Argief

Reeks Abraham 8

Lees: Genesis 17

Teks: Genesis 17:1 (Abraham reeks nr 8)

Datum: 10 Junie 2012

Psalms: 48:1; Geloofsbelydenis; 121:1; 91:1; 150:1

1. Inleiding

In ons tyd is daar ‘n groot diskussie aan die gang oor kerkgroei en die gebrek aan kerkgroei.

Die groot vraag is: Hoé kan die kerk groei?

Dit leer Genesis 17 ons:

  • Dit is nie mensewerk nie: Ons kan nie dooie harte, onbesnede harte, lewend maak nie.
  • Kerkgroei is nie mensewerk nie, maar die werk van God, die Almagtig. Hy maak lewend. Hy bring die kerk in die wêreld deur die krag van sy Woord. Die kerk word gebore deur die heilswerk van Christus. Die kerk word gebore deur die besnydenis van Christus, dit wil sê deur die kruis.

èDit is wat 1 Petrus 1:23 ons ook leer: Ons is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Die groot probleem van ons tyd is: Die magtelose mens wil kerkgroei uit God se hande neem en eie-handig – sonder Woord, sonder Christus – die geboorte van die kerk bewerk.

Ek oordink Genesis 17 met u aan die hand van die volgende hoofgedagtes:

  1. God, die Almagtige, gee lewe uit die dood;
  2. God, die Almagtige, gee lewe deur sy lewegewende beloftewoord;
  3. God, die Almagtige, beteken en verseël sy lewenswoord met sy lewensteken.

2.1 God, die Almagtige, gee lewe uit die dood

Ons sal Genesis 17 in die nouste verband met die voorafgaande hoofstuk moet sien. Genesis 16 en 17 staan radikaal teenoor mekaar:

  • In Genesis 16 is dit die mens sonder God, sonder Christus dus, wat wil sorg dat die groot volk kom. Abram wil self die belofte van ‘n groot nageslag probeer verwerklik met die noodoplossing Hagar. Dit is nou ‘n Christuslose Christendom! Mens-gesentreerd – die hulpelose mens.
  • In Genesis 17 het ons presies die teenoorgestelde: Hier is dit God sonder die mens, God deur Christus alleen. Christus-gesentreerd – God, die Almagtige deur die krag van die kruis en opstanding.

Genesis 17 begin met die opmerking: Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.

Toe Abram nege en negentig jaar oud was

Vers 1 is van die uiterste belang. Dit gee noodsaaklike toeligting op wat gaan volg: die geboorte van die kerk:

  • Menslikerwys gesproke was dit nou heeltemal onmoontlik dat daar nog ooit saad, nog ooit’n nageslag, ooit ‘n kerk kan kom, want Abram was nege en negentig jaar oud. Nou is dit al 13 jaar na die geboorte van Ismael. Nou is die situasie nog hagliker, nog meer onmootlik. Ook Romeine 4:19 laat ons hoor hoe onmoontlik dit menslikerwys was. Want Romeine 4 laat sien: Hier in Genesis 17 is dit nie meer net Sara wat ‘n probleem gehad het nie (Gen 11:31), maar óók Abraham. Sara se moederskoot was verstorwe en óók Abraham se eie liggaam was alreeds verstorwe. Abram staan in Genesis 17 dus voor ‘n dubbele onmootlikheid dat daar ooit ‘n kerk kan kom.
  • Vir mense was dit inderdaad onmoontlik, maar nie vir God nie. WANT teenoor Abram se onvermoë stel die HERE in vers 1 sy alvermoëe. Abram moet weet Wie en Wat die HERE is, wat Hom sy belofte gegee het: Ek is God, die Almagtige. Die Ek staan voorop in hierdie openbaring. Ons sien God, die Almagtige, se almag so heerlik geopenbaar in die koms van dié Saad, want in Lukas 1:35 sê die engel vir Maria: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. En as ons Here Jesus sy kerk uitstuur om dissipels te maak – ons kan sê die geboorte van die kerk -, dan staan Jesus agter sy kerk, Hy wat beklee is met alle mag. Dit is die geheim van die geboorte van die kerk … En ook die rede hoekom ons nie moedeloos moet word as ons voor die menslik onmoontlike te staan kom nie.

God openbaar Hom in hierdie geskiedenis aan Abram en aan ons met ‘n besondere bedoeling:

  • Enersyds openbaar God die mens se totale onvermoeë om die kerk in die wêreld te kan bring. wil Hy ons van alle menslike planne en kragte laat afsien in die ontstaan en groei van die kerk.
  • Andersyds openbaar God sy almag, sodat Abraham stof tot vertroue sal put, sodat ons ons heeltemal aan Hom sal toevertrou, sodat die mens die geboorte en lewe van die kerk net van Hom sal verwag.

Wel moet ons glo. Dit is wat bedoel word met die eis: Wandel voor my aangesig.

Dit is baie belangrik dat u moet weet dat met die wandel voor my aangesig
bedoel word: Abram moet glo. Laat ek verduidelik:

  • In die Griekse vertaling van Genesis 17:1 word die bevel wandel voor my aangesig vertaal met die bevel: Behaag God.
  • In Genesis 5:24 lees ons dit ook van Henog: Hy het met God gewandel, Hy het God
    behaag. In Hebreërs 11:6 word hierdie wandel
    voor God ook vertaal met behaag: Henog het God
    behaag. En dan verklaar Hebreërs presies wat met daardie behaag of wandel bedoel word, wanneer hy skryf: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag

Hierdie wandel voor my aangesig beteken dus: Abraham moet uit die geloof lewe. En spesifiek geloof in die woord dat die HERE God, die Almagtige is, dat Hy kan doen wat Hy beloof het. En in Romeine 4: 16-17 word die wandel van Abraham
presies so beskryf as: … die geloof van Abraham … voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

Wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. Die opreg wees is vrug van die geloof, van die wandel voor God. In onsself is ons nie geregverdig nie, maar deur die geloof is ons opreg. Opreg beteken: volkome (voor God).

Ons kom by die tweede hoofpunt:

2.2 God, die Almagtige, gee lewe deur sy lewegewende beloftewoord

In vers 2 sê God, die Almagtige, vir Abram: En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou. Dit is nie ‘n ander verbond as die een wat reeds in Genesis 15 vers 7 met Abraham opgerig is nie. Wel gaan die HERE Hom in die verbondsluiting van Genesis 17 toespits op die belofte van ‘n nageslag uit Abram. Dit kan ons aflei uit die toevoeging: Ek wil my verbond sluit en Ek wil jou buitengewoon vermeerder.

In antwoord daarop val Abraham op sy aangesig. Dit is ‘n geloofsbelydenis, sê Calvyn. Ons kan maar sê: In hierdie neerval voor God sien ons Abram wandel voor God se aangesig. WANT om te buig voor God se aangesig, om voor Hom te kniel in eerbetoon – voor God se almag en voor sy Woord – dit is dieselfde as wandel voor God se aangesig.

Daarop sê die HERE vir Abraham wat Hy gaan doen: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou. Letterlik staan daar: Ek, kyk, my verbond is met jou …. Die Ek, kyk -, hierdie Ek slaan terug op vers 1, op God, die Almagtige. Die Ek staan met groot nadruk voorop. Hy gaan dit nou waar maak – nie ‘n mens nie. Abraham en ons oë moet goed raaksien Wie dit gaan doen, en Wie en Wat Hy is, wat ons sy beloftes gee. Hy is God, die Almagtige, wat sy beloftes kan en sal waar maak – hoe onmoontlik dit vir ons ook al lyk. … my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word.

En dan voeg die HERE daarby: Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies:

  • Eers het Abram ‘n naam gehad, wat iets sê van ‘n mens, van sy vader. Abram beteken immers: My vader is groot.
  • Nou ontvang hy ‘n nuwe naam, Abraham. En hierdie naam sê nie iets van ‘n mens nie, maar dit verkondig die werk van God: Want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies. Dus: nie die mens, nie my aardse vader nie, maar God is groot, Hy is almagtig.

Ons moet tog sien dat God hier nie net die naam Abraham gee nie, maar dat Hy dit ook boonop verklaar: Abraham … want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.

Hierdie naam Abraham sal ‘n blywende herinnering aan en verkondiging wees daarvan dat die kerk sy oorsprong te danke het nie aan mense nie, maar aan God, die Almagtige … Ek maak jou tot ‘n vader… Dit is ook ‘n enorme troos vir die kerk in ons tyd: Die kerk het sy ontstaan en bestaan en voortbestaan uitsluitlik te danke aan God. En Hy doen dit deur die krag van sy beloftewoord.

Wanneer ons Kategismus bely wat ons glo van die Kerk – oor die ontstaan, bestaan, voortbestaan daarvan -, dan draai die belydenis ons 180° weg van onsself en heeltemal in die teenoorgestelde rigting na die Seun alleen: Ek glo dat die Seun van God vir Hom ‘n gemeente vergader deur sy Gees en Woord en van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe vergader, beskerm en onderhou … En dan die blye geloofsuitroep daarby: en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.

Ons kom by die derde:

2.3 God, die Almagtige, beteken en verseël sy lewenswoord met sy lewensteken

Eers het die HERE gesê wat Hy sal doen: Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.

In vers 9 begin die HERE met Abraham se plig: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. In vers 10 word die eis verder uitgestippel: Dit is my verbond wat jy en jou nageslag moet hou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word.

Die besnydenis is die eerste sakrament in die Bybel. In Kolossense 2:11 tot 12 word die doop die besnydenis van Christus genoem. Deur die doop so te beskryf, word daar ‘n verband tussen doop en besnydenis gelê.

  1. Die doop is ‘n voortsetting van die besnydenis en
  2. Doop en besnydenis wys beide op wat God doen.

Om die gebeurtenis van die besnydenis in Genesis 17 goed te verstaan, moet ons beslis onthou: Dit het alles te make met wat in hierdie hoofstuk al ter sprake gekom het:

  1. Eerstens die totale onmag van die mens om die beloofde nageslag voort te bring en
  2. Tweedens die werk van God, die Almagtige, in die geboorte van die kerk.

‘n Sakrament is immers ‘n teken en ‘n seël van God se beloftes, van sy werk. Eers – tot in vers 8 – het Abram die Woord gehoor. In die besnydenis wil die HERE hom ook laat sien wat hy gehoor het.

Wat kry Abraham te siene in die besnydenis, in die afsny van die voorhuid? Die sondige vlees, die ou mens, staan die geboorte van die kerk in die weg. Die vlees moet onder die mes kom, die oordeelsmes van God. God doen dit in die besnydenis. So maak Hy Abraham tot ‘n groot nasie.

En aan die kruis sien ons die vervulling van die besnydenis: Die kruis is die besnydenis van Christus. Hy is afgesny uit die land van die lewendes, sê Jesaja 53:8. En in sy besnydenis is ons ou mens, die liggaam van die sondige vlees afgelê. Die doop is ook die besnydenis van Christus, want dit beeld die kruis, die besnydenis van Christus, af.

Abraham kry opdrag om te besny. Dit is ‘n geloofsdaad, want daarmee omhels hy God se beloftes. Vers 1 begin met die opdrag: Wandel voor my aangesig, dit wil sê: Glo in God se beloftes! En met die daad van besnydenis doen Abraham dieselfde: Hy glo in God se beloftes. Dit wil sê: Hy wandel voor God se aangesig.

Om nie te besny nie, kom op die teenoorgestelde neer. Dit is nie maar net minagting van ‘n sermonie nie. Dit kom neer op ongeloof, op die verwerping van die besnydenis van Christus, van God se werk. Wie dit doen, moet self afgesny word deur die oordeelsmes. Hy het geen deel aan die besnydenis van Christus in ons plek nie.

3. Slot

  • God wíl hê dat ons die vervulling van sy beloftes uit ons sondige, magtelose hande moet laat.
  • God wíl hê dat ons die kerk in die deurboorde hande van die almagtige Seun van God moet los.

Wat ons ten enemale nie kan doen nie, dit kan Hy wel doen, want in matteus 28 sê Hy: … aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Wat ‘n wonderlike ooreenkoms tussen besnydenis en doop:

  • voorafgaande aan die besnydenis die verkondiging van God se almag;
  • en presies dieselfde voorafgaande aan die doop: … aan my is gegee alle mag. Gaan dan heen … doop hulle Mt 28).

  • Verkondiging van God se almag en die teken van besnydenis,
  • verkondiging van God se almag en die teken van die doop,

SODAT almal kan hoor en sien hoe die kerk gebore word: deur die werk van God, die Almagtige.

AMEN


Reeks Abraham 7

Lees: Gen.15:6-21; Mt 24:15-29

Teks: Gen.15: 6-21; Mt 24:28,29 (Reeks Abraham 7)

Datum: 3 Junie 2012

Psalms: 107:1,2,3; 9:7; 25:7; 105:5,6; 146:8

1. Inleiding.

Ons hoef nie te wonder waaroor dit in Genesis 15:7-21 gaan nie: Dit gaan oor die HERE se oprigting van ‘n genadeverbond met Abram. Vers 18 verklaar dit helder en duidelik: Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit. En kyk ons na vers 7, sien ons dat dit gaan oor Abram se erfenis: die land wat as erfenis aan hom belowe is deur die HERE. Ons moet die woordjie erf, erfenis, mooi in gedagte hou. Daaroor gaan dit in hierdie gedeelte: Die HERE lê sy belofte van ‘n erfenis vas in sy genadeverbond en hierdie genadeverbond het eerder die karakter van ‘n testament. In die genadeverbond lê Abraham se erfenis rotsvas.

