Die diamant van Christus se verlossingswerk en ons siekte en dood

Lees: Mt.9:18-38

 

Diamonds are for ever – diamante is vir altyd, vir ewig. So lui ‘n bekende advertensie.

 

Vandag wil ek met u stilstaan by die een en enigste diamant wat werklik vir ewig is: die diamant van die verlossingswerk van Christus.

 

Die vrugte van die werk van Jesus is soos ‘n diament met vele kante:

  • Op een kant van die diamant staan: Hy verlos ons van ons sondeskuld en van die toorn van God;
  • Aan ‘n ander kant sien ons: Hy red ons van die mag van die sonde en Hy bring weer liefde in ons lewe.

Maar vandag wil ek by nog ‘n derde kant van die verlossingswerk van Christus stilstaan: Hy red ons ook van siekte en van dood. Hierdie kant van die diamant sien ons in die wonders van Jesus.

Drie gedagtes:

  1. Die wonders van Jesus is die bewys dat Hy die lank verwagte Christus is
  2. Die wonders kan nooit losgemaak word van die geloof nie
  3. Die wonders kan nooit losgemaak word van die kruis nie

1. Met sy wonders bewys Jesus dat Hy die lank verwagte Christus is

In die evangelies lees ons verskillende male van magtig-heerlike wonders van Jesus: hoe Hy dooies opgewek het, hoe Hy melaatses gereinig het en kreupeles laat loop het, hoe Hy dowes laat hoor het en ook – soos hier in ons teks – hoe Hy blindes laat sien het.

Hierdie wonders het nie sommer so uit die bloute gebeur nie. Reeds die Ou Testament het daarvan geprofeteer: As die Christus kom, sal Hy geweldige wonders doen. Wanneer Jesaja byvoorbeeld profeteer van die groot vrederyk wat sal aanbreek met die koms van die Christus, die Messias, dan sê hy in die 35ste hoofstuk van sy boek: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel”. En ‘n ent verder aan sê dieselfde profeet (42:6,7): Die Christus sal gegee word “as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit”. En om net nog een voorbeeld te noem: Die Psalm wat u pas gesing het, Ps.146 vers 8, hierdie Psalm sing van die vrederyk van Christus en wat Christus sal doen as Hy kom: “Die Here open die oë van die blindes; die Here rig die wat geboë is, op; die Here het die regverdiges lief.

Ons sal al die wonders van Jesus, die opwekking van dooies, dat Hy blindes laat sien het, ensomeer, in die nouste verband met met hierdie profesieë uit die Ou Testament moet sien. Want met hierdie wonders is soveel bewyse, soveel roepstemme, wat sê: Jesus – Hy is die lankverwagte Christus is.

Wanneer Johannes die Doper in die gevangenis sit en sy geloof begin wankel: Is Jesus ooit die Een wat sou kom?, dan stuur hy twee dissipels na Jesus toe en dan antwoord Jesus hulle: “Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie”. Dit is ‘n aanhaling uit Jesaja 35. Daarmee sê Jesus: Gaan vertel vir Johannes hoe die profesieë in my vervul word.

In Jesus se wonders sien ons die vrederyk deurbreek, die herstel van alle dinge. Ons sien in al hierdie wonders, in al hierdie genesings, die nuwe aarde voor ons verrys, daar waar daar geen trane en dood meer sal wees nie.

Maar ons sien in ons gelese gedeelte ook:

2. Hierdie wonders nooit losgemaak kan word van die geloof nie

Jesus het so pas ‘n dogtertjie uit die dood uit opgewek – die dogtertjie van Jaïrus. Dit is direk na hierdie groot en diep aangrypende wonder dat ons lees: “En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!”

Hier is iets besonders, wat u tog moet raaksien. Hier het ons twee manne, wat nie kan sien nie. Hulle is blind. Met die oë van die liggaam sien hulle nie. En tog, tog sien hulle. Want sien hulle met die oog van die geloof. Want deur die geloof sien hulle: Hierdie Jesus, hierdie Man wat die dooie dogtertjie opgewek het, Hy is die lankverwagte Seun van Dawid. Hy is die Een van Wie Jesaja sê: Hy is aan sy volk gegee as ‘n lig en om blinde oë te open.

Hulle kon die wonder van die opwekking van die dogtertjie nie sien nie. Maar hulle het wel gehoor daarvan. En toe het daar in hulle donker wêreld ‘n lig opgegaan. Christus het geskyn in hulle lewe en deur die geloof het hulle geweet: Hierdie Man, hierdie Jesus, is die Christus wat sou kom.

Hulle kon nie sien nie. Hulle kon nie gesien het wat in die huis van Jaïrus gebeur het nie. Maar dit was ook nie nodig nie. Immers, die geloof is uit die gehoor. Deur die Woord kom ons tot geloof en deur die Woord word ons verlos van ons geestelike blindheid om te sien Wie Jesus is en wat ons aan Hom het.

En daarom kom die blindes na Hom toe en hulle roep en sê: “Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!” Seun van Dawid – so het die Jode die Koning genoem na Wie hulle so verlang het. Hy sou, kragtens God se belofte, gebore word uit die geslag van Dawid.

Wees ons barmhartig. In hierdie woordjie barmhartigheid lê daar twee kante: genade en meegevoel:

  • Wanneer hierdie blindes roep: Wees ons barmhartig, dan sê hulle daarmee: Here, ons verdien dit nie, maar verlos ons uit genade, uit onverdiende goedheid. Ons het geen reg, geen aanspraak op God se verlossing nie.
  • Maar in die woordjie barmhartig lê ook die gedagte van medelyde. Here, kry ons jammer. Het meegevoel met ons.

