Die moeilike leer van die uitverkiesing

Preek gehou op 17 April 2016

 

Skrifgedeelte: 1 Tessalonisense 1

Teks: 1 Tessalonisense 1:2-4

Datum: 17 April 2016

Psalms: 105:1,2,3; 89:6,7; 86:6; 105:4,5,6; 72:2, 10, 11

1. Inleiding

Baie gelowiges vind die leer van die uitverkiesing ‘n uiters moeilike, onverstaanbare leerstuk. Daarmee moet die dominee gewone lidmate liewer nie belas nie, om van pas bekeerdes nie eens te praat nie. Dit is eerder ‘n leerstuk wat tuishoort op teologiese skole. Dit kan eerder gepreek word aan gemeentes wat bestaan uit geleerdes soos professore, doktore en studente.

So voel baie lidmate.

Tog staan dit in die Bybel en álles- ja ook die leer van die uitverkiesing- , álles wat in die Woord opgeneem is, is noodsaaklik is tot God se eer en tot ons saligheid.

Ek oordink vandag: Die moeilike leer van die uitverkiesing.

  1. Die moeilike leer verkondig aan ‘n baie jong gemeente
  2. Die uitverkiesing kan gesien word
  3. Die uitverkiesing het sy oorsprong in God se liefde, sy liefde vind gestalte in sy werke

2. Inhoud

2.1 Die moeilike leer verkondig aan ‘n baie jong gemeente

In 1 Tessalonisense skryf Paulus aan ‘n jong gemeente. Dit is is dus ‘n gemeente wat bestaan uit mense wat maar kort tevore tot bekering gekom het.

Die gemeente is gestig op sy tweede sendingreis. Daar was ryk vrug op die apostel se Woordverkondiging. Binne die kort tydperk van twee weke het die gemeente tot stand gekom. Dit wys ‘n mens die krag van die Woord. Paulus skryf ook in v 5: ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag ….

Ongelukkig was daar Jode wat onbekeerd gebly het. Hulle kon die evangelie nie verdra nie – iets wat van nature eie is aan ons almal. Daarom het hierdie Jode ‘n oproer in die stad bewerk. Die gevolg was dat Paulus en sy metgeselle moes padgee.

Hulle was dus skaars ‘n maand of twee werksaam in die gemeente. ‘n Mens sou dink: Dit kan beslis nie genoeg tyd wees om die gemeente in te lei in die leer van die kerk nie.Wel het Paulus later nog vir Timoteus teruggestuur om die gemeente te verstek.

Kort na sy vlug en na die terugkeer van Timoteus het Paulus hierdie brief geskrywe. Die gemeente was toe net enkele maande oud.

En dan is die verrassende in die brief dít: Paulus begín met met die moeilike leer van die uitverkiesing. Soos wat die geval is met die meeste van sy briewe, begin hy hierdie een ook met ‘n dankgebed. En hierdie dankgebed is een groot loflied op God se uitverkiesing. Die genadige uitverkiesing van God, sy werke dus, staan in die middelpunt in hierdie bede.

Asof dit nie al moeilik genoeg is nie, sê Paulus boonop: Ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word. Ons wéét dat julle uitverkies is … Dit sal menige Gereformeerde se oë laat rek: Kan ons dit weet? Is dit iets wat ons eers sal hoor as die boek van die lewe eenmaal oopgeslaan sal word nie? As ons in die hemel kom nie?

2.2. Die uitverkiesing kan gesien word

Paulus skryf: Ons wéét van julle verkiesing. Hierdie woord wéét het die betekenis van: Ons wéét dit op grond van sekere sigbare feite; ons kennis van julle verkiesing berus dus nie op raaiwerk nie, maar op sigbare bewyse.

Jy kan dus wéét dat jy uitverkies is! En jy kan dit wéét uit drie dinge: geloof, hoop en liefde. Dit is vir Paulus bewyse van ons uitverkiesing: 1. die werk van julle geloof en 2. die arbeid van julle liefde en 3. die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader (v 3).

Ek wil by aldrie stilstaan. Dit kom ter sprake in vers 3. En in vers 8 tot 10 kry ons ‘n verdere beskrywing van wat met geloof, hoop en liefde bedoel word. Dit is daarom baie belangrik om vers 8 tot 10 te gebruik in die verklaring van vers 3.

  1. Die eerste bewys van hulle uitverkiesing is hulle geloofswerke.

Uit hulle geloof het werke voortgespruit. Uit hulle werke het hulle geloof geblyk. Dit is immers ‘n kenmerk van die ware geloof: dat die vrugte dra.