Hierdie geskiedenis is hoogs aktueel vir ons is. Ons is in dieselfde verbond as Abram. In die heerlike oomblik van ons doop het gebeur wat hier in Genesis 15 gebeur: God het sy ewige genadeverbond met ons opgerig en ons aangeneem as – kinders erfgename. So lui ons doopsformulier.

En nou wil ek u aan die hand van Genesis 15 laat sien hoe heerlik dit is om gedoop te wees en om in die genadeverbond te mag wees, hoe wonderlik-heerlik hierdie verbond is.

Ons staan stil by die verbond aan die hand van die volgende hoofpunte:

  1. Die genadegeskiedenis wat daaraan voorafgaan;
  2. die beloofde erfenis vasgelê in die genadeverbond;
  3. die belofte deur lyding heen vervul; en
  4. dat die genadeverbond vaslê in Christus

2.1. die genadegeskiedenis

Die geskiedenis van die verbondsluiting van Genesis 15 begin met ‘n stuk genadegeskiedenis in vers 7. Die HERE sê vir Abram: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.

Dit was gebruiklik in verbondsdokumente in daardie tyd: Sulke dokumente het begin met ‘n stukkie geskiedenis. Daarin het die grootkoning vir die kleinkoning sê wat hy in die verlede vir hom was en wat hy vir hom gedoen het.

Die woorde van vers 7 roep die hele geskiedenis van die HERE se genade voor oë. In hierdie hele geskiedenis laat die HERE aan Abram sien wat Hy vir Hom gedoen het: Ek is die HERE wat jou uitgelei het … Daar is geen sprake van wat Abram gedoen het nie, maar net van God se werk. Jesaja 29 vers 22 laat nog helderder sien dat ons in Abram se uitleiding uit Ur met genade-geskiedenis te make het, want daar lees ons: Die HERE het Abraham verlos. Letterlik staan daar: vrygekoop. Dit is dieselfde woord wat gebruik word vir Israel se uitleiding uit die slawehuis van Egipte en wat slaan op die vrykoping deur die Paaslam, Christus (Eks 12 en 13). Net soos Israel later is die geheim van Abram se uitleiding net die offer van Christus. Ek vestig u aandag daarop dat hierdie woorde van vers 7 byna dieselfde is as die van Eksodus 20:2, die verbondsluiting by Sinaï: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Daarmee word ‘n verband gelê tussen hierdie verbond en die Sinai-verbond.

Die HERE laat Abram ook sien wat die doel van die uitleiding was: om jou hierdie land in besit te gee. Beter vertaal: om hierdie land as erfenis te gee. Dit is nog ‘n verdere beklemtoning van die genade van God. Immers, vir ‘n erfenis werk jy nie, jy ontvang dit sonder dat jy ‘n vinger verroer het.

Met hierdie terugblik op die verlossingsgeskiedenis wil die HERE vir Abram iets sê: Hy wil Abram nie net laat sien wat Hy vir hom was nie; die HERE wil Abram óók daarmee leer wat hy in die toekoms van Hom kan verwag – en ook in die verbondsoprigting van nou. God se genadeverbond is ‘n voorsetting van sy genadige handeling met Abram tot hiertoe.

Eintlik moes die genadegeskiedenis vir Abram genoeg gewees het om die belofte te glo. In vers 8 vra Abram egter: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit as erfenis sal ontvang? Is dit nie ongeloof nie? Nee, dit is geloof wat van sy swakheid bewus is. Calvyn skryf hierby so mooi: Goddelose mense glo die belofte glad nie. Vromes daarenteen soek medisyne vir die kwale waarvan hulle bewus is, vir die kwaal van kleingeloof, sodat hulle nie God se Woord in die weg sal staan nie.

Ons is maar nie beter as die vader van die gelowiges nie. Want hoeveel male twyfel ons nie aan God se beloftes nie, en dit ondanks die feit dat die HERE op so ‘n onuitspreeklik grootse wyse sy liefde en sy trou aan ons bewys het in die verlossingsgeskiedenis.

Maar kyk nou met hoeveel geduld die HERE ons en Abram te hulp kom. Hy doen dit deur

2.2 sy belofte vas te lê in ‘n genadeverbond

As dit vir sy kneg swaar is om sy Woord te glo, snel Hy hom te hulp met ‘n verbondsluiting. In vers 9 en 10 antwoord die HERE Abram: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.

As kind van sy tyd het Abram presies geweet wat hier aan die gebeur is: Die HERE wil ‘n verbond met hom oprig. In so ‘n verbond is die ooreenkoms, die wedersydse beloftes, regtens vasgelê, gewaarborg en verseker.

Ek kom nog terug op die hele slagseremonie en die betekenis daarvan. Nou volstaan ek daarmee deur te sê: Die diere wat Abram moes slag, was spesifiek diere wat later in Levitikus voorgeskryf is as offers vir die HERE. In vers 9 sê die HERE Self uitdruklik dat hierdie diere vir Hom bedoel is: Neem vir my

Abram vra dus: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit sal erf? En dan antwoord die HERE hom met sy genadeverbond: Hieraan – hieraan kan Abram met alle sekerheid weet dat hy die land sal beërf: hieraan dat die HERE na hom toe kom deur die offer heen, deur bloed heen. In die bloed lê die verbond vas.

Die belofte sal dus sekerlik vervul word, maar Abram moet óók weet:

2.3. die belofte sal deur lyding heen vervul word

Dit kom ter sprake in vers 11 tot 16. In hierdie verse sê die HERE vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. Voordat Abram se saad, sy nageslag, die erfenis sal ontvang, sal hulle eers ‘n tyd van verdrukking deurgaan. Hul weg na Kanaän sal dus deur die diepte, deur duisternis, gaan. En eers wanneer die ongeregtigheid van die Amoriete vol is, dit wil sê wanneer die HERE se geduld op is met die toenmalige inwoners van Kanaän, sal sy volk die land beërwe.

Hierdie lydensaankondiging word voorafgegaan deur ‘n besondere gebeurtenis direk op die middeldeur deel van die offerdiere, want in vers 11 hoor ons: Toe kom daar roofvoëls (liewer: aasvoëls) op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.

Die woord aasvoëls word meestal gebruik vir ‘n teenstander, ‘n vyand. Die offer word bedreig, want die aasvoëls kom op die dooie diere af. Die offer en dus die verbond kom in die grootste gevaar.

Hierdie gebeurtenis is ‘n profesie van die groot verdrukking van Israel in Egipte. Daarmee is nie net Israel, die saad van Abram, bedreig nie. Die verdrukking van Egipte was ‘n poging van die duiwel om dié Saad van Abram, Christus – om sy koms te verhoed.

Hierdie gebeurtenis is ook vir ons uitermate aktueel, want in Matteus 24:28 word na Genesis 15 teruggegryp, wanneer Jesus sê: Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.

Kom ons kyk daarom na Matteus 24. Dit gaan oor die groot verdrukking, die vervulling van die verdrukking van Israel in Egipeland. Dit gaan oor die verdrukking van die kerk in die laaste dae. Met die laaste dae word bedoel: die tyd tussen Christus se hemelvaart en wederkoms. Dit gaan dus om ‘n verdrukking wat die getroue volk van God nou ervaar.

Daar is besondere ooreenkomste tussen Genesis 15 en Matteus 28 en daarop wil ek u aandag vestig:

  • Dit begin al met die woorde: Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. In Genesis 15 word die offer vir die HERE, die verbond bedreig – ja, Christus word aangeval. En in Matteus 24 gaan dit eweneens oor Christus wat weg moet, uitgeskakel moet word. Want met die wantwant oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom -, met die want word teruggegryp op die valse christusse van vers 24. Die valse christusse is ‘n poging om Christus uit te skakel.
  • Tweedens: Sowel in Genesis 15 as in Matteus 24 word voorts die toneel van die aasvoëls gevolg deur ‘n verwysing na die verduistering van die son (Gen 15:12; Mt 24:29).
  • Die derde ooreenkoms is dat in beide Skrifgedeeltes die duisternis gevolg word deur die belofte van verlossing (Gen 15:14; Mt 24:30): En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Dit veral moet ons raaksien: Alles is gemik op Christus om Hom uit te skakel. Op Hom is die aktiwiteit van die aasvoëls gemik. Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. Dit moet ons nie net gaan toepas op mense wat Christus loën nie. Ons moet ook na onsself kyk en kyk hoe óns – ja, óók óns –, hoe ook óns nie leef uit die werk van Christus nie, nie soek na Christus nie, sy werk in die weg staan, sy woord verhinder.

In hierdie geskiedenis word geprofeteer wat ons sal ondervind. Want ons pad na die hemelse heerlikheid gaan deur die donker van miskenning, bespotting en vervolging. En as u vra: hoelank sal dit nog duur? – dan antwoord die HERE u hier: Eers wanneer die maat van die sonde van die heidene vol is, dan sal Christus weerkom en sy en sy volk se vyande oordeel. Intussen is die HERE nog lankmoedig met hulle, want Hy wil hulle kans gee om hulle te bekeer.

MAAR … te midde van die verdrukking moet ons weet dat

2.4. dat die verbond, die erfenis vaslê in Christus

Ek kom terug op die slagseremonie van vers 9 en 10. Verbondsluitings in die Ou Ooste het gepaardgegaan met so ‘n slagseremonie: ‘n Aantal diere is middeldeur gesny en die helftes is teenoor mekaar geplaas. Tussen die twee heftes het dus ‘n pad geloop, ‘n straat van bloed. Op daardie pad moes die twee partye in die verbond loop, die Groot- en die Kleinkoning. Daarmee het beide van hulle verklaar: “Ek mag soos hierdie diere in twee gesny word as ek die verbond nie hou nie”. Vgl Jeremia 34.

Toe Abram van die HERE die opdrag ontvang het om die diere in twee te sny, het hy dadelik as kind van sy tyd geweet waaroor dit gaan: Die HERE wil ‘n verbond met my sluit. Hy was ook terdeë daarvan bewus: die dooie diere spreek van die straf op verbondsbreuk.

Miskien het die vrae ook deur sy kop gemaal: Hoe kan die belofte van die verbond ooit waar word as dit van my afhang? En toegepas op ons: Hoe sal God se verbondsbeloftes aan ons, die belofte van die ewige erfdeel, ooit in vervulling gaan as dit afhang van ons trou aan God se verbondseise.

Maar in hierdie geskiedenis word die wonder, die genade van die verbond aan ons geopenbaar.

  • Want by die sluit van ander verbonde was dit so dat beide partye in die verbond tussen die stukke deurgegaan het. Daarmee het altwee dan gesweer: Mag ek in stukke gekap word soos hierdie diere indien ek die verbond verbreek, ja mag die straf van die verbond my tref.
  • MAAR kyk nou wat het gebeur in die verbond wat God met Abram gesluit het: Wie het hier tussen die stukke deurgegaan? Was dit Abram én God? Nee, die HERE alleen gaan tussen die stukke deur in die gedaante van ‘n rokende oond en ‘n vurige fakkel!
  • Daarmee sê die HERE: Hy neem dus die volle verantwoordelikheid vir die verbond en die die vervulling van die verbond op sy skouers. Dit sluit dus ook die oordeel oor verbondsbreuk in. Hy sal liewer afgesny word.

In vers 18 lees ons: Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit. Maar letterlik staan daar dat Hy sy verbond gesny het. Daardie gesny verwys na die sny-, die slagseremonie. En in Jesaja 53 (5,8) lees ons inderdaad hoe die HERE die oordeel op sy Seun laat neerkom het: … die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom … en … wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? En is dit is presies wat gebeur het op Golgota. In Galasiërs 3:13 skryf Paulus: Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word. Hy het die verbondstraf gedra en ons so losgekoop van die vloek. Daar het u weer die woord losgekoop! En toegepas op ons!

3. Slot.

Dit is opvallend dat die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint) die Hebreeuse woord verbond vertaal met ‘n woord wat testament beteken. Ons hoor dit ook in die woorde Ou Testament en Nuwe Testament. In vers 7 het ons ook gelees dat die HERE Abram uitgelei het met die doel om die land Kanaän aan hom as erfenis te gee. En ‘n erfenis gaan nie in vervulling omdat die erfgename iets gedoen het nie, maar omdat die erflater gesterf het. Abram erf, omdat die Seun sterf – sterfpaal-erfpaal. In die dood van die Seun lê die erfdeel vas. Op hierdie beeld van ‘n testament kom Paulus ook terug, wanneer hy die Galasiërs wil leer: nie deur die werke van die wet nie, maar deur die geloof alleen.

