Prediking moet Christus en sy kruis voor ons oë afskilder

Paulus het in sy prediking Jesus Christus voor die Galasiërs se oë afgeskilder as onder hulle gekruisig (Galasiërs 3:1).

Die julle voor wie se oë moet in samehang met afgeskilder gelees word. Jesus Christus en sy kruis is voor hulle oë afgeskilder, sodat hulle dit duidelik gesien het en goed geweet het.

Die woord afgeskilder kan beteken: om iets in die publiek op te plak op so iets soos ‘n kennisgewingbord, sodat almal dit kan sien en lees. Die owerhede van destyds het dit gedoen as hulle wette wou bekendmaak: Dit is teen pilare opgeplak. Op die manier het hulle gesorg dat almal dit met hulle eie oë kon lees. Niemand kon dan later sê: “Ek het nie geweet nie”. So, sê Paulus, het hy onder die Galasiërs van Jesus Christus gespreek: Christus en sy kruis is in alle duidelikheid aan die gemeente voor oë gehou in sy preke. Hulle het geen verskoning gehad nie.

Ons kan by die woord afgeskilder ook dink aan ‘n skildery. Calvyn verkies hierdie verklaring. Om aan die Galasiërs te wys hoe kragtig sy prediking was, vergelyk Paulus sy prediking met ‘n skildery: Op so ‘n lewendige manier is die beeld van Christus vir hulle in die prediking geteken, dat hulle Christus soos in ‘n skildery, voor hulle gesien het. En daarmee nog nie tevrede nie, voeg Paulus daaraan toe dat Christus onder hulle gekruisig is. Dit wil sê: Paulus se prediking het op so ‘n wyse tot hulle gekom, dat die gekruisigde Christus daarin hulle voor oë gestel is. Daarmee wil Paulus sê: Die werklike aanskouing van Christus se dood sou die Galasiërs nie kragtiger aangeraak het as sy prediking nie.

Jesus Christus is só duidelik aan hulle verkondig dat hulle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang.

Dít is wat prediking is: om Christus en sy kruis in die publiek te verkondig en dan op so ‘n wyse dat die mense Christus en sy kruis as ‘t ware voor hulle oë, voor die oog van die geloof, aanskou en sien in sy betekenis vir die hede. Die mense moet gekonfronteer word met Christus wat gekruisig is. Die gekruisigde Christus moet hulle voor oë gehou word. Hy moet so verkondig word dat ons hart daardeur aangegryp, dat ons daarby betrokke voel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s