By die werke kan ons maar gerus so wyd as moontlik gaan: ons getroue kerkgang, ons liefde vir mekaar, ons bereidheid om te vergewe, ens.

Maar veral dink Paulus in die verband van die brief aan dit wat ons lees in vers 8: Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan …. Die lidmate van Tessalonika het dus die Woord aktief uitgedra.

Dink u dit nou maar ‘n bietjie in: Maar hoogstens ses maande tevore het hierdie mense die evangelie gehoor. En nou alreeds kan Paulus skryf: Van julle uit is die Woord verkondig in Acháje en Macedonië, ja, in alle plekke. Met alle plekke bedoel Paulus waarskynlik Palestina, Sirië en Klein-Asië. Ons staan dus voor die byna ongelooflike feit dat ‘n groepie pasbekeerdes die Woord binne die tydsbestek van enkele maande die Evangelie oor so ‘n wye gebied verkondig het.

Paulus gebruik hier ‘n baie interessante woord, weerklink: Van julle uit het die Woord weerklink. Die Tessalonisense word vergelyk met ‘n klankbord: ‘n klankbord wat klanke opvang, versterk en in verskillende rigtings weerkaats. So ‘n klankbord skep nie self die klanke nie, maar ontvang dit uit ‘n ander bron, versterk dit en weerkaats dit in verskillende rigtings. So het die Tessalonisense die geklank van die Woord opgevang en verder laat weerklink.

Meer nog: hulle het ook die klank versterk deur die manier waarop hulle ontvang het, naamlik met blydskap.

Dit maak ‘n mens skaam as jy hoor van so ‘n jong sendinggemeente wat die Woord so aktief uitgedra het. Hoe lyk dit by ons, ‘n ou, gevestigde kerk? Laat ons die Evangelie ook so weergalm in huwelik en gesin, by die werksplek en op skool? Is ons blydskap en geloofswerke sigbaar? En in verband met ons gelese gedeelte: Dra ons die Woord uit? En kan ons ‘n klankbord wees as daar geen klankbron is nie, as ons nie Sondae kom onder die geklank van die Woord nie?

  1. ‘n Tweede teken dat die Tessalonisense uitverkorenes was, was hulle liefde vir God en naaste.

Die arbeid van julle liefde, noem Paulus dit. Dit wil sê: Hulle liefde het sigbaar geword in hulle arbeid, in hulle dade. Hulle liefde vir God en hulle naaste was sigbaar.

Die liefde het hulle gedryf tot dade van liefde.

In vers 9 vertel Paulus meer van hierdie liefdesarbeid: hoe hulle hulle van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien.

Die Evangelie het ‘n geweldige omwenteling in hulle lewe gebring. Hulle het gebreek met die afgode, wat hulle sedert hulle kinderdae gedien het. Hulle het die rug gekeer op die gode, wat hulle voorgeslagte en die meerderheid van hulle stad gedien het. Dit was sekerlik nie maklik om teen die meerderheid en om teen die openbare mening in te gaan nie.

Geld, werk, sport, ontspanning is baie mense se afgode in ons tyd. As hierdie dinge ons aandag sodanig in beslag, dat ons kerkwerk, ons huisgodsdiens, ons erediensbywoning daaronder ly – dan is dit afgode. Alles wat belangriker is as God – dit alles is afgode.

Om te breek met die afgode, om te besluit dat God belangriker is as enigiets en enigiemand anders – dit is sekerlik nie maklik nie. Hoe het die Tessalonisense dit reggekry? Deur die liefde. Die liefde, wat Gód geskep het in hulle harte, die ware liefde het hulle gedring en gedryf en gedra. Die liefde was die groot geheim van hulle vurige liefde vir die Here.

En hierdie liefde was sekerlik nie maar net ‘n saak van die hart nie. Dit sien ‘n mens in die betekenis van die woord bekeer in vers 10. In die Bybel is daar twee woorde vir bekering: die een dui op ‘n harts-verandering; die ander wys op’n verandering in dade, in arbeid. Bekering is nooit maar net ‘n hartsomwenteling nie. Ware liefde tot God kom tot openbaring dade van liefde. Ook dade van liefde vir ons medemens. Ware liefde vir God het alles te make met liefde vir ons broeder. As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar, sê 1 Johannes 4:20. Die liefde is sagmoedig, dit hou nie boek van die kwaad nie (1 Kor 13).