AMEN

Reeks Abraham 6

Lees: Genesis 15:1-6; Romeine 4

Teks: Genesis 15:1 (Reeks Abraham nr.6)

Datum: 13 Mei 2012

Psalms: 18:1,2; 9:7 ;16:1,2; 18:14,16; 89:7

1. Inleiding

Ons geloofslewe is nie ‘n altyd reguitlopende lyn nie: Soms skiet die lyn die hoogte in; ander kere stort dit in die diepte neer. Ons geloof ken sy hoogte- én sy laagtepunte:

  • Soms bevind ons ons op die kruin van geloofsvreugde. Soms loop ons oor van geloofsvertrou, sodat ons dit saam met Dawid (Ps 18:29) uitroep: Want met u loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
  • Ander kere word ons geloofslewe weer gekenmerk deur ‘n gebrek aan vertroue in die HERE. Dan kan die toekoms vir ons so uitsigloos en donker lyk. Dan bevind ons ons onder in die dal van kleingeloof.

Hierdie opstygende en neerdalende lyn sien ons ook in die lewe van Abram, die vader van die gelowiges.

  • Want wel is dit so dat Hebreërs 11 hom plaas in die ry van geloofshelde: Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek (v 8). En: Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer…want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek (vv 17-18).
  • Maar Abram was nie supergelowige wat ver bo ons staan nie. Hy was ‘n mens net soos ons. Daarom het hy in sy geloofslewe ook die laagtepunte, die diep dal van kleingeloof, geken. En juis daar tref ons hom in die begin van Genesis 15 aan.

In die geskiedenis van Genesis 15 leer ons onsself ken.

Ja, maar ons leer óók God ken: Wie en Wat God vir ons is. Twee dinge word van Hom gesê, twee dinge wat so troosryk en leersaam is in ons tyd van hewige aanslae teen die kerk, in ons tyd van gejaag na aardse rykdom:

1. die HERE is ons beskerming; en

2. die HERE is ons rykdom.

2.1. Die HERE is ons beskerming

In Genesis 15 tref ons Abram dus aan op ‘n laagtepunt van sy geloofslewe.

Wat was dan die probleem? Wel, Abram was bang. Want anders sou die HERE sekerlik nie vir hom gesê het: Vrees nie, Abram….

Om dit uit te vind waarvoor hy bang was, moet ons mooi let op die begin van ons teks: Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom … en gesê: Vrees nie, Abram …. Na hierdie dinge, na hierdie dinge het Abram bang geword en het die HERE hom opgeroep om nie te vrees nie. Watter dinge was dit dan? Dit was die gebeure in die vorige hoofstuk: Abram se oorwinning oor die wêreldmoondheid van Kedor-Laomer. Dit was ‘n grootse oorwinning. Maar nou het Abram, die dappere, Abram, die groot krygsheld, begin bang word. Waarskynlik het hy begin tob: Wat sal gebeur as Kedor-Laomer terugkom, as hy met méér konings teen my saamspan?

Dit is tog eintlik verbysterend dat Abram bang is, nie waar nie? Want:

  • Maar kort gelede het hy ondervind hoe magtig sy God is en hoe die HERE die vyand in sy hand gegee het nie. Ons kan maar gerus sê: Hy het die evangelie te siene gekry: Christus se die oorwinning oor Kedor-Laomer om sy ontwil – sigbare evangelie.
  • En dit is nie al nie. Christus het deur sy gesant Melgisedek na Hom toe gekom met sy Woord. En deur die krag van daardie Woord kon hy die duiwelse versoeking van die koning van Sodom weerstaan. Christus het sy Woord soos ‘n ondeurdringbare muur ingeskuif tussen die woord van die koning van Sodom en Abram.

Maar nie net by Abram kry ons dit nie – hierdie laagtepunte ondanks die Woord, ondanks die heerlike evangelie van Christus se triomf nie:

  • Ons sien dit ook in die lewe van Israel nie: Keer op keer en male sonder tal het die HERE sy volk op luisterryke wyse verlos: die uittog uit Egipte, die deurtog deur die Skelfsee en nog baie meer. En tog: hoevele male het hulle nie gewanhoop en gevrees in die aangesig van hul teenstanders nie – en dit maar kort nadat hulle die reddende regterhand van die Here gesien en gevoel het.
  • én – ons sien dit ook in ons eie lewe. Want ons het ‘n veel en veel ryker openbaring van God se almag. Ons het kennis van die mees glorieryke oorwinning: die oorwinning van die kruis, die triomf van die Seun van God oor ons grootste vyand, die Satan, op die slagveld van Golgota. Ons weet hoe Hy die dood ontroon het deur sy opstanding uit die graf. En dat Hy opgevaar het na die hemel: dat Hy beklee is met alle mag in die hemel en op die aarde en dat Hy met sy almag met ons is. Ja, ons weet dit alles. En tog, en tog …. dit alles het ons, maar nogtans … hoeveel keer twyfel óns nie, is óns bang vir die toekoms en is óns onseker oor ons voortbestaan as kerk? Dan leef óns asof daar nooit ‘n kruis was nie en asof daar geen God in die hemel is nie en asof ons geen beloftes van die HERE het nie.

Daarom het ons geen rede om op Abram neer te sien nie, maar wel alle rede om langs die vader van die gelowiges te gaan staan en die HERE te pleit: Kom U ons kleingeloof te hulp!

En dit sien ons op so ‘n heerlike wyse geopenbaar in hierdie geskiedenis: hoe die HERE Abram in die krisis van sy geloofslewe te hulp snel. So is God. Hy raak nie ongeduldig met hom nie. Maar Hy kom na Abram toe met sy Woord. Want na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom...”. Dié woord, dit is alles. Dié woord moet vir Abram genoeg wees.

En so het God deur die eeue heen sy volk getroos en gesterk: met sy Woord. Altyd weer het sy Woord weerklink. Want telkens weer hoor ons hoe die HERE tot Israel spreek deur die mond van sy profete. En uiteindelik het God so ver gegaan dat daardie Woord vlees geword het om ons te red en te bewaar: Jesus is gebore en het gesterf en opgestaan! En daarna het die Here sy Woord die wêreld in laat gaan deur sy apostels en evangeliste en met daardie Godswoord moes hulle die gemeentes opbou en versterk in hulle geloof.

Met ons, gelowiges van die een-en-twintigste eeu, gaan dit nie anders en handel die Here nie anders nie: Met sy Woord daal die Here uit sy hoë hemel neer in die diepte van ons bestaan en in die afgrond van ons ongeloof. Is dit nie ‘n ontsaglike groot wonder nie: dat die Allerhoogste God Hom nog bemoei met mense wat net stof en as is en met mense wat Hom soveel kere terleurstel, nie? Is dit nie genade om van stil te word nie? Met daardie Woord snel Hy ons te hulp en daardie Woord, ja, dit kom na ons toe daar by die huis en hier in die kerk. Waardeer ons nog sy Woord? Gaan luister ons nog daarna? Want, ja, met daardie Woord wil Hy ons verlos uit ons angs en ons vertwyfeling en ons verdriet en ons kleingeloof. Met daardie Woord wil Hy ons geloof versterk.

… DEUR ons aandag op Hóm en op Hóm alleen vestig: op Wie en Wat Hy vir ons is, wat Hy doen, sy dade.

Want met nadruk staan dit in die oorspronklike: Ék. Ék is jou skild…. Ék, die HERE self, Hy is die hart en die sentrum en die middelpunt van die trooswoord wat tot Abram kom. Want die Bybel is per slot van rekening nie in die vernaamste plek ‘n boek wat ons vertel van die doen en late van mense en van Abram se dade en Dawid en andere se handelinge nie. Dit is die Boek oor God en wat God doen tot heil van sy volk. Dit is die Woord wat aan ons verkondig wat Hy vir ons wil wees.

En vir ‘n bang Abram, omring aan alle kante deur ‘n vyandige wêreld, sê Hy dan ook: Ek is vir jou ‘n skild. Dit wil Hy vir sy kind wees: ‘n skild ter beskerming – ‘n muur van staal, sê Calvyn. Hierby kan ons maar dink aan die skild van ‘n soldaat wat die kryger moet beskerm teen die pyle en die swaarde van die vyand.

En wat alles nou des te wonderliker maak, is die feit dat die HERE ons nie iets gee om ons te beskerm nie, maar Iemand. Ja, Hy gee Homself. Hy wil en is en sal Self daardie skild wees wat tussen ons en die vyandsvuur in gaan staan.

Die HERE Self ons skild – dit was ‘n beeld wat die Psalmdigters diep aangegryp het. Om by die Here te skuil en dat Hy ons beskerm – dit is ‘n sentrale, ‘n deurlopende lyn in die Psalms. Telkens noem hulle die HERE hulle skild. Dink maar net aan Psalm 18 vers 1, wat ons aan die begin van die diens gesing het:

“Die HEER’s my rots, my vesting sterk,

…my skild, die weerkrag van my heil…”. (Ps 18:1, Totius)

En waar in die Nuwe Testament het ons ‘n duideliker bewys dat die Here self – in eie Persoon! – as ‘n skild tussen ons en die duiwel wil gaan staan en sy vlammende pyle op Hom wil laat afkom as op Golgota. Want daar het Hy vurige pyle van die Bose trotseer en oorwin. Dit het Hy gedoen om sy volk te verlos. Teen die duiwel het ons daarom geen beter skild as die eie Lam van God en sy bloed nie. Daarom berym Totius Openbaring 12:10-12 in Skrifberyming 12:3 so treffend:

Die Lam wat hul laat triomfeer

sy bloed het hul gedek as skild

en al die pyle afgeweer.

Teen hierdie skild vermag al die aanklagte en aanvalle van die Satan niks nie. Daarom, wanneer die duiwel u beskuldig en u wil laat twyfel oor u verlossing, hou dan as skild op teen sy aanvalle: die skild van Golgota, die eie Seun van God. En roep Satan toe: my Lam, my Jesus, het volkome betaal vir al my sondes. Daarom kan jou pyle en jou aanklagte my nie deer nie.

Voor sy hemelvaart het ons Here Jesus verder aan sy kerk belowe: Hy wil met sy almag met ons wees. En is dit nie ‘n besondere gedagte nie: die almagtige Koning van die kerk soos ‘n skild rondom ons?! Troos dié skild u?

Neem die skild van die geloof op, sê Paulus in Efesiërs 6 vers 16. Daarmee bedoel hy nie dat die geloof self so magtige verdedigingsmiddel is nie. Ag nee! Ons geloof is so swak. Ons sien dit mos in hierdie geskiedenis. Maar met die hand van die geloof neem u God self, die skild van die gelowige, op. En dan is u so veilig as wat maar kan kom, want dan gaan u skuil agter God self.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. die HERE is ons rykdom

U sal sekerlik onthou dat die koning van Sodom, na die oorwinning van Abram oor Kedor-Laomer, aangebied het dat Abram maar die buit kon neem. Maar dié loon het Abram van die hand gewys. Die koning van Sodom mag nooit sê: hy het Abram rykgemaak, nie. Hy wou nie leef uit die hand van mense nie, maar uit die hand van die HERE alleen.

Was Abram miskien spyt dat hy die loon afgewys het? Dit is moontlik dat die duiwel hom in die verband probeer versoek het.

Calvyn sê hierby: Ons as mense word deur verskillende en ontelbare begeerlikhede van ons sondige natuur heen en weer geslinger en op verkeerde paaie gelei; ons is so geheg aan die teenwoordige lewe.

In hierdie geloofsversoeking kom die HERE Abram te hulp, weer met sy Woord. Hy doen dit altyd met sy Woord. En in sy Woord sê God vir sy kneg: Ék, Ek self, Ék
is jou uitermate grote loon. So kan ons die woorde ook vertaal. Weer ontvang Abram die Woord en weer wys die Here Abram in daardie Woord op Homself: wat Abram aan God het. Ons moet besef dat God ons kosbaarste besit is.

Calvyn skryf by hierdie woorde: Dan eers is ons werklik gelukkig, as God ons Vriend is. Want God oorlaai ons nie alleen met allerhande weldade nie, maar Hy gee Homself aan ons om te geniet. Want wat sou ons as mense nog meer kon verlang as om God te besit.

Maar, sê Calvyn, niks is moeiliker as om die verkeerde luste van die vlees te beteuel nie en ons goddelose ondankbaarheid is so erg, dat God ons nooit genoeg gee nie. Daarom noem die HERE Homself nie net ons loon nie, maar ons baie groot loon. Daarmee moet ons meer as tevrede wees. Hierdie baie groot loon – God self – is die oorvloedigste stof tot vertroue en ‘n hegte steun.

Vir Abram was die Woord van die HERE besonder troosvol.

Maar hy het tog nog ‘n probleem gehad: Die nageslag, die saad, wat die HERE aan hom beloof het. Want hy en sy vrou was al oud en nog het hulle nie ‘n kind van hul eie gehad nie.

Miskien dink: wat het dit met die loon te make waarvan God gepraat het? ALLES! Dit het alles daarmee te doen. Want immers: uit die nageslag, uit die saad van Abram sou dié Saad, die Christus, gebore word, in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Die Seun van God, self God, Hy is ons uitermate groot loon. Want Hy – God in eie persoon dus – HY is ons verlossing. EN
ons weg na die Vader. EN
ons Bruidegom. As ons Hom het, het ons alles. Dan het ons God. Na daardie loon , die koms van die groot Saad, het Abram ook uitgesien.

