(12) Die Psalms van Christus

Psalm 2: die wêreldgeskiedenis in ’n neutedop – ’n rewolusie wat reeds verloor is

 

In Psalm 2 het ons die wêreldgeskiedenis in ’n neutedop: die opstand van konings en nasies teen die gesalfde Koning van die HERE, ons Here Jesus Christus.

Hierdie stryd het reeds in Genesis 3 begin: die stryd van die slangesaad teen die vrouesaad. Die vrouesaad is in die eerste plek Christus en almal wat in Hom glo. Die slangesaad is die duiwel en die Antichris en alle ongelowiges.

Ook ons in Suid-Afrika bevind ons midde-in die stryd. Die Christendom word op verskillende maniere aangeval: nie net deur konings en heidene nie, maar ook deur dwaalleer.

In hierdie verband is Psalm 2 so heerlik troosryk.

Ek wil julle ook die skoonheid van die Hebreeuse digkuns laat sien.

Dit digter val met die deur in die huis met die vraag: Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?

Die vraag is nie ’n vraag na die rede vir die opstand nie, so asof die digter nie weet hoekom hulle dit doen nie. Dit is ’n stukkie Hebreeuse digkuns, waarmee die digter sy verbasing uitspreek. Die digter roep as ’t ware uit: Hoe op aarde kry hulle soveel dwaasheid in hulle koppe. Dit is be-lag-lik. Daarom lag Hy wat in die hemel woon vir hulle (vers 4).

Waarom … bedink die volke nietige dinge? Die woorde nietige dinge is nog ’n besondere Hebreeuse digkuns. Die digter vervang dit wat eintlik daar verwag word, rewolusie, met die resultaat: nietige dinge. Hy kon geskryf het: Waarom … bedink die volke rewolusie? Maar hy doen dit anders. Hy laat die uiteinde van die opstand sien: nietigheid, tevergeefsheid. Wat hulle bedink en probeer loop op niks uit nie.

In die vervolg sien ons nog Hebreeuse digkuns, waarmee die digter die onsinnigheid van die opstand laat sien: Teenoor die konings van die aarde stel hy Hy wat in die hemel woon. Met hierdie woordspeling spot met hy met hulle: Klein aardse koninkies, uit die aarde, grond,  teen Hom wat in die hemel woon, die almagtige Koning. Dit is doodeenvoudig belaglik.

Die Here wil hê dat ons in die lig van hierdie Psalm na gebeure in ons land en in die wêreld sal kyk. Moet ons nou regtig bang en bekommerd wees vir soveel nietigheid en terwyl ons Koning reeds klaar oorwin het.

Ja, die diepste betekenis van die nietige dinge is: Die rewolusie is klaar verloor, die vyand is reeds verslaan. Ja, hulle is besig met ’n verlore saak.

In Handelinge word teruggegryp na hierdie Psalm en dan word dit toegepas op Herodes, Pilatus, die heidene en die Jode:  Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het (= die almagtige Koning van Psalm 2 teenoor die aardse koninkies!) … Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het …  (Handelinge 4:24-30). Hierdie aardse koninkies (Handelinge 10:39-40) het Hom omgebring deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Maar hulle rewolusie was ’n mislukking, nietigheid: Want Hom het God op die derde dag opgewek. Hulle hele rewolusie, die kruisiging, het uitgeloop op hulle eie ondergang.

Die rewolusie het misluk. Ons Koning sit aan die regterhand van God. Hy is beklee met alle mag in die hemel en op die aarde (Mt 28). In Christus die Oorwinnaar is ons meer as oorwinnaars (Rom 8:37).

Kyk ons so na die wêreld en die gewoel rondom ons teen kerk en Christendom?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s