Die geheim van reformasie: Christus-prediking

Hoe kan die kerk vandag reformeer?

Kohlbrugge en sy boodskap

Daar was eenmaal ‘n dominee wat gesê het: “Sonder kansel, sonder prediking, kan ek nie lewe nie”. Om te preek was sy lus, sy liefde, sy lewe.

Wat sy prediking so besonder gemaak het, was die inhoud daarvan: die mens ‘n nul en Christus alles. Dit was die hart van sy prediking. Christus alleen was vir hom alles. Christus alleen – dit het vir hom gegeld nie alleen ten opsigte van die leer van heiligmaking nie, maar ook ten opsigte van kerkhervorming.

Wie was hierdie man? Sy naam was Hermann Friedrich Kohlbrugge, gebore op 15 Augustus 1803 in Amsterdam.

Kohlbrugge, die Afskeiding en reformasie

1834 was die jaar van die Afskeiding in Nederland. Kohlbrugge was toe 31jaar.

Die Afskeiding in Nederland het begin met die verset van dominee Hendrik de Cock teen afdwalings in die Hervormde Kerk en sy verdediging van die Gereformeerde leer. Daaroor is hy in 1833 deur die provinsiale “kerkbestuur” geskors en afgesit sonder dat hy ooit aangehoor is.

Wat was Kohlbrugge se houding oor die Afskeiding?

Hy het nie met die Afskeiding saamgegaan nie. Aan dominee Hendrik de Cock, die “vader van die Afskeiding” en ook aan dominee Antonie Brummelkamp, ‘n ander voorman van die Afskeiding, het hy briewe geskryf waarin hy die Afskeiding afwys.

Blykbaar het De Cock vir Kohlbrugge om advies gevra oor die Afskeiding. Kohlbrugge se mening was dus wel vir hom belangrik. In sy brief aan De Cock het Kohlbrugge De Cock se skorsing ten sterkste afgekeur. Sy advies aan De Cock was egter: “Passief moet ons in alles wees“.

Met “passief-wees” het Kohlbrugge beslis nie bedoel dat ‘n mens niks moet doen nie. Daarmee het hy wel bedoel preek en met preek het hy bedoel dat kerkhervorming in die hande van Christus Triomfator alleen gelaat moet word. Die apostels, skryf hy, het nie geweld gebruik nie, maar het hulle predikamp getrou bly beoefen. Die geheim van die triomf van die apostels se prediking lê daarin dat hulle oorwin het deur die bloed van die Lam. Wie hier ‘n ander weg wil inslaan, is erger as Ussa wat met eie hand die ark van God orent wou hou (2 Sam 6).

Kohlbrugge se advies kom hierop neer: die Lam sal die kerk herstel en Hy alleen. Al wat De Cock dus moet bly doen, is om die Lam te predik. Afskeiding daarenteen beteken vir Kohlbrugge om soos Ussa op menslike reddingsaksies te steun.

Ook ten opsigte van reformasie het  Kohlbrugge net die een boodskap gehad: Christus alleen. Die mens kan dit nie doen nie. Ook in kerkhervorming is die mens ‘n nul. Christus alleen is alles. Daarom moet daar gepreek word en net Christus moet gepreek word.

Kohlbrugge en die Heidelbergse Kategismus

Dit is eie aan ons as mense dat ons meen: óns kan en moet die kerk met ons aktiwiteit red.

Dit is egter in stryd met die belydenis dat die Seun van God die kerk vergader, bewaar en onderhou deur sy Woord en Gees (HK, v/a 54).

Dit is hierdie Skrifbeginsel van ons belydenis waaraan Kohlbrugge vashou in sy uitspraak dat ons passief moet wees.

Kohlbrugge en Luther

Dieselfde hoë waarde wat Kohlbrugge toeken aan die prediking, kry ons ook by Luther.

Vir sommige van sy tydgenote, wat die beginsels van die Reformasie met geweld wou afdwing, sê Luther: “Sulke geweld en drif beteken ‘n gebrek aan vertroue op God.”

En dan wys Luther op die krag van die prediking: “Kyk hoeveel het God deur my bereik, alhoewel ek niks anders gedoen het as bid en preek nie. Die Woord het alles gedoen … Terwyl ek rustig my gang gegaan en geslaap en bier gedrink het met Philippus en Amsdorf, het God aan die pousdom ‘n yslike klap gegee. Ek het niks gedoen nie. Ek het die Woord laat werk.”


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s