= Ons sê soms vir mekaar: Ek voel saam met jou. Ons het medelyde met mekaar, wanneer ons siek is of op verskillende maniere beproef word. Maar ons meegevoel bly by gevoel. Meestal kan ons niks doen aan ons medebroeder of suster se nood nie.

= Maar met JESUS se barmhartigheid is dit anders gesteld. Sy meegevoel beteken ook dat Hy iets doen aan ons nood. Want in antwoord op die noodroep van die blindes genees Hy hulle ook van hulle blindheid.

EN – ons sing daarvan:

Dis die HEER se mededoë (sy meegevoel)

wat die blinde oog verlig;

wie in stof lê neergeboë,

word deur Hom weer opgerig. (Ps.146:6)

In antwoord op hulle noodroep, sê Jesus vir die blindes: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” Met hierdie vraag wil Jesus by hulle die noodsaak van geloof by hulle en by ons tuisbring. Deur die geloof en deur die geloof alleen kry ons deel aan Christus en sy vrederyk.

Maar dit is ook al: glo net. Deur die geloof alleen. Dis al wat Jesus van hulle vra en dan genees Hy hulle.

Maar ons kom by die derde hoofpunt:

3. Die wonders kan nooit losgemaak word van die kruis nie

Dadelik nadat Jesus die blindes se oë geopen het, lees ons van ‘n skynbaar vreemde versoek. Want Jesus sê vir hulle: “Pas op, laat niemand dit te wete kom nie”.

Dit is ‘n eienaardige versoek, nie waar nie? Ons sou tog dink dat hierdie twee manne eerder opdrag moes kry om dit oral te gaan vertel, om dit wêreldkundig te maak? Maar hoor ons die teendeel: Jesus het hulle verbied om dit rond te vertel.

En dit is nie al nie. Ons moet ook luister na die manier waarop Jesus dit vir hulle sê. Want daar staan nie dat Hy hulle maar net saggies versoek het om dit tog asseblief nie aan ander te vertel nie. Inteendeel, ons hoor dat Hy het hulle skerp aangespreek: Pasop, “pas op, laat niemand dit te wete kom nie”.

Waarom wil Jesus ten ene male nie hê dat hulle die wonder wêreldkundig moet maak nie? Ons sal die antwoord moet soek in die feit dat Jesus nog nie gekruisig was nie. Jesus wil nie hê dat sy wonders losgemaak moet word van sy kruis nie. Jesus wil hê dat kerk en wêreld moet weet: Agter die wonder van die genesing van die blindes staan die wonder van die kruis. Of om dit ook maar so te sê: Deur die wonder van die kruis kom die wonder van die herstel van alle dinge.

Dit is tog besonder opvallend dat juis Matteus aan die sterwe van Jesus ‘n besondere wonder koppel. Want in Matteus 27 (51-52) hoor ons dat Jesus die laaste asem uitblaas. En dan, dadelik daarop, direk op sy sterwe, lees ons: “En die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan”.

Daar op Golgota, op die oomblik van Jesus se sterwe, sien ons dit so duidelik: Op die fondament van die kruis verrys die Nuwe Jerusalem, daar waar daar geen siekte en trane en dood meer sal wees nie. Die vrederyk kom, dit kom deur die bloed van Jesus Christus. Sy dood is die geheim agter die woorde van Jesaja: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel”.

Nee, nou sterf ons nog en almal van ons het al die bitter hartseer ervaring gehad om ‘n geliefde na die graf te dra. En nou is daar nog blindes en dowes en stommes en nog talle ander siektes en gebreke.

Maar in hierdie genesing van die blindes en in die opwekking van dooies sien ons iets deurbreek van die nuwe dag wat kom. Dit is soos wanneer u na ‘n lang en donker nag die lig in die ooste begin sien. Dan weet u: Die nag is byna verby; die dag is nie meer ver nie. So breek in die genesingswonders van Jesus die lig deur van die gloriedag wat kom.

Ons praat mekaar soms moed in met die woorde: Toemaar, alles sal regkom. En dit is presies wat Jesus met sy wondertekens vir ons wil leer: Alles sal regkom. “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe”. Maar Hy sê ook nog meer met sy wonders: En in hierdie teken sê Hy vir ons: Hier het julle die bewys, die waarborg: Alles sal regkom. Want kyk: dit begin al regkom ! Want in die strate van Jerusalem loop mense rond, mense wat uit die dood uit opgestaan het! En: blindes sien, dowes hoor.

Ek wil weer terugkom by die woord barmhartigheid. “Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!” Die blindes bid om sy barmhartigheid, sy genade, sy meegevoel. En op Golgota sien ons dit: sy meegevoel. Daar sien ons dat Hy nie alleen saam met ons voel nie, maar dat Jesus se barmhartigheid ook beteken: Hy daal neer in ons nood en in ons lyding en Hy sterf, sterf die ewige dood, om ons te verlos ook van siekte, gebreke en dood.

Ons sing in Psalm 146:

Dis die HEER se mededoë (sy meegevoel)

wat die blinde oog verlig …

En nou vra ek u: Wanneer u dit in die toekoms sing, as u sing van die HEER se mededoë, dink dan dadelik aan die kruis: DIT is die HEER se mededoë, DIT is die HERE se meegevoel: DIE KRUIS. Daarom kan ons ook maar sing: Dis die HEER se kruis wat die blinde oog verlig.

Slot

As ons rondom ons kyk, sien ons nog nie die herstel van alle dinge nie. Met die oë van ons liggaam sien ons eerder die teenoorgestelde: Ons sien ‘n wêreld van ellende, siekes en sterwendes rondom ons. En ook by onsself sien ons dit: die aftakeling, die agteruitgang, die jare wat meer word.

MAAR met die oog van die geloof en verlig deur die Woord sien ons die lig deurbreek van die nuwe dag wat kom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s