Argief

Met die een voet reeds in die graf en met die ander voet reeds in die paradys

U ken almal die uitdrukking: hy staan al met sy een voet in die graf. Dit sê ons as iemand sterwende is.

Dit geld egter nie net vir mense wat dodelik siek is nie. Dit is waar vir álle  mense: ons staan álmal alreeds van ons geboorte af met die een voet in die graf. Ons doopsformulier sê immers: hierdie lewe is niks anders as ‘n geleidelike sterwe nie. Reeds in ons wieg is die kiem van die dood aan die werk en elke dag is ‘n tree nader aan ons graf.

Dit is so morbied, nie waar nie? Maar in die lewe van ‘n gelowige is daar iets nuuts danksy Christus: dit is waar dat ons een voet reeds in die graf is, maar ons staan ook alreeds met die ander voet in God se ewige paradys.

Ek sal verduidelik wat ek bedoel. In Johannes 3:16 sê Jesus: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. En in Johannes 20:30-31 sê Johannes hoekom hy al die tekens van Jesus in sy evangelie opgeteken het: dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

Hy het die ewige dood gesterwe, sodat ons die ewige lewe kan beërwe.

Hierdie ewige lewe is nie net toekomsmusiek nie. Inteendeel, Johannes beskryf dit as iets wat ons reeds het deur die geloof. Toe Christus gesterf en opgestaan het, het die paradys lewe van weleer deur begin breek in ons doods dal diep en donker. Toe het die paradys uit die puin van ons doods bestaan verrys.

Nou staan ons nog met een voet in die graf en met die ander voet in die paradys. Maar eendag sal al twee ons voete in die goue strate van die Nuwe Jerusalem wandel. Dan sal die volheid van die paradys lewe deurbreek en die dood sal nie meer wees nie.