Dit is wonderlik hoe die HERE Abram se geloofstwyfel te hulp kom:

  1. Eerstens herhaal Hy sy belofte van ‘n groot nageslag.
  2. Tweedens gee Hy Abram ook ‘n teken: die sterre aan die hemel. So ontelbaar, sê Hy vir Abram, so sal jou nageslag wees.

Ons is omring deur skrik en duisterheid:

uit donker plekke loer die onheilsmagte.

Maar bo ons skyn die helder sterrewagte

van u verbond, waarop ons voor U pleit.

So het God sy volk se kleingeloof telkens weer met tekens te hulp gekom. Ook ons ontvang twee tekens: die doop en die nagmaal. En in beide gaan dit om God se loon aan ons: God self. Immers, in die doop word God self, die Vader en die Seun en die Heilige Gees aan ons belowe. Beide die doop en die nagmaal belowe en verseker dat die aan Abraham beloofde Saad, dat die Verlosser, dat die rykste loon denkbaar ook vir ons bedoel is en beloof word.

Abram het op God Self gesteun, toe hy hierdie beloftes geglo het. Daarom word daar gesê: En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Hier in Genesis 15 is geen sprake van werke nie, maar net geloof. En daardie geloof was nie eens Abram se eie werk nie. Inteendeel, hy het gevrees. Maar toe het die HERE sy Woord en sy teken vir Abram gegee. En deur die krag van sy Woord is die regverdigmakende geloof by Abram geskep.

3. Slot

Met die Woord van Genesis 15 het God ook ons vandag te hulp gekom in ons vrees en nood. Met die Woord het Hy ons op Homself gewys. En:

  • wie God het, het ‘n beskermer sonder weerga.
  • wie God het, het ‘n weelde wat nie gemeet kan word nie.

AMEN

Reeks Abraham: Preek 5

Lees: Gen.13:14-14:24; Hebreërs 7:1-11

Teks: Gen.14:18-20 (Reeks Abraham nr.5)

Datum: 6 Mei 2012

Psalms: Ps 118:1,2; Geloofsbelydenis; 118:3,4; 118:5,6; 118:7,8

1. Inleiding

Hoeveel kere gebeur dit nie: Ons kom in die kerk, ons hoor ‘n besondere en ‘n blye boodskap en – gaan ons uit die kerk, dan word ons juis op daardie punt deur Satan in die versoeking gelei? Ek noem u enkele voorbeelde:

  • U het miskien een Sondag ‘n preek gehoor van God se besondere sorg, dat Hy u Vader is en dat Hy elke dag aan ons wil gee wat ons nodig het vir liggaam en siel. En u vind dit besonder troosryk. Maar net in die nuwe week kom daar die vreeslikste finansieële bekommernisse op u weg. En Satan bring u in die versoeking om te dink: Ek moet self sorg dat daar uitkoms kom. Ek self! En u dink nie meer aan die mooi preek waarin u geleer is dat u ‘n Vader in die hemel het wat sê: EK, die HERE, Ek sal vir jou sorg nie.
  • ‘n Ander voorbeeld: Die verlossingswerk van Christus word in al sy heerlikheid aan u verkondig: dat Hy ons verlos van die skuld en die mag en die gevolge van die sonde. Maar skaars is u uit die kerk en u maak al weer staat op u eie vroomheid en krag Ja, juis op die punt waaroor gepreek is, lei die Satan u in versoeking.

Dit sien ons óók gebeur in die lewe van Abram.

Maar ons hoor óók hoe die Here self Abram versterk in sy versoeking en hoe Abram, met die hulp van die HERE, die versoeking oorwin. Daarom is hierdie geskiedenis vir ons besonder leersaam in ons versoekings, want hier wys God ons die weg tot triomf oor die verleiding van die Satan.

In verband met hierdie geskiedenis van Abram let ons op:

1. die versoeking;

2. die versterking in die versoeking; en

3. die antwoord op die versoeking.

2.1. Die versoeking

So pas, in Genesis 13 vers 15 en 17, het Abram van die HERE Self te hore gekry: … die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. Die hele sin, elke frase daarvan, het besondere nadruk: die hele land wat jy sien, vir jou en vir jou saad en ék sal dit gee. Alles word beklemtoon. Maar – die laaste het nog die meeste klem: ék sal dit gee.

So pas was Abram by wyse van spreke in die kerk. So pas het hy die blye boodskap gehoor: ék, ék die HERE, sal die hele land Kanaän aan jou gee; Ek sal dit doen. So pas het dié woorde uit die mond van die HERE weerklink, of die versoeking kom op hom af om te dink: ék het die oorwinning behaal; ék, Abram, ék sal sorg dat hierdie woord waar word.

Kom ons kyk met aandag na die geskiedenis van Genesis 14. En by voorbaat vestig ek u aandag op die woorde van Melgisedek aan Abram in vers 20: Geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Daarmee sê die HERE by monde van sy gesant aan Abram: Die oorwinning was van die HERE en nie danksy Abram nie.

In die tyd van Abram was Kanaän nie ‘n politieke eenheid nie. Dit het uit baie klein stadstaatjies bestaan, elkeen met sy eie koning. In Genesis 14 word vertel dat ‘n sekere Kedor-Laomer, die koning van Elam, met drie bondgenote vyf van die stadskonings van Kanaän, die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Soar, aan hom onderwerp het. Vir twaalf jaar het dié oorheersing geduur, maar in die dertiende jaar het hierdie Kanaänitiese stadstate teen Kedor-Laomer in opstand gekom. Die uiteinde van die konflik was dat Kedor-Laomer en sy bondgenote die konings van Kanaän verpletterend verslaan het. Al die goed en voedsel van Sodom en Gomorra is ook buitgemaak en weggevoer.

Dit was ‘n oorlog wat ook Abram direk geraak het. Immers, Lot, sy broerskind, het in Sodom gaan woon het in vers 12 lees ons: Kedor-Laomer en sy bondgenote het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek. Ag, arme Lot! Hy het agter die begeerte van sy oë aangetrek. Maar nou het hy alles, al sy goed en sy vryheid daarby, verloor. Hoe tydelik en verganklik het die aardse rykdom nie geblyk te wees nie.

En nou kon Abram maklik geredeneer het: Ja, Lot, jy het baie lelik met my gemaak; jy het eerste gekies, al was ek ouer as jy en jy het die beste vir jouself gevat en die slegste vir my gelaat. Nou moet jy maar self sien en kom klaar. Nou help ek jou nie. Is dit nie hoe ons dikwels maak met mense wat ons te na gekom het nie?

Abram kon ook geredeneer het: My liewe Lot, jy het self gekies vir Sodom. Jy het goed geweet wat se slegte stad dit is. Dat jy nou in die moeilikheid is, is jou eie skuld. Sorg nou maar self dat jy daaruit kom. En dink ons nie baie maal ook maar so ten opsigte van ‘n broeder of suster wat as gevolg van eie skuld in die moeilikheid beland nie?

Maar so maak Abram nie! Hy bly Lot sy broer noem en hy mobiliseer sy weerbare manne om Lot te gaan bevry.

En – Abram behaal ‘n klinkende oorwinning en Lot word bevry. Deur die hand van die HERE – let wel!

Maar nou die versoeking: in die oorwinning het daar vir Abram ‘n geweldige versoeking gelê. Hy was nou in die oë van die Kanaäniete ‘n geëerde man. Immers, hy het die verdrukte stede verlos van Kedor-Laomer, hy met sy skitterende leër, en hy het die gevangenes en die buit teruggebring. Onder die Kanaäniete sou hy sekerlik voortaan bekendgestaan het as Abram die geweldige, Abram die oorwinnaar oor die wêreldryk. By die kampvure in die woestyne sou met eerbied sy naam vermeld word: Abram, die magtige, Abram wat konings verslaan, wat oor wêreldmagte triomfeer. Ja, in die oë van die Kanaäniete was hy nou iemand wat homself kon handhaaf en homself kon red, as dit daarop aankom.

U begryp dat die versoeking groot was. Pas het die HERE aan hom verkondig: EK, Ek die HERE, Ek sal die land Kanaän vir jou gee; Ek sal dit doen. Maar nou was die verleiding vir Abram baie groot om te dink: Ek het die oorwinning behaal, sonder God; ek kan self sorg dat die landsbelofte in vervulling gaan. Dit was inderdaad vir Abram ‘n groot versoeking om nie langer op die HERE te vertrou nie, maar om op eie krag staat te maak.

Dit is iets wat ons almal van nature graag wil doen: op eie bene staan. Ons wil nie afhanklik wees nie, ook nie van God nie. Sedert die sondeval sit dit in ons almal se natuur: dat ons soos God wil wees, dat ons vir onsself wil sorg. Liggaamlik én geestelik.

Abram het die beloftewoord van Christus gehoor. Hy het die oorwinning van Christus aan eie lyf meegemaak. En nou gaan hy juis op hierdie punt versoek word.

2.2. Die versterking in die versoeking

In vers 17 en verder hoor ons van twee ontmoetings wat Abram gehad het na sy oorwinning: ‘n ontmoeting met die duiwel en ‘n ontmoeting met Christus.

  • Die eerste ontmoeting, die ontmoeting met die duiwel, vind plaas in vers 17. Die koning van Sodom kom na Abram toe. Agter hierdie hele geskiedenis moet u die duiwel aan die werk sien. Dit is Satan se skuif op die skaakbord. Hy stuur die koning van Sodom. Hy moet Abram aanmoedig om hierdie onheilige weg te betree om nie meer te leef uit die hand van God alleen nie.
  • Maar voordat die duiwel tot aksie kan oorgaan, gryp God in. ‘n Tweede ontmoeting vind plaas. ‘n Ontmoeting met Christus kan ons gerus maar sê. Melgisedek, die koning van Salem, kom Abram tegemoet. Uit die bloute uit. Voordat die koning van Sodom sy mond kan oopmaak, verskyn Melgisedek op die toneel. Die koning van Sodom se gesprek, sy ontmoeting met Abram, word onderbreek. Dit is God se skuif en met die skuif sit hy Satan skaakmat. Ons kan die oorspronklike miskien beter so weergee: die koning van Sodom kom na Abram, maar Melgisedek … (v18). Maar Melgisedek! Dit is die MAAR van God se reddende, ingrypende genade: voordat sy kneg kan val, steek God sy hand uit in die persoon van Melgisedek. Melgisedek is sy gesant; Melgisedek is gestuurde van God.

In die Hebreeus word die verskyning van Melgisedek so weergegee, dat ons hierdie ontmoeting moet verstaan as noodsaaklike agtergrond van die ontmoeting van Abram met die koning van Sodom en Abram se reaksie op die aanbod van die koning van Sodom. Om dit nou maar so te sê: Deur en danksy hierdie ontmoeting maak Abram die regte keuse, wanneer hy die gesprek met die koning van Sodom hervat. Die ontmoeting met Melgisedek is die geheim, die verklaring van Abram se regte optrede teenoor die koning van Sodom. Dit bepaal Abram se optrede.

Wie was hierdie Melgisedek? Daar kan baie oor hom gesê word, maar ek wil volstaan met die opmerking: hy was ‘n afbeelding van Christus, ‘n heenwysing na die groot Verlosser-koning wat sy volk sou kom red deur homself as priester te offer. Ons Here Jesus is Koning en Priester tegelyk, soos Melgisedek dit ook was.

Ons kan dus gerus sê: Abram het in ontmoeting met Christus gehad. In die persoon van Melgisedek het hy te staan gekom voor die Seun van God. Agter Melgisedek staan Christus Self.

Hoe red Melgisedek Abram van die helse verleiding? Dit lees ons in vv.19-20. Wat
Melgisedek sê, sy Woord, plaas Abram se oorwinning in die regte perspektief:

  1. In die eerste plek seën hy Abram: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. Daarmee vestig Melgisedek Abram se aandag op die seën van God en dat Abram alleen danksy die seën van die HERE die land van seën sal beërwe. Met dié daad herinner hy Abram daaraan: alleen die seën van die HERE maak ryk, maak gelukkig. Alleen onder sy seënende hand en danksy sy seënryke bystand en hulp en sal Abram en sal ons Kanaän ontvang.
  2. In die tweede plek kom Melgisedek met ‘n lofprysing. Hy maak die HERE groot deur te sê: En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Daarmee sê Melgisedek vir Abram: die oorwinning was nie jou oorwinning nie, maar God s’n; daarom sal jy die land ontvang alleen deur sy hulp ….

As Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons hoe die HERE die ewige Kanaän vir ons verkry het. Dit was alleen danksy die oorwinning van sy Seun aan die kruis, op die slagveld van Golgota. Daar het Hy die ou slang se kop verpletter. Daardie oorwinning was voluit God se oorwinning en syne alleen. Hy alleen het ons doodsvyande, die sonde, die duiwel en sy ganse ryk, verslaan. Daarom: Geseënd/geloofd is God, die Allerhoogste, wat ons vyand in ons hand gegee het. Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer! Hy en Hy alleen, Hy sonder ons, open met sy oorwinning die weg na die hemelse Kanaän.

