Oor p-boeke en e-boeke, hulpmiddels van God in die reformasie van die kerk

Vroeër het mense op perkament en papirus geskryf, die voorlopers van p-boeke (papier-boeke). God het hierdie hulpmiddels gegee en dit gebruik om sy Evangelie oor die hele wêreld te versprei.

Toe het die boekdrukkunsgekom, en daarna die internet – albei gawes van God gegee in sy skepping aan sy kerk om sy herskepping te verkondig.

Inderdaad, die internet is net soos die boekdrukkuns 1) ‘n gawe van God 2) presies op die regte tyd:

  • Kort voor die Reformasie is die boekdrukkuns uitgevind, die p-boeke, papier-boeke. Dit het ‘n enorme invloed gehad op die spoed waarmee die leer van die Reformasie wêreldwyd verkondig is. Dit na ‘n lang geestelike nag, die donker Middeleeue.
  • In die geestelike nag van vandag gee die Here sy gawe van die internet, die e-boeke – en sy tyd is altyd presies die regte tyd.

Die HERE span die tegnologie (die Boek van die Skepping) in tot verbreiding van die Boek van die Her-skepping: die hele skepping wend Hy aan as voertuig vir sy herskepping in Christus.

Op 31 Oktober 1517 het Luther sy 95 stellings aan die kerkdeur gespyker. Wat min mense weet, is dat Luther reeds twee jaar tevore sy 97 stellings aan die kerkdeur van Wittenberg gespyker het. Hierdie 97 stellings is egter deur Rome doodgeswyg. Met die 95 stellings het daar egter ‘n nuwe feit bygekom: die aflaatbriewe. Tetsel, ‘n gesant van Rome, het in Wittenberg (Luther se stad) geleer dat die siele van gelowiges uit die vagevuur spring, sodra die geld vir die aflaat in die geldkissie klingel. Rome se bedoeling met die aflaatbriewe was om geld bymekaar te maak Daarteen het Luther hom ook uitgespreek in sy 95 stellings – en toe het die bom gebars. Toe Luther aan Rome se geldsak gevat het, was die gort gaar. Toe kon hulle nie meer stilbly nie. Dit is ‘n hartseer feit dat Rome meer gepla was oor sy geld, as oor die feit dat sy teologie bevraagteken is. Maar dit daargelaat.

Die tyd was ryp vir die Reformasie. God Self het dit ryp gemaak. God het die verhoog van die wêreldgeskiedenis gereed gekry vir die verspreiding van die gereformeerde leer: die boekdrukkuns en die aflaatbriewe. Toe die drukpers van die 95 stellings te hore kom, het die p-boek-masjienerie in beweging gekom. Binne die bestek van enkele maande het dit soos ‘n veldbrand oor die hele Duitsland versprei en na nog ‘n paar maande oor die hele Europa. Die HERE se Woord loop baie vinnig (Ps 147:15).

Wilhelmus a’Brakel (1635 – 1711) het hom verwonder oor die kanse en die geleenthede wat die boekdrukkuns hom as verganklike dominee bied. Hy skryf in sy Redelijke Godsdienst:

Die kortheid van die lewensjare van ‘n dominee, die klein getal van sy toehoorders – daarin het God predikers op wonderlike wyse te hulp gekom deur die drukkuns aan mense bekend te maak … Nou kan een enkele leraar aan ‘n hele nasie, ja, oor ‘n hele wêreld heen preek – en dit eeue lank na sy dood. Met vreugdevolle gewilligheid het ek hierdie geleentheid aangegryp om ook nog lank na my dood te kan preek …

A’Brakel en voor hom Luther en Calvyn en talle ander het die waarde van die p-boeke verstaan en waardeer as ‘n gawe uit God se hand – ‘n gawe om die Evangelie op te skryf en skrywes waarin die Evangelie erken en waardeer word. Daarmee reik hulle oor die dood en die graf heen hulle boeke vir ons aan.

Die gawe van die p-boeke en e-boeke – maar steeds en altyd lê die enigste krag daarvan in die letters wat daarop geskrywe staan: in die almagtige Evangelie.

Steeds bly dit: deur die Woord alleen, deur genade alleen, deur Christus alleen en aan God alleen die eer.

Die gawe van die p-boeke en e-boeke – maar wee hom wat op God se skryfpapier iets skrywe wat sy Evangelie skaad.

God se p- en e-boeke – ons moet raaksien dat dit gawe is en dat ons dit moet gebruik.

God se internet – as ons God se hand daarin sien, gee dit heerlike troos in ‘n donker tyd.

Die Woord kan nie geboei word nie (Fil 1:12-14).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s