Die kerk is ’n hospitaal vol siek mense

Die kerk is ‘n hospitaal vol siek mense.

So het Martin Luther die kerk op ‘n keer op sy kenmerkende manier beskryf.

Daar is mense wat neersien op die kerk en sê: As die kerk so lyk, wil ek nie aan die kerk of aan hierdie spesifieke kerk behoort nie. Mense loop weg uit die kerk, omdat hulle hulle erger aan die sondaars in die kerk. Hulle neem aanstoot aan so ‘n nes van melaatses, siekes, lammes, kreupeles en bedelaars.

Hierdie mense is in hulle eie oë hulle kerngesond en daarom wil hulle nie in ‘n hospitaal bly nie.

Hierdie houding openbaar ‘n gebrek aan selfkennis. Juis sulke mense het ons Here Jesus aangespreek met die woord: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie (Mt 9:12). Daarmee het Jesus bedoel: Die wat dínk dat hulle gesond is, het geen behoefte aan ‘n dokter nie. Dit was gemik teen die Fariseërs, wat Jesus nie nodig gehad het nie. Hulle was na eie mening gesond, maar stokblind was vir hulle eie doodstoestand, vir hulle eie pasiëntstatus – blind en doof en dood.

So ‘n houding openbaar nie net ‘n gebrek aan selfkennis nie. Nee, dit is nog baie erger. Dit verraai ‘n totale gemis aan Christus-kennis. By sulke mense ontbreek die kennis waarom ons Here Jesus gekom het en moes kom: nie om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. (Mt 9:13)

Vir die Fariseërs wat so tot barstens toe vol was van hulle eie goeie gesondheid sê Jesus: Gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie …. (Mt 9:13)

Dit is ‘n aanhaling uit Hosea 6:6: Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.

Dit moes die Fariseërs tot in die fondamente van hulle gewaande vroomheid en slimmigheid geruk en verneder het: Gaan leergaan leer in die Bybel, in die Woord, wat julle meen julle so goed ken, maar nie ken nie. Gaan leer … gaan lees ‘n slag gelowig julle Bybel en met name Hosea 6 vers 6. Gaan leer … want julle het dit nog nie geleer nie. Wie nie luister en gehoorsaam nie, het nog nie geleer nie. Jy kan ongeleerd wees ten spyte van en ondanks al jou geleerdheid.

Daar in Hosea word dieselfde probleem aangespreek: mense wat op hulle naaste trap, maar dink dat hulle baie vroom is met al hulle offers – mense wat blind is vir hulle eie siekte en doodstoestand.

Gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê. En dan wys Jesus hulle op die hoogste, heerlikste, wonderlikste, mees volmaakte daad van barmhartigheid wat die wêreld ooit gesien het: Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Na wat ‘n hospitaal het Hy nie gekom nie: mense tot die dood toe siek. Nee, eintlik het Hy na die lykshuis van die hospitaal gegaan. Want daar het ons almal gelê: dood in die misdade en in die sonde.

Weet ons nog wat barmhartigheid is? Onverdiende, verbeurde, genadige liefde van God vir sondaars, vir gehospitaliseerdes. Hy het gekom om sondaars te roep tot bekering. En weet u nog wat bekering is: om so siek en melaats as wat u is, na die groot Geneeshaar te keer. Ja, om kerk toe te gaan, na die hospitaal toe, met die geloofsoortuiging: Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra… die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jes. 53:4,5)

Ek wil barmhartigheid hê. Dit wil sê ons Here Jesus Christus vra dit ook van ons: Ek wil barmhartigheid hê óók, ja óók van julle. Hy vra van ons sondaarsliefde. Hy vra dat ons mekaar sal liefhê, al verdien die ander dit nie – want dít is wat barmhartigheid is.

Weet u wat is die hoogste en heerlikste vorm van barmhartigheid? As u aan u medepasiënte vertel van die barmhartigheid van ons groot Geneesheer: Hy het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Is dit nie heerlik om dit te mag doen nie?

En weet u wanneer sal u barmhartig wees? Daardie dag as u die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus aan eie lyf ervaar het.

Salig is die barmhartiges (en hulle alleen), want aan hulle (alleen) sal barmhartigheid bewys word. (Mt 5:7)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s