In antwoord op die woorde wat hy gehoor het, gee Abram ‘n tiende van alles aan Melgisedek. Beter gesê: hy gee dit aan God. Immers, Melgisedek was die verteenwoordiger van die HERE. Wat wou Abram daarmee sê? Wel, die tiende verteenwoordig die ganse buit en deur die tiende aan God te gee, erken Abram: die hele buit kom U toe, HERE, want die oorwinning is van U. Hy bely dus dat hy alleen deur God en nie deur eie krag die land sal ontvang. Dit wil die Here ook van ons hê: dat ons aan Hom alleen die eer sal gee vir alles.

Ons kom by die derde:

2.3. die antwoord (Abram se antwoord) op die versoeking

Direk na Melgisedek kom die koning van Sodom, kom die Satan aan die woord. Hy sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.

U moet die teenstrydigheid in die woorde van die koning van Sodom sien:

  • Enersyds erken hy dat Abram die oorwinnaar is. Daarom sê hy: Gee, gee my die mense.
  • Maar andersyds maak hy asof hy beskikking het oor die buit. Daarom sê hy: Maar neem die goed vir uself

Hierdie was ‘n duiwelse versoeking, want as Abram hier sou toegegee het, sou hy met dié daad erken het dat hy leef uit die hand van die koning van Sodom en nie uit die hand van die HERE alleen nie. Dit was dus niks anders as die versoeking waarmee hy alreeds te make gehad het in ‘n ander gewaad nie: die duiwel wil hê dat Abram onafhanklik van God moet leef.

Maar die HERE was die Satan Een voor. Een met ‘n hoofletter. Is dit nie wonderlik nie? Want voordat die koning van Sodom kon kom met sy misleiding, het die HERE Abram reeds teen die versoeking versterk by monde van Megisedek, die gesant, die tipe van Christus. Hy herinner Abram daaraan dat hy alles alleen aan die HERE se seën te danke het.

In sy antwoord aan die koning van Sodom toon Abram dat hy goed na Melgisedek se preek geluister het. Want hy noem die HERE met dieselfde naam as Melgisedek: God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. Daarmee bely Abram: nie die koning van Sodom is die eienaar van alle dinge nie, maar God. Hy is die Allerhoogste, wat beklee is met alle mag. Hy het alles gemaak. Alles is syne en alles kom van Hom af. Hy alleen maak ryk, daarom moet ons in afhanklikheid van Hom lewe.

3. Slot

Ons moet goed verstaan: Abram kon die versoeking net weerstaan het danksy die ontmoeting met Melgisedek. En dit geld ook vir ons: wanneer die Satan ons versoek, kan ons net deur ‘n ontmoeting met die groot Melgisedek, Christus, staande bly.

Dit is die HEER wat my gesterk het

Hy is my lied, my psamgesang (Ps 118:7 – Totius)

Die vraag is dus: Waar ontmoet ons ons Priester-Koning? Die antwoord is nie moeilik nie: Hy kom na ons toe in die Bybel en in die prediking. Lei ons nie in versoeking nie … en dan kom Christus in die kleed van die Woord na ons toe en versterk ons teen die versoeking. Gebedsverhoring!

AMEN

Reeks Abraham: Preek 4

Lees: Genesis13, Matteus 6:19-34

Teks: Genesis 13:10,11,14 (Reeks Abraham nr.4)

Psalms: Ps.122:1,2; Sk 27; 121:1,2; 123:1,2; 84:5,6

1. Inleiding.

Hierdie lewe is een groot keuse. Ons moet kies: vir God of teen God, vir die wêreld of teen die wêreld. En ons keuse kan rampspoedige gevolge hê: nie net vir onsself nie, maar ook vir mense na aan ons.

Hierdie keuse van ons word bepaal deur ons oë. Ek bedoel maar: Word ons oë vasgevang deur dit wat die wêreld bied? Of is ons oë gevestig op die HERE en sy Woord?

Ek oordink ons teksverse met u aan die hand van twee hoofpunte:

1. Lot kyk met oë wat van begeerte brand;

2. Abram kyk met oë wat deur die Woord verlig is.

2.1. Lot kyk met oë wat van begeerte brand.

In Genesis 13 ontmoet ons vir die tweede maal vir Lot, die broerskind van Abram.

In Genesis12:5 word sy naam die eerste maal genoem. Daar hoor ons hoe hy saam met sy oom, Abram, getrek het. Hoekom hy saamgegaan het, word nie vir ons gesê nie. Dit sou sekerlik nie om finansieële gewin gewees het nie. Immers, Abram moes die gerief van Ur van die Chaldeërs agter hom laat en die weelde van Mesopotamië verruil vir ‘n moeisame swerwersbestaan, sonder om te weet waar hy sou kom.

Ons kan daarom met veiligheid aanneem dat daar by Lot geestelike beweegredes was: Hy het onder die invloed van sy oom gestaan. Toe Abram deur die HERE geroep is, het dit op Lot ‘n diep indruk gemaak en hy het saamgetrek. Lot was dus ‘n gelowige. Dit weet ons ook uit 2 Petrus 2:8. Daar word Lot immer ‘n regverdige genoem.

Weet ons dit, dan maak hierdie geskiedenis op ons nog ‘n des te groter indruk, want hier sien ons: óók egte kinders van God kan van die regte weg afwyk. En ons sien hoe rampspoedig dit met ‘n gelowige kan gaan as hy of sy die pad van die HERE byster raak. Ja, Lot kom óók uiteindelik in die veilige hawe tereg – maar as ‘n wrak. Ja, Lot word óók behou – maar soos deur vuur heen. En wat het van sy vrou en kinders geword …!?

Maar kom ons let op die besonderhede van hierdie geskiedenis:

Lot het dus saam met sy oom die Groot Trek meegemaak. Sáám was hulle na Kanaän en sáám met Abram was hy in Egipte.

Helaas het alles nie so mooi gebly nie. Daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Lot en die veewagters van Abram. Vanweë die grote van die kuddes was daar nie genoeg weiding en drinkwater vir almal nie. ‘n Skeiding was onafwendbaar. Daarom gee Abram aan Lot die eerste keuse: Gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.

En Lot kies. Maar – hy kies verkeerd!

Hoe het dit gebeur? Vers 10 gee die antwoord: Toe slaan Lot sy oë op… Lot kyk. Maar – nêrens hoor ons dat Lot die HERE geraadpleeg het nie. Nêrens lees ons dat hy op sy knieë gegaan en die HERE gevra het: HERE, wat wil u hê moet ek doen, nie? Nee, hy kyk en dan kies hy … verkeerd.

Daarmee begin die verkeerde keuse altyd: met kyk. Eva sien óók dat die boom goed was om van te eet. Dina, Jakob se dogter, het óók uitgegaan om die dogters van land te besien. Ons oë is die toegangspoort tot ons hart. Ons oë is die invalspoort vir die Satan. Soos deur ‘n magneet word ons oë aangetrek deur die verlokkinge en die begeerlikhede van die wêreld … en ons kies – en ons kies verkeerd.

Dit begin alles deurdat ons ons oë opslaan. Ons wil net so bietjie kyk. Net kyk, niks meer nie. Is dit dan so verkeerd? Ons wil net kyk na daardie seksverhaal op TV; ons wil net kyk wat in daardie banale artikel staan; ons wil net sien of daardie boek werklik so sleg is. Nee, nee, ons wil beslis nie meedoen aan die verkeerde dinge nie. O nee! Ons wil net kyk. En so begeef ons ons in verkeerde geselskap en stel ons ons bloot aan allerlei wêreldse dinge.

MAAR moet nie vergeet nie: Eers sien Lot Sodom, toe kies Lot Sodom. Spreuke 4 vers 23 sê nie verniet dat ons ons hart moet bewaak bo alles wat bewaar moet word nie (Spr 4:23). En wie sy hart wil bewaar, moet sy oë bewaar, want Satan dring deur ons oë die vesting van ons hart binne. Daarom sê Spreuke 4:20-22 ook uitdruklik: My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind …

Toe Lot sy oë opslaan, was hy totaal en al meegevoer. Want Sodom was ‘n uitsonderlike mooi land. Water was daar volop en voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van God, soos Egipteland. So staan dit in vers 10. Ja, die Satan verstaan die kuns om die verkeerde so aanloklik as moontlik aan ons voor te hou.

Lot was verblind deur die verleiding van die rykdom (Mt 13:22). Paulus skrywe vir Timothëus: Maar die wat ryk wil word, val in allerhande versoekinge en strikke en baie dwase begeerlikhede (1 Tm 6:9). Dit is wat met Lot gebeur het. En dit het begin slegs deur te kyk.

En dan sien ons in die vervolg die ontsettende suigkrag van die sonde. Al dieper en dieper word Lot die moeras van die sonde ingetrek. Want in vers 12 lees ons: Lot het sy tente tot by Sodom opgeslaan het. Dit beteken: Lot het al nader en nader aan Sodom getrek. Lot was aanvanklik nie regtig van plan om in Sodom, die goddelose stad, te gaan woon nie, maar Sodom het hom getrek. Sien u wat ‘n geweldige trekkrag die sonde het? Ja, dit bly nie by net kyk nie, maar dit gaan van kwaad na erger.

Lot het gekyk, ja, maar hy het nie goed gekyk nie. Want in vers 13 staan: En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE. God sien dit. Maar Lot sien dit nie. Hy sien wel die materieële voordele, die rykdom van Sodom, maar hy sien nie die nadele nie. Hy is blind vir die geestelike bedreiging en die sedelike verderf van dié wêreldstad. Hy dink nie aan die goddelose invloed van daardie mense op hom en op sy gesin nie. Al waarvoor hy oog het, is die voorspoed, die geld. Hy stel die finansieële voorspoed van sy gesin bo hulle geestelike welvaart.

Is ons in hierdie opsig nie ook maar baie soos Lot nie? Ons sal alles doen om ons inkomste te vermeerder, desnoods ook deur onnodige Sondagsarbeid. En dan gaan dit vir ons daaroor dat ons ons gesin die heel beste wil gee op materieële terrein. Maar gebeur dit dan nie heel dikwels dat hulle geestelik gebrek ly en in die grootste gevaar kom nie? Want in al ons gejaag na geld het ons nie meer tyd of genoeg tyd vir huisgodsdiens nie.

In Lot se lewe sien ons die tragiese gevolge van ‘n verkeerde keuse. In sy gesin het dit totaal en al verkeerd geloop. Hulle het onder die invloed van die wêreld gekom.

  1. Eerstens kan ons dink aan die vrou van Lot. U ken die geskiedenis van Lot se vlug uit Sodom: hoe sy vrou agterom gekyk het en hoe sy ook deur die oordeel van God getref is toe sy in ‘n soutpilaar verander het. Waarom het sy omgekyk? Omdat sy vasgevang was deur die afgod, Mammom, die god van die geld. Omdat sy dit nie kon verdra dat sy nou alles wat vir haar so dierbaar was, moes verloor nie. Haar hart het daaraan verknog geraak en daarin was Lot nie onskuldig nie! Immers hy het gekies vir Sodom.
  2. Tweedens dink ek ook aan die kinders van Lot, sy twee dogters. Eers hoor ons dat hulle verloofdes, goddelose manne, uit Sodom gekies het. Ag, die regverdige Lot het hom sekerlik baie daaraan geërger, maar wat kon hy sê? Hy het immers self vir Sodom gekies! Hy het immers self die verkeerde voorbeeld gestel! En uiteindelik het sy eie dogters, besoedel met die sonde van Sodom, met hulle eie pa gemeenskap gehad daar in die grot buite Sodom.

Die gevolg van Lot se verkeerde keuse was dat hy dus uiteidelik alles verloor het: sy gesin en sy ganse besit.

Dink ons nog aan die gevolge van ons keuses vir ons kinders, vir ons eggenoot of eggenote, vir ons kerk, ons omgewing?

Ons kom by die tweede, die keuse van Abram:

2.2. Abram kyk met oë wat deur die Woord verlig is.

Wat ‘n mens dadelik opval, is die groot verskil tussen die optrede van Lot en die van Abram.

