God se Woord het nie óns klankversterkers nodig nie (Psalm 29)

Ons bely: die Woord alleen.

  • Deur sy Woord alleen, net deur te spreek, het God alles geskep (Genesis 1). Die skepping van die wêreld was ‘n kragopenbaring, ‘n demonstrasie van die almag van sy Woord.
  • Deur sy Woord alleen, net deur te spreek, herskep God alles. Die Evangelie-Woord is ‘n Almags-Woord. “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes” (Efesiërs 2:1).

Ja,

Die HEER se woord is skeppingsmagtig

wat lewe uit die dood gebied.

Hy spreek – dit staan daar lewenskragtig,

Hy roep net en dit het geskied. (Ps 33:5 – Totius).

Ja, die Here se Woord is ‘n Almags-Woord – sy Woord van skepping en herskepping.

Ons bely dit – maar tog, tog dink ons die Woord is opsigself en alleen nie sterk genoeg nie. Daar moet klankversterkers bykom.

Om dit nou maar so te sê: God se Stem (= Woord) benodig ‘n goeie mikrofoon en kragtige luidsprekers. Óns
mikrofoon, óns klankversterkers … Ja, óns sal sorg dat God se Stem gehoor word, óns sal sorg dat sy Woord slaag.

En dan begin ons óns klankversterkers opstel:

  • die klankversterker van ons woede;
  • die klankversterker van ons lyftaal;
  • die klankversterker van ons dreigemente dat ons dit en dat sal doen as mense nie luister nie;
  • die klankversterker van wegbly uit die kerk, wegbly van die nagmaal, van neerlê van die amp, van stop van ons bydraes en van stop van ons ramings;
  • die klankversterker van ons kras woorde;
  • die lankversterking van allerhande nuwighede in die kerk, omdat ons meen dat die gepredikte Almagswoord nie goed genoeg is nie;
  • en so kan ons maar aangaan.

Ons dink nogal baie van ons klankversterkers!

Maar … dat dit tot oneer van God is, ‘n belediging vir die almag van sy Woord – dit dring nie tot ons deur nie.

MAAR God se Woord het nie klankversterkers nodig nie. Dit laat Psalm 29 so duidelik sien:

” … Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid …”

Sewemaal staan dit in Psalm 29: die stem van die Here.

Om die betekenis van Psalm 29 en die krag van die stem van die HERE goed te verstaan, moet ons dit sien in verband met Psalm 28 en onder andere die slotvers daarvan:

  • Psalm 28:9 is ‘n slotbede van Dawid: “Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle ‘n herder en dra hulle tot in ewigheid.
  • Psalm 29 is gebedsverhoring, God se ant-Woord op die gebed: “Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.

Aan die begin van Psalm 28 smeek Dawid: “My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie.” (Ps. 28:1)

Vir Dawid beteken die stilswye van God, die Woord-loosheid, sy ewige ondergang. Sonder die Woord sal hy word soos die wat in die kuil neerdaal.

Dawid weet: in die Woord lê sy verlossing en die verlossing van God se volk, die kerk.

In Psalm 28 hoor ons die stem van Dawid: Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp ( v2), … Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor. (v 6)

Op die stem van Dawid se gebed (Ps 28) antwoord die HERE met die Stem van sy Woord (Ps 29). Die HERE antwoord Dawid deur te laat hoor hoe sterk sy Stem sy Woord is.

In die verband tussen Psalm 28 en 29 lê ‘n groot les vir ons opgesluit. Die les is dit:

  • ons moet ook bid om daardie Woord;
  • en in antwoord op die stem van ons gebed, weerklink die Stem van God se verlossing: Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede. (Ps. 29:11)

Dawid het níks gedoen om sy volk te verlos nie. Hy het nèt gebid. Die donderende Woord alleen het gered.

Ons hoef nie – nee, mag nie – die Woord, Christus, te bulder met ons aksies nie. Die Woord bulder hard genoeg:

“… die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. Die stem van die HERE is met krag …”(Ps. 29:3-4)

One thought on “God se Woord het nie óns klankversterkers nodig nie (Psalm 29)

  1. Ai Dr Attie, maar dit is menslik dan tog so lekker om ons “Amps” op te draai en onsself te laat geld.
    Ek vind die self-gelding ‘n probleem en vra gereeld in my gebed vir hulp om van die een ontslae te raak.

    Tot volgende keer – dit is moedswillig dubbelsinnig 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s