  1. Die derde bewys van die uitverkiesing van die Tessalonisense was hulle hoop: hulle hoop op die wederkoms van hulle Here Jesus Christus op die wolke van die hemel.

Die uitsig op daardie groot en heerlike dag het hulle laat aanhou, laat volhard in geloofswerke. Dit het hulle laat aanhou in arbeid vir die Here ondanks hewige vervolging wat hulle moes verduur. Die hoop het hulle aangevuur om aan te hou werk vir die saak van die Evangelie.

In hulle geloofsvolharding, in hulle ywerig aanhou werk vir God – in al hierdie dinge kon ‘n mens sien dat hulle vol hoop verlang het na die wederkoms.

In vers 10 kom die Tessalonisense se hoop weer ter sprake. Daar lees ons dat hulle die Seun van God verwag het uit die hemele. Hulle het Hom verwag, dit wil sê: Hulle het met groot geduld en met vaste vertroue uitgesien na daardie dag.

Hierdie verwag het ook die betekenis van: om gereed te wees vir sy terugkeer. As jy ‘n besoeker verwag, berei jy jou voor vir sy koms. Jy sorg dat alles in jou huis in orde is om hom ‘n goeie ontvangs te gee. Net so beteken “om Jesus te verwag” om gereed te wees vir sy koms, om jou voor te berei.

Hulle hoop het dus die Tessalonisense se lewe beïnvloed. Die verwagting het hulle beïnvloed om hulle lewenshuis in orde te kry. Dit het hulle aangespoor tot liefdesarbeid vir God en naaste.

Is ons voorbereid? Bepaal en beïnvloed die verlange na die wederkoms ons lewens? Hoe het ons lewe gelyk in die week wat verby is? Kon dit in u doen en late, kon dit in u liefdevolle optrede en geduld teenoor medegelowiges gesien word dat u diep onder die indruk is van die nabyheid van ons Here Jesus se wederkoms?

Geloof, liefde en hoop – hierdie drie was die tekens van die gelowiges in Tessalonika se uitverkiesing.

Maar waar het hulle dit gekry? Van God.

2.3 Die uitverkiesing het sy oorsprong in God se liefde, sy liefde vind gestalte in sy werke

Hy is die Gewer van hulle geloof, liefde en hoop. Daarom dank Paulus Hom ook daarvoor in hierdie dankgebed: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop…

In vers 5 skryf Paulus hoe die Here hierdie drie dinge in hulle lewens gewerk het: Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. God het dit in hulle gewerk deur sy Woord en Gees.

Deur die prediking het die Heilige Gees die geloof, liefde en hoop in hulle harte uitgestort.

Dit moet ons onder die indruk bring hoe belangrik die prediking is ook vir ons vandag. Want deur die prediking van die Woord verwerklik God se uitverkiesing in ons lewe. Geloof, hoop en liefde ontkiem in die vrugbare grond van die Evangelie.

In vers 4 noem die apostel die Tessalonisense uitverkorenes, broeders wat deur God bemin word. Agter hulle uitverkiesing en in die oorsprong daarvan en en in die vrugte daarvan, sien hy dus die liefde van God.

Hierdie liefde is nie iets vaags nie. Die gawe van sy Seun is die hoogste bewys van sy liefde. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16) Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. En dit is ‘n onverdiende liefde, want: Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. (1 Jn 4:9,10) In Romeine 5:8 sê die apostel: God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

In sy groot, genadige liefde kom Hy na mense toe, wat Hom nie lief het nie en deur die krag van die Woord skenk Hy aan hulle geloof, liefde, hoop.

Daar is mense wat die uitverkiesing beskou as ‘n harde leer. Die Bybel laat ons egter iets anders agter en in die uitverkiesing sien: die liefde van God die Vader.

3. Slot

Dit moet gesién word dat u ‘n uitverkorene is. U geloof, liefde en hoop is die tekens daarvan.

U moet ook God daarvoor dank, want in hierdie drie sien u sy liefde in u lewe.

En ons mag Hom ook met vrymoedigheid daarom bid in die Naam van Jesus Christus.

Maar dan moet ons ook kerk toe gaan. Dan moet ons die instrumente soek, waardeur Hy die geloof, liefde en hoop in ons skep – sy Gees en Woord.

Wie glo dat Christus weerkom, wie Hom verwag, sal hom of haar ook daarop voorberei deur die prediking van die Woord.

Dan kry ons ook ons gesindheid teenoor mekaar, ons liefde in orde.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s