Ek wil die verskille vir u uitlig:

  • Beide die manne slaan hulle oë op, Lot sowel as Abram. Maar LOT doen dit sonder om die HERE te vra: HERE, wat wil u hê moet ek doen? ABRAM daarenteen slaan sy oë op op bevel van die HERE. In vers 14 kom die woord van die HERE naamlik tot hom: (Abram), slaan tog jou oë op en kyk … Ons kan gerus sê: Die groot verskil tussen hierdie twee manne is dat Abram hom laat lei deur die Woord van die HERE en Lot nie.
  • LOT laat hom lei deur die begeerte van sy oë: hy sien die vrugbare Jordaan-vlakte en die weelde van die Sodom-gebied en dit bepaal sy keuse. Rykdom, materialisme, die afgod van besit, word die leidsman van sy lewe. Hoe anders is dit nie by ABRAM nie: sy oë is nie vasgevang deur die wêreld en sy begeerlikheid nie, maar die HERE vestig sy oë op sy beloftewoord: Slaan tog jou oë op en kyk…want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid… Ons kan maar sê: Abram laat hom lei deur die weelde, nie van hierdie wêreld en van dit wat die wêreld hom bied nie, maar die onmeetbaar goot rykdom van God se beloftewoord. Die Bybel is Abram se leidsman.
  • LOT kies
    self
    . Hy ken die HERE hoegenaamd nie in die saak nie. ABRAM daarenteen kies nie self nie. Hy laat dit in die hande van die HERE. God kies vir hom: Abram, kyk, die beloftes wat die HERE vir jou gee, die land Kanaän, God se genadige keuse vir jou!
  • LOT kies Sodom. Lot kies die verderflike, verganklike wêreld. En hierdie wêreld en sy begeerlikhede vergaan. En dit moes Lot so pynlik, pynlik ervaar in die verwoesting van Sodom en Gomorra. En ABRAM? Ja, vir hom word gekies, en hy ontvang Kanaän. En wat is Kanaän anders as beeld van die nuwe aarde en die nuwe hemel wat nooit vergaan nie. Ons kan dit ook so sê: Lot begeer die wêreldstad, Sodom. Abram daarteenoor kry die nuwe Jerusalem. Immers, in Hebreërs lees ons dat God vir Abram en sy nageslag ‘n stad berei het( 11:16) en dat Abram na daardie stad verlang het: Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
  • LOT neem self. Hy besluit: dit is wat ek wil hê, die hele Jordaanstreek. En gulsig-begerig gryp Lot toe. Hoe anders tree ABRAM nie op nie: hy vat nie, maar hy ontvang. Hy vat nie, maar vir Abram word gegee. … die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee... Ek sal, dit is: die HERE sal, Hy sal vir Abram gee, Hy sal vir hom sorg. Lot is beeld van die mens wat vir homself wil sorg. Abram daarenteen is voorbeeld van hulle wat hul lewe in die hande van God lê en uit sy hande lewe en ontvang. Maar kyk nou die verskil: wat Lot ontvang is tydelik, wat Abram ontvang is ewig. Wat Lot vat, is verganklik, wat Abram kry, is blywend – dit bly tot in ewigheid. Want dit is ‘n hemelse erfdeel.
  • Dit is beslis nie ‘n onverskillige saak deur wat ons oë gelei word nie, deur die begeerte van ons oë of deur die lig van God se Woord, nie. Dit sien ons ook in die verdere verloop van hierdie twee manne se lewens. Hoe rampspoedig het dit nie met LOT gegaan nie. In sy lewe het alles verkeerd geloop. Hy het sy gesin verloor: Sy vrou het gesterf onder die gerig van God en sy kinders is besoedel met die walglike sonde van Sodom. En gaan ons nog ‘n stap verder en kyk ons wat geword het van Lot se nageslag, die kinders wat gebore is uit die seksuele gemeenskap tussen hom en sy dogters: Dit was die Ammoniete en die Moabiete, heidense volkere. Deur Lot se verkeerde keuse het sy nageslag dus weggesink in die heidendom. Stel nou teenoor hierdie rampsalige weg van Lot die welgeluksalige pad van ABRAM: hy mog leef onder die seënende hand van die HERE. Is dit dan nie veel en veel beter om ons te laat lei deur die Woord van God nie en dat dit ons oë sal verlig nie?

èOns kan die verskil tussen Abram en Lot ook saamvat in die woorde uit Jesus se Bergrede (Mt 6:33) waar Hy dit het oor die soeke na kos en klere en waar Hy dan antwoord: Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Soek eers die koninkryk van God. Daarmee leer Jesus ons wat die eerste op ons prioritetslys moet wees: nie rykdom, nie besit, nie aardse goed nie, maar wat die wil van die Here is. En is dit nie die groot verskil tussen Lot en Abram nie? Ja, Lot het gesoek na die ander dinge, na aardse voorspoed. Nee, dit was sekerlik nie dat die geestelike dinge vir hom onbelangrik was nie, maar dit was vir hom nie die vernaamste nie. Vir Abram daarteenoor het dit gegaan om: wat wil die HERE. Dit wil sê die koninkryk van God en sy geregtigheid was vir hom die belangrikste.

Dit was treurig, hierdie skeiding tussen Lot en Abram. Allerhande sondige motiewe het daarby by Lot ‘n rol gespeel. En tog het die HERE ook hiermee sy heilsame bedoelings vir Abram gehad. Nee, daarmee sê ek nie dat Lot se sondes God se skuld was nie. Die sonde kom altyd op die mens se rekening. Maar God het die twis gebruik om Lot en Abram van mekaar te skei. Dit was noodsaaklik.

Want wat was die probleem? Wel, u weet dat Abram kinderloos was. Daar is Skrifverklaarders wat sê: Uit die geskiedenis kan ons aflei dat Abram gehoop het dat Lot sy erfgenaam sou word. Abram het dus self probeer om die probleem van sy kinderloosheid op te los. Hy wou self sorg dat die belofte van die HERE oor ‘n groot nageslag in vervulling gaan. Maar Abram moes leer om dit in die hande van die HERE te laat, om op Hom alleen te vertrou dat Hy kan en sal doen wat Hy beloof het. Daarom het die HERE hierdie breuk bewerk. Die beloofde saad sal kom, maar nie danksy ‘n mens en mensewerk nie, maar ondanks ons, danksy God alleen.

Ek vestig u aandag laastens op die feit dat Abram van die HERE slegs ‘n belofte ontvang. Die vervulling daarvan sien hy nog nie. Hy moet glo dat God sal doen wat Hy beloof het en dat Hy Abram se geloof ryklik sal beloon. Dit maak Abram se keuse so moeilik. En maak dit nie ook vir ons christen-wees vandag so moeilik nie? Die wêreld geniet die wêreldse dinge. Hulle het dit in hande, soos Lot ook die weelde van Sodom daadwerklik besit het. En ons? Ons as gelowiges het dikwels net ‘n belofte. Daarmee moet ons tevrede wees. Soms is die versoeking daarom groot om maar op te gaan in die wêreld en te geniet van dit wat die wêreld bied. Maar let dan op die einde van Lot.

3. Slot.

Die Woord moet ons leidsman wees:

  • Laat u oë liewer gelei word deur die skitterglans van die goud van die Woord,
  • as deur die misleidende glans van die wêreld se klatergoud.

AMEN

 

Reeks Abraham: Preek 3

Lees: Gen.12:10-20, Ps 105:1-15

Teks: Gen.12:10-20; Ps 105:12-15 (Reeks Abraham nr. 3)

Datum: 25 Maart 2012

Psalms: 99:1,2,3; 25:8; 34:2,4; 89:1,2; 33:5,10.

1. Inleiding.

Toe ek met hierdie geskiedenis besig was, moes ek onwillekeurig dink aan die woorde van Paulus aan Timotheüs in 2 Timoteus 2 vers 13: “As ons
ontrou
is, Hy (die Here) is getrou (2 Tim.2:13). Want dit is presies waaroor dit in dié verhaal gaan: oor menslike ontrou en Goddelike trou:

  • Aan die eenkant is daar Abram en sy ontrou. Abram verteenwoordig die kerk, ons, dus ook vir u en vir my. En hoe diep beskamend is die gelese gebeure nie vir Abram en ons almal nie. Want ons sien die vader van die gelowiges, ons vader, val en ontrou raak aan die Woord. Hierdie hele geskiedenis verkondig: As dit van menslike inspanning of prestasies sou afhang, sou daar lankal nie meer ‘n kerk gewees het nie.
  • Genadiglik is ons ontroue mensies nie die enigste rolspelers in die kerk nie. Maar aan die anderkant is daar ook die HERE en sy trou! En omdat Hy getrou bly by sy beloftewoord en getrou waak oor sy volk, daarom sal daar môre en oormôre ook nog ‘n kerk wees, ook hier in Suider-Afrika!

In alles wat in die teksgedeelte voor ons oë afspeel, sien ons: Dit nie die kerk is wat God vashou nie, maar God wat sy kerk vashou. Is dit nie ‘n ontsaglike wonder nie? Dit is nie swak mensehandjies wat God vasgryp nie, maar die almagtige hande van God wat ons vasklem. En Hy, sy trou, is die waarborg dat niks ons van sy liefde sal skei nie.

Ek wil dan vandag met u by twee punte stilstaan:

1. die kerk se ontrou; en

2. die HERE se trou.

Ons sien dan eerstens:

2.1. die kerk se ontrou.

So pas het vader Abram uit die kerk gestap. Ek bedoel maar: God het hom ontmoet en met hom gepraat. Dit is immers waaroor dit in die kerk gaan: Net soos in die geval van vader Abram kom God na ons toe en Hy praat met ons. Ons kan daarom gerus maar sê: In ‘n sekere sin was Abram in die kerk.

Wat het Abram daar te hore gekry? Niks anders as die evangelie nie. Die Christus het aan hom verskyn en die blye boodskap aan hom verkondig: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee (v.7). Kanaän is aan hom belowe en daarmee selfs nog meer: die ewige Kanaän. En ‘n nageslag.

Maar skaars is Abram uit die kerk, skaars het hy die beloftewoord van die HERE gehoor, of hy vergeet dit. Hy leef nie meer daaruit en daarvolgens nie.

Hoe dikwels is dit nie ook met ons die geval nie! Ons gaan Sondag kerk toe. Daar hoor ons dat ons mekaar moet lief hê. Maar skaars is ons uit die huis van God of ons is weer jaloers en haatdraend en nie bereid om te vergewe nie. OF: Ons hoor dat die HERE die almagtige Koning van sy volk is en dat Hy waak oor sy kerk … maar sodra ons uit die kerk kom, raak ons weer swartgallig oor die donker tydsomstandighede. Ons is dus nie anders as Abram nie.

Maar kom ons kyk wat gebeur in die lewe van Abram. Pas het hy die belofte van die HERE oor die beloofde land ontvang, of ‘n swaar hongersnood tref die land. Dit moes inderdaad vir Abram ‘n swaar geloofsbeproewing gewees het. Heel waarskynlik het dit toe deur sy kop gemaal: Waar is die HERE nou, die God wat belowe het dat Hy my sou seën? Waar is sy seën dan? Abram se geloof word in die smeltkroes gewerp. Dit doen die HERE vandag nog: Hy toets ons om te sien of ons op Hom vertrou en of ons glo in sy Woord.

Slaag Abram die toets? Nee, hy druip dit! Nog maar ‘n paar verse tevore het die HERE vir hom gesê: EK SAL jou seën … EK SAL aan jou nageslag hierdie land gee. EK SAL … EK SAL, d.w.s. die HERE SAL vir hom sorg. So pas was Abram onder die geklank van hierdie heerlike evangeliewoord of die hongersnood kom en Abram vergeet dat die HERE gesê het: EK SAL jou seën, EK SAL vir jou sorg. Want wat Abram nou doen, kom eintlik maar daarop neer dat hy sê: EK SELF SAL. Nou sal EK SELF maatreëls tref om my voortbestaan te verseker. Want sonder om die HERE te vra, gaan hy na Egipte toe. Hy leef nie uit die Woord van die HERE nie. Hy dink nie daaraan dat die HERE vir hom gesê het: EK SAL, nie! By sy vertrek uit Haran in vers 4 was dit nog so anders. Want toe het hy weggetrek en dan staan daarby: soos die HERE hom gesê het.

In Nederland sê mense soms: Ek behoort aan die vereniging genaamd Help-jouself. Dit wil sê: Ons help ons self; ons het die hulp van ander nie nodig nie. Geestelik wil ons almal dikwels aan daardie klub Help-jouself behoort. Ons het steeds ‘n stryd teen ons ou natuur: om soos God te wil wees, om self ons lewe en lot te bepaal. Want hoeveel keer probeer ons nie om sonder die hulp van die Here reg te kom nie? Hoeveel maal maak ons nie staat op eie hulp en eie vernuf om ons geluk en ons voorspoed te verseker nie? Ons kyk glad nie op na God en ons bid Hom nie om ons te help nie. En ons leef nie uit sy Woord nie en ons vertrou nie op sy belofte dat Hy ons sal versorg nie. Nee, ons dink: EK SELF moet dit doen.

Dit is eienaardig: Nadat Abram die besluit geneem het om na Egipte te gaan, kom daar onrus en angs in sy lewe. Hy is bang. Oral sien hy donker skaduwees. Hy is bekommerd oor dit en dat. Hy gaan na Egipte, maar hy is glad nie gerus nie. Die man wat kruis en dwars deur Kanaän met sy vele gevare getrek het, vrees nou. Sal ek welkom wees in Egipte? Sal ek nie iets oorkom nie? En wat sal hulle met Sarai doen?

Weet u waarom is Abram se lewe nou so sorgvol? Omdat hy nie meer uit die geloof lewe nie. Omdat hy nie meer leef uit die belofte van God se troue Vadersorg nie. En is dit nie die rede waarom so baie Christene in ons tyd oorspanne en depressief is nie?

