(11) Psalms van Christus

Psalm 38: Vader, gee u kinders in ons land ‘n salige pakslae

Weet die kerk in Suid-Afrika nog van God se Vaderhand wat tugtig tot ons heil? Sien ons nog daardie hand in al die teenspoede in ons land? Besef ons dat die HERE met óns, met sy kínders, met sy kérk besig is in al die slae en teen-slae?

Mag God ons oë gee om dit te sien en dat ons sal luister na 1 Petrus 5:6: Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

In Ps 38:1 roep Dawid onder die tugtende hand van die HERE: o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.

Die woorde nie in u toorn en nie in u grimmigheid staan nadruklik voorop. Dawid vra dus nie: HERE, moet my glad nie moet straf nie. Waarvoor hy wel bid is Vaderlike tugtiging, liefdevolle straf.

Hy vra sy Vader: O HERE, straf my, maar net nie in u toorn nie. Ons kry ‘n soortgelyke gebed in Jeremia 10:24: Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.

God het twee roede, sê Luther:

  1. Daar is die roede van sy liefde en genade en
  2. die roede van sy toorn.

Die eerste is bedoel vir sy kinders. Die laaste roede gebruik God vir sy en sy volk se vyande. Daarom bid Jeremia na vers 24: Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie (10:25).

In Hebreërs 12:5-6 hoor ons van die eerste roede, sy genade-roede: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

God se Vaderlike tugtiging is goed vir ons. Dit is deel van sy liefde vir ons. Dit is ‘n bewys van ons kindskap. Dit is – ja, deel van die evangelie!

Dit is altyd sleg om God se Vaderhand af te wys – nie net wanneer die hand ons versorg nie, maar ook as die hand ons slaan. Want wie sy hand afwys, ook sy straffende hand, wys sy liefde af.

Die HERE weet altyd wat goed is vir ons en wat ons nodig het. Ons Vader slaan ons terug huis toe. Ons het ook dikwels ‘n salige pakslae nodig, ‘n tugtiging ter wille van ons saligheid. Dit werp ‘n totaal ander lig op die probleme van ons tyd: agter dit staan ‘n Vader – die Vader wat wag vir die verlore seun.

Hoe heerlik, hoe mooi, hoe ryk word dit nie alles saamgevat in Totius se beryming nie:

Dat U my verdruk het, HERE,

dit was enkel goed vir my,

want daardeur het U my dieper

in u kennis ingelei.

Daarom is dit my veel beter

as die allerrykste skat,

meer as al die goud en silwer

wat die wêreld kan bevat.
119:25

Die hand is enkel goed vir my … want dit bring my by die Vaderhuis, dit lei my in die skatkamers van die Evangelie, dit lei my na Christus wat my lewe is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s