham-dagstukke: Chrístus het aan Abram verskyn, hom verlos deur sy Woord – God se omkeerstrategie

Ons lees nie dat Abram eerste na die HERE toe gekom het nie. Inteendeel, die eerste wat ons hoor, is die genadige roepstem van die HERE wat na hom te uitgaan (Gen 12:1-3). Terwyl Abram met die rug na God toe leef en Hom nie soek nie, soek die HERE hom op en roep hom tot ‘n lewe in sy salige teenwoordigheid. So is dit altyd: God is die eerste in die verlossing van die mens.

Chrístus het aan Abram verskyn, want in Handelinge 7 vers 2 sê Stefanus: Die God van die heerlikheid het aan Abraham verskyn. Dit is Christus. Hý is die God van heerlikheid. In 1 Korintiërs 2 vers 8 noem Paulus Hom die Here van die heerlikheid en in Johannes 1 vers 14 staan daar: Die Woord het vlees geword en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Hoe trek Christus Abram op uit die moeras van die heidendom? Hy verskyn aan Abram en sy heerlikheid (vol genade en waarheid)straal Abram toe in sy roepende Woord. In ‘n paar onopvallende woordjies staan dit daar: En die HERE het gesê. Dit wil sê: Deur sy Woord bevry die God van heerlikheid Abram van die afgodedom.

Die uitdrukking die God van heerlikheid kom uit Psalm 29, die Onweerspsalm, die Psalm van die sewe donderslae, die Eer aan God in die hoogste hemele van die Ou Testament. Sewemaal hoor ons in Psalm 29 van die stem van die HERE: Die God van eer (= die God van heerlikheid) donder. Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon. (vv 3-5).

  • Die donderslae van die Stem van die HERE weerklink in die lewe van Abraham en Abram word ontwortel uit sy onvrugbare, doodbringende heidense grond.
  • Die God van heerlikheid spreek en Abram word ingeplant in die vrugbare, lewebringende Woord van Christus.

Só – en nie anders nie – só word die kerk gebore: die Stem van Christus is met krag, die Woord van Christus is met heerlikheid.

Toe het Abram weggetrek – soos die HERE hom gesê het (Gen 12:4). Toe – nadat die HERE gespreek het. Toe eers.

Omkeerstrategie? Dit kan nét die God van heerlikheid doen en dit doen Hy nét deur sy Woord. En dan – dit is helaas nodig om dit uit te spel – deur die Woord van heerlikheid vol van genade en waarheid: die Woord van die kruis en opstanding van Christus. Toé – dan eers, sal daar omkeer kom in die kerk. Wanneer gaan ons begin glo in die omkeerstrategie van God: die strategie van die gepredikte Woord?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s