Hervormingsdag: dit gaan goed met die kerk

Iemand het op ‘n keer, in ‘n tyd toe dwaalleer en kerkvervolging baie erg was, vir ‘n predikant gevra: Dominee, hoe gaan dit met die kerk? Daarop het die predikant geantwoord: Dit gaan goed met die kerk, want die Seun van God vergader, beskerm en onderhou sy kerk.

Die antwoord kom uit ons belydenis, uit vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus. Daar word die vraag gestel: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Daarop volg die antwoord: Dat die Seun van God … vir Hom ‘n gemeente … deur sy Gees en Woord … vergader, beskerm en onderhou.

Dit is geweldig veelseggend en diep vertroostend hoé die Kategismus sy antwoord begin op die vraag: Wat glo jy van die kerk? Want ons belydenis begin sy antwoord dan nie met wat mense doen nie, maar met die woorde: dat die Seun van God … . Daarmee begin hy: met die Seun van God, wat doen.
vergader,
beskerm en
onderhou die kerk.

Die Seun van God, Hy wat beklee is met alle mag in die hemel en op die aarde (Matt 28), Hy vergader, beskerm en onderhou sy kerk. Wie dààr begin, by die Seun van God, hy kan nie besorgd wees oor die ontstaan, bestaan en voortbestaan van die kerk nie. Want die kerk is nie in klein, magtelose, sondige mensehandjies nie, maar maar in die almagtige hande van die Seun van God.

Die belydenis begin by die Almagtige Skepper, Bewaarder en Onderhouder van die kerk.

Maar daar is nog meer: Hy vergader, beskerm en onderhou hierdie kerk deur sy Gees en Woord. Hy kom nie met ‘n swak mensegees of mensewoord nie, maar met sy Gees van krag en sy Almagswoord.

In Psalm 33:6, in die Skepping van alle dinge uit niks, gee die HERE self ons ‘n demonstrasie van die krag van sy Gees en Woord: Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.

Dit is diep hartseer hoe die geskiedkundige waarheid van die Skeppingsverhaal deur evolusionistiese teoloë bevraagteken word. Dit ontneem ons van die troos wat die kerk toestraal uit hierdie kragopenbaring van God. Met hierdie demonstrasie van krag in die Skepping wil die Here sy kerk laat sien nie alleen hoe sterk haar Skepper is nie, maar ook haar Herskepper. So word die skeppingsgeskiedenis telkens aangewend in die profete en in die Psalms tot troos van die kerk.

Teen so sterk God is die vyande van die kerk magteloos. Hoor maar hoe mooi lê Totius in sy Psalm 33:5 die verband tussen die Skepperskrag van God en die magteloosheid van sy en sy volk se vyande:

Die HEER se woord is skeppingsmagtig

wat lewe uit die dood gebied.

Hy spreek – dit staan daar lewenskragtig,

Hy roep net en dit het geskied.

Nasies en tiranne / smee verniet hul planne

in die vlam van haat.

Hy wat groot van mag is, / weet wat daar bedag is

en verbreek hul raad.

Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Die kerk, dit wat die Seun van God doen, is ‘n saak van geloof. As ek met my liggaamlike ook na alles kyk, sê ek: Dit gaan sleg met die kerk. As ek egter met die oog van die geloof na alles kyk, bely ek: dit gaan goed met die kerk, want die Seun van God regeer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s