Ons sien verder in die lewe van Abram dat ‘n sonde nooit alleen bly nie: Die een sonde gee aanleiding tot die volgende. Dit is ‘n kettingreaksie. Eers het Abram nie geglo dat God in die hongersnood vir hom sal sorg nie. Nou kom die tweede sonde: Hy dink nie daaraan dat die HERE hom en Sarai sal bewaar nie. Hy vergeet weereens dat die HERE gesê het: EK SAL, EK SAL, EK ALLEEN. En weer ‘n keer dink hy: EK SELF, EK moet dit doen. Nog ‘n maal kom klub Help-jouself in aksie.

Want wat gebeur? Abram maak gebruik van ‘n lis om Sarai en sy eie veiligheid te verseker. Hy maak ‘n leuen tot sy fort. Sarai moet sê sy is sy suster. Die Woord is nie meer die vesting waarin hy veiligheid gaan soek nie.

Miskien het ook nog ander oorwegings by Abram ‘n rol gespeel. Miskien het hy gedink aan die belofte dat uit hom ‘n groot volk – die kerk – gebore sou word. En wat sal van daardie belofte word, as hy in Egipte gedood word. Dan sal die groot kerkskare tog nie kan kom nie. Maar in plaas dat Abram die vervulling van dié belofte rustig en gelowige in die hande van die HERE laat en vertrou dat Hy dit kan en sal vervul – in plaas daarvan dink Abram: dit hang van my af; die ontstaan, groei en voortbestaan van die kerk is in my hande; ek moet daaroor waak; ek moet dit verseker.

Weer ‘n keer hoor ons nie dat Abram tot God bid en Hom vra om beskerming nie. Hy bou sy eie skanse om hom en die kerk. Hy maak nie God se Woord tot sy veil’ge vesting nie.

En dan sien ons: Wat Abram gevrees het, dit gebeur. Die vorste van Farao sien dat Sarai besonder mooi is. Hulle vertel dit aan Farao en … Sarai beland in die harem van Farao. Dit is die bitter vrug van Abram se sonde en ongeloof.

Sonde en ongeloof kan ons nie red nie. Dit kan ons nooit gelukkig maak nie. Dit bring ons net in die moeilikheid. Dit het sulke wrange gevolge. Ag, mag die HERE ons oë open dat ons dit mag sien, dat ons tog mag besef dat die kerk alleen by Hom veilig is, dat die Woord genoeg is.

Weliswaar staan daar: En Farao het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. Maar dit is nie ware rykdom nie. Dít is nie die seën van die HERE nie. En … alleen die seën van die HERE maak ryk en gelukkig.

Ons moet ook nog dieper na hierdie geskiedenis kyk: Egipte staan in die Bybel bekend as Gode-en kerkvyandige mag. Agter Egipte staan die ou paradysslang, die slangesaad, wat daarop uit is om die kerk uit te roei. Dit is tog opvallend dat nie Lot se vrou of een van Abram se slavinne na Farao se paleis geneem word nie, maar juis
Sarai! Uit haar sou immers die beloofde saad, d.i. die kerk en bowenal die Christus, gebore word. En dít wil die duiwel keer. Hy wil nie hê dat daar ‘n kerk kom nie. Hy wil voorkom dat die Christus gebore word. Miskien lyk alles vir u oënskynlik onskuldig, want hoe kon Farao geweet het dat uit Sarai die Christus gebore sou word. Tog moet u onthou: Agter Farao gaan ‘n groter mag skuil: die slangesaad van Genesis 3 vers 15. Die stryd van die slangesaad teen die vrouesaad is ‘n deurlopende tema in Genesis en in die hele Bybel.

Die mensie Abram het uit eie krag en met eie vernuf die vervullig van die belofte veilig probeer stel. Maar hier sien ons wat van al ons menslike pogings kom: Die kerk kom in die grootste gevaar. Sarai sit in die paleis van Farao. Die groot draak, die Satan, sper sy bek wyd oop. As dit van mense sou afgehang het, was dit verby met die kerk. Dan sou daar geen kerk en geen Christus uit Sarai voortgekom het nie.

Maar, God sy dank, die voortbestaan van die kerk hang nie aan die sydraad van ons menslike slimmighede nie, maar dit is gebou op die vaste rots van :

2.2. God se trou.

Die mens is ontrou. Maar die HERE …
Maar die HERE
het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.” MAAR DIE HERE. Dit is die maar van sy reddende trou!

Sy kerk het Hom vergeet, maar Hy het hulle nie vergeet nie. Abram het sy Woord vergeet, maar Hy het dit nie vergeet nie. Sy kerk het Hom losgelaat, maar Hy het hulle nie losgelaat nie.

Deur eie skuld was Abram reddeloos verlore. Eie skuld! En tog, tog sê die HERE nie: “Abram, dis jou eie skuld dat jy nou in die moeilikheid is; sien nou maar self dat jy daaruit kom” ,nie. Nee, Hy gryp verlossend in. Is dit nie genade nie?

Ons bederf so baie dinge in die lewe en ons kom so dikwels in die moeilikheid, omdat ons lid van die vereniging Eie-hulp wil wees. En God sou heeltemal regverdig gewees het, as Hy sou sê: Sien nou maar dat julle self regkom, Ek help julle nie meer nie. Tog ervaar ons dit dat God ons keer op keer maar weer genadig is en uitkoms gee.

In die geval van Abram stuur die HERE plae om Sarai te verlos. Na alle waarskynlikheid was dit siektes. Hier blyk die trou van die HERE. Hy is ‘n Waarmaker van sy Woord. Want het Hy nie gesê: En Ek sal seën die wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek, nie. Die kerk is vir die wêreld tot ‘n seën of ‘n vloek. Wie na die Woord van die kerk luister, word deur die HERE ryklik geseën. Maar wee hom, wat hom erger aan die evangeliewoord. Wee hom wat hom vergryp aan die kerk van die HERE. God laat dit nie ongewreek nie.

Inteendeel, wie die kerk aanraak, sal deur die HERE aangeraak word. In Psalm 105 vers 15 hoor ons die waarskuwing van die HERE: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. En as Farao dan wel aan Sarai raak, dan raak die HERE aan hom. Want in Genesis 12 vers 17 staan daar letterlik: Maar die HERE het Farao en sy huis met groot aanrakings
aangeraak. En Sagaria 2:8 (Hebreeus vers 12) gebruik eweneens hierdie woord: Wie julle aanraak, raak sy oogappel aan. En ook in Jesaja 53:4 hoor ons van Iemand wat deur God geslaan is: die lydende Kneg.

Die HERE vergeet nie sy belofte dat Hy Abram tot ‘n groot nasie sal maak nie. sal sorg vir die vervulling van sy Woord. sal sorg dat daar ‘n kerk kom. En sal sorg dat sy volk die lank beloofde land beërf.

En Hy doen dit deur sy Woord – deur sy Beloftewoord én sy Oordeelswoord. Ja, óók sy Oordeelswoord, sy Woord van vloek. Ja, want óók dít, óók sy Oordeelswoord is daar tot heil, tot redding van sy kerk. WANT: Ter wille van Sarai, die vrou van Abram het die HERE Farao aangeraak. Ons sien die HERE se Oordeelswoord in diens van sy Beloftewoord. Die HERE waarborg en beveilig sy Heilswoord met sy Onheilswoord. Die Woord sorg vir die Woord. Wie sal in die lig hiervan ooit weer iets durf sê teen die Wraakpsalms en God se oordeelswoord?

Psalm 105 is een magtige oproep om die HERE te prys. Die kerk word in daardie Psalm opgeroep om te dink aan dade en hoe gesorg het dat die volk wel die erfenis van Kanaän ontvang het.

Maar hoekom waak die HERE met soveel sorg oor Abram en oor sy kerk vandag? Is dit omdat ons sulke goeie mense is? Nee, in hierdie geskiedenis word die sondigheid en die ontrou van die kerk blootgelê. Maar waarom het die HERE dan oor Abram en sy kerkgenote gewaak? Ter wille van die Saad, ter wille van die Christus, wat uit Sarai gebore sou word. Ter wille van Christus en danksy Christus wil die HERE ook die kerk van die twintigste eeu beskerm en dra. Hy is die geheim van die kerk se voortbestaan.

Dit is heel besonder hoe dit ook in Psalm 105:15 staan: Raak my gesalfdes nie aan nie. Letterlik staan daar: raak my christusse nie aan en doen my profete geen kwaad nie. Dit word ten strengste verbied. Want hulle is christusse en profete. Die kerk is deur Hom gesalf en in sy diens en hulle moet van Hom spreek.

Hoe Farao uitgevind het dat dit hand van die HERE was wat hom getref het, weet ons nie. Waarskynlik het hy ondersoek ingestel en in die proses uitgevind dat die siektes begin het toe Sarai in die paleis gekom het. Toe het hy twee en twee bymekaar gesit en tot die konklusie gekom: dié vrou staan onder die beskerming van haar gode. Daarop het hy haar ontbied en toe het die waarheid op die lappe gekom: Sy is nie net Abram se suster nie, maar ook sy vrou.

Wat toe gebeur het, was sekerlik diep beskamend vir Abram: hy, die man van God, is tereggewys deur ‘n heiden. Sy slegte gedrag het smaad gebring oor die Naam van die HERE. En hoeveel skade doen ons nie deur ons sonde nie. Want uit die mond van heidene word dikwels gehoor: O, is dit nou hoe Christene leef? En: As dit so lyk in die kerk, wil ek liewer nie ‘n christen wees nie.

3. Slot.

Ons het hier geen helde-geskiedenis nie, maar heilsgeskiedenis. Ek bedoel maar: Ons het hier nie die geskiedenis van die mens se heldedade nie, maar van God se verlossingsdade.

Ons sien hoe die HERE, en Hy alleen, sonder die mens en ondanks die mens en ten spyte van die mens sy kerk bewaar. Deur sy Heil- en Onheilswoord:

Volke ‘t Hy gestraf, / Isr’el reg verskaf. (Psalm 99:3 – Totius)

God se trou ondanks die kerk se ontrou skitter ons hier tegemoet, sodat Abram en ons moed sal skep. Sy almag word ten toon gestel, sy vermoeë om sy kerk te kan beskerm, sodat ons nie sal vrees nie.

In God se trou lê ons heil. Daarom:

Van goedertierenheid sal ek vir ewig sing

en aan u trou, o HEER, altyd my hulde bring;

want soos ‘n tempel wat op vaste grond verrys het,

so rys die eewge guns wat u aan ons bewys het;

en soos die hemelboog nooit uit sy stand sal wyk nie,

so seker sal u trou nooit wankel of beswyk nie. (Ps 89:1 – Totius)

AMEN

Reeks Abraham: Preek 2

 

Lees: Gen.12:4-9; Hebreërs 11:1-16

 

Teks: Gen.12:4-9 (Reeks Abraham nr. 2)

 

Datum: 18 Maart 2012

 

Psalms: Ps 84:1,2; Ps 25:7; 105:1,2;  105:23,24; 37:6,7

 

1. Inleiding.

 

Daar was meer hervormers as net Calvyn en Luther in die tyd van die Reformasie. In Zürich was daar ’n man met die naam Heinrich Bullinger. Bullinger het ’n baie mooi boek oor die Christelike geloof geskryf. Die titel van die boek is Die ou geloof. In daardie lesenswaardige boekie toon Bullinger aan dat die Christelike geloof nie eers in die Nuwe Testament sy onstaan het nie. Die Christelike geloof ’n stokou geloof. Die hele verlossing van Christus Jesus is reeds lank, lank tevore beloof en geprofeteer ook aan die mense van die Ou Testament. Daarom het óók die aartsvaders – óók Abram dus –  ons Here Jesus Christus in die gees gesien en op Hom vertrou. By ons is alles wel duideliker én ons het die vervulling, terwyl dit by hulle nog in ‘n mate donker was en ’n saak waarvoor hulle nog gebid het.

 

Bullinger beroep hom vir sy standpunt op die kerkgeskiedskrywer Eusebius van Caeserea. Eusebius het alreeds in die twaalfde eeu geskryf: Almal vanaf Abraham terug tot op die eerste mens was Christene, al het hulle die naam Christen toe nog nie gedra nie. Dan verduidelik Eusebius: Die naam Christen beteken immers: iemand wat op Christus vertrou, iemand wat deur die leer van Christus aan die geloof, aan die genade, aan die geregtigheid van God vashou. En dit is presies wat die heilige aartsvaders gedoen het.

 

Daarop kan ons uitbrei: Christus het Abram verlos uit Ur van die Chaldeërs; Christus, die God van heerlikheid, het aan Abram verskyn; Christus het met Abram gepraat; en Christus het aan Abram sy eise en beloftes gegee.

 

  • Op grond van die Woord kan ons sê: Die heerlikheid van Christus straal ons toe in die Evangelie.
  • én – op grond van die Woord moet ons sê: die heerlikheid van Christus vol genade en waarheid het óók Abram verlig onder andere in die Woord van Genesis 12 vers 1 tot 3.

