Psalm 13: bid en lofsing in die nag

Lees: Psalm 13

Inleiding

Ons as gelowiges ontvang van die HERE die mooiste en rykste beloftes. In sy verbond beloof Hy aan ons om ons as Vader te versorg, om met ons te wees, om ons te verlos deur sy Seun en om in ons te werk deur sy Heilige Gees. Inderdaad ‘n rykdom wat die HERE aan ons beloof.

En tog, dikwels voel kinders van God: Daar is wel baie aan ons beloof, maar ons sien niks daarvan nie. Soms voel dit asof die Here glad nie daar is nie, asof Hy ons heeltemal vergeet het. So voel ‘n mens maklik, veral as ‘n beproewing lank duur. So voel vele ook ten opsigte van die agteruitgang in die kerk: Dit lyk asof die duiwel maar sy gang kan gaan en die kerk tot in sy fondamente kan afbreek en van die Here se belofte dat Hy sy kerk sal red en bewaar, sien ons op die oog af niks nie. Dit lyk maar asof die vervulling van God se beloftes agterweë bly, sodat ons dit dikwels uit wil roep: Hoelank moet dit nog duur? Hoelank moet alles nog so aangaan? Wanneer sal u dan ingryp, HERE? Of…of het u ons miskien vergeet? Ja, onder sulke omstandighede het ons soveel moeite met die HERE se beloftes en om nie weg te sink in ongeloof nie.

In hierdie verband kan ons baie leer uit Psalm 13.

‘n Klaaglied

Vers 2 tot 3 is ‘n klaaglied.

Viermaal weerklink daarin die uitroep “hoe lank”. Wanneer, sê Dawid daarmee, wanneer, HERE, sal daar ‘n einde aan kom aan hierdie skynbaar nimmereindigende beproewing? Wanneer sal die u weer aan my dink? Wanneer sal u beloftes dan tog uiteindelik bewaarheid word?

Psalm 13 is ‘n lied uit die tyd van Dawid se vlug vir Saul. En ja, hoe lank het dit nie geduur nie. Jaar in, jaar uit moes hy vlug vir sy lewe. Dit het gelyk asof daar nooit ‘n einde aan sou kom nie.

En dit ten spyte van die feit dat Dawid van die HERE die heerlikste beloftes ontvang het. Hy het immers by sy salwing as koning van die HERE die versekering ontvang dat hy koning sou word. Maar van daardie belofte het hy op hierdie stadium heeltemal niks gesien nie. Op die oog af het dit ook gelyk asof die vervulling daarvan heeltemal buite die kwessie was en asof dit nooit sou kom nie.

Vir Dawid het dit gevoel asof die HERE hom vergeet het. Daaroor kla hy: Die HERE dink nie meer aan hom nie. Dit was vir hom asof die HERE sy aangesig vir Hom verberg het, asof die HERE niks meer van hom wou weet nie.

Maar wat het Dawid toe gedoen? Hy het op sy knieë gegaan.

Gebed

Hoor hom pleit in vers 4 tot 5: “Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God!”. Hy bid dat die HERE hom tog nie sal vergeet nie, maar dat Hy hom sal red uit sy nood.

Dit is tog ‘n besondere gebed. Al lyk dit asof die HERE hom vergeet het, tog bly hy die HERE vol vertroue noem “my” God. Al lyk dit asof die HERE sy beloftes aan hom vergeet het, nogtans bly hy glo en bly hy bid om die vervulling daarvan. Hoor maar die gebedssekerheid van Dawid in vers 6: “Maar ek – …my hart sal juig oor u heil”. Oor u verlossing sal ek jubel.

Wat maak Dawid so vol vertroue dat die HERE hom wel sal verhoor en uiteindelik tog sy beloftes aan hom sal bewaarheid? Die gronde vir sy gebedsvertroue kry ons in vers 6a: “Maar ek – op u goedertierenheid vertrou ek…”. Die goedertierenheid van die HERE is die fondament van sy gebedsvertroue.

Die woordjie goedertierenheid kan ons nog beter vertaal met verbondslojaliteit. Die HERE is lojaal teenoor die met wie Hy ‘n verbond gesluit het. Wil u sien hoe lojaal? Kyk dan na die kruis. So ver het God in sy lojaliteit gegaan om ons te red. Christus se koms in die vlees was ‘n tentoonstelling van God se genade of verbondlojaliteit (Jh.1:14). Daarin kan u sien hoe lojaal, hoe trou Hy is aan sy beloftes. Na Golgota mag u kyk wanneer u miskien in u daaglikse lewe dink: Die HERE het my vergeet.

Lofsang

Daar is ‘n geweldige kontras in hierdie Psalm: dit begin met ‘n klaaglied en dit eindig met ‘n loflied (v.6b).

Hoe het dit gebeur dat die klaer ‘n juiger geword het?

Ons sal die antwoord moet gaan soek in dit wat tussenin lê: Tussen die klaaglied aan die begin en die lofsang aan die einde lê die gebed van vers 4 tot 6a. Dit het die wending gebring. Daardie verse is die skanier waarom hierdie hele Psalm draai. Die gebed is die geheim van die oorgang.

Iets amper soortgelyk kry ons ook in die lewe van Paulus. In Handelinge 16 lê hy en sy metgesel, Silas, in die gevangenis van Filippi. Treffend staan dit dan daar: Hulle het gebid en gesing (v.25). Voorop staan die gebed en dan, as vrug van die gebed, die sing.

Blykbaar gaan die twee saam: Wie bid sing. Die gebed maak die sanglus wakker. Sing u ook? En as u nie sing nie, waarom sing u nie? Is dit miskien omdat u nie bid nie of omdat u nie waarlik bid nie?

Paulus en Silas het gesing. Maar wat? Klaagliedere? Psalms waarin hulle hulle nood voor God beklaag het? Nee, maar daar staan: Hulle het lofliedere gesing, jubelsange om middernag, deur donkernag omgewe.

“Ook deur donker nag omgewe,

sing ek nog my pelgrimslied.

Ja, ek lofsing in die nag,

want ek bly die HEER verwag…” (Psalm 42:5, berymd)

Nog ‘n enkele opmerking oor Dawid se loflied in vers 6b: “Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het”.

Van God se beloftes sien Dawid nog niks nie. Dit is nog maar, omdat nou maar so te sê, beloftes op papier. Tog kan Dawid die HERE alreeds dank vir sy goedheid, asof God sy goedheid in die vervulling van sy beloftes, reeds aan hom bewys het. Dit is wat geloof is. (Hb.11:1). Dawid se loflied is ‘n geloofslied. Ge-loof en loof gaan saam.

Slot

Op ons knieë kom ons tot geloof in en lofprysing van God se Vaderlike goedheid. Immers, God wil sy Heilige Gees en sy genade – dit sluit geloof en lofsang in – aan diegene gee wat daarom bid (HK v/a 116).

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s