 

Ons bely hierdie dinge waarvan Bullinger praat trouens  ook in antwoord 19 van ons Kategismus. Daar bely ons uitdruklik: God het die heilige evangelie (ook) deur die heilige aartsvaders laat verkondig.

 

DAAROM: Die geskiedenis van die aartsvader Abraham is verkondiging van Christus en sy werk..

 

En nou gaan ons Christus, die God van heerlikheid, aan die Woord en aan die werk sien óók in Genesis 12 vers 4 tot 9. En as ons Hom nie hoor en sien in die geskiedenis van vandag nie, het ons daarvan heeltemal niks begryp nie.

 

I.v.m. ons teksgedeelte van vandag let ons op:

 

1. die skynbaar troostelose toestand vir Abram;

 

2. die HERE, die God van heerlikheid, troos Abram met sy Woord; en

 

3. Abram se geloofsreaksie op die troos.

 

2.1. Die skynbaar troostelose toestand vir Abram

 

Abram het ’n uiters moeilike opdrag gekry: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. (Gen 12:1) Hy moes alles agterlaat wat vir hom kosbaar en dierbaar was: sy land met sy afgode en gerief, sy familie in wie se gebied hy veilig gevoel het en ook sy geliefde vaderhuis.

 

Aan die ander kant moes hy nou sy lewe toevertrou aan ‘n God – die HERE – wat hy nog skaars geken het. En al wat hy van die HERE  ontvang het, was net ’n Woord, ‘n Beloftewoord: Gaan … na die land wat Ek jou sal aanwys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak … MAAR – van al daardie beloftes het Abram nog niks gesién nie. Waar die land was, het hy nie geweet nie. Hoe dit lyk, is nie vir hom gesê nie. Hoe die groot nasie ooit gebore moes word uit ’n onvrugbare Sarai – dit het hy nie geweet nie.

 

Maar … Abram gaan: gedryf en getrek deur die krag van die Woord. Die Woord is die geheim van, die dryfkrag agter sy gehoorsaamheid. Want direk op die bevele en beloftes van die eerste drie verse staan daar: Toe het Abram weggetrek – soos die HERE hom gesê het. Soos die HERE hom gesê het – dit staan daar met nadruk. Abram laat hom absoluut lei deur wat die HERE hom gesê het. Al het hy nog niks gesien nie.

 

Dit is presies wat ons hoor in Hebeërs 11:8: Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. En dit is wat geloof is, die geloof waarvan Hebreërs 11 sê: Dit is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Abram het vas vertrou op die beloftes en met sekerheid gehoop op die vervulling daarvan.

 

Die feit dat Abram nog niks van die land gesien het nie, moes alreeds vir hom ’n geloofsbeproewing gewees het. Maar by sy aankoms in die land het daar nog ‘n toets op hom gewag. Want in vers 6 staan daar: Die Kanaäniete was toe in die land. Dit is nie sommer so ‘n terloopse, onbelangrike opmerking nie. Daarmee sê die Bybelskrywer: Die land van belofte was besette gebied; magtige heidense volkere het die beheer gehad. Abram sou sekerlik gewonder het: Hoe moet ek en my nageslag ooit in besit kom van hierdie land? Abram was ’n mens net soos ons.

 

Daar ‘n beslisde ooreenkoms tussen ons en Abram. Hierdie aarde waarop ons woon, is immers ons erfenis. Dit is die land wat aan ons belowe is. Want Jesus sê uitdruklik in sy Bergrede: Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. (Mt 5:5) Maar wat ‘n terleurstelling kry ons nie as ons rondom ons kyk: Dit is immers nie onbewoonde terrein nie? Inteendeel, dit is besette gebied: Heidense magte is in beheer; goddelose magte gee die toon aan; vir ‘n Christen is daar geen plek nie en ons word nie toegelaat om hier te leef soos die HERE dit van ons verwag nie.

 

Maar dit is ’n besondere woord: Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Weet ons wat is ’n sagmoedige? Dit is iemand wat dit absoluut in die hande van die Here laat en heeltemal op Hom vertrou om die belofte te ontvang. Dit is iemand wat hom heeltemal verlaat op die Woord en glo dat Hy ook sal sorg dat dit sal gebeur.

 

Maar ons let op die tweede:

 

2.2. Hoe die HERE Abram troos onder daardie omstandighede

 

Dit staan in vers 7: Daarop verskyn die HERE aan Abram … Wonderlik, nie waar nie? In hierdie krisisoomblik in Abram se geloofslewe laat God hom nie aan homself oor nie. Die allerhoogste God en Koning daal neer na sy dienskneg om hom te bemoedig, om sy geloof te versterk. Die God van heerlikheid – dit is Christus – verskyn aan hom. Dit leer Handelinge 7 vers 2 ons.

 

Hoé versterk Hy nou Abram se geloof? Weereens nét deur te spreek. Weereens is dit al wat Abram kry: nét ‘n woord, die Woord van die HERE. Steeds ontvang hy nie eens ‘n vierkante millimeter van die land van belofte nie en steeds word Sarai se onvrugbaarheid nie weggeneem nie. Slegs die beloftewoord word aan hom gegee: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.

 

Die stem van die harde werklikheid sê: Die Kanaäniete was toe in die land. DAARTEENOOR sê die Stem van die HERE: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Dit staan met nadruk voorop: Aan jou nageslag. Dit is ‘n herhaling van sy reeds gegewe belofte, die landsbelofte, maar hierdie keer word tog iets meer gesê: Die presiese land word aangewys. Hierdie land, hierdie land Kanaän, sal die HERE aan Hom gee. Die HERE sê vir hom: Hierdie land, hierdie nou besette gebied – dít sal Ek gee. Christus openbaar aan Abram wat HY sal doen. Daarin lê ’n heerlike sekerheid: dat God dit sal doen; dat dit nie van swak mensies afhang nie.

 

Die HERE verskyn nie aan ons op dieselfde wyse as aan Abram nie. Tog ken ons, net soos Abram, Godsontmoetings. Die HERE laat ons in ons krisisse nie alleen nie. Hy daal na ons toe neer, Hy die alvermoeënde en heerlike God. Is dit nie ‘n wonder nie? Maar wáár vind hierdie Godsontmoetings in ons lewens plaas? Hier in die erediens, maar ook daar rondom die huisaltaar.

 

Maar wát gebeur tydens hierdie ontmoetings? Gee Hy ons hier alreeds ‘n stukkie van die nuwe aarde? Nee, al wat in die kerk gebeur is: God spreek. Hy gee ons nét sy Woord. En daardie Woord moet vir ons genoeg wees. Die Woord is God se manier om ons te vertroos en te versterk. Hy bepaal ons aandag in sy Woord by wat Hy doen en sal doen.

 

Dit is opvallend dat die HERE sy belofte aan Abram herhaal. Hy sê weer wat hy alreeds gesê het. ‘n Mens sou sê: Is dit nou werklik nodig? Die Woord moes mos vir Abram genoeg gewees het? En tog doen die Bybel dit meermale: om te herhaal en te herhaal en nogeens te herhaal. Hoekom doen die HERE dit? Omdat Hy weet hoe gou ons vergeet wat Hy vir ons gesê het. Die HERE ken ons beter as wat ons dink. Daarom moet ons nie dink: ons het dit nie nodig om elke Sondag weer oor en oor herinner te word aan dieselfde, bekende dinge nie.

 

Ons aandag kan so vasgevang word deur hierdie aarde en deur die dinge wat daarop gebeur, dat ons heeltemal vergeet waarheen ons op pad is en watter grootse en volmaakte erfenis op ons wag. As ons rondom ons kyk, as ons die harde werklikheid aanskou, dan sê ons: Sonde, duiwel en dood heers op hierdie aarde.. Maar wanneer God ons ontmoet, dan sê Hy vir ons: hierdie aarde sal nie vir altyd so wees nie, maar eendag sal alles nuut gemaak word. Hy gee ons hoop en uitsig dat hierdie stukkende aarde eenmaal weer volkome heel gemaak sal word en dat alles dan weer so volmaak en mooi sal wees. Dit is die lig wat God in sy ontmoetings met ons gee.

 

Die Woord sê: die aarde is ons erfenis. Die werklikheid daarenteen sê iets anders: Die harde realiteit sê die aarde word deur vreemde magte beset. Maar geloof is: om te glo dwarsdeur die teenstrydige heen, om te glo in God se betroubare Woord, om te glo in wat God doen.

 

Ons sien in die derde plek:

 

2.3. Abram se geloofsreaksie op die troos

 

In hierdie geskiedenis sien ons Abram reageer op die Beloftewoord wat hy van die HERE ontvang: Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het (vers 7).

 

Dit is ’n besondere reaksie van Abram:’n altaar! En uitdruklik staan daarby: ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het, vir die HERE wat met hom gepraat het. Die altaar het alles te make met die verskyning van die HERE, met sy Woord aan Abram. Ja, want óók die altaar is die Stem van God, die Woord van God. Ook in die altaar is Hy aan die Woord.

 

In verband met die altaar twee opmerkings:

 

1.      Eerstens: Die altaar is die Stem van Christus TEENOOR die stem van die afgode.

a) Want in vers 6 lees ons: dat Abram gekom het by die terpentynboom met die naam More. Dié naam beteken leraar. Die heidene het dus ‘n terpentynboom as leraar gehad. Dit was ‘n waarsêersboom. Die heidense priesters het geglo dat hulle die toekoms kon voorspel uit die buig van die boom se takke en die geruis van die wind deur die blare. ‘n Afgodediens was dus daar aan die gang. Die heidene het hulle verbeel dat hulle daar die stem van hulle afgode daar kon hoor.

b) Maar juis daar, daar waar die heidene gemeen het om die stem van hulle afgode te hoor, daar laat Abram die Stem van sy God gehoor: die Stem van die alleen ware en die alleen lewende God. Juis daar, daar waar die heidene hulle afgode vereer, rig Abram ‘n altaar op om sy God, die HERE, te vereer. Teenoor die diens van die afgode plaas hy ‘n altaar en dit was sekerlik bedoel as ’n getuienis teenoor die heidendom.

2.      Tweedens: Die altaar  is die Stem van Christus in ANTWOORD op die  Kanaäniete se besetting van die beloofde land.

a) Voordat Abram nog in Kanaän gekom het, het die slangesaad van Genesis 3 vers 15 reeds sy skuif gemaak op die skaakbord en die land van belofte geskaak. Immers, die Kanaäniete was toe reeds in die land. Dit beteken: Die land van die vrouesaad was beset deur  die slangesaad.

b) Hoe sal die nageslag van Abram ooit die land van belofte ontvang? Die altaar is die antwoord. Die altaar sê: God sal dit doen. Deur die altaar sal God dit doen. Die altaar is God se skuif op die skaakbord. Die altaar wys heen na die kruis – die altaar van die kruis. Met die met die kruis sit Hy die Satan skaakmat. Aan die kruis het Hy oor die Satan en sy magte getriomfeer (Kol 2:15). Midde-in die besette gebied sit God sy altaar as teken: hierdie land is syne; en dit behoort aan sy volk; daarvoor sal die kruis sorg.

 

Deur die altaar van Golgota is ons kinders van God. Deur die altaar is ons erfgename saam met Christus, deur Christus, danksy Christus. In die altaar lê dit vas en seker  dat hierdie aarde ons erfenis is.

 

In vers 8 hoor ons van ’n tweede altaar wat Abram opgerig het. En dan staan daarby: En Abram het die Naam van die HERE aangeroep. By die altaar. Dit gaan om ’n erediens – maar dan uitdruklik ’n erediens uitdruklik by die altaar. By die altaar ontmoet Abram God en by die altaar aanbid hy God. By die altaar ontmoet ook ons die HERE. Dit wil sê: by die offer. Die offer van Jesus Christus, die altaar van Golgota,  maak ons ontmoeting met God moontlik.

 

In vers 8 lees ons: Abram het sy tent opgeslaan. En Hebreers 11 vers 9 sluit daarby aan: Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. (Heb 11:9). Die tent sê dus: Hy was nog ’n vreemdeling sonder besitreg in die land van belofte. Maar langs die tent het hy ’n altaar gebou. En die altaar verkondig: erfgenaam van die belofte!

 

By die ou geloof – soos Bullinger dit noem -, by die ou geloof in Christus het Abram geleef en gesterf en leef hy nog tot in alle ewigheid:

 

  • By die Woord wat gegee is deur Christus;
  • by die Woord wat handel oor Christus.

 

Nee, Abram het alles nog nie so presies soos ons geweet nie. Tog het hy geglo: God sal dit doen. Daarvan spreek die altaar.

 

3. Slot.

 

Die Woord van God is al wat ons het. Maar dit is ook alles – die Woord van die altaar. Die Woord van die altaar bring en gee rus:

 

Die mossie vind ‘n huis, o HEER,

 

die swaeltjies lê in nessies neer;

 

en ek vind rus by u altare,

 

waar U vir my ‘n woning maak

 

en U, my Koning, my bewaak.

 

Gedugte HEER der leërskare,

 

welsalig wie in u paleis

 

U altyddeur mag loof en prys! (Ps 84:2 – Totius).

 

AMEN.